Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wees geduldig met jou eie geestelike groeityd – wanneer God 'n sampioen maak doen Hy dit oornag, maar 'n reuse-eikeboom neem honderde jare: 'n Groot gees groei deur stryd, storms, en pynlike seisoene wat 'n lang tyd neem.
BOERE SE EIE SLAGVELD
KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by Korsies van Pastei)
JAN STEYN
'n Kommando-storie uit die Tweede Vryheidsoorlog net na die Slag van Bakenlaagte in Transvaal. Saam met my kommando'tjie aan die trek na Machadodorp kon ek sien die wêreld was kaalgestroop en verniel en kos was skaars en dit was dae waarin ons meesal niks te ete gehad het nie.
Op een besondere dag het ons ver gery en heeltemal niks gehad om te eet nie. Kort-kort moes ons van koers verander om uit die pad van sterk Kakiemagte te bly. Maar so teen twee-uur die middag was ons redelik veilig en kon toe begin soek na iets om te eet.
My manne was al so erg honger dat toe hulle Swartes se strooise gewaar sommer reguit soontoe ry. Maar dit was dadelik duidelik dat dié spul hulle vyandig gesind is en toe verklap die hoofman die rede met dié woorde: "Die Engelsman het gesê ons moenie die Boer kosgee nie."
Maar ná so bietjie veldsielkunde en veral nadat 'n kêrel met die naam Jan Pieterse sy rondte onder hulle gedoen het, toe begin die onderhandelinge vlot. Kort voor lank toe het die kommando 'n halwe streepsak rou grondbone.
Ons sou nog meer te ete gehad het maar net toe skree iemand: "Klim burgers, daar kom hulle!" Dit was nog 'n patrollie Engelse aan die kom.
Die boere het nog nie behoorlik saal gekry nie toe slaan die stof tussen ons soos die Engelse skiet. Maar die burgers jaag los onder die spulletjie uit en omdat die wêreld daarlangs baie glooiings het, kry ons dit reg om agter 'n bult in te kom en kort om te sit sodat ons en die Engelse in teenoorgestelde rigtings jaag.
Eers na 'n hele ruk kry die burgers weer 'n klomp strooise en ons tref een van die grootste gelukskote in dae want die Swartes het pas 'n lekker vet vark geslag. Net daar verkwansel die manne toe alles wat hulle kon vir van dié vleis en ons is daar weg met 'n hele paar stukke varkvleis vasgemaak aan die saals.
Daarvandaan neem 'n burger wat die omgewing goed ken, ons na 'n veilige laagte waar ons vir die nag kamp opslaan onder 'n klomp wilgerbome. En ons breek in die omgewing hout en begin vuurmaak voordat ons later die varkvleis op die kole sit.
Later toe smaak dit ene fees want daardie hele leegte ruik die ene braaivleisreuk. En die manne sak toe op die vleis en saam daarmee eet hulle die klomp rou grondbone.
Toe dit donker word sit hulle vir die nag wagte uit en hulle blus die vure en elke kruip in sy kooigoedjies in. So hier en daar het nog 'n paar so rukkie gesels, en toe raak dit stil.
Maar nie lank nie toe begin die laer van voor af lewe; die vet varkvleis en die rou grondbone sluit toe 'n bondgenootskap.
Dan roer een ou hiér, staan op en loop die donkerte diékant toe in. En dan kom 'n ander ou dáár orent en vroetel in die donkerte vir sy skoene en dan's hy die nag suintoe in weg. En so raak die burgers die een na die ander wakker; dié wat nie van hul mae wakker word nie, skrik wakker van wat daar om hulle aan die gebeur is. En dis nie hóé lank nie, toe's húlle ook aan die beurt.
En so, soos wat van die manne moet uit, so kom van die ander terug. En dié's pas terug, dan moet hulle al weer hol.
En so is daardie laer later skoon 'n miernes van 'n deurmekaar ganery en kommery.
Later toe weet jy nie meer waarlangs moet jy gaan en waarlangs moet jy kom nie. Maar toe dréún darie laagte met die een sarsie op die ander.
Toe werk dit op die stelsel dat as dit dreun, die manne opmerkings maak oor die grondbone en die vark, en dan lag hulle. En as hulle lag, laat dreun hulle. En as hulle laat dreun, dan lag hulle van voor af.
En só hou dié golwinge van dreun en lag daar aan. Maar diep in die nag in toe kon hulle begin sien wat daar aangaan want toe kom daar 'n klein maantjie op.
Toe kan mens sien party van die ouens het al hulle broeke uitgetrek en daar aan die wilgerbome opgehang of oor van die takke gegooi sodat hulle meer onbelemmerd kan kom en gaan.
Toe sê een ou oom: : "Kyk, ons het al baie Tommies gevang en kaal uitgetrek en net so gelos en hulle klere gevat, maar ek sou in my leefdag nie gedink het lat 'n vark 'n hele Boerekommando uit hulle klere sou kon ja nie."
'n Ander ou sê toe hierop: "Nee boeta, maar hier't nog nie één gehensop nie. Hoor daar: hulle hou aan bittereinde toe."
En toe ek en 'n vriend, ou Andries van Niekerk, toevallig weer 'n slag daar saam in die voorste linie is, toe sê ou Andries: "Jan, weet jy, ons laat my vannag aan die Israeliete dink."
Ek vra: "Hoe so Andries?"
Hy antwoord: "Man, ons lees mos daar in Psalm 137 dat die ou Jode, toe hulle weggevoer is, daar by die riviere van Babel uit verdriet hulle harpe aan die wilgerbome opgehang het. En hier het ons nou vannag in hierdie leegte met ons ellende ons broeke aan die wilgerbome opgehang."
En so op dié manier breek die dag later, en die kommando saal weer op, en ons trek daar uit dié leegtetjie weg. En toe maak 'n paar van ons so ry-ry 'n rympie oor die nag se doenigheid:
In hierdie leegte was 'n Boerekamp
en is daar nag-deur wreed geskiet;
oor die slagveld hang 'n kruitdamp
vanmôre erger as liddiet.