Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die moderne mens praat deesdae baie meer openlik oor vroeëre taboes – seksualiteit, hartsgeheime ens. Maar praat oor die dood en oor sterwe, dan droog die geselskap op – is dood vir mense 'n verskrikking? Dit hoef nie te wees nie! Ons gaan in die wonderlikste harmonie in nuutopgestane liggame saam met God en Jesus en ál ons geredde geliefdes vir ewig kuier!
WATERBOBBEJAAN (24)
Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
Ongeveer dieselfde tyd trek oom Stoffel Wolf sy perd in. “Ons is nou in die klipveld. Die honde sukkel om die spoor te kry. Boonop is die spoor al oud. Kom ons eet eers en dan ry ons ‘n wye draai deur die veld en gaan terug. Ons sal die dierasie nie kry met dié honde nie.”
“Ek stem saam. Ons sal van Dan tot Berséba soek en niks kry nie,” sê Sakamatlakobata.
Hulle eet in stilte. Niemand voel blykbaar ontevrede omdat twee dae gemors is nie. Daar is baie tyd en die vriende het lank laas saam gejag.
Met die teruggaan sal elkeen probeer om vir hom ‘n bokkie of twee te skiet. Vanaand maak elkeen biltong en braai liewer by sy eie huis.
“Teen hierdie tyd is die draak al in Betsjoeanaland,” sê oom Koos Kraak. “Ek meen, as hy reg noord aanhou. So ver dit my aangaan, kan hy daar bly.”
“Ek dink ons het hom vir goed verwilder,” sê oom Koos Hamerkop.
Hoe op aarde moet hy weet ons is op sy spoor, dink Sakamatlakobata, tensy ‘n ander wolf met ‘n Bantoetrom hom daarvan vertel.
Toe saal hulle op en ry al geselsende en op hulle gemak terug huis toe. Elkeen voel dat hulle ‘n geslaagde en aangename jagtog gehad het.
“Ek meen,” sê oom Stoffel Wolf, “ek het van die begin af geweet ons sal hom nie kry nie. dit was net ‘n goeie voorwendsel om van die vrou en kinders af weg te kom. Die boerdery het my ook al begin verveel. Na twee dae en een nag in die veld voel ek baie beter.”
Maar Sakamatlakobata sê niks nie. Hy is vies oor die tyd wat gemors is. As mens wil jag, vat jy jou geweer, saal jou perd op, groet jou vrou en begin ry. Dis die end van die storie.
Maar oom Stoffel Wolf was tog reg. Die verandering van klimaat het hom so goed gedoen dat hy daardie nag soos ‘n klip geslaap het.
Die volgende dag ontdek sy vrou dat daar gedurende die nag weer ‘n erdekruik met gemmer weggeraak het.
Sy vertel dit die volgende oggend aan ontbyttafel vir haar man. Hy antwoord haar nie.
Na ‘n rukkie sê sy: “Gaan jy nie ‘n bode met ‘n briefie stuur na jou bure om weer twee dae lank spoor te sny nie, hê Stoffel?”
Piet en die dier het ewe lang distansies om af te lê. Maar Piet ry aan die westekant van die reeks koppies langs en hy gaan aan die oostekant verby. Altwee is op pad na die opstal. Piet ry op sy gemak. Frits en Grietjie se pootjies is kort. Hulle moet aanhou draf om by te bly. Hy ry stadiger as toe hy die oggend van die huis af weg is. Die honde is al honger en hy wil hulle nie moeg maak sodat hulle later teësinnig sal wees om saam met hom te gaan as hy te perd ry nie.
Die dier het sy koers ingeslaan en draf ‘n lang, haastige draf sonder om ooit te rus of om te kyk. Waterbobbejaan bly so ‘n 200 meter agter hom. Dis vir hom moeilik om by te hou en ook elke oomblik gereed te wees om weg te spring en agter ‘n boomstam te gaan skuil.
Waterbobbejaan weet nie wat gaan gebeur nie. Wat hy wel raaksien, is dat hulle amper soos die kraai vlieg op pad is na boer se huis en dit boonop in die middel van die dag. Hy laat hom maar lei, hy weet waar om op te hou.
Toe die dier by die punt van die rantjie kom waar hulle aan die oostekant doodloop, draf hy reguit deur die vrugteboord na die agterdeur van die woning. Waterbobbejaan kom by die paar groot rotsblokke duskant die boord en hardloop regs agter die skeur verby. Hy onthou dat hy een aand voor die skeur verbygeloop het.
Hy is nie van plan om dit ooit weer te doen nie.
Waterbobbejaan hardloop tot in die middel van die boord en steek toe vas. Hy kan die opstal duidelik sien. Die dier verdwyn om die voorstoep en pyl op die agterdeur af.
Frits en Grietjie se vier kleintjies lê op die vel voor die agterdeur en slaap. Die dier gryp een en byt terselfdertyd sy nek af. Maar hy trap een raak en dié sit ‘n yslike keel op. Die dier hou aan hardloop en verdwyn om die hoek van die waenhuis en toe is hy in die bos.
“Wat gaan met daardie hondjie aan?” vra die boer se vrou aan etenstafel.
Koos staan op en loer oor die onderdeur.
“Niks nie, Ma. Een van die ander kleintjies het hom seker aan sy oor gebyt.”
Wagter en Prins lê aan die ander kant van die huis onder die malvastoele en slaap. Die boer se vrou laat die stoele elke oggend natgooi en die twee het al lankal uitgevind dat as hulle bietjie onder die stoele grawe en ‘n lêplek maak, dan is dit die koelste plek op die werf.
Die bediendes is besig om by die statte te eet. Daar is net een helper in die kombuis en sy is by die es besig. Niemand het die dier sien kom of gaan nie.
Waterbobbejaan hoor in die boord die hondjie se vinnige, skerp tjank. Toe hy na ‘n paar minute niks hoor nie, draf hy terug grot toe. Hy verstaan nie wat aangaan nie, maar hy kry ‘n gevoel dat daar iets aan die gang is wat vir almal gevaar inhou.
Piet kom ‘n halfuur later op die werf aan. Abel saal die perd af en Piet se ma gee vir hom kos.
“Wat het jy toe gesien, Piet?”
“Eintlik niks nie, Ma. Ons het die spore gevolg tot op die plaas hier anderkant. Ek weet nou waar die dier bly en ek sal hom nog eendag daar gaan uithaal.”
“O!”
“Wat hoor Ma van Pa-hulle?”
“Sovêr nog niks nie. Ek hoop hulle kry die wolf en maak gou.”
Grietjie begin aanhoudend tjankgeluidjies maak by die agterdeur.
“Wat gaan met die hond aan, Koos? Het jy hulle nie kos gegee nie?”
“Ek het, Ma, Maar Grietjie wil nie eet nie. sy bly in sirkels hardloop en wil nie ophou tjank nie.”
“Is al haar kleintjies daar?” vra Piet terwyl hy eet.
“Nee, een is weg.”
“Soek jy en Willem die kleintjie gou-gou. Jy weet hulle loop nie ver van die huis af nie. Vandat die gansmannetjie hulle onder naels gehad het, bly hulle op die agterstoep.”
Na ‘n paar minute kom hulle terug.
“Ons kry die kleintjie glad nie; hy is weg, Ma.”
“Dis onmoontlik, Willem.”
“Wel Ma, dit is so.”
“Toe jy met ete gaan kyk het hoekom een so skreeu, hoeveel was daar toe?”
Koos dink ‘n rukkie lank na.
“Net drie, Ma.”
“Maar dan is hy mos byna al ‘n uur lank weg.”
Grietjie kom by die agterdeur ingedraf met haar stert tussen haar bene. Sy staan op haar agterpootjies en sit haar voorpootjies op Piet se bobeen. Hy sit sy mes en vurk neer en kyk na haar.
“Wat is dit, jong?”
Sy kyk na hom met baie plooitjies tussen haar oë. Toe begin sy met haar pootjies oor sy been krap en sy huil weer.
“Kom!” Piet stap saam met haar uit. Sy spring van blydskap en lei hom na buite.
Toe begin sy na die waenhuis draf. Piet loop vinnig agterna. Hy merk op dat sy reguit koers kies en dat haar neus teen die grond is. Hy kan niks op die kweek sien nie, maar net anderkant die waenhuis na die bos se kant is ‘n bietjie losgrond. Piet steek in sy spore vas toe hy daar kom.
Daar is ‘n paar klein bloeddruppeltjies en die spore op die grond is dieselfde spore wat hy en die honde die hele oggend na die koppietjie en terug gevolg het.
Piet roep vir Grietjie terug. Hy dra haar huis toe en troos haar langs die pad.