Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geduld is nie ‘n doodse berusting om te bly soos wat jy is nie, maar eerder ‘n gewilligheid om te word wat God wil hê. Geduld is dus die kuns van hoop waarby jy meer baat as by geweld.
WATERBOBBEJAAN (20)
Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
Waterbobbejaan was so besig die afgelope tyd dat hy nie eerder kans gehad het om sy grot in orde te bring nie. Dit het hom ‘n hele dag lank gekos om sy voorste grot weer so netjies te maak soos dit was voordat die seuns en die honde dit ontruim het. Hy het die stompe wat nie in die vuur was nie, die eerste van die krans afgegooi. Toe het hy die halfgebrande stukke weggegooi. Daarna het dit ure lank geduur om die as verwyder te kry. Hy moes dit handjie vir handjie vol optel en wegdra.
Hy was een keer in ‘n leë Bantoehut. Die inwoners het die vorige dag weggetrek. Waterbobbejaan wil nie hê sy grot moet so van die as lyk nie.
Toe hy klaar skoongemaak het, gaan sit hy in die opening van sy grot agter die waterval. Hy het genoeg gesien om hom te oortuig dat hy nie meer langs die grot in die sonnetjie moet sit nie, want dan sit hy langs sy paadjie, en die waterval raas so dat hy nie kan hoor wat agter hom aangaan nie. Hy wil ‘n beskermde rugkant hê.
Hy is vanoggend versadig en tevrede met alles behalwe die spoor wat hom ontstel het.
Sakamatlakobata sit na ontbyt langs die es. Hy is versadig, maar hy voel ontsteld oor die ooi wat weggeraak het. Die bediendes begin die kombuisvloer met beesmis smeer, want dis mos Maandagoggend. Hy word vies en gaan sit onder die blinkblaar. Vandat die vrouens met dié manier begin het om soggens huis skoon te maak, is ‘n man ‘n vreemdeling daar tot hulle klaar is.
Die boer begin die gegewens ontleed wat hy het. ‘n Skaap word elke paar nagte uit sy kraal gesteel. Toe verskuif die diefstal na die veld en in daglig; twee lammers word helder oordag gegaps. Nou vind die stelery weer in die dag plaas, maar op sy eie werf. Hy wonder wat die volgende stap sal wees.
Hy is eintlik ‘n bietjie moedeloos, want hy het nie slagysters wat geskik is om vir so ‘n dierasie te stel nie. Boonop weet hy glad nie waar en wanneer om hulle te stel nie.
Maar ‘n ander plan begin stadig in sy gedagtes posvat. Die dief moet voorgelê word. En daar is net een plek om dit te doen en dit is binne-in die kraal. Maar wie gaan daar sit met die geweer? Na sy laaste malaria-aanval sien hy nie kans om ‘n nag lank daar te sit nie.
Die eintlike vraag is: wat verwag hy by sy kraal? Dit kan Waterbobbejaan wees en as dit hy is, is dit doodsake. Na die loesing wat hy gekry het, sal hy ‘n mens nie oorsien nie. net na die drag slae het die stelery uit sy kraal begin. Hy is so skelm en slim dat ‘n mens op ‘n donkernag nie ‘n kans het om hom baas te raak nie.
Die boer verwag nie ‘n leeu nie. Hulle lol nie met kleinvee nie. En as dit een van hulle was, sou hy al lankal die oorblyfsels van sy skape in die veld gevind of ‘n leeu hoor brul het. ‘n Luiperd sou ook oorblyfsels nagelaat het. Hy sal die vel beslis nie vreet nie, maar sy skape raak weg sonder om iets agter te laat. Hulle verdamp eenvoudig.
Dis ook duidelik dat die honde nie ‘n teken van ‘n reuk by die kraal of in die veld vind wat daarop dui dat hulle ‘n leeu of luiperd vermoed nie. Dis vir hom duidelik dat die reuk en spoor wat hulle miskien al raakgeloop het, vir hulle totaal vreemd is, so vreemd dat hulle nie eers weet wat dit is nie.
Die boer gaan haal sy Mauser en begin hom skoonmaak. Hy stel die visier sodat die geweer op die kortste moontlike afstand kan raakskiet en toe maak hyself die magasyn vol patrone.
Dit het mooipraat gekos om Trappies te oorreed om snags met die geweer in die kraal te gaan wag sit.
Trappies kom van Griekwaland af. Sakamatlakobata se pa het hom, toe hy nog ‘n jong klong was, saamgebring van Kimberley af toe hy van een van sy smoustogte teruggekom het.
Trappies staan voor die boer onder die blinkblaar. Hy het vir die kêrel mooi verduidelik wat hy wil hê.
“As jy snags daar sit, hoef jy bedags nie te werk nie. Jy kan jou lê en uitslaap die hele dag deur. Ek sal sorg dat jy genoeg vleis kry om jou sterk te maak vir die werk wat jy moet doen.”
Dit help nie om die jong te probeer forseer nie; hy sal uit die kraal uit wegloop sodra die boer sy rug draai en dan in sy stat gaan slaap, en voor sonop weer ewe grootman in die kraal gaan sit. Sakamatlakobata kan ook nie kort-kort in die nag gaan kyk of hy nog in die kraal is nie, want dan sal hy die dief afskrik en die waghou sal niks beteken nie.
“Hoekom vat Oubaas nie een van die Bantoes van die bosveld en sit hom in die kraal nie? Veral een wat nie vrou en kindertjies het nie. Ek is die enigste een van my volk wat in die bosveld is. Hoekom moet ek geoffer word?”
“Jy kan in die donkerste hoek van die kraal sit, teen die klipmuur. As die dief oor die muur spring, sal jy hom duidelik in die maanskyn sien. Hy sal jou nie raaksien nie. Dan skiet jy hom. Al skiet jy hom nie dood nie, dan maak dit nog nie saak nie; ek wil net weet wie die dief is. As jy nie in die kraal wil sit nie, kan jy op daardie dik tak van die kareeboom wat langs die kraal is, gaan sit. Daar is jy mos veilig.”
“Oubaas, al is die tak hoe dik, is mens nog nie veilig nie. Ek het in my land gesien hoe een van my mense met ‘n gelaaide geweer op só ‘n dik tak sit en toe die leeu onder die boom deurloop, toe skud die tak hom af.”
Sakamatlakobata het hom ‘n vet slagskaap beloof en ‘n kan rooiwyn as hy ‘n week lank elke nag daar gaan sit. Trappies het sy kop geskud en ingewillig.
Dinsdag is die boer douvoordag by die kraal. Van ver af fluit hy sodat Trappies kan hoor dat dit hy is wat aankom. Mens kan nooit weet hoe gespanne die jong teen daardie tyd is nie, en hy mag skrik en dan bly die boer in die slag.
Trappies is springlewendig en vol moed.
“Ek het niks gehoor of gesien nie, Oubaas. Ek glo nie hy sal kom as ék in die kraal sit met die geweer nie.”
Woensdagaand begin Trappies dit al as roetinewerk beskou om wag te hou.
Vroeg Donderdagoggend stap Sakamatlakobata kraal toe. Hy fluit.
“Trappies!” sê hy oor die muur.
Hy kry geen antwoord nie.
Boer gaan by die hek in. Trappies sit regop teen die oostelike muur. Sy bene is reguit voor hom op die grond uitgestrek en die geweer lê dwarsoor sy bobene.
Hoe kan ‘n mens onder sulke omstandighede slaap, wonder die boer. Die jong laat hom dink aan die Boesman wat gehang moes word. Hy is die vorige dag in kennis gestel dat sy vonnis die volgende oggend sesuur voltrek sou word. Toe die bewaarders die volgende oggend in sy sel kom, moes hulle hard sukkel om hom wakker te kry.
Hy gaan vir Trappies ‘n les leer. Hy sluip tussen die skape deur en vat aan Trappies se een oor met sy regterhand. Hy wou dit ‘n harde draai gee. Die boer het die oor gouer gelos as wat hy aan hom gevat het.
Trappies se oor is yskoud!
Hy druk Trappies se lyk vooroor. Iets het hom so hard teen die muur gestamp dat ‘n skerp klippunt diep agter in sy kop ingesteek het. Dit het hom regop gehou.
‘n Groot hamel is weg.