Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gelowiges is anders as wêreldlinge; beproewings maak hul geloof sterk. Gelowiges wen deur hul verliese, ontvang krag in hul siekwees, wen vriende in hul beproewing en behaal oorwinning deur hul verliese.
KORT VERTELLINGE - JAN SPIES (2)
Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies
’n Deeglike probleem
Jan Spies
Daar in die Boesmanlandse wêreld het Visser-mense gewoon. En hulle het - dit was nog in die oudae - ’n geweldige groot plaas gehad, met net een water op.
In die groen tyd as die veld volop is, het dit goed gegaan. Dan kon daar direk van die huis af geboer word. Maar in die droë tyd was dit lastig, want dan moes die wagter met die vee so ver van die huis af gaan wei dat hulle dikwels ’n aand moes uitslaap, of soos dit ook genoem word “buitekant oorstaan”. Gewoonlik is daar vir dié doel in die buiteveld veewerwe gemaak, met natuurlik by die tydelike kraal ook ’n soort van skerm waarin die wagter kon oornag.
En so kom dit dat die Vissers een jaar baie skrappies reën kry en dat die inkomstetjie maar effens was. Ou-oom Visser het toe op die pad gaan werk en hulle oudste seun, met die naam van Klasie (so ’n opgeskote knaap), moes die vee oppas omdat hulle nie anders kon nie, en hulle moes die wagter laat loop.
Een middag kom Klasie toe met die vee uit die veld terug. Oudergewoonte keer hy hulle so ’n stuk of tweehonderd tree van die krip af voor en dam hulle daar op tot hy van die krip af die teken kry dat hy maar ’n klomp kan laat verbyspring om te gaan suip. Die storie het so gewerk: die ou krippies van vanslewe was maar klein en om die vee water gegee te kry, moes daar altyd ’n verstandhouding tussen die werfmense en die wagter wees. As hulle hom nog doer ver met die vee sien aankom, dan moes een van hulle al spring en sorg dat die krip vol water is. Sodra die krip dan vol is, skree die kêrel by die kraan vir die wagter: “Laat kom!” En dan laat bars dié ’n klomp van die dors diere by hom verby tot hy dink hulle is genoeg vir die krip. Dan moet hy katstaan voor die ander tot hy weer die “laat kom” hoor. Die watergeeër wag natuurlik telkens tot elke troppie klaar gesuip en eenkant toe padgegee het en die krip weer vol is, voor hy van hom laat hoor. So hou dit aan tot die wagter die laaste bondel by hom laat verbykom dan kom hy alleen agterna gestap, gewoonlik asvaal van die stof. Ook hy doen by die krip aan - nie juis om te drink nie, behalwe as hy vreeslik dors is, maar om die ergste stof van sy gesig af te was.
So het dit dan die dag soos al die ander dae met Klasie gegaan. Na hy klaar sy hande en gesig en bolyf en voete by die krip gewas en die water van hom afgestroop het, loop hy huis toe. Solank die veetjies nog naby die water rondlê en party nog teen die tweede dors ’n paar bekkevol water kom drink, sit en rus hy so ’n bietjie en wag dat sy ma sy knapsak met die nodige proviand vir die uitstaan pak.
Maar haar program was die dag om een of ander rede omvergegooi en sy het nie klaar gebak gekry voor hy uit die veld gekom het nie. Sy sit toe maar vir hom ’n tweepond Golden Syrup-blik vol ingesuurde deeg bo-op in die knapsak sodat hy die aand by die veewerf vir hom ’n askoek kon bak.
Hy het toe die knapsak se bande oor sy skouers en die haelgeweer, wat hy altyd met hom saamdra, aan dié se band ook oor ’n skouer sodat hy sy hande kon vry hê vir sy konsertina. Want meeste van die tyd het hy maar vir tydkorting agter die skape loop en konsertina speel.
Net toe hy wou weg, se die ou-tante nee wag, sy wil hom net ’n slopie gee om die aand die oorskietbrood vir die volgende dag in te sit. Hy vat toe die sloop en steek dit sommer in sy broeksak. En hy moet tog met die geweer versigtig wees lat die sneller nie altemit aan ’n takkie haak as hy deur die driedoringlaagte loop nie, vermaan sy vir oulaas.
“Ja,” sê hy. “Ma is verniet bekommerd; Ma sê elke slag ek moet oppas, en ek is so versigtag.”
En met dié is hy daar weg. En die skape loop mooi, en die son is warm, en omtrent so aaneen soos die sonbesies se sing loop en speel hy Grootrivier se voel. En later is hy in die driedoringlaagte. En dit was ook toevallig net daar dat die blik vir die ingesuurde deeg te klein word. Klasie het nog so versonke in Grootrivier se voel geloop toe die deksel met ’n plof van die blik afskiet en hom met die deegkant agter die kop tref.
In sy skrik het hy net een gedagte gehad: die haelgeweer het afgegaan en die skoot het sy agterkop gevang. Voor die konsertina nog grondvat, toe stroop hy al die geweer van hom af — waarskynlik uit vrees dat die ding homself kon oorhaal om weer te probeer.
En hy voel agter sy kop, en daar’s dit die ene pappery. En hy kyk in sy hand, en dis net harsings.
En hy vlie weg huis toe. Hy wil toe nou daar probeer aankom voor hy doodgaan. Maar die knapsak henner hom te veel, en daarom raak hy sommer so in die hol en sonder omkyk daarvan ook ontslae. En hy wens hy het iets gehad om sy kop mee te verbind. En daar val dit hom by van die sloop, en hy pluk dit uit sy broeksak en trek dit sommer soos ’n mus ’n ent oor sy kop - agter tot in sy hals en voor tot bokant sy wenkbroue.
En hy kom uitasem by die huis aan.
“Wat gaan nou aan?” vra sy ma baie onrustig.
Hy sê: “Ma, die geweer het toe in die driedoringlaagte afgegaan soos Ma bang was sou gebeur het. En my hele agterkop is weggeskiet. Dis net die ene harsings.”
En die ou tante skrik haar in die oortreffende trap in. En sy skree vir die jongeres hulle moet als wat kan kar trek op die werf bymekaar keer en die kar inspan sodat hulle kan dorp toe jaag om Klasie by die dokter te kry.
En sy sleep ’n stoel agter Klasie in en sê hy moet doodstil sit. Sy gaan soek eers gou nog ’n doekding om om sy kop te draai, want netnou kry die spulletjie te veel lug en ’n mens weet nooit hoe nadelig dit dalk kan wees nie. En die eerste wat sy in die hande kry wat skoon is, is ’n handdoek. En sy kom hol daar aan met dié en ’n paar spelde.
Klasie sê sy moet seblief tog versigtig werk; netnou verongeluk sy hom heeltemal.
Sy sê: “Ja, toe maar - van jou kleintyd af werk ek al met spelle.” En sy draai die handdoek sommer bo-oor die sloop om sy kop en speld dit was. Toe’s sy kop dan nou na haar sin toe genoeg vir die pad.
En hulle jaag met die ongelyk span trekdiere dorp toe, reguit na die ou paarkamertjiehospitaaltjie toe. En daarvandaan kry die ou suster gelukkig met die ou koffiemeultelefoontjie die dokter in die hande - sommer met die eerste probeerslag.
En die dokter kom daar en hy vra: “Wat gaan hier aan?”
Klasie sê: “Dokter, die haelgeweer het afgegaan en my heel agterkop weggeskiet; dis net harsings waar ek voel.”
Die dokter sê: “Maar, man, dit kan nie wees nie. Hoe lyk die harsings?”
Hy sê: “Dokter, so vaal-wit. As ek moet sê: soos deeg.”
Die dokter sê dan verstaan hy nou ook nie die ding nie, want dit klink of dit harsings moet wees.
En hy krap ’n bietjie kop, en hy kry ’n plan.
Hy sal Klasie ’n ligte narkose gee en sy kop behoorlik verbind en ook seker maak of hy dit kan waag om met sy tjorrie vir Klasie Kaap toe te probeer vat. Daar sou ’n spesialis dalk darem iets kon uitrig.
En hy het Klasie daar onder narkose gesit en klaar gemaak soos wat sy diagnose hom lei, en hy wag dat Klasie bykom.
Hy sê vir hom: “Jong, jou kop makeer niks.” Hy sê hy weet nie veel van geweers nie, maar waarmee was die ding gelaai? Dis vir hom die vraag.
Klasie se met ’n bokhaelpatroon.
Die dokter se: “Wragtag, as ek nie geweet het dis ’n patroon nie, sou ek gesweer het die geweer skiet met pap.