Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die woorde uit die mond van 'n wyse is aangenaam, maar die lippe van 'n dwaas verslind homself – Prediker 10:12
WATERBOBBEJAAN (22)
Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
Lank na die indoena weg is, sit Sakamatlakobata nog en dink. Hy en Waterbobbejaan het deur hulle kinderagtige optrede die hele bosveld omgekrap. Hy wonder wie is daar oor wat nie in die aangeleentheid betrokke is nie. Eendag sal die nageslag van hom en Waterbobbejaan praat as die opvolgers van Silkaats en sy kwaaddoeners. Wat sal sy kleinkinders sê as hulle eendag van vreemdelinge moet hoor dat hulle oupa en ‘n soort bobbejaan vir al die moleste verantwoordelik was?
Hy voel hy word rooi en hy stap vies weg na die kombuis. Piet het vyf nagte in die kraal gesit en niks gewaar nie. Die boer het sleg geslaap en sy vrou nog slegter.
Die oggend van die sesde dag kom daar ‘n Bantoe te perd aangejaag. In sy regterhand hou hy ‘n gesplete lat met ‘n brief daarin. Hy groet en gee dit vir die boer.
“Sanna, bring my bril.”
Sakamatlakobata sit sy leesbril op en stap van die kombuis af na ‘n plek op die werf waar die son die helderste skyn. Die groot ontsyfering begin.
“Sanna, maak daardie spul raasbekke in die kombuis stil!”
Toe hy na ‘n lang tyd klaar is, vou hy sy bril en sit dit in sy hempsak. Hy stap haastig kombuis toe.
“Wat is dit Kootjie? Is daar dood?”
“Ja!”
Sy vrou sit haar hand teen haar keel. “Wie, Kootjie?”
“Vyf van oom Stoffel Wolf se hamels.”
“Kootjie, jy sal nog gestraf word. Wat skryf hy?”
“Sover ek kan uitmaak, sê hy dat ‘n tamaai groot wolf laasnag vier van sy hamels doodgebyt het en een weggedra het. Hy het die spore gekry. Hy vra ek moet dadelik kom help. Al die bure gaan saam op die jagtog teen die dierasie. Ek sal ‘n paar dae weg wees. Moenie kos insit nie. Ons kampeer sommer by hulle.”
Piet sit daardie nag teen die oostelike muur van hulle kraal. Die maan skyn helder. Die westelike muur is duidelik sigbaar. Hy is oorgehaal vir wie ook al mag kom.
Maar hy het ‘n hol gevoel op sy maag. Hy het te veel van Waterbobbejaan gehoor en gesien om op sy gemak te voel. Boonop is sy pa weg. Hy het nog nooit so eensaam in sy lewe gevoel nie. Hy is bang. Hy is nie kwaad vir sy pa omdat hy daar moet sit nie. Hy het die afgelope paar nagte die hele ding vir homself oopgedink. Dit moet gedoen word as hulle baas op hulle plaas wil wees, as hulle trotse mense wil wees wat almal vierkant in die oë kan kyk. As hulle hier skiet gee, dan is dit soos ‘n damwal wat begin oorloop. Die water wat van voor af druk, breek nie die wal nie, maar die oorloopwater kalwe die wal aan die agterkant uit. En dan breek hy. Soos hy by die ou mense gehoor het, was daar al baie druk op hulle volk uitgeoefen. As hulle skiet gee, die water laat oorloop, word hulle verset week. En die oorloopwatertjies is hierdie stelery; dit gaan nie net oor die veedief nie. Dis die beginsel wat op die spel is. Hulle moet veg of vlug. Dat hy bang is, maak nie saak nie; hy moet en hy gaan terugveg.
Die skape lê of staan in klompies. Dis baie stil.
Meteens word dit donker bo Piet. Dit lyk vir hom of ‘n groot voël tussen hom en die maan is. Toe trek ‘n geweldige groot dier oor die muur bokant hom en land tussen die skape. Piet skiet na sy kop en die dier ruk sy kop vinnig regs. Teen daardie tyd staan Piet regop terwyl hy die tweede patroon in die loop wil druk. Maar die patroon steek vas. Die dier spring om en trek met ‘n boog deur die lug na Piet se keel. Piet gryp die geweer aan die loop en slaan hom met die swaar kolf so hard as hy kan teen die kop. Die dier steier agteroor. Piet storm nader en stamp hom met al sy mag met die agterkant van die kolf net onder sy kakebeen waar sy sluk behoort te wees.
Die dier kom op sy rug te lande, maar rol onmiddellik om, kom op sy pote, maar met sy kop weg van Piet af. Van skone verbouereerdheid vergeet die seun dat hy ‘n geweer het. Hy trap vas en skop hom onder die stert met sy regterskoen dat die dier vorentoe wip.
Hy ruk die slot oop en die patroon wat vasgesteek het, val op die grond. Toe hy die volgende een in die loop druk, trek die dier met ‘n verbasende spoed en ‘n baie hoë sprong oor die westelike kraalmuur. Piet hardloop na die muur en skiet nog twee skote vinnig in die rigting waarin die dief gehardloop het.
Die seun sit die geweer teen die kraalmuur neer en haal sy hoed af. Waarom hy dit kraal toe geneem het, weet hy nie. Hy vee sy voorkop af en glimlag. Hy voel verlig, want nou weet hy iets wat hy nooit vermoed het nie. Sy vae angs vir die dier is weg, alhoewel hy nog vir hom skrikkerig is.
Môre gaan hy verkenning doen.
Hy stap huis toe.
Sy ma staan met ‘n vetkers in haar hand en loer skeef-skeel by die kers verby oor die onderdeur van die kombuis. Sy hoor hom aankom en maak die onderdeur solank oop.
“My kind?” vra-sê sy toe hy naderkom.
Hy gaan sit by die boekenhoutkombuistafel en rek hom uit.
“Wat het gebeur?”
“Sommer ‘n groot rooijakkals, Ma. Hy het by die kraal rondgedraai en ek het na hom geskiet. Ek dink ek het sy linkeroor raakgeskiet. Maar ek gaan môre met Frits en Grietjie sy spoor vat.
“Dis nie nodig om vannag langer in die kraal te sit nie, Ma. Die paar skote is oor die hele plaas gehoor. Geen roofdier sal dit vanaand naby die werf waag nie.”
Teen dagbreek is Piet se perd opgesaal en met die twee spoorsnyers vooraan begin hy ry. Die skape en beeste is nog in hulle krale en die werkers het nog nie opgedaag nie. Die dier se spore sal baie duidelik wees.
Hy neem die honde eers na die plek waar die dier buite die kraal grondgevat het. Die vier spore is diep en duidelik. Langs die linkerspore lê ‘n hele paar druppels bloed. Hulle is nog half nat, want dit het ‘n effense strepie aan sy vinger gelaat toe hy daaraan geraak het. Die bloed en die duidelike ruk wat die dier met sy kop na regs gegee het, bevestig sy vermoede dat hy hom met die eerste skoot deur die linkeroor geskiet het.
Die bloed en spore wat nog duidelik is, vergemaklik sy soektog aansienlik. Toe hulle ‘n honderd tree van die sand rondom die kraal weg is, word hy nog blyer: die dier het in sy haas en verbouereerdheid die duidelikste beespaadjie na die suidekant gekies. Nou kan die honde vinnig vorder. Frits en Grietjie se sterte is hoog in die lug en hulle neuse is soos ‘n drawwende ratel s’n byna teenaan die grond.
‘n Kilometer verder toe hulle langs die eerste rantjies kom, trek Piet sy perd in en roep die honde. Hy gaan sit langs die paadjie en bekyk die spore aandagtig. Die honde is nog op die regte spoor. Oor die duidelike spore is al ‘n paar muisspoortjies. ‘n Goggatjie het ‘n streep oor die spore getrek en ‘n paar voëls het ook al hier en daar oor die dief se spore geloop. As ‘n spoor so lyk, is hy net ‘n paar ure oud. Maar hulle is so vars dat daar nog nie ander diere oor hulle geloop het nie.
Hulle hou verder suidwaarts aan. Die rantjies wat hoefystervormig naby die opstal begin, suidwaarts strek en dan weer noordwaarts terugdraai na die huis, begin al verder van hulle weg te swenk.
By ‘n drif steek die honde vas. Piet ry deur en hulle volg. Die dier moes baie groot geskrik het by die kraal, want aan sy spore tot daar kan die seun sien dat sy spoed nie verminder het nie. en boonop het hy net so vinnig deur die water van die spruit gehardloop, want oorkant die drif in die spruitsand is duidelike tekens te sien hoe die water voor hom weggespat het toe hy anderkant uitgehardloop het.
Terwyl hulle deur die drif loop-swem, drink die honde haastig water en toe hulle oorkant kom, begin hulle al met die spoor langs draf asof niks hulle onderbreek het nie.
Piet sien dat hulle waarskynlik al oor hulle eie plaas se grense is en op die plaas is wat suid van hulle s’n lê. Die beespaadjie het opgehou en ‘n dowwe voetpaadjie gaan verder aan. Maar die grond is sanderig en selfs hy kan van die perd af die spore nou en dan duidelik sien. Aan die honde maak die kleiner paadjie geen verskil nie. inteendeel hulle is op ‘n vlakte wat bekend is dat daar nooit veel wild is nie en daar is dus minder spore wat hulle aandag moontlik kan aflei.
Van die spruit af het Piet opgemerk dat hulle reguit na ‘n hoë koppie pyl wat ‘n uitstaande punt van graniet het. Hy was nog nooit so ver suidwaarts nie. Daar is genoeg wild op hulle eie plaas en hulle bure bly almal noordwaarts. Omdat Piet nog nooit op hierdie terrein was nie, voel hy nie danig op sy gemak nie.. niemand is tuis op ‘n terrein wat vir hom onbekend is nie. Terwyl hulle oor die vlakte vorder en nader aan die beboste rantjie kom, word Piet al hoe onrustiger.
Hy sou ongeruster gewees het as hy geweet het dat Waterbobbejaan al van vroeg af op sy spoor is.
Die vorige nag was Waterbobbejaan by die drif waar die Bantoes en Sakamatlakobata sy spoor die laaste keer gesien het. Hy het net klaar water gedrink toe die eerste skoot afgaan. Hy bly sit in sy gehurkte posisie en stel vas dat die skoot in die omgewing van die boer se kraal afgeskiet is. Die kraal is ‘n paar honderd tree oos van hom. Daar is ‘n kort stilte en Waterbobbejaan kom stadig orent. Hy kyk na die kraal se kant en hoor nog twee skote vinnig na mekaar. Hy kan die skote ook sien, want die trompblitse is duidelik waarneembaar. Waterbobbejaan merk dat die blitse suidwaarts wys, al met die beespaadjie langs. Hy kyk verder regs en toe sien hy in die maanskyn die geweldige dier wat hardloop so al wat hy kan.
Dis hy daardie, dink hy. Dis sy spoor wat ek gesien het. Sodra dit daglig word, gaan Waterbobbejaan spoorsny. Hy wil weet waar die skurk woon. Wat soek hy by sy krale en op sy plaas? Waterbobbejaan is net soos enige dier en die mens ook. As hy vir hom ‘n gebied afgebaken het, dan is dit syne en hy sal alles in die stryd werp om ‘n indringer daar uit te hou.
Hy stap doodtevrede terug na sy grot.
Teen dagbreek begin hy reg wes loop. Hy weet hy moet die spore wat suidwaarts gaan, êrens kruis.
Hy loop nog so voor hom op die grond en kyk, toe hoor hy perdepote na regs van hom. Hy val plat agter ‘n deurmekaarbos en lig sy kop effens op. Twee klein bruin hondjies draf tien tree voor hom verby en ‘n mens op ‘n perd volg hulle. Waterbobbejaan wag ‘n paar minute en toe staan hy stadig op en loop na hulle spore. Tussen hulle s’n sien hy die spoor waarna hy soek. Dit lyk net soos die een wat hy by die fontein gekry het. Hy sien ook hier en daar ‘n fyn bloedspatseltjie.
Waterbobbejaan begin agterna draf. Na ‘n kilometer of wat sien hy dat die verskillende spore bymekaar bly. Toe weet hy dat hulle almal op dieselfde spoor is. Dit maak vir hom die taak baie makliker. Maar hy draf langs die beespaadjie. As die man wat die geweer het, omkyk, wil hy nie sigbaar wees nie.
Toe hy deur die drif gaan, sien hy die ruiter bykans ‘n kilometer ver voor hom. Maar toe duik daar probleme op. Van die spruit af is dit gebroke veld. Hy sal takties moet beweeg: van boom tot boom. Hy moet hom so onsigbaar moontlik hou.
Waterbobbejaan wat ‘n meester is op die gebied van die uitsoek van goeie observasieposte, kan nou al sê dat die spore gaan lei na die groot koppie met die hoë granietrots.
Daarom is hy vanoggend dubbel versigtig; hy vermoed dat die dier sy agtervolgers verwag en inwag. Hy moet die ruiter sonder twyfel al gesien het, maar Waterbobbejaan wil nie gesien wees nie. Hy het met hulle stryd niks te doen nie. Al wat hy wil doen, is om homself in sy eie gebied te beveilig. Die dier moet dood. Hy het sy hele lewe deur nog so opgetree en daaraan het hy sy lang lewe te danke.