Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Is daar onmin in u gesin, dalk verbitterde familie met verharde harte wat weier om met mekaar te praat, dalk kinders wat sukkel om die reguit pad te stap? Kom ons bid gereeld: "Ons Vader in die hemel, ons pyn is werklik maar U ken dit. Laat ons asseblief u troostende aanraking in ons harte voel. Help ons om die mense wat mekaar en vir ons so seermaak, lief te hê met die liefde waarmee U ons liefhet. Vervul hulle en ons harte met u vergifnis. In Jesus se Naam. AMEN".
WATERBOBBEJAAN (7)
Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
‘n Paar weke lank werk die boer en sy seuns in die lande. Hulle het bome uitgehaal en hulle landerye vergroot. Hulle het die leidam gestraat met leiklip wat hulle in lae uit die rantjies gebreek het. Intussen het die boord goed herstel. Warm son en baie reën het Waterbobbejaan se kattekwaad uitgewis.
Die man in die grot word deur niemand gewaar nie. Die Bantoes het snags begin rondloop en pluimvee en kleinvee gesteel. Die boer was naderhand half spyt dat Waterbobbejaan so heeltemal verdwyn het. Bobbejane en ape het weer stadigaan teruggetrek na sy plaas.
Die eerste week na hy vir Waterbobbejaan gelooi het, het Sakamatlakobata nie goed geslaap nie. Hy het weerwraak verwag, maar hy kon nie dink wat dit sal wees of van watter kant af dit sal kom nie. Na die eerste paar weke verby is, trek malaria hom ‘n ruk lank neer.
Van die eerste twee weke kan hy niks onthou nie. Maar sy vrou en kinders het kort-kort in die nag of dag gehoor dat hy al ylende met die maaifoelie van ‘n Waterbobbejaan besig is. Dan is dit net of hy met ‘n vriend, of ou medebosvelder gesels. By tye gesels die boer alleen en dan luister hy weer en knik aandagtig met sy kop. Af en toe verskil hy van sy maat oor iets en dan skud hy sy kop. Maar dit het selde gebeur. Soms is dit net of hulle saamlag oor kattekwaad wat hulle aangevang het. Dan is dit weer of die boer met sy hand oor ‘n wond streel.
En dit is so. ‘n Malariamuskiet het die gesprek tussen Sakamatlakobata en Waterbobbejaan aan die gang gesit. Die twee kenners en liefhebbers van die bosveld vind mekaar toe die een se rugkant stukkend geslaan is en toe die ander een magteloos in sy bed lê.
Wat het die verwydering tussen hulle veroorsaak? ‘n Kind wat geskrik het en ‘n paar dosyn lemoene. Grootmense maak mos nie so nie!
Eendag is Trappies besig om die kamer waarin die boer lê, uit te vee. Die hele oggend gesels die boer met Waterbobbejaan. Nadat die gesprek suksesvol geëindig het, groet hy hom. Sakamatlakobata het regop op sy bed gaan sit en van Waterbobbejaan met ‘n hartlike handdruk afskeid geneem.
“Pluk sommer so in die verbygaan vir jou in die boord wat jy voor lus is. En laat een boksemdaais net iets sê. Dis my plaas en my vriende kan hulle hier tuismaak. Dit spyt my dat Sanna nie vir ons koffie gebring het nie. maar jy wat ‘n alleenloper is, weet nie hoe ‘n mens met ‘n vrou sukkel nie”.
Terwyl dié dinge aan die gang is, het Trappies op sy besem geleun en hom verstom.
“Moenie daar so staan nie, vat hom voordeur toe en sien hom weg. Groet hom behoorlik en maak die deur dan weer toe,” beveel die boer.
Trappies maak of hy iemand aan sy arm vat en lei hom toe deur die sitkamer na die voordeur. Hy maak die voordeur oop en laat Waterbobbejaan uitgaan.
“Dag, oom Waterbobbejaan,” sê hy beleef voordat hy die deur toemaak.
Hy kom terug, skud sy kop aanhoudend en vee verder. Daardie aand het daar bedenklike gerugte oor die boer versprei waar die Bantoes langs hul vure sit.
Die boer se vrou het hierdie vriendskap ook opgemerk en haar eie ding gedink. Sy weet hoe sterk haar man is en die saggeaarde vrou het soms geril as sy dink aan hoe Waterbobbejaan se rug daar moet uitsien. Dan het sy haar skouers geskud en voortgegaan met haar werk. Landskoonmakers het nie tyd om hulle te verknies nie. Sulke dinge gebeur en hulle word so aanvaar.
In die nag het die boer soms vir kort rukkies sy bewussyn herwin. Snags sing die bosse en as die wind suid draai, kan mens veraf die sagte gedruis van ‘n waterval hoor. Dan luister die boer aandagtig. Maar dan word dit weer binne hom net so donker soos wat dit buite is.
Sakamatlakobata was ‘n maand buite aksie. Van die tweede, derde dag af het die plaas geleidelik weer net soos die ongetemde bos begin word. Die proses was so gestadig dat niemand dit aanvanklik opgemerk het nie. Die tweede dag begin die Bantoes een na die ander siek word. Noodsaaklike werk word vertraag. Elke paar dae is een van hulle se “eie” boetie of sussie dood op ‘n ander plaas en mens kan hulle tog nie van ‘n begrafnis af weghou nie.
Sakamatlakobata het te veel alleen geloop. Die drie seuns het hulle bes probeer om die leisels styf te hou, maar die beplanning en organisasie wou nie vlot nie. hy het te min oor sy planne gepraat en te min vir hulle gevra wat hulle in ‘n gegewe situasie sou doen. Almal het rondgetas en boonop vir mekaar begin kwaad word.
Die roofdiere wat in die nag loop het al nader aan die opstal gekom. Die boer se twee waghonde en gansmannetjie het die fort probeer hou. As ou Platpoot snags skreeu, storm die honde dadelik reguit na die kamp van die pluimvee. Maar op donker nagte beteken hy niks nie. Die rooimeerkatte het kuikens begin vang. Toe die muishonde dit sien, begin hulle meedoen. Toe die jakkalse sien wat aangaan word hulle ook makker. Waterbobbejaan is weg en hulle het dit gou opgemerk. Hulle weet dat hy snags om en op die werf rondgeloop het. Hy het tussen hulle gewoon, maar hulle het hom ook as deel van die aanleg beskou.
En so is dit. Hy is tussen die bos en die mens, in die skemering tussen die lamp en die donker hoeke.
Nadat die Bantoes en die diere begin maak het soos hulle wou, het die natuur gevolg. Kweekgras het van die kante van die lande begin ingroei na die middel. Onkruid, soos hond-se-agterbeen-bossie en ander, het spoedig gevolg. Hier en daar het ‘n boomsaadjie begin ontkiem.
Die bos het begin terugkeer na sy vroeër verblyf.
Een someroggend staan Sakamatlakobata op. Sy vrou het hom na die stoep gelei en hom in ‘n groot tambotiestoel laat sit. Sy het karosse om sy skouers en bene gedraai en sy hoed vir hom opgesit.
“Hoekom lyk die lande so vol vuilgoed, Sanna?”
“Hier is omtrent geen Bantoe oor nie en die seuns kon nie voorbly met die skoffelwerk nie.”
“Hoe gaan dit met die beeste?”
“Hulle is vet en gesond.”
“En die kleinvee?”
“Daar het ‘n paar hamels weggeraak.”
“Hoe so?”
“Ek weet nie. Seker maar die Bantoes, want die skape het spoorloos verdwyn.”
“Hoe gaan dit met jou pluimveeboerdery?”
“Die meerkatte, muishonde en jakkalse het omtrent al my kuikens opgevreet.”
“En hoe gaan dit verder op die plaas?”
“Nee, nog goed.”
“Die boord lyk goed.”
“Ja, ons sal hierdie jaar baie en mooi vrugte hê.”
“Hoe groei die bome, ek meen die vrugtebome?”
“Nee, goed soos ek gesê het.”
“Daar was geen skade in die boorde nie?”
“Nee, Koos. Hoekom vra jy so snaaks?”
“Ek vra maar net.”
Die boer stop sy pyp stadig en steek dit op.
“Wat het van Waterbobbejaan geword?”
“G’n mens weet nie. Hy het verdwyn. Daarom loop die bediendes dag en nag rond en die wildediere vertrap die werf. Ons kan net so goed ‘n dierelosieshuis hier begin. Jan Rap en sy maat maak hulle nou hier tuis.”
Sakamatlakobata sê niks nie.
“Wil jy iets hê om te drink?”
“Ja asseblief tog, ‘n beker vol koue water.”
Hy drink die water en sit lank na die waterval en kyk.
‘n Week later begin die boer op sy werf rondloop en vrae vra. Die kinders en bediendes word almal onder kruisverhoor geneem. ‘n Dag daarna is geen siek Bantoe op die plaas nie. Almal werk kliphard. Maar dis net of sommige nie wil sit nie. Hulle staan liewers en eet as dit etenstyd is. Ander steun as hulle moet buk.
Twee weke later lyk die plaas weer soos hy gelyk het voor Sakamatlakobata siek geword het. Bedags is alles reg, maar snags bly die roofdiere lol. Die Bantoes loop van een stat na die ander. Daar is voortdurende stryd teen die blouape en bobbejane, ‘n lopende geveg sonder einde.
Hulle het vir Waterbobbejaan gevlug en nou is hy weg.