Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is net een beproefde raad teen eensaamheid – reik na ander uit. Daarmee slaan jy die duiwel vir ‘n ses! Satan wil hê dat jy in jou eensaamheid mure om jou moet bou. God wil hê dat jy eerder brûe na ander bou. ‘n Mens wat sy hart vir ander oopmaak, kan nooit eensaam wees nie.
WATERBOBBEJAAN (11)
Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
Sanna gee die seuns vroeg die volgende oggend ontbyt. Sy het gehoor wat die vorige aand gesê is en as ‘n vrou wat die wêreld ken, was dit nie nodig om vir haar te sê wat om te doen nie. Na ete kry elkeen sy knapsak waarin uitgedroogde beskuit en ‘n paar stukke biltong is. Daar is genoeg spruite en fonteine waar hulle van die lekkerste en sagste water kan drink.
Piet het die vorige aand sy pa se 8mm Steyr se loop skoongemaak dat dit soos ‘n spieël blink. Die bewegende dele is ook skoongemaak en effens geolie.
“Baie blink en bietjie olie,” het sy pa hom geleer.
Net voordat hulle die volgende dag ry, gee sy pa hom ‘n magasyn met patrone.
“Hier is net vyf patrone in. Dis genoeg. Julle gaan nie oorlog maak nie. En as jy julle met vyf patrone nie teen gevaar kan verdedig nie, dan is jy vir land en volk niks werd nie. Jy mag nie ‘n enkele patroon mors nie.” Dis deel van hulle nuwe aandeel in verantwoordelikheid.
Die seuns ry op ‘n drafstap weg. Prins en Wagter draf half voor die perde uit en blaf en lag van skone opgewondenheid. Hulle is liewer vir die basies as vir die oubaas. Die oubaas is vir hulle goed, maar hulle speel al te lekker met die seuns.
Hulle ry op ‘n drafstap weswaarts. Na ‘n kilometer of wat draai hulle suid, sodat hulle agter die reeks rantjies langs met ‘n wye draai weer by die opstal sal uitkom. Dit sal amper ‘n volle dag duur om die distansie af te lê, want hulle is nie haastig nie. Sover hulle ry moet hulle na spore kyk en ook soveel moontlik oplet na wat vir hulle as ongewoon in die bos voorkom.
Toe hulle suid draai sê Piet: ‘’Willem, ek dink jy moet heel agter ry. Jou taak is om heeltyd links en regs van ons op die grond te kyk vir vreemde spore. Koos, jy ry in die middel en kyk oral in die bos rond sover ons ry. Ek sal voor ry en voor ons kyk, na die bos en ook op die grond. Op die manier word veel meer uitgerig, want al die dinge wat ons moet doen word dan gedek.’’
Die honde kan nie ver sien nie, maar hulle is die neuse en die ore van die verkenners.
Na ‘n uur se stadig ry, klim hulle by ‘n klein watertjie af. Hulle laat die perde drink en gaan sit op die wal. Toe haal hulle hulle kos uit en begin eet.
Die honde baljaar in die water om af te koel.
Koos vroetel onnodig in sy kossak rond.
‘’Haai, kyk hier!’’ Hy haal ‘n klein sakkie onder uit die knapsak. Hy knoop dit oop terwyl die ander twee vir hom sit en kyk. Hy haal ‘n paar lekkers uit. Vining vroetel hulle ook rond en elkeen het sy sakkie lekkers.
‘’Ma is net soos Ouma. As mens by Oupa-hulle kuier, gee sy jou skelmpies ‘n paar droëperskes of lekkergoed of ‘n handvol bruin suiker.’’
Hulle eet eers die lekkergoed op en drink hulle versadig aan die water by die drif.
Toe gaan lê hulle ‘n rukkie onder die koeltebome.
‘’As ons vir Waterbobbejaan kry, wat gaan jy dan doen?’’ vra Koos.
‘’Ek weet nie wat hy gaan doen nie. Ek weet Pa wil hom nie graag skiet nie. Dit het ek al gehoor as ons die grootmense op die stoep afluister by die bure. En dit lyk vir my na sy siekte wil hy dit nog minder doen.’’
‘’Hoekom?’’ vra Willem.
‘’Ek weet self nie.’’
‘’Maar sal jy hom skiet of nie?’’
‘’Ons het net vyf patrone. As die eerste skoot nie ‘n doodskoot is nie, is hy op ons. Hy is die vinnigste dier op die plaas.’’
‘’Jy meen ons het eintlik net een patroon vir hom? Die ander vier help dan mos nie, soos jy self gesê het.’’
‘’Dis ook so, ja.’’
Hulle het langer gelê as wat hulle gedink het.
Toe hulle verder ry, is nog ‘n uur verby. Hulle ry op ‘n egalige stap verder.
Skielik sê Willem: ‘’Piet, kyk daar!”
Piet trek sy perd in, haal die geweer oor en sê: ‘’Wat?’’
“Daar regs van jou!”
“Wat man?”
“Daardie yslike gompou wat vir ons sit en kyk, skiet hom!”
Piet laat sak sy geweer. “Moenie laf wees nie, man, en moet my nie so laat skrik nie.”
“Wat makeer?”
“Ek kan hom mos nie skiet nie. As ek hom skiet, moet ons sy binnegoed dadelik uithaal; so nie sal hy teen vanaand sleg wees, veral in hierdie weer. Boonop moet ons die pou saam met ons vat en so ‘n vet pou is baie swaar. En jy behoort te weet Pa wil nie hê ons moet poue en korhane skiet nie.
‘’Hoekom nie?’’
‘’Hy sê hulle is vir hom mooi.’’
‘’O!’’
Dit word nou middag se kant en hulle draai al meer oos om agter die rantjies om te kom.
Hulle klim af by ‘n klein fonteintjie, span die perde en rus en eet weer.
‘’Ons kan nie verder ry op die hitte van die dag nie,’’ sê Piet. ‘’Kom ons wag ‘n bietjie.’’
‘’Dit lyk vir my meer na ‘n piekniek as na ‘n verkenningstog,’’ sê Willem. Perdry is vir hom baie lekker. Hy wil graag hê hulle moet aanstoot. ‘’Of is dit miskien dat jy bang begin word? Ons is al amper agter Waterbobbejaan se grot. Miskien dink jy ons sal hom enige tyd teëkom.’’
Piet vererg hom oombliklik.
‘’Dis net omdat jy hom nog nooit gesien het nie. Daarom is jy grootman.’’
‘’Ja, maar ek het baie met die wagtertjies gepraat oor hom en hulle het my vertel hoe hy lyk en wat hy kan doen. Hulle het eenkeer ‘n groot Bantoe gekry wat met ‘n gebreekte nek doodgelê het waar hy vis gekap het.’’
‘’Hy is banger vir witmense as vir die volk. Hy weet ons het gewere en hulle nie. Selfs die gewone, simpele bobbejane kan dit sien,’’ antwoord Piet.
‘’Ek sal vir julle sê wat,’’ doen Koos aan die hand. ‘’as ons net een kans het as hy op ons afkom, moet ons van die eerste patroon ‘n dum-dum maak. Al kwes jy hom net, het hy nogtans ‘n doodskoot weg. Ons knipmesse het mos vyltjies aan.’’
‘’Dis ‘n goeie plan.’’ antwoord Piet. Hy maak die slot oop en die eerste patroon spring uit. Hy tel hom op, vee die patroon aan sy broek af en begin vyl.
‘’Ons wil ook help,’’ sê Koos.
‘’Goed, vat jy nou weer.’’ Piet se linkerhand wat die patroon vashou, het al lammerig gevoel.
Na ‘n halfuur het hulle diep kepe voor in die koeël ingevyl.
Die seuns het dit nie opgemerk nie, maar namate hulle vyl, het hulle selfvertroue toegeneem, al meer en meer, totdat hulle onbewustelik gedink het Waterbobbjaan kan so maklik doodgeskiet word soos ‘n dassie.
‘’Wie sê hy is nog op die plaas?’’ vra Willem.
‘’Wat van die ram?’’ vra Koos.
‘’’n Bobbejaan eet nie vleis nie.’’
‘’Ek weet darem nie. Ek het al van bobbejane gehoor wat skaaplammertjies vang en hulle melkpensies uitskeur en eet.’’ antwoord Piet.
‘’Dis ook waar. En wat van die drag slae wat Pa hom gegee het?’’
‘’Dit pla my lankal. Ek dink hy loop dikbek rond.’’
Hulle saal op en ry verder.
Piet ry voor en van toe af het hy die geweer oorgehaal en op rus gehou.