Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geen lewe is sinloos indien jy diens lewer nie. God het ons nie hande gegee om net te ontvang nie, maar ook om te dien. Wie net wil ontvang, is uiters selfsugtig!
GEESTE EN GEDAANTES (3)
Lees reeks by Geeste en Gedaantes
Spookstories “Vir die Waarheid” (2)
Ja, begin die kommandant, die verhaal van die dominee gee my moed om ook myne te vertel, want ek is ‘n man wat maar min geloof heg aan sulke dinge. En tog kan ek nooit vergeet wat met my gebeur het tydend die Tweede Vryheidsoorlog nie.
Laat my nou begin deur te vertel van my ou krygsmaat, wat ek nou Willem sal noem. Ons was bure daar in die oostelike Vrystaat, en boesemvriende van omtrent dieselfde ouderdom. In ons jongdae het ons saam skoolgegaan, saam na nooiens gery, saam op skiettogte gegaan en toe die oorlog uitbreek was ons saam op kommando. In alles was ons twee onafskeibaar en ons troue vriendskap en gedurige samestyn was naderhand spreekwoordelik onder ons kennisse en oorlogsmakkers.
Willem was ‘n onverskrokke kêrel, het enige ding gewaag en almal het gesê hy het geen bang haar op sy kop nie. Hy was dapper tot roekeloosheid toe en dikwels het hy my benoude oomblikke veroorsaak, want ons akkoord was dat waar die een gaan die ander ook sal gaan en nooit sou die een die ander in die steek laat nie. Ek kan nog goed onthou hoe ons twee eendag toe ons op spioenwerk uit was, teen ‘n vyandige mag vasgery het en in ‘n kits ons perde moes omruk en lelik onder die koeëls uit wegja. Dit gons en klap om ons dat dit ‘n naarheid is maar ons laat die perde loop vir al wat hulle werd is. En toe lol die vent se hoed om af te waai. En wat dink julle vang hy aan?
Hy ruk sy perd in, klim eers ewe getroos af en, nieteenstaande my benoude krete van “Laat staan die vervlakste hoed, kêrel!” tel hy eers die hoed op en spring toe weer op sy perd, onderwyl die koels om hom reen. Toto my ontsteltenis moes ek vir hom was. Maar dan dink ek ook weer aan die voorval toe ek in Natal lig gewond, my perd onder my doodgeskiet is en ek moes bly lê – toe het Willem teruggeja, onder die koeëls, en my veilig voor op sy perd uitgebring. Nou ja, dit terloops oor my vriend en krygsmaat.
Kort voor die slag van Paardeberg lê ons twee een aand onder die blote hemel teen ons saals en rook en gesels. Oral om ons brand vuurtjies en word ketel gekook en vleis gebraai. Bokant ons skitter die ontelbare sterre in die oneindige ruimte. Ons begin oor diep dinge te gesels. Hoe ver is die sterre van ons af? Wat is anderkant die sterre? Waar is die hemel? Ja, oor al die vir die mens ondeurgrondelike dinge praat ons daardie aand. Dit is maar vrae, vrae vrae wat ons aan mekaar stel en wat geeneen kan beantwoord nie.
Naderhand sê Willem: “Ou maat, ek wonder darem altyd of daar ‘n terugkoms is van oorkant die skeiding tussen Lewe en Dood. Kan ‘n mens se gees, nadat hy hierdie verganklike liggaam verlaat het, ooit weer hier op aarde kom?
En ons gaan voort om op ons manier, op ons onkunde, oor hierdie groot saak te gesels.
“Wat ek altyd graag wil weet,” sê ek naderhand, “is of dit moontlik is vir die gees van iemand wat gesterf het, om aan sy agterblywendes ‘n boodskap van oorkant te bring, of op enige wyse in verbinding met iemand hier op aarde te tree.”
Ons lê so ‘n rukkie stil. Naderhand praat Willem: “Kom ons vanaand hier aan mekaar ‘n belofte, en dit is dat as dit enigsins moontlik is, die aan van ons twee wat die eerste te sterwe kom, aan die agterblywende ‘n boodskap sal terugbring.”
Di was ‘n vreemde voorstel en ‘n skrikwekkende verbond om te maak. Maar vir ons, gedurende daardie dae waarin die dood ons telkens voor die deur gestaan het en met ons gevoel van weemoed as ons net daaraan dink om van mekaar geskei te word, het dit as iets heeltemal natuurliks gelyk. En daar en dan, in die stille ure van die nag, met die sterre vir getuie, gee ons mekaar die hand en stilswyend maak ons daardie vreemde verbond. Vir my was dit asof daarmee ‘n troos gekom het by die gedagte dat die wrede koeëls moontlik een van ons in ‘n oogknip kon wegneem. Hier was nou n belofte met ‘n vooruitsig van weersien, al was dit onder vreemde omstandighede.
‘n Paar dae daarna kry ons bevel om genl. Cronjè by Paardeberg te hulp te snel en los te veg. Ons trek toe op om ‘n breuk te probeer maak in die kordon van vyandige troepe wat die generaal omsingel het. Ons kommando moes in aller yl tussen ‘n paar rantjies instorm. Willem was natuurlik weer, soos gewoonlik, op die voorpunt en sy voorbeeld het al ons burgers moed ingeboesem, al word daar toe van drie kante op ons geskiet.
Wat daar alles die dag gebeur het, hoef ek nou nie te vertel nie maar vir my is die vernaamste dat my perd by die inja in ‘n gat getrap en neergeslaan het en my daarby so ernstig beseer het dat ek nie verder kon gaan nie.
In die geja en warboel van die stormloop het Willem en ek van mekaar afgedwaal en die slag toe ek die ongeluk kry, het ek glad nie meer geweet waar hy was nie. In pyn en benoudheid het ek daar gelê en kon my die roer nie. Die ander burgers het dit blykbaar nie gemerk nie, want ek is alleen agtergelaat toe hulle deur die geweldige gevuur geforseer word om regs na die skuiling van ‘n koppie weg te swaai.
Daar het ek alleen bly lê totdat die son begin daal en die skemering aangekom het. Die pyn het so erg geword dat ek naderhand my bewussyn moes verloor het. Ek weet dat ek, na ‘n lang tyd, stemme gehoor en toe mense om my sien beweeg het, maar verder weet ek niks. Toe ek weer tot my sinne kom, was dit reeds dag en ek bevind my by die ambulans van ‘n Transvaalse kommando. Wat van my eie kommando geword het, kon niemand my met sekerheid vertel nie, maar die berigte het gekom dat die vegtery om Cronjè se laer nog voortdurend aanhou.
Hoe het ek nie in daardie ure na my maat verlang en gepeins en gewonder waar hy is, of hy nog in lewe is, en gesidder aan die gedagte dat hy miskien in die slag gebly het!
En dieselfde aand lê ek in die koel aandlug op ‘n bed langs die ambulanswa. Ek was koorsig en die pyn was byna te veel vir my. Die velddokter was by my en het beveel dat ek baie stil gehou moes word. Gedagtes, vreesaanjaende gevoelens en bekommernisse speel die josie met my, en ek yl meeste van die tyd...
Meteens sien ek deur die skemering iemand aangestap kom, reg na my toe en toe die persoon by my bed te staan kom, sien ek dis my vriend Willem en ek hoor sy stem: “My ou maat, ek kom jou net groet, ek is haastig.”
Ek was te swak om te praat en lê hom maar net so deur die donker en aanstaar. Hy neem my hand, buig oor my, soen my op my voorkop en sê net: “Vaarwel, ou maat, hou moed.”
Daarmee sien ek hom wegstap, die donker in. Ek probeer na hom roep maar my stem is swak en ek kan byna geen geluit uitkry nie. Een van die veldverpleers by die wa kom dadelik na my toe en vra wat makeer. Ek vra hom met gebroke stem om die man te roep wat daar wegstap, maar hy skud sy kop en vra my mooi om stil te lê en my nie moeg te maak nie.
“Maar dis my maat wat hier by was,” pleit ek, “roep hom terug.
“Hier was niemand nie, ek sit nog altyd hier naby jou, rus nou maar weer.”
‘n Geweldige gevoel van afgematheid laat my daarna byna onmiddellik aan die slaap raak en ek word eers die anderdagoggend vroeg wakker. Ek het toe weer navraag gedoen na my besoeker van die aand vantevore, maar ek word verseker dat die enigste persoon wat naby die ambulanswa gekom het, die persoon was wat my opgepas het.
Of ek maar net geyl het, weet ek nie, maar die gebeurtenis het vir my so helder voorgekom en ek het sy stem so duidelik gehoor dat ek baie gedink en gewonder het wat dit nou eintlik beteken het.
Weke en maande daarna kon ek geen taal of tyding van Willem kry nie. Ek het weer by mense van my ou kommando uitgekom en moes verneem dat hulle in ‘n geveg byna heeltemal vernietig was. Die meeste is doodgeskiet, gewond of gevang en het ‘n paar verdwaaldes het uit die slag gekom. Die laaste wat iemand van my maat gesien het, was toe hy onder die vyand se koeëls in na ‘n skans gestorm het. Verder weet hulle van hom niks nie – wat van hom geword het, kon niemand vertel nie en of hy nog lewe kon ook nie vasgestel word nie.
Stel julle voor die onsekerheid van daardie dae en maande. Was Willem in hande van die vyand en op pad na Ceylon of die Bermudas? Was hy gewond? Lê hy miskien – ja, die aaklige gedagtes moes ek in die gesig staar – ‘n lyk, agtergebly of die slagveld? Sal ek hom nooit weer sien nie?
As ek tog maar net met sekerheid kon weet of hy nog lewe of nie – al was dit ook die erste – dan sou my gemoed rus maar die onsekerheid was te swaar. En dan kom telkens voor my gees die onbegryplike gebeurtenis van die aand toe hy my kom groet het daar by die ambulanswa. Het hy sy belofte gehou en op daardie wyse na my teruggekom? Volgens wat die oorblywendes van ons kommando aan my vertel het, moes dit presies dieselfde aand gewees het toe hulle hom laas gesien het.
Maande het verbygegaan, maande sonder tyding, maande van verlange en gemis, van anges en van droefheid. Ek was weer herstel van my beserings en weer op kommando. En dit het gebeur dat ons weer in die omtrek van Paardeberg kom en een aand moes ek met my spioenkorps vernag nie ver van die plek waar ons daardie onvergeetlike dag ingestorim het nie. Geen wonder dat my gedagtes net om daardie gebeurtenis en om my vriend gedraai het nie.
Nadat ons afgesaal het, stap ek in die rigting van die plek, want ek het nie vanaand lus gehad vir geselskap nie en wou alleen met my herinnerings wees. Oral sien ek rye opgehoopte klippe – graftes van vriend en vyand wat hulle lewens opgeoffer het, onbekende helde wat rus in graftes sonder grafstene of tekens om eers hulle name aan te dui.
Sou Willem ook in so ‘n onbekende graf rus?
Ek gaan sit op ‘n groot klip en word weer oorstelp deur droefheid en verlange en die voortdurede begeerte om sekerheid te kry, al was dit dan ook die ergste...
Toe sien ek ‘n man wat ek vantevore nie gewaar het nie, ‘n klein entjie van my verbystap en naderhand stilstaan by een van die eensame kliphopies op die verlate veld. Ek was verbaas om die persoon daar te sien want ek was nie bewus daarvan dat een van my manskappe in daardie rigting agter my aangekom het nie. Ek kon nie sien wie dit was nie omdat dit nou al taamlik donker was, en ek stap toe na hom toe om te sien wie dit is. Ek stap nader en sien die persoon staan roerloos aan die kant van die graf. Toe ek by hom kom was ek spraakloos van verbasing want ek herken dadelik my vriend Willem. Hy wys met die hand na die graf voor hom. Daar kom ‘n wonderlike gevoel van vrede en gerustheid oor my en ek kan geen woord uiter nie – net maar staan en kyk.
Hoe lank dit geduur het, kan ek nie sê nie. Ek staan langs hom en sien hoe hy met sy hand wys op die graf aan my voete. Onwillekeurig draai ek my gesig en kyk lank en ernstig na die hopie klippe, onderwyl daar van my gemoed ‘n swaar las afrol en ‘n vrede in my hart kom want nou wis ek dat ek by sy graf staan. Toe ek weer opkyk, was ek alleen en ek hoor my burgers in die verte na my roep om te kom eet.
‘n Hele rukkie sit die vier mans stil en toe kyk die drie op na die ou dokter.
“Toe dokter, jy het die voorstel gemaak en jy is nou aan die beurt. Ons wag nou op jou verhaal.”
Vervolg...