Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wonder ons soms waarom ons as 'n volk van die Here, nie rustig en in vrede kan saamleef nie, waarom ons voortdurend rusie met mekaar soek, mekaar verraai, verneder en vernietig? Daar is net een grondslag waar dit verkeerd geloop het: Jesus het die wetgeleerde op sy vraag wat die "groot gebod in die wet is" só geantwoord: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en met jou hele verstand. En die tweede wat gelyk hieraan staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Ons verskeurde ou volkie weet nie meer wat naasteliefde beteken nie. En as ons die tweede gebod nie eers kan onderhou nie moet ons onsself nie bluf en dink dat ons God so liefhet as wat Hy ons beveel nie. En dan wil ons nog aanspraak maak op die voorregte van 'n volk van God!
KORT VERTELLINGE - JAN SPIES (19)
Lees reeks by Kort vertellinge - Jan Spies
’n Vriend in nood
In ’n huis in Molenstraat op Die Bult in Potchefstroom het vroeër-dae ’n oubaas gebly met die naam van oom Jan Kowa. En hy was iemand met wie die skoolkinders graag gesels het, en dit is een van hulle wat my van hom vertel het.
Deur die depressiejare het dit met oom Jan Kowa, soos omtrent met almal, swaar gegaan. Die enigste werkie wat hy kon kry, was om in diens van die munisipaliteit pad- en straatmaker te word — met die pik en die graaf natuurlik.
Maar oom Jan Kowa het nie te lank met die pik gekap nie, toe kry hy bevordering. Hy word toe, wat hy genoem het, “ ’n hoofman over tien”. En hy lê die pik neer en kry ’n voormansgraaf om hier en daar ’n streep mee te trek, sodat die ander kon sien waarlangs hulle moes kap.
En so sien die kinders as hulle smiddags huis toe kom, die werkers met die pikke kap, en daar eenkant sien hulle die hoofman over tien op verskillende maniere op sy graaf leun - die een dag hand in die sy, en die ander dag anders.
Maar dit het nie lank geduur voor oom Jan Kowa en een van die munisipale werkers stry kry nie. Die wil hom toe kom leer pad maak. En dit was net daar en dan dat oom Jan Kowa homself as ’n hoofman over elf beskou en die amptenaartjie fluks opdons.
Dit was die einde van die hoofman over tien (of elf), want die volgende middag toe die kinders van die skool af kom, kap oom Jan Kowa soos voor sy bevordering weer met die pik, en ’n ander man staan met die voet op die graaf en die hand in die sy.
Dit kon oom Jan Kowa nie sluk nie, want hy was ’n man wat gevoel het dat daar meer in hom steek. En toe werk hy net om geld te spaar sodat hy sy eie onderneming kon begin.
Maar voor hy nog self gereed was, tref die geluk hom. Die gemeente het van sy plan te hore gekom en toe haak hulle hom met ’n bietjie kontant. En so kon oom Jan Kowa toe vir hom ’n trollietjie en ’n muil koop en Die Bult en omgewing se ligte transportwerkies doen.
Eers was dit net die normale soort goed wat die mense hom gevra het om te vervoer. Maar gou het almal agtergekom hoe handig dit is om vir oom Jan Kowa met sy verbykom in die straat, sommer hulle winkelnotisies ook te gee.
En so het hy en die muil later hulle hande vol gehad om elke dag se klomp werk af te handel.
En dit was op een so ’n besige dag dat ’n baie droewige slag skielik vir oom Jan Kowa getref het, maar die uitkoms ewe onverwags, eenvoudig net daar was.
Die weer het vroeg al begin dig word en oom Jan Kowa moes ekstra spook om alles afgelewer te kry voor die reën dalk uitsak. En die weer word swaar, maar daar’s geen genade nie; oom Jan Kowa moet deurdruk. En daar slaan die weer die muil in die tuig dood.
Die mense van die naaste huise af help dra die trollie leeg en bring die vrag onder dak, sodat oom Jan Kowa se skade nie nog groter moet wees nie. En hulle was pas klaar, toe begin die wolke uitvasel, en die moontlike storm is verby.
Maar daar staan oom Jan Kowa toe omtrent net waar hy was toe hy nog by die munisipaliteit gewerk het.
Hy kon wel intussen sy gesin aan die lewe hou, maar van iets wegsit, was daar geen sprake nie.
En daarom sou hy sonder die pik en die graaf nie weer ’n muil kon koop nie.
En die mense drom daar om die trollie saam en hulle praat oor die geniepsige verlies wat oom Jan Kowa gely het, en hulle simpatiseer en probeer praat moed in, en gee raad. En hulle praat onder mekaar oor die ramp wat ook vir hulle getref het. Want Die Bult se hele vervoerstelsel was met net een slag van die weer daarmee heengeslaan.
En toe hulle nog so staan, kom loop professor Du Toit, die bekende Totius, daar aan. En hy beskou die ramp en hoor die treurigheid aan.
En hy sê: “Nou mense, ek het oom Jan Kowa ’n pond jammer.” En hy haal ’n pondnoot uit sy sak en sit dit op die waentjie neer.
En daar begin kry die omstanders oom Jan Kowa elkeen volgens sy vermoë jammer: een vir tien sjielings, ’n ander vir ’n halfkroon, nog een vir sewe-en-ses, en ’n volgende vir sewentien-en-’n-sikspens. En so stroom die jammerte in kontant in: 9/-, 7/-, 2/-, 2d, 1 id, 3/9, en so aan. En daar het hulle oom Jan Kowa uiteindelik ’n heel nuwe, lewendige muil jammer gekry.
So gaan die karweidiens op Die Bult toe weer voort, en almal is gelukkig en tevrede.
Behalwe oom Jan Kowa.
Want van die dag af kon hy nie sy werk met ’n ewe vredige gemoed as voorheen verrig nie. Daarvoor het hy op sy rondtes ’n te lastige lewensraaisel in die hart saamgedra.
Die naar ding wat hom bly pla het, was die vraag hoeveel van die mense hom die dag daar om die wa uit jammerhartigheid jammer gehad het en hoeveel hom jammer gekry het om hulle hom nodig gehad het.