Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie; as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is – Spreuke 13:24
KORT VERTELLINGE - JAN SPIES (18)
Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies
Droomlangs stroom-af opdraand
Ons trek eenkeer ná ’n kwaai droogte uit die Kalhari terug na ons plaas toe. Maar omdat dit ’n stuk of tweehonderd kilometer van die plek waar ons die veldjie te huur gekry het, tot by ons huis is, en omdat die waters ver uitmekaar was, en waar daar water was, dit nog maar skrappies ook was, het my pa vooraf die ent pad van boer tot boer afgery en by hulle gereël dat ons by hulle ons vee kon water gee wanneer ons die terugtog aanpak. En so gebeur dit dat my pa by ’n ou vriend van ons ook aandoen, en dié sê vir my pa maar dis geheel en al nie nodig dat ons die draai trek wat die pad loop om by sy huis langs te kom nie. Ons kan wat hom betref, sommer reguit deur die veld steek en die elmboog uitsny. En wat so gaaf is: in sy agterveld - min of meer waar ons dan sal deurtrek — het hy ’n buitepompie waar ons kan watergee. En daarby kan ons ons goed sommer die nag in die krale jaag wat hy daar gemaak het omdat hy nie in die tyd daar sou vee hê nie.
En so het ons dan ook gemaak toe ons daar by die pompie langs is. Ons het laat-namiddag daar aangekom en die vee water gegee en in die krale gejaag. Maar die donkies - wat die hele dag wa getrek het - kon ons natuurlik nie ook in die kraal jaag nie. Hulle is saans gespan en gelos, soos ook dié aand, sodat hulle kon wei, maar darem nie land-uit loop tot die volgende môre nie. Die anderdagmôre na ons die wagters met die vee in die pad gehelp het, toe sê my pa ek moet die donkies loop haal solank hy ons kos- en kooigoed op die wa laai en die trekgoed so ’n bietjie raakvat.
En ek is daar weg op hulle spore, maar na ’n duin of twee toe sien ek dis nie vanmôre net vir loop donkie-haal voor ons kan inspan en ry nie. Want een van hulle se spankous het gebreek en hy’t toe begint aanstryk soos wat sy kop vir hom gesê het, en die ander agterna.
En dit moet ’n mens weet: ’n gespande donkie loop vervloeks ver in ’n nag — as hy net een het om agter aan te loop, want dan vreet hy nie rus-rus en kou-kou nie. Dis net so met die aanspring of kort-treetjies-loop wat hy hier en daar ’n bekvol gras pluk. En teen die tyd wat hy weer ’n bekvol afbyt, dan is hy ’n hele ent vorentoe.
Dis toe die môre my lot: ek moet hulle inhaal. En hulle het die hele nag voor gehad.
So bly ek dan nou maar op die streep spore, en kyk kort-kort of party nie dalk afdraai nie. En toe ek weer ’n slag kyk, sal ek gewaar dat ons span op twee los donkies van die plaas moes afgekom het, want daar is toe drie losses by die sewe spanspore. En die twee plaasdonkies moes toe dors gewees het, want ek sien die spore loop in die rigting waar die opstal moet sit. Toe hoop ek maar die oom sou die spulletjie daar opgevang het.
Maar toe ek oor die laaste duin kom, sien ek op die heel werf geen donkie nie. En ek kon goed sien, want reg voor my af lê so ’n diep pannetjie met ’n windpomp naby aan sy anderkant, met by die windpomp ’n ou soort van waterinrigtinkie, en op die kalkie aan die oorkant uit sit aan die een kant die huis en skuinsweg na die annerkant toe die krale en die volkies se pondokke. En nêrens sien ek ’n lewende ding nie, behalwe hier en daar ’n werfmens.
En so met die aanstap om dan nou te gaan hoor of een nie gesien het waffer kant toe die donkies van die water af is nie — want hulle spore sou heel moontlik die môre deur die ander vee doodgetrap gewees het - sien ek iemand daar kortby die pomp aan die werk.
Ek dag eers, na ek mooi gekyk het, hy maak ’n krip.
Maar toe ek nader kom, sien ek die ding is te lank. Dit loop teen die kalkruggie uit na die dam by die huis. En toe ek nog nader kom, toe sien ek dis die oubaas van die plaas.
Ek sê: “More, oom Hennerik.”
Hy sê: “More jong. Waar kom jy dan nou vandaan?”
Ek sê: “Oom, ek kom nou daar van Oom se veepossie af. Ek soek ons donkies.”
Hy sê: “Oo, is dit julle donkies? Maar ek dag dan julle is al verby, en by die huis.”
Ek sê: “Nee, Oom; ons het gistraant eers tot hier gekom. Maar wat bou Oom?”
“Kan jy nie sien dis ’n watervoor nie?” vra hy. “Ek kan niks met die water hier innie pan maak nie. Ek wil hom daar bo by die huis kry. En dis die wat ek hom wil oplei tot doer by doerie dam.”
Ek vra: “Maar hoekom lê Oom dan nie pype suintoe nie?”
Hy sê: “Maar dis mos ’n duur ding darie. Wie kan hom dan nog bekostig? En hier op die kant vannie pan breek ek die klippe verniet uit, en die kalk brand ek ook nog self.”
Ek sê: “Oom Hennerik, maar die water sal mos nooit opdraand daar na die dam toe loop nie.”
En toe vererg hy hom bloedig. Ek dag hy klap my met die troffel. So driftig praat en beduie hy.
Hy sê: “Jong kyk hier, Holpan is my plaas. En hierie water wat jy hier sien sit, is my water. En hierie voor is my voor. En as ek wil hê hierie water moet hier met hierie voor opdraand loop, dan wil ek hê hy moet opdraand loop. Verstaan jy?
“Julle donkies is netnou daar oor darie duin. Loop lat jy hulle gou kry, want jou pa wag teen nou-se-tyd lankal vir jou.
“En dan wag jy tot julle op jou pa se plaas is, en dan sê jy vir hom daar wat hy op sy plaas met sy water kan doen. Maar hier’s ek baas.”
Ek sien toe ek moet liewer die voor los lat hy lateraant self vir oom Hennerik sy storie vertel. “Dankie, oom Hennerik,” sê ek toe maar vredesonthalwe, en ek groet hom. En so is ek daar weg.
Van so ’n ent af het ek hom net iets hoor mompel van “jong kjinners”.
So in die loop agter die donkies aan het ek daaraan gedink dat dit nie bra snaaks was dat ek oom Hennerik daar gekry het waar ek die donkies verwag het nie — hulle sou ent-ent goeie geselskap vir mekaar uitgemaak het. Maar soos ek ouer geword het, het ek gesien dat oom Hennerik nie uitsonderlik dom was nie. Hy was net ’n gewone mens. Want van dié dag af het ek darem al baie Holpanne met opdraand-watervore gesien - mooi vore wat die mense agter hulle-se drome aan bou, maar waarin daar nie water sal loop nie. En as hy loop, dan sal hy verkeerde kant toe loop.