Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Bid sonder ophou, bid weer en weer - Hy sal op sy tyd aandui dat sy ore nie vir ons gebede doof was nie, hoewel dit in die oë van mense lyk asof Hy dit in die wind slaan.
BRIEWE AAN CHARLES (3)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Bal-vir-bal-kommentaar
Beste Charles,
My ou vriend, jy sal nie glo hoe sport en alles wat daarmee gepaard gaan, soos handomkeer verander het nie. Daar is steeds die belofte van opwindende dinge wat wag en dinge wat reeds aan die gebeur is. Veral op die gebied van krieket, rugby en sokker. Groot welslae word en is reeds behaal sedert die isolasiespook uiteindelik graf toe is. Hopelik sal hy nou daar bly, hoewel daar in die Suid-Afrikaanse sportwêreld tog nog mense is wat politieke spoke wil oproep om twis en tweedrag te kom saai.
Daar is net een terrein waar dit lyk of dinge rustig en seepglad verloop, en dit is in die geledere van dr. Ali Bacher se Verenigde Krieketraad. Dié vriend van ons doen goeie werk en geniet groot aansien dwarsdeur die krieketwêreld. Die belangstelling in krieket is besig om geweldig toe te neem.
Nog voordat ek jou leer ken het, het ons mos met bal-vir-bal-kommentaar oor die radio begin. Dit was in die 1964/65-seisoen in die vierde en vyfde toets tussen Suid-Afrika en Engeland in Johannesburg en Port Elizabeth onderskeidelik. Die Suid-Afrikaanse Krieketunie was maar baie huiwerig om dit toe te laat. Hulle het gemeen dat nog minder toeskouers by die wedstryde sal opdaag. Net die teenoorgestelde was natuurlik die geval. Veral Afrikaanssprekendes het in hulle duisende na die krieketvelde begin stroom. Daar was die artikel van 24 Februarie 1967 wat ek destyds so ewe windgat onder jou neus gevryf het. Ek wil weer vir jou daaruit aanhaal: “Hoofsaaklik drie dinge het die Afrikaners krieketbewus gemaak. Die ongekende welslae wat die Springbokke behaal het (niks slaag soos sukses!), die nuwe, opwindende benadering van moderne krieketspelers en les bes, bal-vir-bal-kommentaar. Maar eintlik is dit bo alles die Afrikaanse krieketkommentator wat die Afrikaner en krieket bymekaar gebring het. Die radio het krieket na die woestyn en die vlakte, die bosveld en die strand, die Kalahari en die Karoo gevat.”Dit was wyse en baie waar woorde. Dit was vir my 'n groot eer en ’n voorreg om deel te wees van ’n span manne wat net soveel belangstelling vir die spel by toeskouers gekweek het as vandag se televisiekameras met bal- vir-bal- en kykweerskote. Vandag se radiokommentators en bal-vir-bal- beskrywings het nie meer dieselfde trefkrag nie. Charles, dit is so jammer dat jou soort en besoekende kommentators van weleer soos die Engelsman Brian Johnston en Alan McGilvray uit Australië, om maar net twee te noem, uit die kalklig verdwyn het. Daar is deesdae nie eers meer ’n English Service of 'n Afrikaanse Diens waarop ons twee nog deurlopende kommentaar gelewer het nie. Televisie is bedrywig en gaan mettertyd alles oorneem. Daar is deesdae groot spelers uit die verlede wat op die kassie kommentaar lewer. Na sommige van hulle kan ’n mens luister, ander irriteer jou met hulle slimmighede. Gelukkig is die oog van die kamera stil en duidelik.
Jy weet, ek sal nooit vergeet wat Ali Bacher eendag tydens ’n wedstryd teen Australië op die Wanderers aan my gesê het nie. Dit was vir hom ’n groot lekkerte om te kolf vandat ons Afrikaanssprekendes met ons kommentaar na die velde gelok het. Hy het beduie dat toe hy voorheen ’n grenshou geslaan het, daar net ’n beleefde handeklap uit die halfleë pawiljoene gekom het. Dit het verander in ’n gejuig en groot applous soos wanneer ’n drie in rugby gedruk word.
Charles, ek weet dat jy nie te vinde was vir ons manier van opwinding-skep met ’n nuwe kommentaarstyl nie. Veral nie in julle “gentleman’s game” nie. Toe ons tot soveel as sewehonderd telegramme van gelukwense en navrae tydens ’n toetswedstryd ontvang het, moes jy toegee dat ons dalk ’n punt beet het. Het ek my verbeel, of is julle in die Engelse kommentaarhok geleidelik ook so effe meer opgewonde gemaak deur die reaksie van die skare uit die stampvol pawiljoene? Ek weet dat Alan McGilvray jou met sy eerste besoek gevra het waaraan die nuwe benadering van toeskouers hier te lande by krieketwedstryde toe te skryf is. Jy het hom by die Afrikaanse kommentaarhok ingebring. Hy het so 'n ruk lank na die onverstaanbare kommentaar staan en luister en toe gesê: "Now I've seen the bloody lot.”
Ek het die oubaas in 1971 tydens die rugbytoer van Hannes Marais se Springbokke by sy huis in Australië gaan opsoek. Hy het lekker gesels oor sy kuiertjie die dag in die Afrikaanse kommentaarhokkie op die Wanderers. “Julle het my iets geleer,” het die ou gesê.
Dit is opvallend dat die navrae wat per faks in die televisie-ateljee tydens kriekettoetse ontvang word, maar nagenoeg dieselfde antwoorde soek as die telegramme van 'n geslag gelede.
Daar is darem een telegram waarvan ek spesiaal melding moet maak. Ek het dit vandag nog in my besit. Dit is gerig aan: Die Afrikaanse Kommentators, die “Wonderers”, Johannesburg - die Wanderers gespel soos die destydse Eerste Minister daarvan gepraat het. Wyle mnr. John Vorster het my later vertel dat hy self die telegram uitgeskryf en by die poskantoor ingehandig het. Toe ek dit oor die lug lees, het jou medekommentator Chick Henderson agter my in die kommentaarhok gestaan. Daar is niks verkeerd met sy Afrikaans nie. Hy het die telegram na jou toe geneem en jou die inhoud daarvan in die oor gefluister. Ek hoor nog duidelik jou stem: “I’ve just received a telegram from the Prime Minister” en jy lees dit asof dit in Engels aan jou gerig is.
Ek wou eintlik jou gedagtes terugvoer na die besoek van Mike Smith se Engelse van 1964/65 en die vyfde en laaste toets op een van die oudste velde in die land, St. Georges Park in Port Elizabeth. Hier het Suid-Afrika sy eerste toets ooit teen Engeland gespeel in 1889 onder aanvoering van die latere rolprentakteur, C. Aubrey Smith. In my kinderjare het ek die ou in die rolprent King Solomon's mines gesien. Ek het in my jeugjare in die Lyric Theatre in die destydse Mafeking as “assistant operator” gewerk. Die betaling was 'n gratis kaartjie een keer per week. Dan kon ek agter in die teater sit. Dit het my goed gepas, want my eerste nooientjie was die baas van die bioskoop se dogter, Joan Hoffman. Tydens die “matinee” die Woensdagmiddag het ek klaar die prent wat gedraai het uit die “operating box” gesien. Met die aandvertoning kon ek dus al my aandag aan handjie-vashou en piksoentjies gee.
Mike Smith se span het die Springbokke in die eerste toets in Durban ’n “dingespak”, soos ons in die ou dae gesê het, gegee met ’n beurt en oor die honderd lopies. Daarna het hulle gewys watter meesters hulle is om negatiewe krieket te speel. Die ander vier toetse het onbeslis geëindig. In Port Elizabeth het die aanvangskolwer, Geoff Boycott, die hoofrol gespeel. Hoekom ek ook sy naam noem, is omdat hy in 1995/96 weer ons land besoek het saam met die Engelse span van 'n jong hardegat met die naam Mike Atherton. Boycott het kommentaar oor die radio en televisie gelewer met sy swaar Yorkshire-aksent en al. As jy gedink het hy was negatief in sy spel, moes jy hom in sy nuwe rol as kommentator gehoor het. Die kwetsende dinge wat hy soms kwytgeraak het, was vir my net een te veel.
Terug by die toetse in Port Elizabeth. Geoff Boycott se lyftaal en soms kinderagtige optrede van destyds sou hom vandag, met die televisiekameras op hom, seker baie Britse ponde uit die sak gejaag het. Die skitterende speler is in die eerste beurt uitgehaal vir 117 deur die Springbokkaptein, Peter van der Merwe. Harry Bromfield was die wegbreekbouler. Hy het tot die misnoeë van die skare geweier om die applous vir sy honderdtal te erken. Hy het die kuns van negatiewe spel absoluut vervolmaak. Hy was nie 'n erkende bouler nie, maar het in die Springbokke se eerste beurt knaend- irriterend 156 balle kort van 'n lengte buite die wegpen geboul. Jy sal onthou die groot ligpunt in die toets was die jong Graeme Pollock se vertoning voor sy tuisskare. Hy het ’n briljante 137 lopies in die eerste beurt en 77 n.u.n. in die tweede beurt aangeteken. Dit het ons darem iets positiefs gegee om aan die luisteraars te vertel.
Waar Engeland in daardie reeks gesorg het dat al vier toetse na hulle oorwinning in die eerste toets onbeslis eindig, moes Mike Atherton se span met die hulp van baie reën in twee toetse voor die vyfde en laaste in Kaapstad Ielikk spook om onbesliste uitslae te verseker. My vriend, jy sou seker gekraai het van lekkerte as jy die toets in Kaapstad uitgesaai het waar die span van die Jong Suid-Afrikaanse kaptein, Hansie Cronje, net drie dae van die vyf nodig gehad het om die Engelse, Boycott inkluis, dikbek te maak met 'n tienpaaltjieoorwinning. Jy sou in jou gedagtes teruggevoer gewees het na die begin van die nuwejaar van 1965 op Nuweland in Kaapstad waar Mike Smith se span in die derde toets teen Trevor Goddard se manne gespeel het. Kyk, 1996 se span het gekla oor skeidsregterbeslissings, maar dit was nie naastenby so erg as in die derde toets op die pragtige ou Nuweland nie.
Baie geld is intussen op Nuweland bestee aan veranderinge van die stadion. Dit lyk goed, maar ek kan nie help om te dink dat baie van die atmosfeer wat veral onder die eike- en plataanbome geheers het, verdwyn het nie.
Onthou jy nog die Ken Barrington-/Eddie Barlow-voorval van destyds en die daaropvolgende polemiek wat ontstaan het oor die kwessie of ’n kolwer uit sy eie moet loop sonder dat die skeidsregter sy vinger lig?
John Warner was die dag die betrokke skeidsregter. Suid-Afrika het die loot gewen en eerste gekolf. Net na die middagete het Eddie Barlow, met sy telling op 41, vorentoe gespeel na ’n aflewering deur wegbreekbouler Fred Titmus. Die bal het aapstert gemaak van die toon van Barlow se skoen af tot in die hande van die paaltjiewagter, Parfitt. Daar was 'n luide appèl vir ’n vangkans. Meneer Warner het nie saamgestem nie en Barlow het bly staan. Vermoedelik het die bal van die kolf op die skoen beland. Die spelers van Engeland het hulle misnoeë duidelik te kenne gegee. Hulle lyftaal het aan die skandalige gegrens toe Eddie sy honderdtal bereik. Nie een van hulle het erkenning gegee nie, maar met hulle hande op die heupe hulle agterkant aan Barlow gewys.
Op die derde dag se spel het Ken Barrington, met sy telling op 49, gesorg dat John Warner weer onnodig en indirek beledig is. Barrington het met ’n dwarskolf na 'n aflewering van Peter Pollock buite die wegpen gespeel. Die hele span het geappelleer vir die vangskoot van paaltjiewagter Denis Lindsay, maar mnr. Warner het nie sy vinger gelig nie. Dit was ’n koponderstebo, teleurgestelde span wat moes aanskou hoe Barrington bly staan het en toe, na wat soos ’n leeftyd gevoel het, ewe vermakerig die kolf onder die blad gesit en onder groot applous van die skare afgestap het.
Charles, ons twee het daarna oor die voorval gesels en jy het ook gevoel dat die hardnekkige kolwer Ken Barrington die dag van hom ’n groot gek gemaak het. Ons voorste skeidsregter destyds, wyle Hayward Kidson, het altyd met groot vermaak vertel hoedat 'n skeidsregter van Transvaal ’n soortgelyke situasie streng volgens die reëls gehanteer het. Henry Fotheringham, bekende kolwer van Natal en later jare van Transvaal, is nie deur mnr. Syd Moore na ’n appèl vir ’n vangkans in die glippe uitgegee nie. Henry het aan die veldwerker gevra of hy die vangkans benut het, en toe hy bevestigend antwoord, het hy uit sy eie die veld verlaat. Met die onderbreking het mnr. Moore die amptelike tellinghouers versoek om Fotheringham se beurt te laat verander van “gevang” na Fotheringham "retired".
Jou siening was altyd dat dit net menslik is vir 'n skeidsregter om ’n oordeelsfout te begaan, maar dat dit ’n probleem skep om ’n fout met betrekking tot die reëls te begaan. Jy ken mos die eeue-oue gesegde “nobody’s perfect”. Deesdae kan daar, vanweë baie gevorderde tegnologie, na elke kolfhou of aflewering deur 'n bouler teen stadige pas op die televisieskerm presies gewys word wat gebeur het. Nou wys die “replay" duidelik dat skeidsregters wel verkeerde beslissings gee. Dit veral met betrekking tot been voor paaltjie, vangkanse, en die kwessie of die bal wel van die kolf of handskoene gekom het. Dit beklemtoon die uiters moeilike taak van die skeidsregter. Hulle taak met betrekking tot die uithardloop van ’n kolwer is egter vergemaklik. Indien daar enige twyfel bestaan, kan hulle ’n derde skeidsregter, wat alles op televisie teen stadige pas en raampie vir raampie kan dophou, vra om te beslis.
Ek wens dinge het net so rustig in die rugbywêreld verloop as op krieketgebied. Jy en ek het altyd besluit om nooit binnekringstories uit te lap nie. Jy het jou krieketgeheime deur die jare goed bewaar. Ek het met my kontakte in die rugbykluise nooit die sleutel uitgeleen nie. Ek is ook nie van plan om dit nou te doen nie.
Rugby het te professioneel geword. Daar is nou 'n horde beamptes en manne wat almal op die soustrein klim. Die ou bedeling van die afrigter en die bestuurder bestaan nie meer nie. Afrigters word ge-“hire" en ge-“fire”. Die blikkie se boom gaan uitval. Ons sê by wyse van spreke: “Geld wat stom is maak reg wat krom is.” Julle het ’n baie meer realistiese gesegde, naamlik: “Money is the root of all evil.”
Ek verkies om daarmee te volstaan, want ek is bang vir lasteraksies. Ek het nie die geld om dit te beveg of te bewys nie.
Ek wil terugkom na Ali Bacher. Alles wat hy op die gebied van krieketontwikkeling doen, word oral en deur almal gewaardeer. Soos jy weet, was hy altyd ’n groot bewonderaar van jou, en op sy beurt was hy weer een van jou gunstelingspelers, sy ongemaklike kolfstyl ten spyt. Jy kon nooit die gewilde Springbokkaptein se van lekker uitspreek nie. Die “g”-klank het jou gepootjie. Ek het jou soms hoor "Batcher” sê, ander kere weer iets wat soos “Barker” geklink het.
Hy het altyd daaraan geglo dat ook die kommentators en persmanne met ’n das en baadjie vir diens by die veld opdaag. Ek het net een keer sonder das en baadjie by die Wanderers opgedaag en is dadelik deur hom aangespreek: “Spiekerish, you’re not properly dressed.” Dit het altyd baie warm geword in ons kommentaarhokkies. Ek onthou hoe jy op ’n dag sonder broek betrap is toe Ali mnr. Vorster aan jou kom voorstel het. Jy het darem koddig gelyk met jou das, Iang oopgeknoopte hemp en wit onderbroek. Dit hitte was vir jou net een te veel. Jy het jou broek uitgetrek, langs jou baadjie aan die hakie in die hokkie opgehang en so sit en uitsaai. Gelukkig kon geen toeskouer meer as net die kommentators se koppe vanuit die pawiljoene sien nie.
Ek sal Ali Bacher altyd vir een ding onthou. Ek het baie gewig verloor op die toer van 1965 in Engeland. Vermoedelik was ’n maagseer en vreemde kossoorte die rede hiervoor. In 1966 het ek ’n rugbywedstryd op die ou Ellispark uitgesaai. Voor die begin van die wedstryd het Ali voor my kommentaarhok verbygestap oppad na sy sitplek. Dit was die eerste keer wat ek hom weer ná die kriekettoer van 1965 gesien het. Hy het gaan staan en vriendelik gewaai. Toe ek die aand tuis kom, het hy geskakel. Hy het beduie dat ek nie vir hom so goed lyk nie en dat ek asseblief na sy woning toe moet kom. Sy vriendelike vroutjie was saam met hom baie bly om my weer te sien. Hy het dadelik met die deur in die huis geval. Hy was bekommerd oor my gesondheid en het my ’n voorskrif vir maagmedisyne gegee. Hy het ook vir my ’n afspraak by ’n maagspesialis vir die volgende Maandag gereël. Ek het die afspraak nagekom. Ek is baie deeglik ondersoek, het selfs die klein kamera gesluk vir ’n deeglike skandering van my maag. Toe is daar met intensiewe behandeling begin. Na verloop van 'n maand of twee was ek ’n nuwe mens, so gesond soos ’n vis in die water. Ek kon dr. Bacher en die maagspesialis nie genoeg bedank nie. Dit was al wat ek kon doen. Hulle het my nooit 'n rekening vir die behandeling gestuur nie en wou ook niks van enige betaling weet nie. Al wat Ali Bacher gesê het, was: “Keep well, my friend."
Groete
Gerhard