Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ouderdom maak jou of slim of dom. As jy slim is, weet jy hoe om reg oud te word. As jy dom is, sien jy die ouderdom as ‘n straf.
KORT VERTELLINGE - JAN SPIES (7)
Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies
Geluk verby
Maans Maanse vertel:
Vroeër dae, voor ek hier in die Kalhari ingetrek het, toe sukkel ek en die vrou dour onner innie Boesmanland aan. En daar kan dit drô word. As die bankrotwind die jaar sy waai vat, dan hou hy nie op nie. En dan sien jy nie eens ’n wolk nie, wat nog ’n reëndruppel.
En toe’s dit een jaar weer so drô op Bloedvannerwalt. As ons moet slag, kyk ek die ou troppie deur en dan vang ek die een wat nog lyk of daar iets orie ribbebene is; maak nie saak wat se soorte nie: jonk, groot, ooi. Maar dit help nie - vir maande kry ons toe al nie meer iets met ’n bont vleisie geslag nie.
En die vrou is nukkerig en mismoedig want sy’t nie suffel van ’n sagtevetjie om ’n pan mee te smeer nie.
En ek het gedink en gedink en gewonner wat vir plan ek dan tog moet maak om net iets innie hanne te kry lat sy ’n slag kan vet uitbraai. En toe vallit my by: innie knersvlakte het daar altyd drie ou springbokramme geloop. So skelm lat hulle bars, en gewoonlik goed van kondisie.
En ek sê virrie vrou ek het ’n plan.
En vroeg die vollene môre toe stryk ek met my geweer en verkyker by die huis weg, oor die rantjieswêreld. En toe die sontjie mooi wit maak, en sommer darie tyd al begint sê hy gaan die dag nie speel met Boesmanland nie, toe stap ek die knersvlakte in.
En ek het gestap en gekyk en gestaan en gekyk. Maar al my rondkyk help niks. En later toe’s dit rondom my net vlakte. En hy begint bewe, en hy gee op. Dis so goed ek soek vir springbokke op die see - jy ken mos vir opgeefsel as hy rêrig begin opgee.
En ek loop.
En ek klim later op een van die duisende miershope daar in die knersvlakte. En ek kyk. Maar dis net water en miershope. En party vannie miershope lyk soos bome in die verte en ander soos koppies, en almal weerkaats in die vlakte af. Party lyk of hulle innie lug hang met ’n strepie niks tussen hulle ennie waters. En alles bewe.
En ek klim vannie miershoop af, en ek het nog net ’n paar tree geloop, toe sien ek maar hoe kyk ek dan vandag, want dour staan dan ’n miershoop wat ek nie ken nie: net ’n stippel tussen die baie ander stippels, maar een wat uit my geheue nie daar hoort nie.
En ek wonner of dit nie een van die ou ramme is nie. Maar hy staan ver. Jy kan sê hy staan annerkant die buig vannie aarde solat dit net sy opgeefsel is wat ek sien.
En ek vat my verkyker en ek kyk of die ding nie een of anner tyd wil roer nie. Maar hy’s so ver lat al sou hy ook geroer het ek nie daar seker van sou wees nie — tensy hy nou natuurlik ’n hele ent loop.
En ek dink daars nou net een genade. Ek moet ’n skoot op hom waag. Maar hy’s toe natuurlik so ver lat ek nie met die geweer se visier iets hoef te probeer uitrig nie. En ek kyk daar ’n miershoop uit wat vir my lyk of hy net mooi die regte skuinste sou hê. Want sien, ’n patroon trek hoeka met ’n boog, en ek moet nog boog bysit en ek moet rekening hou met die distansie en die buig vannie aarde.
En ek laai die geweer en ek lê hom netjies op sy pens teen die miershoop neer en ek stoot twee kluite weerskant teen hom vas lat hy nie kan kantel nie. En ek vat die verkyker en ek loop staan so ’n stuk of twintig tree agter hom en ek kyk al met die loop laans en vorentoe orie vlakte tot by die stippel wat ek nou dink die bok is, en ek sien ek is ’n aks uit. En ek loop trug na die geweer en ek stoot hom so effe aan, die een kant toe.
En ek loop staan weer ’n ent agter hom en ek kyk. En wragtie daar's hy nes die vorige keer weer na die selle kant toe uit. Toe weet ek die ding lewe.
En ek maak lat ek gou by die geweer kom en ek skuif hom nog ’n bietjie aan. Maar toe’s daar nie tyd om weer te loop kyk nie, want dan loop die ding weer voor die bek weg. En ek druk die geweer sommer so van bo af styf teen die miershoop vas en ek trek die skoot af.
En ek vat weer die verkyker en ek hou die stippel dop. Want as die ding glad nie skrik nie, dan is dit heel mis. En dis net vir die koeël wat hy kon skrik - vir die klap van die geweer was hy baie myle te ver weg. En as hy nie roer nie, maar net vir ’n wyle wegraak, dan was die skoot duskant hom en kon ek hom nie sien nie omdat hy natuurlik agter die stof staan.
En so staan en hou ek hom dop so lank die koeël trek. En dit was of hy wegraak. En ek wonner of dit nie maar net dalk my oë is nie, maar ek kyk gou eers op ’n anner plek en toe weer trug na waar hy moet wees. En toe makeer hy. Toe weet ek dis ’n doodskoot.
En ek hang my geweer en die verkyker oorkruis aan hulle bande oor my skouers en ek stryk aan. En die son is warm; die wêreld beef.
En dis later hard mirrag. Maar ek stap.
En my koelte begin langer word.
En later sien ek doerr lê hy. En dit is een van die ou springbokramme.
En ek kom nader en ek sien hy’s moddervet. En ek loop tot by hom. Maar toe help alles my nou nog niks, want toe’s hy klaar vrot.