Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Christus verklaar self dat Satan finaal, skielik en onkeerbaar soos 'n weerligstraal uit die hemel gewerp is; dat Hy ons bewapen teen al Satan se liste; en dat Hy ons teen alle bedreiging van Satan, of dit nou van die natuur of van die geestewêreld sal kom, sal beskerm.
BRIEWE AAN CHARLES (11)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Die 1971-toer deur Australië
Beste Charles,
Ek wil nog vertel van die toer na Australië. Met ons aankoms in Perth vroegmôre, nadat baie ure met die tydsverskil êrens verlore geraak het, was ons almal baie moeg. Die oormaat wyn wat ons op die lang vlug geniet het, het sekerlik bygedra tot ons moegheid en ek was nie baie lus vir probleme nie.
In die ontvangsaal op die lughawe het 'n klomp manne met lang hare gestaan. Ek het weer beelde van ons aankoms in Engeland die vorige seisoen gesien. Oom Flappie Lochner, die bestuurder van die span, en Hannes Marais het nog mooi gepraat toe staan ek al voor die manne en wou net skoorsoek toe hulle bladsteek met die woorde: “Welcome to Australia." Dit was rugbymanne en hier het ek besef dat hare nie die man maak nie. Agter my het ek die lag van twee Springbokke saam met wie ek in Engeland was, gehoor: die giggel van Hannes Marais en die skaterlag van Frik du Preez.
Hulle het saam met my van die gratis wyn uit die eersteklaskajuit van die Boeing 707, die “Port Elizabeth” geniet. Ek was besig om ’n gat van myself te maak, maar het dit te laat besef. Die afrigter van die span, Johan Claassen, het heelwat later op die toer op ’n heel ander wyse ook van homself ’n gat gemaak.In Sydney was ons tuiste die Squire Inn, Bondi Junction. Dit was lekker om saam met die span te kon tuisgaan, want by die meeste ander plekke moes die manne by private wonings gehuisves word. Ons het die tye by die Inn baie geniet. Die plek moes ook onder die boikotte van vakunies deurloop, maar die Australiese rugbymanne het gesorg dat die kos- en biervoorrade nie afgeskeep word nie. Die bestuurder van die Squire Inn het ook ’n gelukskoot getref toe hy die veiling by die “closing down sale” van die Hotel Australia bygewoon het. Die bod vir die hele voorraad is op hom toegeslaan. Die afslaer het ’n klip in die bos gegooi toe hy hardop wou weet waar dit afgelewer moes word. Die stuk of driehonderd mense teenwoordig het staande applous gegee toe die antwoord ewe luid uitgebasuin is: “Squire Inn, Bondi Beach.” Hulle was die teenwoordigheid van die Springbokke in hulle land goedgesind.
Die klein sitkamerkroeg by die vriendelike tuiste was elke aand volgepak van Australiese vriende. Op een so 'n aand het ek besoek ontvang van Lukas Visagie en sy vrou, wie se voornaam my ontgaan het. Hy was ’n loods vir Qantas maar hulle was oorspronklik van Pietersburg in Noord-Transvaal. Ons het lekker gesels, hoewel ons moes staan en die spasie baie beknop was. Ek en mevrou Visagie het feitlik teenaan mekaar gestaan toe Johan Claassen sy gesig tussen ons koppe indruk. Nou kyk, ek het die professor nooit ’n lelike woord hoor sê nie. Met ’n bree glimlag haak hy af met: “Haai, waar kom jy aan dié vrou?” Ek het nog nooit ’n man se gesig so verleë en verkleur gesien nie toe ek baie ongemaklik sê: “Johan, kan ek jou voorstel aan meneer en mevrou Lukas Visagie, vroeër van Suid-Afrika?” Ek glo hy is heeltemal vergewe deur die vriendelike mense toe hy ’n glasie wyn wat Lukas bestel het, saam met ons gedrink het. Vir my was dit ’n mooi gebaar, want ek weet dat hy eintlik ’n koeldrankdrinker was. Ek onthou hoedat hy een aand by ’n funksie twee verskillende soorte koeldrank gedrink het. Frik du Preez het hom vaderlik vermaan om nie sy drankies so te meng nie, want 'n man kan daarvan dronk word. Die Visagies het gereelde besoekers by die Inn geword en is vriendelik deur die span en bestuur ontvang.
Op dieselfde aand van Johan se verleentheid het nog ’n voorval my amper kwaai skelwoorde laat gebruik. Lukas het my aandag gevestig op iemand agter ons. In die oorvol vertrekkie staan 'n propperse straatvrou met bloedrooi lippe en ’n blonde byekorfhaarstyl. Sy bekyk my met honger oë en ’n sieklike glimlag en knik so ewe vir my met lang, swartgesmeerde wimpers. Ek het gelukkig kopgehou en omgedraai. ’n Rukkie later moes ek en Lukas uitbars van die lag toe Dirkie de Vos in sy kleurbaadjie, met die affêre, wang teen wang, op die dansvloertjie van een vierkante meter staan en wieg op die maat van die sagte musiek. Die twee kom in ons rigting aangesukkel. Ek het my gesig weggedraai maar moes weer omkyk toe iemand my op die skouer tik. Dit was die “hoer” en Dirkie. Ek wou my net lelik vervies en liederlik vloek toe “sy” haar pruik verwyder en die “borste” voor by die rok uithaal. Voor my staan Piston van Wyk en so ewe droogweg sê hy: “Frik wou mos nie vir my sê wie die moffie in die span is nie.” Dirkie het die hele storie aan my vriende verduidelik. Die poets was eintlik vir Frik bedoel, maar hy was nie die aand teenwoordig nie. Ek moet sê, die damespersoneel van die hotel het ’n goeie job van Pissie se vermomming gemaak en Dirkie het toneelspel uit die boonste rakke gelewer.
Ek moet erken dat ek die toer deur Australië baie geniet het. Die manewales van die betogers, vakunies en sommige televisie-opnames het my nie meer gehinder nie. Ek was teen diétyd seker maar gewoond daaraan.
Ek het al baie gewonder of 'n mens in hedendaagse Springbokspanne nog die joviale spangees, samehorigheid, vals saamsingery, poetse en grappies, en bowenal ware karakters vind. Ek twyfel. Weet jy, rugby het nou heeltemal 'n besigheid geword. Die spelers verdien groot geld en moet agente aanstel om vir hulle te beding wanneer enige instansie, skool of selfs kerke hulle nader vir ’n toespraak. Hulle tree nêrens meer gratis op nie en sommige se koppe wil bars van belangrikheid. Charles, jy sal dit nie glo nie, maar selfs skeidsregters en die twee manne wat die vlae dra, word groot somme geld betaal. Die bedrae wat genoem word is R90 000 per maand vir sommige spelers en RIO 000 per toets vir skeidsregters. Kan jy dink hoeveel sal sekere fluitjieblasers aangebied word om ’n foutjie of twee-drie te maak om ’n span te laat wen? Maar dit daar gelaat.
Een van die grootste karakters op die toer deur Australië was die skrumskakel Joggie Viljoen van Griekwas. Hy was een van die stoutste mannetjies wat ek ooit ontmoet het, maar dit was ’n mooi stout.
Die rustigste plek waar ons gebly het, was op Toowoomba waar die Springbokke teen Queensland Platteland moes speel. Dit was heerlik om betogervry te verkeer voor die derde en laaste toetswedstryd in Sydney wat voorgelê het. Toe ek 'n kind was, was die gewildste en bekendste windpomp in my kontrei ’n “Southern Cross” en sowaar, hier vind ek uit dat dit in Toowoomba gemaak word.
In die herberg waar ons tuisgegaan het, kon 'n mens met oop deure slaap. Dis net waar ek die fout gemaak het. Dit was laatnag toe ek agteroor op my bed lê en kyk het na ’n maanlanding op die televisie. Ek kan nie meer onthou watter Amerikaners dit was nie, maar ek onthou die kêrel in die ruimtepak het ’n hamer in die een hand gehad en 'n hoenderveer in die ander hand. Hy het die twee artikels gelyktydig gelos en net so gelyk het albei op die maan se oppervlakte beland. Op daardie oomblik rol 'n groot ronde voorwerp met ’n onheidspellende sisgeluid by my deur in. Op die ding staan in duidelike letters: “Time Bomb”. Ek spring verskrik bo-oor die affêre en uit by die deur waar ek oor 'n laggende Joggie Viljoen val wat voor my deur in die donkerte gehurk sit. Ek het nog nooit iemand 'n situasie so gesien geniet nie. Hy het behoorlik gekraai van lekkerte. Hy was beslis baie naby aan 'n taai klap.
Sy grootste pret was om die betogers in Sydney te verwar deur die span vir hulle te laat lag met emosielose uitdrukkings op die gesigte. Dit was gewoonlik wanneer die span in ’n bus op pad na die veld of terug na die hotel gesit het. ledere keer as die bus by jillende betogers moes stilhou, het sy laggende bevel, “swiets on”, gekom. Die batteryaangedrewe “lagmasjiene” met verskillende maniere van lag wat hy by ’n speelgoedwinkel gekoop het, is aangeswiets en die klank vol oopgedraai. Menigmaal was die gekskeerdery aansteeklik en het ’n betoger of twee teen wil en dank saamgelag, wat weer die gesigsuitdrukking van sommige in die bus laat verander het.
Charles, jy het seker met jou besoeke aan Australië ook in die Tower Mill Motel in Brisbane tuisgegaan. Hier was een van die lelikste betogings van die hele toer. Hier het die klein stoutgat, Joggie Viljoen, my byna in groot moeilikheid by die afrigter Johan Claassen gehad. Die betogers was goed georganiseer en het die volle samewerking van die televisie gehad. Groot getalle polisiemanne het die straat voor die motel belyn. Die polisiebevelvoerder het ’n kamer bewoon met 'n balkon wat uitkyk oor Wickham Terrace waar die betogers saamgedrom het. My kamer het ook van die balkon oor die terras uitgekyk. Die polisie was in lelike voorvalle met die betogers betrokke en die kommissaris moes meer as een keer sy stem hees skree oor die megafoon om sy manne instruksies te gee en die betogers te waarsku.
Die Sondagoggend ná die wedstryd het ek vir ontbyt alleen by 'n tafel gesit met my rug na 'n klompie Springbokke. Ek het tussendeur die ete ’n brief sit en skryf. Die manne agter my het klaargemaak en uitbeweeg. Joggie het my op die skouer getik en gesê: “Ons wag vir jou in kamer 103.” Dit was eers ná ontbyt toe ek die brief gaan pos dat dit tot my deurgedring het dat kamer 103 eintlik my kamer is. 'n Halfuur na ontvangs van die boodskap het ek daar ingestap. Frik het die kitaar nader getrek en daar is sulke "sad songs” wat by 'n Sondagatmosfeer in die buiteland pas, gesing. Die koor sou nie ’n toekenning van enige aard gekry het nie. Die manne het deur die dag gekom en gegaan. Daar is gekuier, gesing, geëet en gesels totdat ek die gordyne die Maandagoggend oopgetrek het. Buite het ’n eienaardige gesig my begroet. Ek het my balkondeure wyd oopgemaak om vars lug in die rookgevulde kamer in te laat. Voor in die straat was daar nie meer polisiemanne teenwoordig nie, maar die handjievol bittereinderbetogers het die Stem van Suid-Afrika geneurie. Hulle dirigent was Joggie Viljoen. Hy was ook hulle voorsanger en het hulle keer op keer stilgemaak met die beskuldiging dat hulle nie nootvas is nie. Skielik het my kamerdeur oopgebars. Johan Claassen, wat ek die Saterdag laas gesien het, het grootoog binnegestorm. “Wat de duiwel het jy met Joggie aangevang? Wat doen hy daar buite tussen die betogers en dit nogal met sy Springbokdas aan?” Al wat ek kon sê, was dat dit vir my klink of hy ’n groot taak verrig. Anders as in Frankryk, na my naglange kuier saam met Piet Uys, het hy na 'n rukkie se luister op die balkon net geglimlag en sy kop geskud. Ek moet sê die uitgawes vir die kamerkuier in Brisbane het oom Swannie van die SAUK ’n aardige klompie geld uit die sak gejaag.
Op die toer het my reisigertjeks reeds vroeg opgeraak. Ek moes by Kim Shippey geld leen. Met my terugkoms by die SAUK in Johannesburg moes ek ’n groter eis as na vorige toere vir terugbetaling indien. Meneer Barend du Plessis, ’n latere Minister van Finansies, was toe 'n klerk in mnr. Swanepoel se kantoor. Hy wou nie my dokumente vir goedkeuring teken nie. Ek het gevra om die grootbaas te spreek. Oom Swannie het vir ons tee bestel, my uitgevra oor die toer en my eis met sy handtekening goedgekeur. Sy woorde was: “Barend moet dit mos nie uit sy gatsak betaal nie.”
Tot later weer Charles.
Groete
Gerhard.