Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om te troos beteken nie om pyn weg te neem nie, maar om daar te wees en te sê: Jy is nie alleen nie, ek is by jou, saam kan ons jou las dra; moenie bang wees nie.
WATERBOBBEJAAN (2)
Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
Toe dit begin lig word, het die boer met sy velskoene al die spore rondom die tent onder sand toegeskop. Die seuns is oplettender as wat grootmense graag wil toegee.
Hy gooi hout op die vuur en rek hom uit. Toevallig kyk hy na die takkraal se kant. Sy beeste loop die hele wêreld vol en wei.
Sakamatlakobata hardloop soontoe. Die deel van die kraal wat weg van die vuur af is, is oop. Daardie helfte van die takke is weggesleep, sommer 'n hele ent weg.
Hy draf terug na die vuur.
“Staan op en trek dadelik aan. Kom help dat ons die takke weer in posisie kry en die beeste injaag. Ons moet hulle tel om te sien hoeveel weg is!”
‘n Halfuur later stel hy vas dat daar gelukkig nie een weg is nie.
Sjoe! dink hy by homself, ek was gelukkig. My boerdery kon vannag 'n knou gekry het. My seuns kon ook in die slag gebly het. Gelukkig weet Sanna nie wat gebeur het nie.
Toe hulle hulle eerste koppie koffie drink, vra sy vrou: ‘Het die seuns met die takke ook verbrou, hė Kootjie?”
Die boer stik in sy koffie en stap vies weg.
Na oggendete gee Sakamatlakobata sy bevele.
“Ons moet vanoggend vir julle ma ’n skerm maak om daaronder te kook en ‘n miershoop uithol waarin sy brood kan bak. Daarna begin ons met die heropbou van die huis.”
Die reënseisoen is naby. Daarom het hulle die ou dak heeltemal afgebreek en weggegooi en met 'n nuwe begin. Hulle het boekenhoutbome afgekap en balke gesaag vir die opstal se nuwe dak.
Die tweede aand het die boer se vrou haar brood geknie en dit vir die nag gelaat om te rys. Vroeg die volgende oggend werk hy en die seuns hard aan die balke.
“Pa,” sê sy dogter, Nannie, agter hom, ‘'Ma sê Pa moet haar kom help om die brood te bak.”
“Wat!”
“Pa, Ma sê sy kan die brood nie bak nie,”
Sakamatlakobata gooi sy saag neer en stap vinnig na die bakoond. Sy vrou staan en kyk na die bakoond. Langs haar lê die vuurmaakhout op 'n hopie.
“Die brood het mooi gerys, Kootjie. Alles is gereed.”
Dis net jammer dat sy nie vuur kan maak en die brood kan bak nie, want 'n yslike klip is in die holte van die miershoop ingedruk.
Toe die boer sy mond wou oopmaak, sê sy vrou: “Kleinie, loop speel. Jou pa wil iets sê.”
Hy het niks gesê nie en dadelik ‘n ander miershoop uitgehol. Die derde dag is die houtbalke in posisie. Toe hulle die oggend van die vierde dag wou begin werk, sien hulle dat die balke uit hulle posisies gelig is. Die hele konstruksie staan krom en skeef.
“Dit spook hier!” sê Piet, die oudste seun.
“Daar is nie iets soos spoke nie,” sê sy pa skerp. “Daar was laasnag ‘n rukwind. Julle het dit self gehoor.”
Maar Sakamatlakobata weet dat wind nie so ‘n houvas op ronde pale het wat ver van mekaar af is nie. Die seuns weet dit ook.
Van toe af het hy saans in die leë huis geslaap. Die seuns moes om die beurt snags by die wa wag staan.
Toe die grasdak op is, het die boer sy perd in die pok ingespan, sodat dagha aangemaak kan word vir roustene vir die buitegeboue. Bles het dae lank in die rondte geloop en die pok gedraai. Binne-in die pok is lang arms wat die water en klei meng. Bles doen die soort werk al van jongs af. Die seuns het opgemerk dat as hy saans uitgespan word sodat hy kan gaan wei, hy al in die rondte wei. Hulle het die huis se mure oorgepleister en vloere ingesit: die seuns het miershope aangery, met water gemeng en dan met die stompkante van dik pale vasgestamp. Die ma en dogters het die vloere met vars beesmis gesmeer. Intussen het die boer en sy seuns tambotiehoutkosyne ingesit en deure en vensters van boekenhout.
Die gesin het een oggend vroeg in hulle nuwe huis ingetrek.
“Ons swerwersbestaan het geëindig, Sanna. Hier gaan ek bly. Ons het ver genoeg getrek. Môre kan jy en die dogters en Willem en Koos met die fyntuin begin. Die reën is in die lug. Ek gaan die plaas verken met die oog op weiveld, Piet, ry oor na Calvyn se stat en sê vir hom ek het werksvolk nodig, veral veewagters. Onthou as jy in sy kraal kom om hom eerste te groet. Dis sy stat.”
Vervolg...