Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God se seën en vaderlike guns glinster ook in ons voedsel wat hy ons skenk. Hoewel sondevergifnis vir ons liggaam baie belangriker as voedsel is sluit Hy die seën op die gebruik van ons daaglikse brood in by sy genade.
WATERBOBBEJAAN (25)
Ben Venter
Lees reeks by Waterbobbejaan
“Het jy al ooit van ‘n koei gehoor wat ‘n haas kan vang?” vra Sakamatlakobata vir sy vrou tydens aandete.
“Nee, Kootjie. Hoekom vra jy?”
“Ek het ook nog nie van so iets gehoor nie. En ek sê vir jou: net so min as wat so iets kan gebeur, sal Stoffel Wolf in sy lewe ooit ‘n wolf vang. As hy nie oppas nie, sal ‘n wolf hom nog eendag vang. Dan sal daar nie tyd wees om ‘n bode met ‘n briefie te stuur om hulp te vra nie. As daar ‘n briefie kom, dan sal dit van wolf wees wat vra of ons nie saam ‘n vleisbraai wil kom hou nie.”
Sakamatlakobata is vies. Hy is vies vir die hele spul wat so graag hulle tyd mors.
“Pa, ek weet nou wat die waarheid is,” sê Piet skielik.
“Jy lyk ‘n mooi bog! Laat ek vir jou die waarheid vertel: die slimste mense op aarde soek nog al die tyd na die waarheid. Sover ek weet het hulle dit nog nie gevind nie.”
“Ek het die waarheid gesien, Pa.”
“Nog erger! Waar het jy die waarheid gesien?”
“In die skaapkraal, Pa.”
“O, Matjiesfontein! In die skaapkraal! En hoe lyk die waarheid?”
“Dis ‘n yslike groot wolf, Pa. Hy is so groot soos ‘n kalf. Sy kleur is rooierig. Hy het die aand in die kraal gespring toe Pa-hulle hom by oom Stoffel Wolf gaan soek het. Ek het hom aan sy oor gekwes en toe die volgende dag sy spoor gevat met Frits en Grietjie. Sy skuilplek is op daardie hoë granietkoppie op die plaas hier agter ons.
“En weet Pa wat nog? Dis hy wat ons die aand gejaag het toe ons met die perdewa gery het.”
“O so! Ek kon dit dink. Jy weet nie hoe bly is ek dat dit nie Waterbobbejaan was wat ons gejaag en my skape gesteel het nie.”
“Iemand wat mens met die hand groet, behoort nie jou skape te steel nie,” kom dit van sy vrou af waar sy voor die es staan.
“As ek daardie storie weer hoor, Sanna, is daar moeilikheid.”
Daar is ‘n kort stilte. Almal herkou aan Piet se inligting.
“Dan het jy mos vir my gejok, Piet,” sê sy ma verwytend.
“Ek is spyt, Ma. Maar hoe gerus sou Ma gewees het as ek alles moes vertel?”
“Dan is daar drie van die swerkaters,” sê die boer. Die een wat oom Stoffel Wolf se skape doodgebyt het, die een wat jy in die kraal gesien het en die een wat die hondjie vanmiddag gevang het. En ek wou daardie reuntjie so graag self grootgemaak het.”
“Pa, laasnag se wolf het presies dieselfde spore as die een wat vanmiddag die hondjie weggedra het.”
“Alle wolwe se spore lyk dieselfde, Piet.”
“Hulle is presies ewe groot, Pa. En wie sê dis nie dieselfde een wat voor laasnag in oom Stoffel Wolf se kraal was nie?”
“Ek dink al daaraan. As dit so is, dan lê daar vir ons ‘n swaar tyd voor. Hy is vinnig en skelm en hy maak meer as een plan.”
“Jy moet ‘n plan maak, Kootjie.”
“Ja, jy is nes oom Koos Hamerkop wat een middag verlede jaar sien hoe ‘n haelbui sy koring afslaan en toe van een venster na die ander hardloop en aanhoudend vir sy vrou skreeu: Siena, maak ‘n plan! Siena, maak ‘n plan!”
“Ons moet hom uit sy skeur gaan haal, Pa.”
“Hoe? Hy sit soos Mosjesj bo-op ‘n koppie, doen allerhande kwaad in die nag, kyk wanneer jy aankom en gee dan pad.
“Dan stel ons vir hom ‘n slagyster, Pa.”
“Waar, Piet? Hy kan enige plek oor die muur spring. Daar is nie ‘n gang waarin jy hom kan vaskeer en verplig om in die slagyster te trap nie. As jy dit naby sy grot stel, kan ek jou nou al sê dat hy die plek sal vermy. As hy ‘n gewone, kortagterpootwolf is, kon mens dit probeer. Maar ek wonder hoe sal ‘n vanghok werk. Miskien loop hy daar in.”
“Hy sal ruik dat mense die ding gemaak het, Pa.”
“Ons moet skelmer wees as hy. Ons maak die hok op die werf, gaan sit dit in die veld neer en los daar met ‘n oop deur vir ‘n hele paar dae. Hy sal naderhand gewoond wees daaraan. En dan slaan ons een middag ‘n jong bok op lyn in die hok. As hy aan die bok byt, val die deur agter hom toe.”
“Die hok sal van sterk hout moet wees, Pa.”
“Ons vat pale wat van die pit van ‘n blinkblaar-wag-‘n-bietjie-boom gekap is. Rysmiere vreet dit nie eers nie. Ek het hier ‘n paar ou pale.”
Vir almal het dit na die aanneemlikste oplossing gelyk.
“Pa, maar sê nou Waterbobbejaan loop in die hok in?”
“Ek glo nie hy is so onnosel nie, Willem.”
Ons het klaar ‘n plan gemaak, Sanna. Sê vir Abel hy kan maar ons voete kom was.”
Abel kom in die kombuis in en gooi warm en koue water in die houtwasbalie met sy koperbeslag.
Sakamatlakobata trek sy skoene uit en rol sy broek tot bokant sy knieë op. Toe gaan hurk Abel en was sy voete en bene. Hy was versigtig, want hy het al ‘n paar oorveë gekry omdat hy die boer onder sy voete heel toevallig gekielie het.
Daarna was hy die seuns se voete en bene op die ry af, van die oudste tot die jongste.
Toe gaan almal slaap met ‘n nuwe hoop in hulle harte.