Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Soms kalmeer die HERE die storm, en soms laat Hy die storm woed en kalmeer sy kind.
DIERESTORIES VAN LANKGELEDE (4)
Lees reeks by Dierestories van lankgelede
LUIPERD GAAN JAG
Gedurende die daaropvolgende dae lê die luiperd in die grot, waar die kleintjies soos katjies speel, terwyl sy maat op die jag uitgaan, om later terug te keer met ’n tarentaal, ’n bokkie, of ’n bobbejaan. Die wond het maar stadig geheel.
In die begin het die luiperd geen poging gemaak om te roer nie, behalwe wanneer hy die poot lek, of rusteloos van die een sy op die ander rol, of sy ergernis uitgrom wanneer een van die kleintjies alte naby kom. Maar binne ’n week was hy weer op die been en staan hy daarbo op die kranse en afkyk, die oë gevestig op troppe antelope en gaselle; dat hy nog nie instaat is om hulle te gaan bekruip nie, weet hy egter goed genoeg.
’n Rukkie later volg die kleintjies, reeds mooi opgeskote al, hom en die wyfie tot op die rantjie van die krans en werp hulle eerste blik oor die wêreld daarbuite. Bo in die lug draai die aasvoëls, op die uitkyk na die eerste kans om die oorblyfsels van ’n halfgevrete rooibok te gaan gryp; een skiet plotseling met ruisende vleuelslae rakelings oor die rots, en die kleintjies sak plat van die skrik — toe styg hy weer en die kleintjies, gou weer manhaftig, staan en beskou hom in sy draaiende vlug. Wanneer hulle groter is, sal alle vrees verdwyn, en sal hulle, soos katte, met die magies plat op die rots lê en verlang dat een van die voëls tog net naby wil verbykom; maar nou was hierdie suisende goeters wat skielik so vinnig uit die lug uit neerskiet, nog so skrikaanjaend dat hulle gedurig na die wyfie kom om beskerming.
Die kop het nog een ander bewoner gehad, ’n ou renoster wat tussen ’n klompie bome geboer het ’n honderd tree daarvandaan. Die renoster en die luiperd was nog vriende nog vyande; hulle was bure, met geen belang in mekaar so sake nie. Elkeen hou op sy eie paadjie teen die hang af, die luiperd sierlik tussen die groot klippe deur, die renoster gly-gly oor ’n klippies-besaaide skuinste. Behalwe ’n gemeenskaplike tuiste het hulle inderdaad niks gemeen met mekaar nie. Die luiperd dwaal ver af op soek na prooi, wat hy gryp waar hy die ook mag raakloop. Die renoster gaan wei op die gras en plantegroei van een lap veld wat hy altyd met dieselfde paadjie nader en langs ’n ander verlaat, om te gaan waterdrink by die rivier -— die ou was ’n produk van roetine, terwyl die luiperd na gelang van omstandighede gelewe het.
Toe die luiperd eindelik weer uitgaan om sy eie kos te soek, begin hy kleinserig, maar vind al spoedig dat, solank as wat hy op gelyk grasveld langs hou, hy sonder pyn kan beweeg.
Toe hy bo-oor ’n bultjie gaan, sien hy die bome daar voor. Die gaselle wei dig bymekaar in die verste hoek; hy sal so moet beweeg dat die bome hom beskut en die wind sy reuk wegdra, dat geen dier dit kan opvang en ’n waarskuwing laat klink nie.
Laaggebuk in die gras, sodat dit vir die grootste gedeelte sy rug bedek, sluip hy voetjie-vir-voetjie nader, die pyn wat hom twee weke al plae, nou in sy opgewondenheid geheelemal vergeet. Sy oë soek een uit, ’n ram met pragtig-gekrulde horings— die naaste van die trop. Wanneer hy die voet van die laaste boom bereik, sal hy spring. Die bok toon geen teken van vrees nie en wei rustig op die kort grassies, wat hy en die res van die trop die afgelope week al stomp afgewei het. Nou en dan snuif hy ’n slag in die windjie, sommer uit gewoonte en sonder agterdog; dan sak sy kop weer en hy gaan voort met wei. En elke oomblik kruip die luiperd nader, tot by die eerste boom, verby, duim-vir-duim, geluidloos en met oe strak gevestig op sy prooi.
Aan die voet van die laaste boom krimp hy hom ineen vir die sprong, bewend van opwinding, die spiere gespanne, die-naels in die grond gedring, liggaam trillend en of strak en toe, met dat hy spring, skiet plotseling ’n stekende pyn deur sy poot.
Die pyn laat hom sy oë vir ’n telling van die gasel aftrek, en in daardie oomblik kyk die dier op, en spring. Daar was geen tyd om te hardloop nog voor die luiperd spring nie, maar hy beweeg effens, uit pure verrassing, en die beweging is genoeg pm hom buite bereik van die sprong, en in veiligheid in, te voer. In ’n kits, net toe die luiperd grondvat waar ’n oomblik tevore die gasel nog gestaan het, skeur die hele trop die wêreld in wilde vaart weg oor die veld.
Die luiperd het hulle nie agternagesit nie. Jag beteken vir hom bekruip, met sy prooi onbewus van sy nadering- of ’n hinderlaag waar een of ander niksvermoedende dier mag inloop. Selfs op sy beste sou hy geen dier agtervolg na hy hom eenmaal misgespring het nie; en nou weet hy ook nog dat, met ’n beseerde poot, selfs bekruip nie met enige hoop op sukses kan uitgevoer word nie.
Maar net anderkant die doringbome groei ’n stewige boom, met ’n sterk tak waarop hy al dikwels gelê en wag het op wild om onderdeur te kom. Hy draai dus nou na die boom toe en spring in sonder om ag te slaan op die tweede skokkende pyn wat in sy been opskiet. Sy naels klou om die tak en, ken op die voorpote, lê hy in sy volle lengte uitgestrek en wag op wat mag kom.
V ervolg...