Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Vergifnis is nie maar net om te vergeet of jou gedrag te verskoon nie. Vergifnis is 'n klein wonderwerk, 'n nuwe begin, 'n geleentheid om voor te begin. As jy dit nie kan regkry om iemand te vergewe nie, sal jyself die slegste daaraan afkom.
DIE BESTAAN VAN AFRIKAANS (4)
(Lees reeks by Die bestaan van Afrikaans )
TAALVERPLASING BY KINDERS
Dr JC Steyn
Die taalverwisseling by die kind moet ons noodwendig sien as 'n deel van die sosialiseringsproses, soos sosioloë dit noem. Ons gaan nou kyk na die rol van die normale sosialiserende instansies in die proses van taalverwisseling.
'Taalverplasing' of 'taalverwisseling' vind onder meer en miskien veral deur middel van die gesin plaas. Dit kan op een van twee maniere gebeur:
Die ouers kan uit dieselfde taalgemeenskap kom maar om die een of ander rede besluit om van kleins af 'n ander taal met hul kinders te praat.
Byna alle Friese ouers op die platteland maak hul kinders in Fries groot, maar in die stede praat net 70 persent Fries met hul kinders. In die twintigerjare van die twintigste eeu, dus sowat 90 jaar gelede, het baie ouers in Süderlûgum in Sleeswyk met mekaar Deens gepraat en met hul kinders Duits. Sowat 60 persent van die ouers het nie hul moedertaal met hul kinders gebruik nie en daarom het die persentasie van Deenssprekende kinders in dié gebied tussen 1924 en 1931 van 60,1 tot 33,9 afgeneem.
Die tweede manier waarop 'n taalverskuiwing via die gesin plaasvind, is deur 'n huwelik waarin die ouers tot verskillende taalgemeenskappe behoort.
Ten minste een van die twee ouers moes natuurlik tweetalig gewees het, en die kinders uit so 'n huwelik kan (a) tweetalig grootword; (b) in die taal van nie een van die twee ouers grootword nie; (c) of in die taal van een van die twee, en dan natuurik in die taal van die eentalige ouer (as daar 'n eentalige ouer was).
Voorbeelde van (a) is oral te kry waar taalgemengde huwelike voorkom. In die provinsie Posen in Duitsland was daar in 1910 altesame 4 595 gemengde huwelike tussen Duits- en Poolssprekendes. Van die 11 721 kinders uit hierdie huwelike was 5,8 persent tweetalig terwyl 52 persent Duits- en 42,2 persent Poolssprekend was. Gevalle van die tweede moontlikheid, (b) hierbo, kom dikwels in Afrika voor. Kinders uit gemengde huwelike tussen ouers wat albei 'n hoë opvoeding gehad het, is dikwels Engels; die tale van albei ouers word dus laat vaar. Wat oor die algemeen gebeur, is dat die kinders grootword in die taal van een van die twee ouers. Die vreemdste van al die genoemde moontlikhede is dat ouers wat een taal praat, hul kinders in 'n ander taal grootmaak. In Frans-Vlaandere ('n deel van Frankryk waarin die bevolking 'n Nederlandse dialek praat wat verwant is met Wes-Vlaams) leer baie ouers hul kinders eers Frans en later, soms nadat hulle 'n ruk skoolgegaan het, die Nederlandse dialek. Iets soortgelyks doen sommige Ierssprekendes in die Gaeltacht, die mees Ierstalige gebied in Ierland: eers Engels, later Iers.
Die ouers doen dit in albei gevale "vir die beswil van die kinders". In Frans-Vlaandere was die onderwysmedium baie lank net Frans, en om te sorg dat die kinders nie van die begin af 'n agterstand op skool het nie, het die ouers hul kinders die onderwystaal geleer.
"Sukses" in 'n taalverskuiwing ("sukses" van die kant van die ontvangtaal gesien) deur middel van die gesin verwis dat ten minste een of albei ouers die nuwe taal goed beheers. Daar is ook ander vereistes. Dirk Wilmars vertel hoe Vlaamse ambagsmanne en winkeliers in die negentiende eeu soms 'n bietjie geld gemaak en dit dan as hul plig beskou het om hul kinders in Frans op te voed. Die opvoeding verloop nog taamlik goed solank die woordeskat van die kind beperk is. Maar sodra hy ouer word, begin die kind die taal praat van Vlaamse familielede, bure en ander kinders met wie hy speel. Die verfransingspogings het net geslaag as die ouers genoeg geld gehad het om hul kinders af te sonder van die familie en na duur Franse skole te stuur.
Daarmee is nog 'n faktor genoem wat die taalverskuiwingsproses by die jong kind bepaal, naamlik die omgewing waarin hy grootword.
Dit is te betwyfel of taalverplasing ná puberteit ooit volkome kan wees. Joseph Conrad (1857 – 1924), een van die belangrikste twintigste-eeuse Engelse prosaskrywers, het Engels eers geleer toe hy sowat twintig was. Sy moedertaal was Pools, en daarna het hy, voor Engels, ook Duits en Frans geleer. 'n Mens sou dink dat, as daar iemand moet wees wat 'n taal volkome aangeneem het, dit 'n groot skrywer soos Conrad moet wees. Tog het hy teen die einde van sy lewe Engels al meer met 'n aksent gepraat en nie-Engelse uitdrukkinge gebruik. Toe hy siek word, het hy met homself Pools gepraat. Baie mense praat soms voor hul dood of in tye van spanning, nood of hartstog die verlore taal van hul jeug. Conrad het net Pools gepraat wanneer hy siek of baie opgewonde was.
In die volgende aflewering: Taalverplasing by volwassenes.