Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ek gaan maar net een maal deur die lewe;
Enige goeie daad wat ek kan verrig of enige welwillendheid wat ek aan my naaste kan betoon, laat ek dit nou doen.
Laat ek dit nie uitstel nie want ek sal nie weer hierlangs verbygaan nie.
BRIEWE AAN CHARLES (10)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Dis nie krieket nie!
"Die kleedkamerbesoeke was vir my 'n wonderlike ondervinding. Peter en ek het groot vriende geword en dit was ook hy wat aan my die bynaam 'Spiekeries' gegee het. Ek is op heel sonderlinge wyse deur hom so gedoop. Wanneer ek begroet is met hulle bekende 'How are you?' het ek altyd geantwoord: 'Spiekeries, thank you. ' Op die derde dag van die toer het ons mekaar in die gang raakgeloop. Na die groetery vra hy so ewe vir my: 'What’s this SPEAK ENGLISH?' Ek beduie ek sê 'SPIEKERIES'. 'Now what the hell does that mean?' wou hy weet. "
Beste Charles,
Jy was ook maar soms ’n baie moedswillige ou duiwel, Charles. Ek het so lekker na jou geluister toe jy in die 63/64-seisoen die skittervertoning van Trevor Goddard se span in Australie beskryf het. Ek het die indruk gekry dat jy soms die ding ’n bietjie oordryf. Maar op die 2de Oktober 1964 het ek met my eie oe op die Wanderers in Johannesburg gesien hoekom jy so in vervoering oor die span geraak het.
Eers oor jou moedswilligheid. Die Afrikaanse Diens van Radio Suid-Afrika het nie ’n kommentator in Australië gehad nie. Alles het daardie dae oor uitsaai gegaan en jou kommentaar het gemaak dat daar vertaalde kommentaar uit die ateljee in Johannesburg gelewer is. Die taak was aan my opgedra om na jou op kopstukke te luister en dan net ná die vroeë oggendnuus die laaste tien minute van die dag se spel in Afrikaans te beskryf. Dit was moeilik, maar dit het nogal gewerk - met die uitsondering van een oggend. Jy het goed geweet van die reëling maar jou op die spesifieke oggend nie daaraan gesteur nie.
Net voor die einde van die nuus en die begin van my “kommentaar” gee jy die telling en beduie dat Eddie Barlow met ’n nuwe boulbeurt gaan begin. Ek begin deur te herhaal wat jy gesê het en is dankbaar dat jy die telling verstrek het, want dit is iets wat jy nie sommer gedoen het nie. Toe begin my smarte, want jy haak af en sê: “This morning I received a telegram from the Pollocks in Port Elizabeth.” Ek trek los en sê: “Dis ’n goeie eerste aflewering van Barlow net buite die wegpen. Hy klop die kolwer wat gelukkig vir hom nie kolf bykry nie.” Jy wei rustig vir ’n stuk of drie minute uit oor die telegram en wat dit vir jou beteken. Jy het vrede met Barlow se boulery en ek laat hom ’n leë boulbeurt boul. Toe gaan jy voort met ’n beskrywing van die vriendskap tussen jou en die Pollocks. Ek het geen ander keuse gehad nie as om te sê dat ek kontak met die Australian Broadcasting Corporation verloor het en dat musiek gespeel gaan word totdat die verbinding herstel is. Die verbinding is nie herstel nie, want ek hoor toe hoe jy beduie dat Barlow se boulbeurt vyf lopies opgelewer het. Jy het my nooit vertel waarom jy my so bevark het nie. Miskien sou jou optrede anders gewees het as ons mekaar destyds al geken het, of hoe sê ek? Ek het jou ook nooit gevra waarom jy dit gedoen het nie.
Terug by 2 Oktober 1964. Daar is ’n wedstryd tussen Goddard se span en die res van Suid-Afrika gereël. Die res is aangevoer deur Jackie McGlew. Dit was 'n goeie aanduiding vir die keurders van die beskikbare krieketkrag vir die 1965-toer na England. Goddard het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Ons kon sien dat jou beskrywing uit Australië in die kol was. Ek sal seker nie weer so ’n lopiefees sien nie. Dit is ’n rekord wat in 'n wedstryd in Suid-Afrika in een dag opgestel is. Die vorige rekord van die meeste lopies wat in een dag aangeteken is, was in ’n wedstryd tussen Natal en die Oostelike Provinsie in Pietermaritzburg in die 39/40-seisoen. Dit was 587. Net ses spelers van Goddard se span was nodig om die rekord te verbeter. Vier kolwers het honderdtalle behaal, en Goddard het die beurt gesluit verklaar op 618 lopies vir die verlies van 4 paaltjies. Tony Pithey teken 'n sprankelende 110 aan, Graeme Pollock 123 lopies in 105 minute met 23 grenshoue, Colin Bland 151 en Denis Lindsay 107 . Dit was darem ’n bobaasvennootskap van 267 in die laaste 99 minute van die dag se spel tussen Bland en Lindsay. Altesaam 114 boulbeurte is deur McGlew se span afgestuur; die kolwers het die bal sewe keer oor die grens laat beland en 84 keer daarteen laat klap. Richard Dumbrill het van Barlow en Goddard ontslae geraak en Athol McKinnon van Pithey en Pollock.
Ek onthou nog Ali Bacher se 61 in die span se opvolgbeurt. Dit was die hoogste telling. Die man het altyd ongemaklik voor die penne vertoon en het min houe wat in die handboeke beskryf word, gespeel. Hy was een van my gunstelingspelers en het beslis die latere eer van Springbokkaptein terdeë verdien. Dit was die eerste keer dat ek my gunstelingbouler van daardie jare, Peter Pollock, 5 paaltjies in ’n beurt sien neem het. Vyf vir 46 in 18 beurte waarvan 4 leeg was.
Ek moet darem vir jou sê in 1965 het die Pollocks van Port Elizabeth dinge met my gesels wat hulle nooit aan jou sou genoem het nie. Hulle het ’n merske respek en vrees vir jou gehad. Ek dink hulle het dit om hierdie rede ook verwelkom dat jy nie saam met ons in die spanbus gereis het nie. Hulle was bang dat jy stories by pa Mac sou aandra. Ek het dit natuurlik geniet om saans oppad na die plek waar die volgende wedstryd sou plaasvind, saam met die Pollocks, en Lindsay, Macauley en baie keer ook wyle Atholl McKinnon agter in die bus te sit met ’n blikkie bier in die hand. Dan het ons lekker vals gesing, sulke sentimentele ou liedjies soos byvoorbeeld wagon wheels en Cotton fields. Ek het gewoonlik ná die singery voor langs Colin Bland in die bus gaan sit en ’n glasie “G and C”, soos hy dit genoem het, geniet. Hy was na my mening die beste veldwerker van alle tye. “Spiekeriesh," het hy een aand gesê, “I think you deserve a Springbok tie.” Hy het syne om sy nek losgeknoop en aan my gegee. Ek kan dit natuurlik nooit dra nie, maar die das het ’n ereplek tussen my versameling dasse. Dit is iets wat ek altyd sal onthou.
Terug by die Pollock-broers. Tydens die eerste toetswedstryd op Lords in Julie 1965 het daar twee gryskoppe reg voor my kommentaarhok gesit. Die een ou het in absolute vervoering geraak oor Graeme se kolfwerk, veral oor sy dryfhoue wat vir vier lopies na die grens gesnel het. Ek het die groot ruite van die kommentaarhok wyd oopgeskuif en kon duidelik hoor wat die twee gesels. Die een het telkemale beduie hoe hy homself as jong kolwer in Graeme sien. In my kommentaar het ek verskeie kere gepraat van die Pollocks, iedere keer het die oubaas wat homself in Graeme gesien het, omgedraai en my aangegluur. Op 'n keer het hy vies opgestaan en die glasruite voor my toegeskuif. Ek het my mikrofoon toegedruk, die ruite weer oopgeskuif en aan die man voor my verduidelik dat die ruit vuil is en my uitsig belemmer. Die ou druk sy gesig feitlik teenaan myne en sis dit tussen die tande uit: “In England you don’t mention ‘bollocks’ in public.” Ná die uitsending het ek verduidelik dat ek nie oor van 'n gedeelte van mans se privaatdele gesels het nie. My uitspraak van Pollocks moes vir hom na so iets soos “bollocks" geklink het. Die ou het homself voorgestel. Dit was vir my ’n voorreg om met die beroemde Engelse linkskolwer Frank (F.E.) Woolley kennis te maak. Hy het in die twintigerjare drie keer rekordtellings teen Suid-Afrika behaal: 154 in Manchester, 134 op Lords en 115 op die Wanderers in Johannesburg. Hy het lekker gesels oor sy besoek aan Suid- Afrika in die 1922/23-seisoen. Die res van die toetswedstryd het hy elke oggend vriendelik gegroet en verneem na die welstand van die Pollocks.
In 1965 het ons op pad na Londen in Luanda afgestap. Peter Pollock het net agter my saam met Tiger Lance geloop. Tiger was ook een van die nuwelinge in die span. Dit was nogal vir my ’n skok toe ek hoor hoe hy vir Tiger vra: “Who’s this c...?” Dit was vir my ’n groot verligting toe hy my laatmiddag op ons eerste dag in Londen saam met sy broer Graeme en Colin Bland ingewag het. Hy het verskoning gevra vir sy woorde die vorige aand. Hulle het aan my ’n Springbok “togsak” oorhandig en beduie dat ek as lid van die span aanvaar word. Dit was ’n groot ervaring. Ek kon by enige lid van die span aan tafel sit as ek wou. Dit het ek liewer vermy, want daar was nog twee ander lede van die media saam met ons op toer, Harold Butler van die Kaap en George Scott van SAPA, en ek het dit my plig geag om meer in hulle geselskap te verkeer. Die span het verwag dat ek elke oggend voor die begin van ’n wedstryd en elke middag aan die einde van die dag se spel by hulle ’n draai in die kleedkamer maak. Dit het ek gedoen en dit gesien as een van hulle vele bygelowe. Om nog een te noem: Peter het nooit gekyk as Graeme in ’n toets kolf nie.
Die kleedkamerbesoeke was vir my 'n wonderlike ondervinding. Peter en ek het groot vriende geword en dit was ook hy wat aan my die bynaam “Spiekeries” gegee het.
Ek is op heel sonderlinge wyse deur hom so gedoop. Wanneer ek begroet is met hulle bekende “How are you?” het ek altyd geantwoord: “Spiekeries, thank you." Op die derde dag van die toer het ons mekaar in die gang raakgeloop. Na die groetery vra hy so ewe vir my: “What’s this SPEAK ENGLISH?” Ek beduie ek sê SPIEKERIES. “Now what the hell does that mean?” wou hy weet. Ek antwoord: “Top of the world” en word summier aan die ontbyttafel op my bynaam aan die res van die span “voorgestel”. Vandag noem almal my so en ek beskou dit as ’n erenaam.
Man, ek is so jammer jy kan nie Peter se seun Shaun in aksie sien nie. Sy boulaksie is nes dié van sy pa. Hy lyk ook net soos sy pa, met die uitsondering dat hy vlamrooi hare het. En net soos sy pa is hierdie bouler ook geen pampoen met die kolf nie. Daar word allerweë voorspel dat die jongeling sy opponente grys hare gaan besorg.
Op die 1965-toer het ek Peter se boulwerk bewonder en menigmaal gesien hoe hy vyf paaltjies in ’n beurt laat kantel. Wat my die meeste genot verskaf het, was toe hy dit in beide beurte van Engeland in die tweede toets op Nottingham gedoen het. Vyf vir 53 in 24 boulbeurte en vyf vir 34 in dieselfde aantal beurte. Hy is deur sy spanmaats “Groot Hond” genoem, en die vertoning van hom saam met die “Klein Hond” se skitterende 125 in die eerste beurt en sy waardevolle 59 in die tweede beurt was die grootste rede vir Suid-Afrika se eerste reeksoorwinning in 33 jaar teen Engeland. Jy en ek het mos daar op Trentbridge na die Springbokke se oorwinning met 94 lopies besluit dat dit die beste toets is wat ons uitgesaai het. Dis lekker om weer die hele wedstryd in herinnering te roep.
Engeland het probleme gehad in die opsig dat een van hul beste kolwers, John Edrich, nie beskikbaar was nie. Hy het in Engeland se tweede beurt in die eerste toets op Lords in ’n blitsbal wat deur Pollock afgestuur is, vasgekoets en moes die veld na 7 lopies verlaat. Terloops, hy is mos in die eerste beurt van daardie toets deur Pollock vir 0 b.v.p. betrap. Brown en Rumsey, twee boulers van die eerste toets, was ook nie vir hulle beskikbaar nie en Engeland was genoodsaak om drie veranderinge aan te bring. Cartwright en Snow was ingesluit. Suid-Afrika se enigste verandering na die eerste toetswedstryd wat onbeslis geëindig het, was die hotklou-draaibalkoning van daardie jare, Atholl McKinnon, wat die wegbreekbouler Harry Bromfield vervang het.
Charles, voordat ek verder gaan met die opdiep van herinneringe, moet ek jou eers vertel van die aand wat die span my gevra het om goedige ou Harry Bromfield na 'n “strip show” te neem. Harry het van die môre tot die aand net oor krieket gepraat. Dit het nie saak gemaak waar hy hom bevind het of in watter geselskap hy was nie. Hy en ek het ons plekke in die voorste ry teenaan die verhoog ingeneem. 'n Mooi blondine het al dansende op die maat van lewendige musiek van haar klere begin ontslae raak. Meteens haak Harry kliphard af met: “This pretty girl has a beautiful body. Why make her living in this way?” Hy het hom nie gesteur aan die vuil kyk wat sy hom gegee het nie en voortgegaan met: “Spiekeries, did you see that one ball I bowled this morning? Now that is what I would call a perfect delivery.” Hy het nie eers gesien hoe die meisie, sonder om haar vertoning te voltooi, baie vies die verhoog verlaat nie. Vir hom was dit nie krieket nie.
Onthou jy, Van der Merwe het die loot gewen en Suid-Afrika se kolfbeurt het rampspoedig begin. Na baie stadige kolfwerk deur Barlow en Lance het Tom Cartwright vinnig toegeslaan en die paaltjies van Lance en Lindsay geneem. Dit was 1 vir 16 en ook 2 vir 16, drie vir 42 toe Barlow uitgehaal is vir 19 en 4 vir 43 toe Bland net een lopie kon bydra. Bacher word daarna skoongeboul deur Snow vir 12 en 5 paaltjies is plat vir ’n skrale 80 lopies toe kaptein Peter van der Merwe hom by die jong Graeme Pollock kom voeg. Die 20 000 mense teenwoordig op die Engelse Augustus-herfsdag sien een van die beste vertonings met die kolf sedert die eerste wedstryd op die geskiedkundige Trent Bridge in die Engelse somer van 1838 gespeel is. Pollock teken 125 vir sy vierde toetshonderdtal in 165 minute met perfekte tydsberekening en vloeiende houespel aan. Die skare gee applous vir die 21 keer wat die bal grens toe spoed sonder dat die Engelse veldwerkers kans kry om te beweeg. Net soos jy, was ek ook op die lug vir sy honderdtal. Agter my in die kommentaarhok het die destydse Suid-Afrikaanse ambassadeur in Engeland, dr. Carel de Wet, gestaan. Ek het so opgewonde geraak dat ek afhaak met: “Ek glo ons geagte ambassadeur, dr. Carel van der Merwe, het ’n woordjie op die hart oor die skitterende kolfwerk.” Na die uitsending was dr. De Wet se woorde aan my: “Man, dit was vir my 'n groot eer om vir 'n vlugtige oomblik Van der Merwe te kon wees." Ek moet sê, dit moes so gewees het want as Van der Merwe ooit 'n kapteinsbeurt gespeel het, was dit daardie dag. Sy bydrae in die groot vennootskap was 'n skrale 7 lopies. Toe Graeme uit is met die groottotaal op 178, het hy met mening voortgekolf en was ongelukkig om vanweë ’n misverstand op 38 uitgehardloop te word.
Ek sien nou nog hoe die prins van kolwers met kolf gelig, pet in die hand en trane van trots oor sy wange die veld onder staande applous verlaat. Hy is gevang deur Colin Cowdrey, geboul Cartwright vir 125. Ek glo oubaas Frank Woolley was ook tussen die skare. Daarna hoor ek die pragtige menslike verhaal: Toe Graeme in die kleedkamer in die bad was, het Sir Leonard Hutton ingestap om hom geluk te wens. Toe die beroemde krieketspeler homself voorstel, het Graeme opgespring en gesalueer. Seker die eerste keer dat Sir Leonard die saluut van ’n poedelkaal natgat ontvang het.
Suid-Afrika teken 269 lopies aan. Engeland se beurt het vir hulle net so rampspoedig begin. Ouboet Peter neem in sy eerste twee boulbeurte die paaltjies van Geoff Boycott (0) en Ken Barrington (1). Hy het ook in die tweede beurt vir Barrington vir een lopie uitgehaal. Aan die einde van die eerste dag se spel het Engeland in antwoord 16 lopies vir die verlies van 2 paaltjies op die telbord gehad. Op die tweede dag is Engeland almal uitgehaal vir 240 lopies en Suid-Afrika het met uitskeityd 27 vir een op die telbord gehad. Peter Pollock het benewens die paaltjies van Barrington en Boycott ook die van Parfitt, kaptein Mike Smith en Larter geneem. Die Springbokke het ’n voorsprong van 36 lopies gehad. Aan die einde van die dag is Suid- Afrika se telling in hulle tweede beurt 289 almal uit. Eddie Barlow 76, Ali Bacher 67, Graeme Pollock volg sy 125 van die eerste beurt op met ’n sprakelende 59 in 85 minute. Hy steek die 1000-kerf in toetskrieket verby en ook die 4000-kerf in eersterangse wedstryde. Hy word die eerste Suid- Afrikaanse kolwer om in dieselfde toets 'n honderdtal en 'n vyftigtal te behaal.
Peter Pollock slaan weer eerste toe, neem Barber se paaltjie vir een. McKinnon laat die naguiltjie Fred Titmus in die laaste boulbeurt agter die penne uitvang. Engeland is weer in die moeilikheid met 10 lopies vir 2 paaltjies en het die reusetaak om 319 lopies vir ’n oorwinning aan te teken, hoewel hulle meer as genoeg tyd tot hulle beskikking gehad het. Op die vierde dag is daar ’n hele klompie minder toeskouers op Trentbridge. Niemand hou mos daarvan om te verloor nie en dit is presies wat met Engeland gebeur het. Peter van der Merwe en sy Springbokke behaal die eerste toetsoorwinning teen Engeland sedert Peter May se toer in die 56/57- seisoen. Peter Pollock laat weer 5 paaltjies kantel vir ’n wedstrydontleding van 10 vir 97. Engeland is uitgehaal vir 224. Met die val van hulle laaste paaltjie het ek my eerste vloekwoord oor die lug kwytgeraak. Larter het ’n aflewering van Pollock hoog luglangs gespeel. Peter van der Merwe moes op halfweg hardloop om onder die bal in te kom. Op daardie oomblik kon ek net skree: “Van der Merwe, vang die bleddie bal!”
Ek moes nog na die wedstryd 'n berig vir Die Vaderland skryf en die gesukkel om dit per teleks deur ’n Engelse operateur gestuur te kry het my besoek aan die kleedkamer met byna twee uur vertraag. By die deur is ek deur een van die Nottingham “Constabulary” verbied om in te gaan. Die bobbies het lekker saam feesgevier, want daar was oorgenoeg Castle beskikbaar en die man het miskien net een of twee te veel weggesit gehad. Al wat ek kon doen, was om hardop by die deur te skree: “Spiekeries,” en van binne het die koor gekom met Eddie Barlow aan die voorpunt: “Make way for Spiekeries.” Binne moes ek ’n toespraak in Afrikaans maak. Die tema was: “Ons het die dinges uit die Engelse gespeel.” Die Engelse spelers teenwoordig het aangedring op ’n vertaling. Atholl McKinnon het vertaal: “He says, you were good but not good enough." Die buskoortjie het saam met my Sarie Marais gesing.
Die aand is ek en Peter deur twee bewonderaars genooi om saam met hulle te gaan eet. Ek het maar vir die etes betaal, want jy, Charles, het soveel kere die voorbeeld gestel dat vroue nie betaal nie, al nooi hulle jou.
Groete
Gerhard.