Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Natuurlik is Christus die bron van alle standhoudende blydskap. Maar ons moet ons deel bring deur te sorg dat wat ín jou is, standvastig genoeg is dat niemand dit van jou kan wegneem nie – dít dra baie meer by tot jou geluk as dít van jy besit.
BRIEWE AAN CHARLES (16)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Kritiek - die wind of die hond?
Beste Charles,
Onthou jy die dag op Kingsmead in Durban toe jy my kom bedank het omdat ek nie gal gebraak het oor bierblikke wat na my kommentaarhok gegooi is nie? Ek moes koes vir die goed wat eintlik vir jou bedoel was oor dinge wat jy oor die lug kwytgeraak het. Die manne in die volgepakte “Castle Corner” links van ons kommentaarhokkie, se luidrugtigheid het begin toeneem soos die Saterdag se spel gevorder het. Hulle span was aan die verloor en die gemor en die slimmighede het mekaar afgewissel. Die son was warm en die skuimende voggies was besig om van binne warm te maak. Daar is al hoe meer draradio’s aangeskakel, en jy het dinge gesê waarmee hulle skynbaar nie tevrede was nie.
Die kommentaarhokkies op stellasies was te hoog vir hulle om van grondvlak af te sien wie in watter hokkie sit, en dis net waar die probleem ontstaan het. Jy het soos baie keer in jou kommentaar doelbewus skoorgesoek om reaksie uit te lok en die ietwat aggressiewe manne het na die verkeerde hokkie gemik. Ek moes koes terwyl jy melding gemaak het van: “I have to duck to avoid the missiles thrown by the men in the famous corner.”
Ek het jou seker nooit bedank omdat jy my in 'n groot mate genees het van fyngevoeligheid ten opsigte van kritiek nie. Jy het verduidelik dat 'n mens jou nie moet steur aan kritiek nie, want “the day they stop talking is the day they stop listening to you”. Die probleem is net dat ek nooit soos jy probeer het om kritiek uit te lok nie en dus gesukkel het om te onderskei tussen kritiek en venyn. Hier het ons ou vriend Dok Craven later tot my redding gekom.
Jy het nie die 1970-rugbytoer van Brian Lochore se All Blacks meegemaak nie. Myns insiens was dit die beste span wat in my tyd ons land besoek het. Dit was tydens hierdie toer dat daar daagliks meer briewe teen my as vir my in die koerante was. Dit was veral luisteraars in die Kaap wat my uitgevreet het oor sogenaamde partydigheid en eenogige kommentaar. Ek was eintlik skrikkerig om in die Kaap te kom. Toe ons die eerste keer gedurende die toer op D.F. Malan Lughawe land, het ek vinnig, kop onderstebo, gemáák vir die persbus. Ek het die applous vir die besoekende span duidelik gehoor. Ons bagasie was oral versorg en ek kon reguit pyl na die bus by die uitgang. Toe gebeur daar iets wat ek nooit sal vergeet nie.
Ek is voorgekeer deur 'n stuk of vyftig juigende bruinmense. My broek het verniet gebewe, want daar was geen vyandigheid nie. Dit was ’n onverstaanbare soort helde-ontvangs vir my. Hulle het my verwelkom en gevra dat ek my glad nie aan enige kritiek moet steur nie. “Ou Gerhard, ons staan bankvas agter jou." Met al die gebladskud is die vertrek van die persbus, tot die misnoeë van veral Nieu-Seeland se voorste rugbyskrywer, Terry McLean, ietwat vertraag. Hy kon seker nie verstaan hoekom bruinmense my in die land van apartheid kon ondersteun nie.
Die aand vra ek vir Dok of kritiek hom ook so hinder. Hy wou weet of ek al daaraan gedink het dat ’n hoë boom, by wyse van spreke, die meeste wind vang. Maar, het hy bygevoeg, onder teen die stam lig die hond sy been. Sy raad aan my was eenvoudig: "As jy weer kritiek kry, moet jy besluit of dit die wind is wat waai of die hond is wat pis.”
Miskien moet ek jou vertel van die soort kritiek teen my kommentaar waarmee ek te doene gekry het. Ek het eenkeer ’n wedstryd op Nuweland tussen WP en Transvaal uitgesaai wat deur Westelike Provinsie gewen is. Dit was bobaasrugby en ’n jammerte dat daar net een wenner in die pragwedstryd moes wees. Die Kaap was soos altyd baie mooi en ek het besluit om eers vir 'n paar dae langs die Weskus te gaan vaskanie hou. Met my terugkeer op kantoor in Johannesburg was daar twee baie interessante briewe tussen die pos op my lessenaar.
Een was van ’n Engelsman in die Kaap. Hy het onder andere geskryf: “You are so bloody biased in your commentary. According to you Transvaal was the only team on the field. I will never ever listen to you again and I am sending a copy of this letter to the Cape Argus.”
Die tweede brief was van ’n man van Alberton. “Jou partydigheid word nou een te veel om te verteer. ’n Mens sou sweer daar was net een span op die veld. Volgens jou was dit net WP en nogmaals WP.”
Die ding het my baie gepla en ek het gaan luister na ’n opname van die uitsending. Dit is toe dat ek vir die eerste keer besef het dat dit nie ek is wat partydig is nie, maar die luisteraar. Raak ek opgewonde oor ’n drie van Transvaal, was dit vir my duidelik dat die WP-ondersteuner hom sal vererg en anders om. Dit was vir my maklik om te besluit dat dit nie wind is wat waai nie. Ek het ’n afskrif van die Transvaler se brief aan die van die Kapenaar geheg en hom gevra om dit met 'n afskrif aan die Argus te antwoord.
’n Ander insident waar nog die wind gewaai nog die hond sy been gelig het, het met my in Pretoria gebeur. Hulle was besig om die nuwe hoof- pawiljoen op Loftus Versfeld te bou. Vir 'n lang ruk het ek ’n hout-kommentaarhokkie gehad wat net soos die outydse plaaskleinhuisie gelyk het. Dit het gedurende die bouproses met elke uitsending op ’n ander grondhoop langs die veld gestaan, altyd met 'n baie goeie uitsig en na aan die veld. Die betrokke Saterdag het Vrystaat teen Noord-Transvaal gespeel. Net voordat daar na my oorgeskakel is vir die uitsending het prof. Fritz Eloff, destydse president van die Noord-Transvaalse Rugbyunie, ’n briefie voor my neergesit. Dit is deur 'n onbekende aan hom gegee vir my aandag. Terwyl die omroeper in die ateljee besig was om oor te skakel het ek vinnig gelees. “Liewe Gerhard, jy is die eerste ...huisie met sy eie kleinhuisie wat ek op ’n rugbyveld sien. Lekker uitsaai.” Ek sou graag die astertjie met haar mooi handskrif wou ontmoet het. Ek het lekker uitgesaai. Dit was ’n mooi wedstryd wat deur Noord-Transvaal gewen is.
Na die uitsending het ek my stoel agteruit gestoot en heerlik getrek aan ’n sigaretjie terwyl my kollega besig was om die wedstryd saam te vat. Meteens het die houtdeur oopgebars. ’n Kêrel met opgerolde moue, bruin gebrande arms en 'n rooi gesig het my ’n vuil kyk gegee en 'n dik vinger voor die bors gedruk. “Jou lae bliksem, jy het ons weer vandag laat verloor.” Ek het duidelik gesien hier is ’n man met wie 'n mens nie skoor soek nie en ek het baie kalm gebly. “Ekskuus Meneer, ek verstaan nie mooi nie.” Hy herhaal sy beskuldiging nog steeds met die vinger voor my bors. “Nee Meneer, ek het nie vandag uitgesaai nie. Soos jy kan sien, is die man nog besig." Dis toe dat ek in my binneste moes lag want hy sê: “0 so, dan is jy te blerrie ghrend om ons wedstryd uit te saai. Hieroor sal ek met dr. Meyer praat.” Hy het blykbaar die opset geken en geweet dat dr. Piet Meyer die voorsitter van die beheerraad van die SAUK was.
Kritiek soos in die briewe ná die WP/Transvaal-wedstryd en my uitsending uit die kleinhuisie, Charles, het my laat besef dat jy tog reg was toe jy gesê het as hulle nie meer van jou praat nie, luister hulle nie meer na jou nie. Maar ek moet jou ook vertel van ’n uitsending van my waar venyn veroorsaak het dat talle brakke hulle been gelig het.
Vir my was dit 'n blye en groot oomblik toe ek opdrag kry om die geveg tussen Pierre Fourie en Bob Foster om die ligswaargewigkroon in Amerika te gaan uitsaai - die klassieke bokser Fourie teen Foster, die wêreldkampioen met sy verwoestende uitklophoue met die regterhand.
Toe ek ’n kind was, het ek baie gelees oor die weste van Amerika. Name soos Texas, Nebraska, Nevada, Wyoming en Montana, om maar ’n paar te noem, het vir my 'n wonderlike bekoring ingehou. Toe kom Albuquerque, waar die geveg oor vyftien rondtes sou plaasvind, nog by.
Jy het nooit boks uitgesaai nie en ek is in die geselskap van Kim Shippey op ’n vlug van Pan American vort. Ons vlug was deur nege Afrikastate en oral waar die vliegtuig neergestryk het, het die volgende aankondiging oor die luidsprekers gekom: “Everybody must leave the aircraft, except those with South African passports. They must stay on board.” ’n Mens het jou vervies vir die dinge, want diegene wat die vliegtuig kom skoonmaak het, het jou maklik met die besem teen die maermerrie gestamp.
Daar was baie tyd om net te sit en dink en droom. Ek het gedink aan al die nuwe dinge wat ek gaan sien, maar daar was altyd by my die bekommernis oor hoe onse Pierre gaan vaar teen die man met die moordende vuiste. Dit was Augustus 1972. Ek het gedink aan my skooljare in die destydse Mafeking in die dertigerjare; aan al die boksgevegte wat ek gehad het. Ek kon nooit ’n geveg wen nie. My beste prestasie was toe ek een aand in Kimberley teen die Griekwaland-Wesskole-weltergewigkampioen, Denis Moore, geboks het. Dit was drie moordende rondtes en hy het my letterlik flenters geslaan - maar kon my nie uitslaan nie. My neus bloei maklik en ek was soos julle Engelse sou sê, 'n “sorry sight”. Ek het die skeidsregter gevra om nie die geveg stop te sit nie want ek bloei maar altyd so maklik en dat dit erger lyk as wat dit is. Na die geveg was my oë so toegeswel dat ek skaars kon sien. Ek het my helper in die hoek, mnr. Lukas van Vuuren, gevra om my na die aankondiging van die uitslag net te help om deur die toue te kom. Die aankondiging was: “D. Moore on my right, the winner.” En toe steek iemand my hand in die lug met die woorde: “Ladies and gentlemen, let me introduce you to a gallant loser.” Ja-nee, dit was die naaste wat ek aan enige prestasie in die bokskryt gekom het.
Min het ek geweet dat ek op die aand van 21 Augustus 'n ongeëwenaarde moedige vertoning van Pierre Fourie in die arena van die plaaslike universiteit in Albuquerque sou sien. Bob Foster het hom vir veertien van die vyftien rondtes met alle krag tot sy beskikking geslaan, maar kon hom nie planke toe stuur nie. In die dertiende rondte het Pierre met ’n manjifieke vertoning van boks vorendag gekom en as hy oor 'n uitklophou beskik het, was Foster onttroon. Dit was egter die swak plek in die moedige bokser se mondering. Hy het nie oor 'n kraghou beskik om 'n opponent te laat uittel nie. Hy is sonder enige twyfel deur Foster geklop, maar het die eerste man in die geskiedenis geword wat vir vyftien rondtes teen die destydse wêreldkampioen op sy voete kon bly. Ná die geveg het ek gevoel om Pierre Fourie se hand te lig en te skree: “Ladies and gentlemen, let me introduce you to a gallant loser.”
In Albuquerque was daar baie tyd om die wêreld ’n bietjie te bekyk. Die ou deel van die stad was deurweek met oorblyfsels van Meksikaanse kultuur. Daar was in een interessante kroeg talle koeëlgate in die swaar houtwerk wat beslis dateer uit die vorige eeu. Die vriendelike meisie agter die toonbank was geklee volgens die mode daar: sonder ’n bra met net ’n dun bloesie aan. Ons het lekker gesels en sy het my onder meer vertel dat Billy the Kid in die kroeg gevangene geneem is. Hier is Shippey en ek ook sommer aangekeer om as ekstras in ’n rolprent wat daar gemaak is, op te tree.
Maar wag, ek dwaal af. Ek was besig om jou van boks en kritiek te vertel. Hierna het ek Fourie nog drie keer sien veg om die iigswaargewigtitel van die wereld. Die herontmoeting tussen hom en Foster was in Johannesburg. In Albuquerque wou ek met Foster ’n onderhoud voer tydens 'n perskonferensie. Hy het net beduie dat hy nie met Suid-Afrikaners praat nie. In sy tuisdorp was my uitsaaipunt in sy hoek en ek kon sien dat hy gesteurd was omdat hy nie kon verstaan wat ek sê nie. Met die perskonferensie in Johannesburg het hy my herken, bladgeskud en ook sommer verskoning gevra omdat hy nie voorheen met my wou praat nie. Hy het verduidelik: "It was part of the build up and for the sake of publicity.”
In Johannesburg het Fourie met groter eer uit die stryd getree, maar weer verloor. Die gebrek aan ’n uitklophou het hom weer eens gepootjie. Hierna het hy twee keer teen Victor Galindez, “Die Dier”, geveg. Ek het altwee gevegte uitgesaai en dit is hier waar almal op die “bandwagon” geklim het en sake verwar het met die gevegte teen Bob Foster.
Niemand sal my ooit kan wysmaak dat Fourie nie met klassieke boks die eerste van die twee gevegte teen die bakleier Galindez gewen het nie. Daar was nie nodigheid vir 'n uitklophou nie. Ek het langs een van die beoordelaars uit ’n vreemde land gesit en kon sy telkaart sien. Hy het saamgestem met die siening van Morkel van Tonder en ’n internasionale beoordelaar, Sidney Beck van Kaapstad, wat die opsommings vir my tussen die rondtes gedoen het. Ek het in my rondte-vir-rondte-beskrywing van die vyftien rondtes net die geveg beskryf en die bespiegelinge aan hulle oorgelaat. Hulle was oortuig dat Fourie gewen het en het dit gesê. Na die geveg en terwyl daar gewag is op die aankondiging van die uitslag, het ek met die mikrofoon tot in die kryt beweeg. Al wat ek tussendeur my medekommentators se gepraat gesê het, was: “Miskien kroon ons vanaand 'n nuwe kampioen.” Die skeidsregter, ook uit die vreemde, het die laaste van die drie telkaarte by die ou wat langs my gesit het, geneem maar aan hom teruggegee. Seker maar omdat hy nagelaat het om dit te onderteken, het ek gemeen. Dit was dan ook vir my ’n verrassing toe daar aangekondig is dat die beslissing eenparig is dat Galindez die geveg gewen het. Dit is toe dat Morkel van Tonder losgetrek het en sy misnoeë met die uitslag bekend gemaak het. Fourie was in sy onderhoud met my totaal verslae en kon nie glo dat hy nie gewen het nie.
Hierna het die hel behoorlik oor my kop losgebars en alles wat die aand gesê is, is aan my toegedig. Die berig op die voorblad van Die Transvaler het gelees "Viviers mislei die volk”. Dit was geskryf deur ’n vrouejoernalis. Op die agterblad van dieselfde koerant het die sportskrywer in vet, swart letters geskryf. “Skande, Fourie het gewen”. Vandag nog moet ek hoor van my groot lieg en moet ek selfs hoor watter twak ek gepraat het toe Fourie teen Foster in Albuquerque geveg het. Dit is nou waarlik ’n geval van die kat aan die stert beet hê.
Maar ek moet jou verder vertel. Ongeveer 'n week later het ek ’n funksle bygewoon waar verskeie sportjoernaliste en koerantredakteurs teenwoordig was. Wat die aand daar gebeur het, sit ek nou vir die eerste keer op skrif. Twee manne het aan my gesê: “Sorry ou Gerrie, maar ons het nie daardie nonsens oor jou geskryf nie, want ons het toevallig ook gedink Fourie het gewen.” Mooi woorde, maar ek kon nooit verstaan waarom hulle dit nie geskryf het nie. ’n Derde het kom sê dat sy base hom gevra het om my aan te vat. Hy wou nie want hy kon nie, aangesien hy nie die geveg gesien het nie. Toe kom ek by ’n ou met wie ek baie myle op sporttoere gery het. Ek sê: “Dankie ou Neil, vir die vuil publisiteit wat jy my in jou koerant gegee het.” Hy het sy hand om my skouers geslaan en met ’n lekker laggie gesê: “Ag ou Gerrie, moenie sleg voel nie. Jy weet mos dat jy goeie nuus is.” Is dit werklik nodig dat ek meer sê?
Fourie het sy tweede geveg teen Galindez verloor en ek het dit gesê. Ek het “Die Dier” een aand in Johannesburg met ’n erg bebloede gesig na ’n kopstamp, net op instink sien veg. Dit was teen Richie Kates van die VSA. Hy het Kates in die laaste rondte uitgeslaan.
Eienaardig dat beide Fourie en Galindez in motorongelukke gesterf het. Twee manne wat uit ’n era gekom het toe boks nog boks was en nie die hedendaagse klug van “come-backs” nie. Jy en ek hou mos van ’n man wat, op watter gebied ook al, nie bereid is om tou op te gooi nie maar om te veg tot die einde toe, of hoe?
Groetnis
Gerhard