Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie met die duiwel redeneer nie; hy doen dit beter as jy want hy het al duisende jare se oefening gehad. Jy kan Satan nie met logika of jou mening bluf nie maar jy kan die wapen inspan wat hom laat bewe – God se waarheid. Dis waarom dit noodsaaklik is om die Skrif uit jou kop te ken as jy die versoeking wil verslaan.
STORIES VIR ALMAL (2)
Johan Vosloo
Lees reeks by Stories vir almal
‘N HENGSE STORIE
Joernaliste word ook maar soms goed ore aangesit.
Teen etenstyd op ‘n Vrydagmiddag, is dit vir ‘n naweekkoerant ‘n tyd van druk en klippe kou. Dit is wanneer nuusredakteurs besig is met voorraadopname om te sien waar die nuuslys staan. Watter berigte is in die sakkie; watter word op die pen geslaan, en watter gaan glad nie realiseer nie.
Jou telefoon lui. ‘n Sagte, ietwat bewerige stem vra of Rapport tog nie kan help nie. Sy bel van Springbok af. Weet ons nie hoe sy dringend met meneer Nicky Oppenheimer in aanraking kan kom nie? Laaste wat sy gehoor het, is dat hy in Rusland is.
Verstaan mooi, as jy op ‘n Vrydagmiddag deur ‘n sagte, bewerige stem uit Namakwaland gebel en gevra word of jy nie kan help om die diamantkoning en multimiljoenêr Nicky Oppenheimer op te spoor nie, dan gryp jy na die pen en notaboek. Hier is mos ‘n groot storie!
Jou stemtoon is skielik baie vriendelik. “Met wie praat ek?”
“Elsabè, Elsabè Saal.”
“Elsabe, waarom soek jy vir Nicky Oppenheimer?”
“Meneer, sy dogter het selfmoord gepleeg. Gister te veel pille gedrink.”
Versigtig nou Vosloo. Kalm bly. Kalm bly.
“Waarom Elsabè?”
“Sy was verwagtend. Die man wat haar so gemaak het bly op Oukiep. Hy ry taxi. Sy naam is X. Gister het hy vir haar gesê hy wil niks met haar te doen hê nie. Toedrink sy die pille, Meneer.”
Kalm Bly Vosloo. Kalm bly.
Elsabè gee haar telefoonnommer en adres: Krtistalstraat 28, Springbok. Sy gee die boef van ‘n mnr X se selfoonnommer. “Hy is op pad terug van die Kaap af. Meneer sal hom nie nou in die hande kry nie.”
“En wat soek Nicky Oppenheimer se dogter by jou op Springbok, Elsabè?”
“Ek het vyf maande gelede by haar in Johannesburg gekuier. Dis toe dat sy ook vir X ontmoet het. Toe sy agterkom sy is swanger, het sy Springbok toe gekom om met X te praat...”
Jy sê vir haar dis groot nuus waarop sy sit. Jy sweer doodse swye by haar af. Praat iets van ‘n geldjie vir die moeite. Jy sit die telefoon neer. Scoop!
Wêreldscoop! Voorbladnuus!
‘n Kort rukkie daarna bel jy weer. Jy kan nog nie jou ore go nie. Jy onthou skielik jy het nie eens gevra wat is Nicky Oppenheimer se dogter wat selfmoord gepleeg het, se naam nie. Hoe oud is sy? Waar is die lyk? Wat sê die polisie?
Elsabè Saal antwoord. Dieselfde sagte stem. Die naam is Celestè. Sy is agtien. Nee, die polisie weet nie sy is Nicky Oppenheimer se dogter nie. Hulle het nie ‘n naam nie.
“Stil bly, Elsabè, ons kom!”
Dinge gebeur toe vinnig: konsulteer opgewonde en uitasem met hoofkantoor.
Besluit wie moet gaan. Vra sekretaresse om vlug te bespreek. Reël vir ‘n voorskot. Bel ‘n kontak op Springbok en vra om slaapplek te bespreek. Reël vir gebruik van rekenaar vanwaar die “wêreldstorie” (banier: Miljoenêrskind sterf tragies in nederige huisie in Namakwaland) per e-pos gestuur moet word. Op die nippertjie vra hoofkantoor dat daar liefs ‘n fotograaf moet saamgaan. Dis weer reël en reël en reël. Hulle moet op die laaste vieruur by die lughawe wees.
Jy sit terug en jy dink: dis darem te veel van ‘n hengse storie om nog nie op die lappe te wees nie. Al is dit doer in Namakwaland.
Jy bel die polisie op Springbok. Vind diskreet uit of daar ‘n selfmoord was.
Nee, sê die sersant. Jy noem die adres. Daardie deel val onder Nababeep se polisiekantoor, sê die sersant.
Nee, sê Nababeep, geen selfmoord hier by ons nie.
Nou moet daar weer met hoofkantoor gekonfereer word. Moet ons bly of moet ons gly? Dis nog nie vieruur nie. Ons besluit op gly. Polisie kon ook maklik die swye opgelê gewees het. In elk geval is mos gesê dat die selfmoordmeisie se van weerhou is sodat daar eers met die miljoenêr-vader in verbinding getree kan word. En sê nou net dit is so en ons sit Saterdag hoog en droog op kantoor in die Kaap?
Via Upington en daarna meer as vier uur se ry padlangs, kom Liryn de Jager en fotograaf Clarence Müller om halfelf op Springbok aan. Vroegoggend slaan sy die lyn na ene Elsabè Saal van Kristalstraat. Geen antwoord. Weer probeer, weer probeer. Die telefoon lui en lui net.
Toe iemand wel eindelik optel, word verneem dat nommer 731 6891, Springbok, ‘n telefoonhokkienommer is. En later: “Hier is baie mense met die van Saal. Watter Elsabè Saal soek jy?
Mnr X se selfoonnommer word gebel. Die “skurk” is uit die veld geslaan. Hy ken nie vir Elsabè Saal nie en nog minder Nicky Opperheimer se dogter. “Nooit gasienie!”
Dis toe dat Liryn met ‘n voorstel kom aan ‘n nuusman met meer as kwarteeu se koerant-ervaring: “Kan iemand nie vinnig vasstel of Nicky Oppenheimer wel ‘n dogter van so agtien het nie?”
En toe Alida van die biblioteek dit doen, toe kry ons die nuus dat miljoenêr Nicky en sy vrou net een kind het – hul seun Jonathan.
Maar ‘n harde koerantman moet ook lag, anders sal hy ondergaan. Daarom hierdie stertjie oor waarom fotograaf Clarence toe op die nippertjie saam is.
Daar is besluit: Die foto wat ons Sondag vir die voorblad soek, is een op Springbok se lughawe wanneer die kis van Celestè Oppenhemier op die spesiaal gestuurde straler van pa NIcky gelaai word...
Moet sê, dit sou ‘n hengse storie – én ‘n hengse foto – gewees het!