Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die kosbaarste besitting wat jy ooit sal hê is jou geloof in Christus – alleen dan sal jy waarlik gelukkig wees al besit jy niks anders nie.
BRIEWE AAN CHARLES (13)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
"Wat bekend staan as Nic Swanepoel ...”
Beste Charles,
Ek weet dat jy min mense van die Afrikaanse Diens van die SAUK werklik goed geken het. Die meeste was vir jou net name. Tog wil ek jou vertel van een van die grootste karakters wat ek by die eens trotse en welvarende instansie waarvoor jy ook gewerk het, ontmoet en leer ken het. Ons twee het buiten ons belangstelling in sport ook baie gepraat oor Shakespeare en Robert Burns vir wie se werke hy 'n groot voorliefde het. Nic Swanepoel is ’n man vir die woord en het die stem om dit oor te dra. Vir diéboerseun is Burns se digkuns, soos hyself sê, “afgryslik" mooi. Dit is mos ’n treffende beskrywing van die werke van die man wat onder andere gesorg het vir die woorde van Auld iang syne, of hoe?
Nic nader nou ook al die sestig. Ek het hom in 1962 ontmoet toe ek voltyds vir die SAUK begin werk het. Hy is ’n maand voor my aangestel as omroeper/regisseur. Ons het dadelik aanklank gevind. Nooit het ons mekaar se drumpels deurgetrap nie, maar ons het deur al die jare ware vriende gebly.
Verlede week nog het ons op 'n perfekte dag wat net in die mooiste, mooiste maand, Oktober, beleef kan word, saam onder 'n reuse papierbasboom, soos hy sê, ’n “knerts” gemaak. Dit was op die sewentigste verjaardag van ons vriend en oud-SAUK-baas, Pieter de Bruyn. Drie pensioenarisse in die jaar van ons Lieven Heer, 1996. Daar was ander mense ook teenwoordig. Almal se blaas het maar na aan hulle oë gesit toe daar geluister is na Nic se heildronk op Pieter. Die oë het nat gebly toe Pieter hierop geantwoord het. Hy is self 'n woordkunstenaar met, soos jy weet, een van die mooiste stemme waarna jy kan droom om te luister. Pieter het gewaggemaak van die woorde in die Groot Boek. Daar waar gesê word dat die verwagte ouderdom van die mens sewentig jaar is of as hy baie sterk is, tagtig. Nic het ingetjip met ’n pittige aanmerking: “Wees nie bekommerd nie, ou swaer, dit is die woorde van oorle Moses.” Langs Nic het Maryna se ma gesit wat die volgende dag haar 89ste verjaardag gevier het. Haar brein is nog helder en daar is nog ’n vonkel in haar oog. Dit het my onwillekeurig laat terugdink aan die aand toe Pieter ’n heildronk ingestel het op Nic se 50ste verjaardag. Hy het die ouderdom genoem en daarop gewys dat “Swannas", dis nou soos sy vriende hom noem, slegs vyftig jaar oud is maar die lewe so voluit geniet dat hy eintlik al honderd jaar geleef het.
Van ek hom ken, rook hy sterk, ongekurkte sigarette. Die wat ek gerook het was miskien net so sterk, maar net nie ongekurk nie. Wanneer ek nie op toer was nie en verveeld op kantoor sit en wag het om te kan ry om sport uit te saai, het hy dikwels by my ingestap en ons het ’n “sterke” saam gerook. Ons het oor ander dinge as SAUK-dinge gepraat. Jy kon Nic in sy latere jare by die SAUK ook nie baie op kantoor kry nie. Jy sou hom tien teen een vind in die M.O.T.H. Hall se kroegie waar hy die ondervindinge van die veterane uit die Tweede Wêreldoorlog beluister het. Daar was Engelse, Duitsers en Afrikaners. Hulle het klaar baklei en het dit net geniet om met 'n gunstelingdrankie in die hand te vertel en te luister. Nic was hulle man en of hy nou gesing het of vir hulle voorgedra het, hulle het geluister en meegedoen.
Vandag is sy kuiers by die “Motte” en die bekende era waarin hy met ’n perfekte welluidende stem op die radio nuus gelees het, boeke voorgelees of voorgedra het iets van die verlede en net ’n heerlike herinnering. Hy het ’n pakket aanvaar en beweeg deesdae baie moeilik as gevolg van bloedsomloopprobleme.
Sy vertellings, soos net hy dit kan doen, is steeds ’n unieke ondervinding om na te luister. Hy rook steeds die ongekurkte sigarette en as ons so bymekaar kom, vra hy altyd: “Wat van ’n sterke, ou greatest?” Hy noem my al jare so. Hy was die regisseur van die radiodrama Moby Dick en ek het die rol van Agab vertolk. Hy was blykbaar baie beïndruk, want van toe af was dit sy naam vir my. Ek kan vanweë my operasie nie meer rook nie, maar neem graag ’n sterke by hom en sit sommer net daaraan en “puff”. Ek geniet sy geselskap. Hy met ’n glasie droë wit in die hand en ek met die beste uit Skotland.
Daar is baie stories en ondervindinge van Swannas waarvan ek jou kan vertel, maar dit sal baie hoofstukke in beslag neem. Wanneer hy 'n storie vertel - daar is baie wat ek al meer as een keer gehoor het - word daar elke keer ’n stertjie bygelas. So byvoorbeeld het hy een aand na ’n rugbywedstryd op Loftus Versfeld sy “welcome overstay” by die funksie na die wedstryd. Die man saam met wie hy van Johannesburg af gery het, het reeds vroegaand verkas en sy eie motor het by die M.O.T.H.-saal naby Braamfonteinstasie gestaan. Hy moes 'n laatnagtrein vanaf Pretoria-stasie haal. Toe die trein die perron intrek, het die drywer hom herken en hom genooi om voor by hom te kom sit. Hy het op die rit, wat hy volledig beskryf, selfs die geluide van die ysterwiele oor die laste, geleentheid gekry om die vol trein “wat bekend staan as te dryf” tot in Braamfontein se rangeerwerf. Toe ek die verhaal die eerste keer gehoor het, moes hy deur drie rye spoorwegwaens klouter om by sy motor uit te kom. Die laaste keer wat ek met smaak na dieselfde vertelling geluister het, het die rye waens aangegroei tot naby die twintig. Hy was na elkeen van die beskrywings van die geskiedkundige rit baie meer uitgeput toe hy by die parkeerterrein van die M.O.T.H.-saal aangekom het.
Charles, nou kom ek by die eintlike storie wat ek jou wou vertel. Ek moes 'n wedstryd in Kimberley gaan uitsaai tussen Griekwas en die Westelike Provinsie. Dit was juis in die jare toe die manne van die WP my so beskuldig het van partydigheid. Ek het ’n sagte plekkie vir Griekwas gehad en het myself voorgeneem om niks te sê wat die manne anderkant die Hexrivier- berge meer water op hulle meul sal gee nie.
Ek was nog besig om my voor te berei vir die uitsending toe Nic saam met twee van ons vriende die destydse “nuwe” kommentaarhok op die dak van die hoofpawiljoen van die De Beers Stadion binnekom. Dit het gelyk of hy kruppel loop en het gelag dat die trane loop toe hy my sy een skoen se hak wys wat hy uit sy sak haal. Sy hak het losgekom as gevolg van die spykers wat uitgetrek het. lemand het aan hom die raad gegee om weer bo-op die hak te spring sodat die spykers weer hulle werk kon doen. Dit was gekkeraad, want die spykers het met die springslag heeltemal plat gebuig.
Die twee vriende saam met hom was Paul Eilers en Flip Theron, albei manne wat diep spore in die radio- en filmwêreld getrap het. Paul was in Kimberley op skool en saam met Nic ’n groot ondersteuner van Griekwas. Flip se span was die WP. Die drie van hulle het al die pad per motor van Johannesburg gekom om die groot wedstryd te kom kyk. Dit was te na aan die begin van die uitsending vir hulle om my van hulle rit en dies meer te vertel. Dit moes wag tot na die wedstryd.
Griekwas het in die eerste helfte kookwater vertoon en het op 'n kol met dertien punte teenoor nul voorgeloop. Dit was ’n moeilike uitsending. ledere keer as Griekwas punte aangeteken het, het Nic my op die voorkop gesoen en luid gejuig. Gelukkig het ek oor ’n lipmikrofoon uitgesaai. Agter my het Paul Eilers hande geklap terwyl Flip Theron hardop sy misnoeë te kenne gegee en die skeidsregter uitgeskel het. Soos die wedstryd gevorder het, het hulle al hoe meer spraaksamig en betrokke geraak. Ek kon nie sien wat hulle agter my rug doen nie. Dit was seker ook nie nodig nie, want daar was die onmiskenbare reuk van die bekendste produk uit Flip se geliefde Westelike Provinsie.
’n Harde wedstryd is uiteindelik deur die WP gewen en ek het met al die steurnisse in my kommentaarhok so objektief moontlik probeer bly. Ná die uitsending het ek hard met die manne gesels, maar water sou nie vinniger van ’n eend se rug kon afloop nie. Charles, ek huiwer om te dink wat jou reaksie sou gewees het.
Ek kon eers die hele situasie waardeer en daaroor lag toe ek die storie van hulle rit en alles wat daarmee gepaard gegaan het, hoor. Die hele rit het sy ontstaan die Vrydagmiddag voor die wedstryd by die M.O.T.H.-saal se gesellige kroegie gehad. Hulle drie was saam daar vir ’n “sundowner” na werk. Daar is gestry oor wie die wedstryd gaan wen en summier is daar besluit dat hulle baie vroeg die volgende dag sou ry om betyds vir die wedstryd te wees. Dit was geen probleem dat hulle nie kaartjies gehad het nie. Nic was seker dat ek nie sou omgee as hulle in die kommentaarhok staan nie. Ai tog! Ek is dankbaar dat ek net een keer so 'n besoek aan my kommentaarhok moes verduur.
Met hulle vroeë vertrek uit Johannesburg was daar nie tyd vir ontbyt nie. Op Wolmaransstad is daar vleis en die nodige drinkgoed gekoop. Buite die dorp is daar stilgehou om te braai. Die wind was, soos Nic sê, “wat bekend staan as stormsterkte”. 'n Stuk geroeste sinkplaat wat teen ’n vaalbos vasgewaai het, is as rooster gebruik. Die vuurtjie is brandgemaak in ’n droë sandsloot. Dit het nie juis veel teen die sterk westewind gehelp nie. Die hout was min en die vleis was nog half aan die rou kant en vol sand gewaai toe hulle dit langtand begin eet. Jy kan self dink hoe gril-irriterend die krasgeluid van sand onder die tande was. Die gevolg was dat Nic en Flip van die vog onder die prop moes gebruik om die mond uit te spoel en die sand af te sluk. Soos Flip later gesê het, hy eet nooit weer braaivleis sonder sand nie. Paul was destyds met ’n mediese dokter getroud en sy het vir hom ’n bottel alkoholvrye drank ingepak. Hy het die motor bestuur en nie van sy vriende se mondspoelmiddel gebruik gemaak nie. Sy bottel was in sy tas agter in die bagasiebak en dit is waar hy tydens die braai en etery 'n slukkie gaan vat het. Net buite Kimberley is daar vir oulaas stilgehou om “wat bekend staan as kamer te verlaat”. Paul het die bagasiebak oopgesluit vir die manne om hulle loopdop te neem en hy het groot slukke uit ’n bottel soortgelyk aan die een wat vroutjie ingepak het, geneem. In sy tas was die alkoholvrye inhoud van die bottel nog onaangeraak. So het die drie dan op min of meer dieselfde golflengte by my in die kommentaarhok aangekom, wat my ’n nagmerrie-uitsending laat beleef het. Hulle was ook by die onthaal ná die wedstryd teenwoordig en daar het hulle aan talle belangstellende en bekommerde “fans” gesê dat Nic se “gebrek” is dat sy een been korter as die ander een is.
Ek het hulle vroegaand tot siens gesê, want Paul wou sy makkers “Kimberley by night”, wat hy en ek na jare se verblyf daar goed geken het, gaan wys. Nic het eers laat Maandag by my in die kantoor gekom om saam met my ’n sterke te rook. Dit is toe dat hy my die nadraai van hulle besoek aan Kimberley vertel het.
Die aand ná die onthaal het 'n laatnagkuier saam met die spelers geword en vir hulle vroegoggend voordat hulle vir ’n uur of drie 'n uiltjie kon knip. Die gevolg was dat hulle die Sondag eers laat uit Kimberley kon wegkom. Teen die tyd wat hulle beloof het om tuis te wees was hulle eers so ver as Potchefstroom. Die nadors was groot en daar is by die hotel aangedoen. Daar was net een inwoner van die hotel in die sitkamer. Hy het duidelik een of twee te veel agter die blad gehad en het nie beswaar gehad om hulle volgens wet in te teken sodat hulle elkeen met 'n bier bedien kon word nie. Die bekommerde vroutjies moes gerusgestel word. Die telefoon was in die sitkamer en hulle het om die beurt geskakel. Daar is vertel dat hulle probleme met die motor het en dat hulle van die Grand Hotel in Bloemhof bel. Hulle sal dus baie laat tuis wees. Die ou wat hulle ingeteken het, het met 'n bekommerde uitdrukking op die gesig vir die derde keer na dieselfde storie geluister. Hy het sonder meer uitgestap en gaan seker maak dat hy wel by sy hotel is deur die naambord aandagtig te bestudeer. Sy lyftaal het gewys dat hy duidelik verlig was dat hy wel in Potchefstroom is.
Nic se vrou het swaar gesluk aan die storie van die skoen se hak en Paul se dokter kon nie verstaan dat hy niks gedrink het van die suiwer druiwesap wat sy met soveel liefde ingepak het nie.
Vir my was dit lank nog nie die einde van die episode nie. Ek is Nuweland toe om ’n wedstryd van die WP te gaan uitsaai. Ek het net begin om groot vriende te raak met die beamptes van die WP-Rugbyunie toe ek weer die aand by die onthaal die wind van voor gekry het. Ek is tromp-op deur wyle Hannes Pretorius, destydse President van die Westelike Provinsie Rugbyunie, beskuldig dat ek sy span in Kimberley verneder het in my uitsending deur so ’n ophef van Griekwas te maak. Daar moes op een of ander wyse ’n lekkasie oor die lug gewees het van die manewales van twee van my besoekers in die kommentaarhok tydens my uitsending. Dit het lank geduur voordat die persmanne nie meer vir my gelag het nie en oom Hannes my verskoning teen sy sin aanvaar het. Dit was verskonings ver verwyder van die werklikheid en ’n mens noem onder sulke omstandighede nie name nie.
Swannas en ek het saam die joppie van omroeper in Uitsaaihuis in Commissionerstraat geleer. Dit was heerlike werk en ons het ure in die ateljee na afloop van ons skof bly sit. Nie baie lank na ons aanstelling nie het ons ’n uitnodiging aanvaar om die voorvertoning van Jamie Uys se rolprent Dingaka by te woon. By die onthaal is aan elkeen van die gaste ’n houttrom met ’n springbokvel oorhandig. 'n Baie mooi geskenk. Ek moes die vroegoggendskof in die ateljee behartig en Nic moes met die aanvang van die destydse streeknuus om 1.25 nm. by my oorneem. Hy het my sommer 5 vm. na die ateljee vergesel, trom en al. Hy het my daardie oggend laat swaar leef. Hy het terwyl ek met aankondigings besig was, aanhoudend met sy vingers op die trom gespeel. Ek het verniet mooigepraat. Hy het aangehou met die speletjie totdat ek hardop oor die lug gelag het. Ek kon nie wag dat sy skof moes begin nie en het dit ook so aan hom gestel.
Hy het begin met: “Hier volg die streeknuus vir Transvaal gelees deur Nic Swanepoel.” Ek het my tande uitgehaal en vir hom met ’n papbek gesigte getrek. Hy moes onmiddellik die mikrofoon afskakel. Ek het geweet dat dit ’n gesig was waarvoor hy gelag het dat die trane loop. Daar was ’n volle minuut stilte terwyl hy my gesoebat het om asseblief die ateljee te verlaat. Hy het met werklike trane in die oë belowe dat hy my nooit weer tydens 'n uitsending so sal terroriseer nie. Die dag met die rugbyuitsending in Kimberley het die voorval in die ateljee in Johannesburg, soveel jaar gelede, seker maar verhoed dat ek my liederlik vererg en onverantwoordelik opgetree het.
Groetnis met lekker herinneringe,
Gerhard.