Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Voordat ek getroud is het ek twee teorieë gehad oor hoe om kinders groot te maak; nou het ek twee kinders en geen teorie meer nie...
WATERBOBBEJAAN (15)
Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
Waterbobbejaan kon een versoeking nie weerstaan het nie. Klein Willem se knapsak het mooi kopergespes aan. Hulle het geblink in die gloed van die vuur. Hy het dit versigtig opgetel en toe stilweg teruggeklim na sy slaapplek.
Voordat die seuns uit die grot is, het hulle die hele grot deurgesoek na Willem se sak. Hulle het dit nooit gekry nie. Toe het 'n nuwe storie onder die Bantoes begin: in die kleinbaas se kossak was 'n knipmes. Waterbobbejaan is nou met 'n mes gewapen.
Die tweede aand na die seuns teruggekeer het, sit Waterbobbejaan voor sy grot. Dis tyd dat hy weer 'n slag koers kry en 'n strooptog onderneem. Hy staan op toe dit mooi donker is en begin loop.
Sakamatlakobata tel die volgende oggend sy skape. Een van sy mooiste ooie is weg. Hy voel of hy moord kan pleeg. Dit kan nie langer so aanhou nie. Sy eie storie dat 'n verbylopende luiperd sy ram gevang het, is ook sommer bog. So nie, is sy plaas 'n grootpad vir swerwende luiperds. Waarom sal almal dan nou juis oor sy plaas loop?
Aan die ontbyttafel sê hy vir Piet: "Saal jou perd op en gaan soek vir my honde wat kan spoorsny. Beter honde as die spul wat ons hier op die plaas het. Ek wil honde hê wat 'n spoor kan volg en daardie spoor kan hou. Ek sal jou genoeg geld gee om goeie honde te koop. Jy kan 'n week lank wegbly as jy net die regte honde bring. Nou verklaar ek oorlog."
"Kootjie, laat hy liewers die perdekar vat; dan kan by sommer vir my 'n paar kleinighede van die dorp af saambring."
"Nou ja, maak dan so. Maar wat my aangaan: ek sal daardie dierasie kry, en as ek hom kry, sal ek hom stadig doodmaak."
"Nee, Kootjie, mens praat nie so nie. En dit voor die kinders. Ons is nie barbare nie."
"Vrek sal hy definitief."
Daardie oggend sit Waterbobbejaan voor sy grot. Hy strek hom lui uit. Hy is versadig en gelukkig.
Maar iets hinder hom. Sedert die ontmoeting in die boord het dinge in sy bos verander. Hy het dit verlede nag weer opgemerk. Die bos is te stil na sy sin. Hy sien ook te min wild.
Hy rus ‘n rukkie en toe besluit hy om helder oordag-verkenning in die veld agter die reeks rantjies te gaan doen. Om verkenning te doen en versigtig te beweeg is moeilik. Hy moet op die grond en rondom hom kyk of hy die boer nie sien nie.
Laat daardie middag sien hy naby sy grot in die rantjie iets raak wat hom laat nadink.
Lank voordat die nuwe boer die plaas betrek het, het hier 'n wolf hom op die plaas tuisgemaak. Hy het hom 'n lang tyd skaflik gedra. Hy moet ook leef, en as hy iets vang en vreet, het Waterbobbejaan hom nie daaraan gesteur nie. Maar 'n entjie van sy grot af, het 'n rooihaasgesin gewoon. Waterbobbejaan en hulle het mekaar nie gehinder nie. Hulle was naderhand so mak dat hulle sommer hier by hom gestaan en wei het. Die klein hasies was vir hom alte mooi.
Die roofdiere het hierdie verhouding gou raakgesien en omdat hulle dit in elk geval nie naby Waterbobbejaan se grot gewaag het nie, het die hase in vrede geleef. Een middag laat het hy toevallig in die rigting van hulle nes gestap. Meteens het hy vasgesteek. Voor hom is die wolf, gereed om te spring. Waterbobbejaan sien dat hy tussen die rooihaasgesin gaan beland. Hy hardloop vorentoe, maar die wolf was te vinnig. Hy spring en toe hy grondvat, byt hy twee kleintjies dood. Toe gryp Waterbobbejaan hom van agter aan sy twee ore. Hy lig hom hoog op en skeur byna sy ore van sy kop af. Toe hou hy hom bokant sy kop en gooi hom so hard as hy kan op die grond neer. Maar die wolf was taaier as wat hy gedink het. Toe hy van die grond af opwip, rol by 'n paar slae om en begin hardloop soos geen wolf voor daardie tyd nie. Hy is nooit weer gesien nie.
Nou sien Waterbobbejaan hier voor hom die kop en ore van die rooihaaswyfie. Hier is dus iets wat in die nag wandel. Boonop het dit gebeur naby sy grot. Hy kan dit nie toelaat nie. Die wilde diere weet om sy koppietjie met rus te laat. Hy kyk rond, maar hy sien geen spoor nie. Dis klipperig en die gras is te lank. Die voorval dui op 'n bedreiging vir hom en hy kan dit nie daar laat nie.
Maar wat gaan hy doen en waar gaan hy begin soek?
Hy gaan sit langs sy grot. Hy is 'n bekommerde Waterbobbejaan.