Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dwase leiers word maklik deur hul gevoelens en nie deur hul verstand nie gelei. ‘n Wyse leier daarenteen dink met sy verstand. Hy neem dikwels meer blaam as wat hy verdien en minder eer as wat hom toekom.
ONS GESINDHEID TEENOOR HOM
Hannes Ollewagen
1 Kron. 29:10-30
“En ek weet, my God, dat U die hart toets en behae het in opregtheid; ek het in die opregtheid van my hart al hierdie dinge vrywillig gegee; en nou het ek met blydskap gesien hoe u volk, hier aanwesig, vrywillig aan U gegee het. HERE, God van Abraham, Isak en Israel, ons vaders, bewaar dit vir ewig, so ’n gesindheid in die gedagtes van die hart van u volk, en rig hulle hart tot U; en gee aan my seun Salomo ’n volkome hart om u gebooie, u getuienisse en u insettinge te hou, en om alles te doen en om die paleis te bou wat ek voorberei het.” (:17-19).
Dit is opvallend dat Dawid nie let op die grootsheid of indrukwekkende groot offers wat die volk bring nie, maar met dankbaarheid let hy op die mooi en regte gesindheid waarmee hierdie offers aan God gebring word. En hierin raak hy ’n saak aan wat vir God belangrik is.
Dawid stel dan ook in soveel woorde in sy gebed dat hy weet dat God die hart toets om te bepaal met watter gesindheid ons Hom dien. “En ek weet, my God, dat U die hart toets en behae het in opregtheid; ...”. (:17). En hoe kosbaar dat Dawid dan ook bid dat God hierdie regte gesindheid in die hart van sy volk sal bewaar – ’n verdere beklemtoning van die belangrikheid hiervan.
Ek dink dit is belangrik dat hierdie saak vir ons op die hart gedruk word. Ek dink dat ons met reg bekommerd oor hierdie saak onder ons volk kan wees. Met watter gesindheid dien ons God? Is dit omdat ons dit beskou as ’n manier om ons veiligheid en voorspoed te verseker? Indien nie – waarom word daar maklik biddae gehou vir reën wanneer dit droog is of biddae wanneer daar ’n krisis van ’n aard is, maar van dankdae is daar weinig sprake? Waarom kry kerke en predikers wat voorspoed “preek” en baie na motiveringsprekers klink groot aftrek, maar diegene wat tug en vermaning uit God se Woord voorhou, word liefs vermy? Is dit omdat ons opreg na God se wil en weë vra of langs die weg van godsdiens na ons voorspoed en geluk soek?
Ek dink ’n verdere rede tot kommer is die feit dat so min mense werklik ’n goeie kennis van God se Woord het. En dan praat ons van mense wat elke week in die kerk sit. Hoe is dit moontlik om steeds nie ’n baie grondige kennis van God se Woord te hê as ’n mens week-na-week met opregtheid daarna luister nie? Of is die kerkbywoning week-na-week maar bloot ‘n gewoonte wat ons onderhou sonder die opregte en suiwere gesindheid met ’n ware soeke na God en sy wil? Ons moet onthou dat die Skrifgeleerdes en Fariseërs ook godsdienstig was, maar die regte gesindheid het by hulle ontbreek. En so ’n godsdiens van vertoon sonder om in ’n opregte verhouding met Hom te leef, is vergeefs. “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:21-23).
Daar is dan ook talle voorbeelde uit God se Woord wat Dawid se stelling bevestig dat God op die mens se gesindheid teenoor Hom in ons Godsdiens let. Ek dink dadelik aan Christus wat pertinent sy dissipels se aandag daarop gevestig het waar Hy by die skatkis gesit het. “EN Jesus het reg voor die skatkis gaan sit en kyk hoe die skare die geld in die skatkis gooi. En die rykes het veel ingegooi. En daar kom een arm weduwee en gooi twee geldstukkies in, dit is ’n oortjie. Toe roep Hy sy dissipels na Hom en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het. Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.” (Mark. 12:41-44). Met ’n opregte geloofsvertroue staan sy alles wat sy besit aan Hom af. En dit is vir God welbehaaglik. En teenoor hierdie bewonderingswaardige gesindheid van die arm weduwee kan ons seker kyk na die bedrieglike en verkeerde gesindheid van Ananías en Saffíra wat ’n offer gebring het wat oënskynlik goed was, maar hulle gesindheid was heeltemal verkeerd. Dit is duidelik uit die woorde van Petrus dat geen offer of gawe beter sou wees as hierdie een wat met ’n verkeerde gesindheid gebring is. “Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ’n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het.” (Hand. 5:3-5). Ek hou as laaste voorbeeld uit God se Woord in hierdie verband vir u die woorde uit Deut. 28:47&48 voor wat hierdie saak vir ons in geen onduidelike taal hanteer. “Omdat jy die HERE jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie, sal jy jou vyand wat die HERE teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles; ...”.
Mag hierdie vermaning ons opnuut daartoe opwek om ons nie net met godsdiens besig te hou nie, maar ons eerder daarop toe te spits om God met ’n suiwere gesindheid te dien. Hy sal immers ook ons gesindheid op die proef stel.
“Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, maar die Here toets die harte.” (Spr. 17:3).