Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Toe ek jonger was het ek vir God vir alle dinge gevra sodat ek die lewe kon geniet. Noudat ek ouer geword het, sien ek dat God my die lewe gegee het sodat ek alle dinge kan geniet. Leef voluit in die groot wonderwerk van die LEWE!
BRIEWE AAN CHARLES (20)
Gerhard Viviers
Lees reeks by Beste Charles... Van Gerhard
Gister se dinge
Beste Charles,
Charles, ek weet nie of jy dit ook ondervind het nie. Hoe ouer ek word, hoe meer dwaal my gedagtes na die verre verlede. Dit is seker hoekom my vertellings aan jou nie in chronologiese volgorde is nie. Ek het reeds in November 1995 met jou begin gesels. Dis nou al November 1996 en ek praat nog steeds. Gelukkig nie elke dag nie, want anders sou die skrywe van my al baie dikker as die ou Hollandse Bybel gewees het.
In die Lyric Theatre in die destydse Mafeking waarvan ek jou vertel het, het my liefde vir die avontuur in die natuur begin. Voordat ek Johnny Weissmuller as Edgar Rice Burroughs se Tarzan of the Apes leer ken het, het ek die film Trader Horn in die ou saaltjie gesien. Dit was ook voordat ek daar "Assistant Operator” was en die eienaar se dogter, Joan, se handjie houvas het.
Ag, ek was sommer nog 'n kannetjie toe ek die Horn-kêrel se ondervindings in Afrika gesien en bewonder het. Baie jare later, toe ek in Kimberley gewoon en gewerk het, het die fliek Trader Horn in 'n bioskoop daar gedraai. Ek het weer gaan kyk. Die skote van die diere het my steeds gefassineer, maar ek kon nie help om te glimlag vir amateuragtige en onkundige dialoog nie. Daar is een sinnetjie wat ek baie goed onthou. Horn stap saam met iemand in die veld verby ’n troppie hartebeeste en sê so ewe: “Those are called Hard Beasts, because their skins are so hard.” Die kameraskote van al die diere kon ek nog net so geniet as toe ek grootoog in die Lyric Theatre daarna sit en kyk het. Die dinge het gemaak dat ek soos ’n Tarzan in die oerwoud tussen die wilde diere wou leef. Ek wou soos ’n Trader Horn deur Afrika stap en die natuur bewonder.
Ek was in standerd ses toe ek met twee maats afgespreek het om die dinge te gaan beproef. Ek het gedroom van nagte waar ek in die mik van 'n groot boom onder die sterrehemel lê en die naggeluide beluister. Ek het toe reeds Sangiro se Uit Oerwoud en Vlakte oor en oor gelees. Ek wou self die nagte gaan beleef soos hy dit beskryf het. “Dis nag, nag in die onbetrede dieptes van die eeue-oue bergwoud. ’n Misreëntjie sif saggies neer op die see van blare bo.” Die woorde is miskien nie presies soos hy dit geskryf het nie maar onthou, ek diep dit nou op tussen die spinnerakke van oor die sestig jaar gelede.
Terug by ons planne om te gaan Tarzan speel in die destydse Rhodesië. Johannes Bender en ek sou sorg vir die messe en ander wapens. Willie Reid sou sorg vir ’n sakgeldjie. Ons al drie was vir iets te ete en dinge soos koffie, suiker en 'n blikbeker verantwoordelik. Ai Charles, ons kan gelukkig wees dat dit in die dae was toe sulke dinge nog beskou was as kattekwaad. Ek het my ou Dad se 38-rewolwer en patrone in ons goed versteekte rugsak gepak. Bender het sy pa, oom Flippie, dae lank laat soek na sy beste pyp wat saam met ’n hele sakkie Springboktabak verdwyn het. Ons sou die pyp saans om die kampvuur rook terwyl ons ons toekoms beplan. Ons sou bespreek op watter ouderdom ons sou terugkeer na Mafeking om vir ons elkeen ’n vrou te haal wat saam met ons soos Tarzan se Jane in die oerwoud sou kom woon. Reid was ’n koorseun in die Anglikaanse Kerk in Mafeking. Die seuns het die bydraes opgeneem. Hy het gesorg vir vyf sjielings uit die kollektebord. Ek sidder as ek daaraan dink dat ons met die onverantwoordelike dade vandag in ’n sel vir jeugmisdadigers kon beland het.
Ons het gestap tot op Ramathlabama. Dit was die grens tussen Suid-Afrika en “Brits-Bechuanaland Protektoraat”. Vandag Botswana, ’n Goederetrein was op die punt om na Mafeking te vertrek. Willie Reid het koue voete gekry en wou nie verder saam met ons nie. Hy het besluit om die trein huis toe te haal. Hy het ons ’n halfkroon van die kollektegeld gegee en belowe dat hy niemand sal sê waar ons is nie. Ek moet sê, ek het ook koue voete begin kry maar wou nie soos 'n “sissie” tou opgooi nie. Ek glo Johannes het ook so gevoel.
Toe die son sak, was Reid al ’n uur of twee weg. ’n Ent van die stasie het ons vuur gemaak en ’n ribbetjie op die kole gesit. Die naggeluide was grillerig, veral die gehuil van die jakkalse wat die vleisreuk gekry het. Die Tarzan-spelery was teen die tyd heeltemal uit my gedagtes. Dit was ’n verligting toe ek 'n bekende stem in die pad hoor roep: “Bredenkamp! Het jy die donners gekry?” Dit was die stem van sersant Gey van Pittius. Bredenkamp was 'n konstabel in die Polisie. Hy het later jare my swaer geword. Sersant Gey het aan Bredenkamp instruksie gegee om verder in die rigting van Lobatsi te soek. Hyself sou stadig terugry in die rigting van Mafeking. Johannes en ek was eintlik bly dat Willie sy woord verbreek het. Ons het dadelik gemaak vir die grondpad en daar gewag vir sersant Van Pittius om verby te kom. Sy motor het van agter by ons verbygery en gestop. Die registrasienommer CBN 10 was aan ons albei bekend.
Nou kyk, sersant Gey van Pittius kon swets soos jy nog nie gehoor het nie. Dit het vir ons soos musiek gekiink, want nou kon hy ons twee banggatte oplaai huistoe. Gelukkig was dit die dae wat ’n goeie pak slae nog ’n instelling by skole was. Vir die week wat ons skool “geslip" het en die skande wat ons gemaak het, het ons elkeen ses van die bestes met die rottang gekry. Ek het ook besef dat ek baie huisvas was. My ma was in die motor toe sersant Gey ons opgelaai het. Toe ek haar sien, het ek begin tjank. My pa was in daardie stadium op 'n kursus by die Polisiekollege in Pretoria.
Van my pa gepraat: Ek moet jou vertel dat hy een van die slimstes in die trotse Suid-Afrikaanse Polisie van daardie jare was. Hy het alle polisie-eksamens wat hy afgelê het, met lot en eerste in die Unie van Suid-Afrika geslaag.
Waar hy die hoogste rang in die Polisie verdien het, is hy nooit verder as eersteklas-sersant bevorder nie. Hy was 'n te groot bedreiging vir ’n ou garde aan wie offisiersrange sonder meriete toegeken is. Deel van sy pligte was dié van Publieke Aanklaer. Menige advokaat het hulle vasgeloop teen sy briljante wetsbrein. Hy was landwyd daarvoor bekend.
Hy was ook ’n groot natuurliefhebber en dit was vir my ’n groot voorreg om saam met my ouers my eerste besoek aan die Kruger-Wildtuin te bring. Dit was in 1954. Deesdae is ek ’n gereelde besoeker aan die natuurparadys.
Ek was maar ’n lakse skolier. “Huiswerk", soos ons opdragte van onderwysers destyds genoem het, was nie vir my nie. Ek het alles vroegoggend, voor die klok vir die aanvang van die klasse gelui het, afgeskryf uit die boeke van ’n klasmaat, David Niss. Die vriendelike Joodjie was ’n groot maat van my. Elke middag na skool is ek met tennisraket na die dorpsbane en daarna met baaibroek na die munisipale swembad. Op drie aande van die week in die bioskoop. Dit is toe dat die skoolhoof, mnr. P.J. Botha, my gevra het om nie matriek te probeer nie. Ek moes liewer standerd nege vir ’n tweede jaar aanpak. Ek het sy goeie raad gevolg en met sy aansporing en geduld het ek toe 'n jaar later matriek geslaag. Die mnr. Botha het van die WP gekom en het alles van Springbokrugby en die spelers van destyds geweet. Hy het vir ons Afrikaans gegee, maar het in sy periodes baie graag staaltjies oor rugby vertel. Dit was baie interessant. So het hy dan ook reëlings getref vir die eerste Springbokkaptein, Paul Roos (1906), om ons te kom toespreek. Die oubaas met sy diep, mooi stem het gekom en ons seuns van standerd agt, nege en tien kon nie wag om van die glorie van Springbokke uit die perd se bek te hoor nie. Charles, onthou jy dat ek jou in Frankryk vertel het hoedat Paul Roos glad nie met ons oor rugby gesels het nie. Die tema van sy gesprek was: “The abuse of the best is the worst kind of abuse”. Dit het gegaan oor masturbasie. Jy het droogweg geantwoord: “They should have told him, boys will be boys.”
Na skool het ek by die reisende toneelgeselskap van Benn Potgieter aangesluit toe hulle ’n tranetrekker op Mafeking opgevoer het. Dit is nog ’n belangstelling wat op skool by my gekweek is. Die magistraat en sy vrou, meneer en mevrou Van Wyk, was huisvriende van ons. Anna van Wyk was voorsitster van Mafeking se Toneelkring en ’n goeie aktrise. Op haar aandrang het ek aangesluit en in my matriekjaar saam met die seniors van die dorp aan ’n opvoering van die bekende stuk Die wildsboudjie deelgeneem. Ek het die rol van 'n middeljarige predikant vertolk. Die dinge het gemaak dat ek by Potgieter se geselskap beland het. Ek was skaars ’n week by hulle toe ek kennis kry dat ek die Staatsdienseksamen met lof geslaag het. Ek word 'n betrekking in die Direkteur van Pensioene se kantoor aangebied. Gelukkig kon ek dit van die hand wys en Transvaal en die Vrystaat vir byna twee jaar deurkruis as beroepstoneelspeler. Ek was Anna van Wyk ewig dankbaar vir die belangstelling wat sy by my gekweek het. My vriend, stel jou voor ek het op sestig êrens afgetree as ’n pensioenaris van die destydse Staatsdiens. Jy sou wel sê: “How boring, my mate.”
Die toneelspelery het my in my loopbaan in die polisie baie goed te staan gekom. Ek moet jou sê, ek was geen speurder van formaat nie. My grootste vrees was dat ek iemand moes arresteer. In my dae as geregsdienaar was die wagwoord dissipline. As voorbeeld kan ek noem dat ’n mens eers drie jaar diens moes gehad het voordat jy eksamen vir bevordering kon skryf. Ek het na drie jaar geskryf en gelukkig deurgekom. Dit is waar my probleme begin het. Ek is bevorder, maar ook verplaas van Kimberley na Fordsburg, Johannesburg. Dit was vir my ’n nagmerrie om van die stilte van die Noord- Kaap na die mekka van misdaad verplaas te word. Ek het my sommer op my eerste dag in Fordsburg vasgeloop in die diefstal van possakke op 'n trein van Kaapstad af. Dit was sakke vanaf Londen na Johannesburg. Dit was skuins voor Kersfees en die sakke was uit die aard van die saak gelaai met geskenke. Die possakke is oopgesny gevind langs die spoorlyn naby Krugersdorp. My konstabel was ene Van der Westhuizen, ’n man wat nie juis gepraat het nie. Hy was ook nie baie beïndruk met die jong speurder-sersant uit Kimberley nie. Met ons aankoms by die toneel van die misdaad het ek ’n ding gesien wat ek nooit sal vergeet nie. Hy het die sakke net een keer bekyk en toe gesê: “Sarge, die skuldige is ene Jack Kgosi. Hy het gister uit die tronk gekom vir 'n soortgelyke oortreding. Hy woon in Dolly Avenue, Newclare. Ons sal hom vannag as almal slaap, gaan optel." Ons het, en dit was hy. Hy is skuldig bevind en gevonnis.
Maar ek wil eintlik vertel waar my ondervinding van toneelspel in die prentjie gekom het. Daar is aanhoudend juwele en ander kosbare artikels gesteel van passasiers op die laatmiddagtrein van Parkstasie af na Durban. Die trein het altyd vroeg die volgende oggend in Durban aangekom. Dit was maande se dinge en my seniors was baie bekommerd hieroor. Ek is aangesê om die skelm vas te trek. Kyk, ek was na 'n week heeltemal moedeloos om die trein na Durban en terug te ry en niks uit te voer nie. Ek en sersant Oosthuizen wat uit Suidwes-Afrika gekom het, het koppe bymekaar gesit. Daar is vasgestel dat daar een jong man is wat elke aand die trein op Parkstasie haal en dit weer op Balfour-Noord verlaat. Ek het van ’n gereelde kondukteur op die trein verneem dat die persoon rooi hare het en gewoonlik ’n blou pak klere dra. Die middag het ons op die perron op Parkstasie gestaan en sowaar, hier kom die rooikopmannetjie aangestap. Ek het met die kondukteur gereël dat ek, sodra die trein vertrek, in die gange sal rondslenter en maak of ek dronk is. Ek het goed opgelet waar die verdagte gaan sit het en gesorg dat ek daar naby beweeg. Dit was ’n eersteklaswa. Die klok vir aandete het net na ons vertrek uit Germiston gelui. Die passasiers het in die rigting van die eetsalon begin beweeg. Die rooikop het begin lewe toon. Hy het van die een wa na die ander beweeg en ek het agterna gedrentel. By twee geleenthede het hy my gewaarsku om uit sy pad te staan met my dronk gat. Ek het mooi om verskoning gevra maar gesorg dat ek hom nie uit die oog verloor nie. Hy het by twee van die kompartemente waarvan die passasiers eetsalon toe is, binnegegaan. Ek het buite die deur in die gang gestaan en gemaak of ek naar is van die “drank". Ek het werklik staan en braak. Toe hy by die tweede kompartement uitkom het hy my ’n finale waarskuwing gegee. “Ek het jou gesê, staan uit die pad met jou bleddie dronk gat of ek gooi jou van die trein af.” Hy het die derde kompartement binnegegaan en ek het baie nugter buite die deur gewag. Toe hy uitkom, het ek hom voor die bors gegryp en hom teruggedruk in die kompartement. Sy sakke was vol juweliersware. Al wat hy gesê het was: “Ek dag jy is dronk.” Oosie en ek is saam met hom na die adres in Balfour-Noord wat hy verstrek het. Daar het ons beslag gelê op die duurste juweliersware denkbaar. Baie van die artikels het ek herken uit verklarings van passasiers wat slagoffers van die dief was. Sy ma was tuis. Sy het op my hartsnare getokkel deur verskoning te maak vir haar seun se dade. Ons het haar nie saam met hom gearresteer nie.
Die saak het in Heidelberg gedien. Daar was getuies uit verskeie lande. Hulle was dankbaar dat hulle erfstukke en duur, eksklusiewe artikels teruggevind is. Hulle wou my net vergoed vir my moeite. Gelukkig het ek nie in die lokval getrap nie.
Die beskuldigde, hy leef dalk nog en daarom wil ek nie sy naam noem nie, het ná samesprekings met sy prokureur skuldig gepleit. Hy is vir ’n paar jaar tronk toe gestuur. Die gebeure het my geknak. Hy was die eerste persoon wat ek moes arresteer. Ek het ernstige vertoë gerig om terug te gaan na my ou tuiste, Kimberley, daar waar ou konstabel John Rooibaadjie en ek meer te make gehad het met besendings wat op die Spoorweë verlore geraak het. Eise-ondersoeke. Dit was ’n mors van tyd, maar arrestasies was nie my voorland nie. Ek was selfs bereid om my nuutverworwe rang prys te gee as ek net kon teruggaan. Ek het uiteindelik my sin gekry, maar ek hoor nog die Bevelvoerende Offisier se woorde: “Jy sal so wragtig nooit weer promosie kry nie.” Ek was tevrede.
Uitsaai is in baie opsigte “show business” en die verhoog het my geleer ek is ’n “showman”. Dankie, Anna van Wyk, Benn Potgieter en laaste maar nie die minste nie, jy, my vriend.
Groetnis,
Gerhard.