Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom koes mense so vir stilte? Is hulle bang vir wat hulle omtrent hulself sal ontdek? Daar is niks sterker en meer genesend as stilte nie; dit is die beginpunt van gebed en kan meer van jouself en jou Skepper onthul as ure se gepraat.
BLOMVROUE
Lees reeks by BLOMVROUE
Aletta Lübbe
Pronkertjie
(Lathyrus odoratus)
Delikate vreugde ... afskeid ... geboorte ... liefde of watter herinnering ook al, word sonhelder opgeroep wanneer die geur van pronkertjies deur die huis swewe. Die blomgeur is mos die asem van die lente, die geur van lewe. Soos 'n wolk pastelkleurige skoenlappers met vlerke wat sagweg oop- en toemaak, fladder hulle die winter weg. Trouens, die pronkertjie kom uit die subfamilie Papilionaceae, en papilio is die Latyn vir pers.
Hoewel stoelplante ook gekweek word, is die pronkertjie beslis 'n rankplant. Saai 'n ry van die jaarplante in 'n slootjie los grond, gee hulle kos en 'n stellasie waaraan die rankies kan vasheg, en hulle sorg vir die geurigste vertoning van kleur denkbaar. Hulle is op hul beste in die laat winter en vroeë lente, want hulle hou nie in die drukkende somerhitte nie.
Die pronkertjie behoort tot dieselfde familie as die tuinertjie en is inheems in die suide van Italië. In 1700 het 'n monnik saad van die geurige wilde Siciliaanse ertjies aan doktor Uvedale in Engeland gestuur. Hy het hulle vir die geur gekweek. Twintig jaar later beveel Thomas Fairchild hulle aan vir aanplanting in Londen. Aan die begin van die twintigste eeu verskyn die eerste pronkertjie met frilletjie-kroonblare in gravin Spencer se tuin in Althorp Park. Uit die wilde soort is honderde variëteite gekweek wat gekommersialiseer is en as snyblom baie goed hou. Die wye kleurspektrum wissel van wit en room na dieporanje, van pienk na dieprooi, van ligblou tot donkerpers en wynrooi. Die ranker klim tot meer as twee meter hoog en die dwergsoort, Lathyrus nanellus, blom oorvloedig en is rypbestand. Lathyrus latifolius is meerjarig en gewoonlik pers.
Die pronkertjievrou maak geen geheim daarvan dat sy iemand langs haar nodig het nie. 'n Stut, 'n steun wat sorg sodat sy sorgvry kan rank en blom met haar besondere persoonlikheid, lieftalligheid, aanhanklikheid en deernis met al wat lewe. En anders as wat 'n mens van so 'n brose mensie verwag, hou sy van die sonkant van die lewe. Self blom sy nie in helder songeel nie, maar in alle skakerings van skarlaken en blou, in wit en roomkleur met 'n sfeer van Engelse grasie landelik rondom haar.
Haar wegkruipoë laat 'n mens wonder: is hulle grys of blou of groen ... of dalk ligbruin? Want die vrolike lag laat haar oë toegaan en die geur van fyn seep en van blomgeur reukwater omgewe haar. Sy dartel deur die lewe in valletjies en kantjies, in linte en strikkies. Geen snyersnit of aardse kleure vir haar klerekas nie. Sy is 'n wintermens en haar kleurontleding bepaal dat sy pastelkleure dra.
Sy hou van alles uit die Victoriaanse tydperk voor die bevryding oftewel die emansipasie van die vrou. En juis dit maak haar so begeerlik - veral vir die adamsgeslag. Sy laat hulle sterk en belangrik, onmisbaar en manlik voel. Vir haar sal hulle deur die vuur loop en al wat teenstander is uit die pad vee.
Die pronkertjie loop oor van betrokkenheid by die afvlerkmensies. Daar is altyd 'n skilferkorsmelktert te bak vir een van haar vele hulpbehoewende tannies met die troetelnaampies ... van tant Koekie en tant Kokkie tot by tant Poppie en tant Girlie en tant Baby. Sy neem deur die jare pleegsorgkinders onder haar vlerk. Sy ken die seer van om 'n hulpelose baba te versorg en te vertroetel ... en op die oulikste stadium weer af te staan. Wat sy aan fondse kan afknyp, gaan aan die sorgbehoewendes vir kos en klere en opvoeding.
Op haar voorstoep aan die noordekant breek sy maklik 'n paar stoepteëls uit om 'n rytjie "sweetpees" te plant naby haar kamer en haar hart, en vir die vele ruikertjies wat by die siekes, die treurendes en die feesvierendes ingedra word.
Geen mens kan help om haar lief te hê nie - selfs haar eie geslag bewonder haar indiwidualiteit, charisma en innemendheid. Dit gaan nie soseer om haar uiterlike skoonheid nie, maar veral om die skoon geur van lewe en liefde wat van haar uitgaan.
Heeltemal sonder fiemies en foute is sy darem ook nie, hoor! Sy pak meer as een projek gelyktydig aan en kan verwelk of belangstelling verloor voordat 'n taak afgehandel is. Sy kan vreemd afgehaal voel wanneer sy 'n geskenkie ontvang wat in 'n stukkie gebruikte geskenkpapier toegedraai is. Vreemd omdat sy self so spaarsaam werk met alles en nog wat en altyd 'n plan het met alles wat mense argeloos sommer net weggooi.
Sy benut afvalprodukte en oorskietkos met 'n oorspronklikheid wat eintlik avontuurlik en opwindend is. Uit die ontbering van die verlede het sy geleer om die inflasie van die hede te hanteer. Sy weet 'n mens kan nie met jou kop in die wolke rondloop en die realiteite van elke dag se bestaan uit die oog verloor nie.
Hierdie skoenlapper van die blommewêreld wend haar maklik na iemand wat aandag aan haar gee en haar vlei, en verbind haar soms te maklik. Later is die losmaak- of regmaakproses pynlik en kan haar hele wêreld in duie stort. Want 'n kam gaan moeilik deur die kurktrekker-gekartelde hare. Waar haar rankies vasgedraai is, moet hulle losgeskeur word.
Om haar een maal te ontmoet, is om te weet: sy dra die kiem van elke nuwe lente. Sy raak elkeen wat haar pad kruis aan en almal sien deur 'n lang-lang winter uit na haar teenwoordigheid.