Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ek het my hande die hele dag uitgebrei na 'n opstandige volk wat wandel op 'n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan, 'n volk wat My gedurigdeur in die aangesig terg... Ek sal nie swyg nie, tensy Ek dit vergeld het... Ek sal doen ter wille van my knegte, om nie alles te verniel nie... maar julle wat die HERE verlaat... Ek sal julle bestem vir die swaard, en julle almal sal buig om geslag te word - Jesaja 65.
WATERBOBBEJAAN (6)
Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
Die aand na sy boord verniel is, het die boer rustig gaan slaap. Sy plan met Waterbobbejaan is klaar gemaak. Hy weet wat hy gaan doen. Hy weet ook dat dit ‘n baie dom of ‘n baie astrante dier is wat twee nagte na mekaar op dieselfde plek gaan aas. Hy onderskat Waterbobbejaan se verstand glad nie.
Die volgende oggend het die werk op die plaas normaalweg sy gang gegaan. Die boer het sy gesinslede belet om na die boord te loop. Waterbobbejaan mag geen belangstelling van die opstal se kant af in die boord gewaar nie.
Na aandete het Sakamatlakobata sy donkerste hemp en broek aangetrek. Toe het hy na die grofsmid-geboutjie gegaan. Hy het houtskool geneem en sy hande en gesig pikswart gesmeer.
“Kootjie, probeer jy die kinders skrikmaak?” vra sy vrou verontwaardig toe hy by die kombuisdeur inkom. “Sannie het alreeds die hele dag lank effens koors. Wat doen ons as sy vannag stuipe kry?”
“Aaag, bog! Dink jy ek is laf? Ek wil vir Waterbobbejaan ‘n les leer.”
Die boer neem sy lang sambok en stap boord toe. Dis ‘n donkermaannag – net na sy sin. Hy weet sy oë sal na ‘n rukkie aan die donker gewoond wees. By die suidelike grens van sy boord staan ‘n paar alleenstaande groot rotsblokke. Hulle is in ‘n reguit lyn tussen Waterbobbejaan se grot en die verste punt van die boord.
Die stapel rotse lê honderde treë van die naaste koppie of ander klippe af. Dit lyk behoorlik of iemand hulle met ‘n kruiwa daar afgelaai het. “Simson het hier gespeel,” het die boer altyd vir sy kinders gesê.
Aan die westekant is ‘n smal opening in die rotse. Die boer skuur daarin en gaan staan teen die agterkant van die skeur. Sy rug is beskerm en hy het ‘n sambok om hom van voor mee te verdedig. Toe begin die lang en eensame wag. Sakamatlakobata weet dat hy Waterbobbejaan nie sal hoor aankom nie. Hy moet luister of hy nie takke hoor breek nie.
Omdat dit lanklaas gereën het en die maan donker is, is dit ‘n baie stil nag. Die boer dink graag as hy wil, maar hy dink nie graag as hy moet nie. en nou moet hy teen wil en dank enige ding dink om wakker te bly. Dis nie so donker dat hy niks kan onderskei nie, maar as hy te lank na ‘n boom of ‘n struik kyk, lyk dit of die voorwerp naderhand begin beweeg. Op die manier het hy ‘n paar keer onnodig geskrik. Maar dit hou hom wakker.
Hy voel nie danig op sy gemak nie, want hy het gesien en gehoor wat Waterbobbejaan met sy arms kan doen. Hy is nie ‘n bang man nie, maar hy weet as Waterbobbejaan besluit om terug te veg, sal die sambok bloot dieselfde uitwerking as ‘n riet hê. En hy is nie van plan om ‘n ander wapen teen die ou te gebruik nie. Hy hoop die element van verrassing sal hom help om hom op die vlug te jaag.
Maar dis alles raaiwerk.
Sakamaltlakobata hoor ‘n lemoen val, nog een. Dis regs van hom in die boord. Hy lig sy sambok hoog op en staan doodstil. Toe stap hy effens vorentoe tot by die ingang van die skeur. Daar is geen rotse bokant hom nie en hy kan op sy gemak so staan.
Na ‘n paar minute hoor hy sagte knorgeluide wat al duideliker word. Dit kom van sy regterkant, van die boord se kant, af. ‘n Paar oomblikke later sien hy die donker gestalte net twee treë voor hom verbyloop. Die boer stap stadig agter hom aan. Meteens steek Waterbobbejaan vas en kyk om. Die boer staan versteen agter hom met die sambok in die lug. Waterbobbejaan draai sy kop so ver as hy kan na agter.
Toe voel dit vir Sakamatlakobata of hy liewer wil weghardloop. Maar gelukkig vir hom kyk Waterbobbejaan oor sy regterskouer na die boord se kant. Boer staan skuins agter hom aan sy linkerkant.
Hulle staan ‘n tydlank so en toe kyk Waterbobbejaan vorentoe en begin aanstryk met ‘n halfdosyn lemoene onder elke arm. Toe hy die tweede tree vorentoe gee, slaan boer hom op sy boude net so hard as wat hy kan.
Waterbobbejaan gee ‘n geweldige skreeu van woede en pyn; hy spring hoog in die lug op en los terselfdertyd die lemoene. Boer weet dat die volgende sekonde sy lot gaan beslis: Waterbobbejaan gaan omdraai en sy nek breek òf hy gaan weghardloop. Voordat hy mooi op die grond is, kry hy die tweede hou: oor sy blaaie.
Toe Sakamatlakobata die sambok weer oplig, het Waterbobbejaan klaar besluit. Teen iets wat hy nie kan sien en teen ‘n seermaakding wat hy glad nie ken nie, is hy nie bestand nie. Die onverwagte en vreemde kan hy nie so vinnig deurdink nie. Hy spring vorentoe dat die sand spat. Hy het nog nooit so vinnig gehardloop nie. Boonop struikel hy ‘n paar keer, iets wat nog nooit vantevore gebeur het nie. Boer slaak ‘n sug van verligting, tel ‘n lemoen op en begin dit eet. Sy keel is droog, so droog dat hy glad nie ‘n geluid kan maak nie.
Toe stap hy stadig huis toe. Hy is skielik baie, baie moeg. Daardie nag het hy so vas en gelukkig soos ‘n klein hondjie geslaap.
Dit is die eerste nag vir ‘n lang tyd dat hy gerus slaap. En dit was die laaste nag dat hy gerus sou slaap. Dit sou baie maande later weer gebeur.