Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Stiptelikheid is die hoflikheid van prinse en ‘n kosbare deug wat tot ‘n leier se sukses bydra.
DIE WYNKELDER
KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
Knuppel Steyn was op skool al so voor op die wa. As hy die idee kry om geld te maak of iets nuuts te patenteer, het dit gewoonlik gewerk. Daarom was nie een van sy ou skoolmaats verbaas dat Knuppel agt jaar nadat hy die skool verlaat het, reeds ‘n skatryk man was nie. Hy het ‘n oop hart vir ander gehad, maar het hom van niemand laat ondersit nie.
As gevolg van Knuppel se rykmansposisie moes hy baie skemerkelkies en funksies en sosiale lastighede bywoon. Toe het hy weens die gemis van iemand aan sy sy wat hom kon bystaan, vir hom in die Kaap ‘n mooi blonde poppie gaan haal. Met verloop van tyd het Knuppel ontdek dat haar naam nie verniet “Flirtruida” was nie.
Knuppel was baie uithuisig met besigheid en dinge en dan het Flirtruida haar kans waargeneem met haar katelkaskenades. Maar Knuppel was ‘n vindingryke man en toe die bure weer op ‘n dag sien, is daar bouers besig by die Steyn-woning, kruiwaens vol grond kom van binne uit en kruiwaens vol stene gaan in.
Knuppel verduidelik dat hy nou ‘n lang gekoesterde ideaal verwesenlik. Hy bou sy eie wynkelder, waar hy al sy spogwyne kan huisves. Dit is reg onder die hoofslaapkamer. Vir Flirtruida het dit só romanties geklink toe Knuppel haar vertel hoe hy die etikette by kerslig gaan lees.
Die toegang tot die kelder was ‘n elkstra swaar elektries-beheerde luik, met bo-op ‘n skuiwer wat uit ‘n middeleeuse kasteel kom.
Binne drie weke was die super kelder gereed. Knuppel het ‘n onheilige glinstering in die oog. Flirtruida wil weet of hulle nie ‘n inwydingspartytjie kan hou nie.
“Binnekort, my duifie, binnekort; ongelukkig moet ek vir drie dae Durban toe, die HOP-kontrak, jy weet.”
Flirtruida weet nie. Knuppel se motor is skaars om die hoek, toe skakel sy. “Hallo, Tarzan, my ou spierbulletjie! Die huis is ons s’n . . . kom sommer na werk,” hyg sy.
Dis al sterk skemer toe Knuppel sy motor ‘n endjie van sy eie huis af tot stilstand bring. Ja, dink hy grimmig, dis nes hy vermoed het, vreemde motor om die hoek geparkeer en net die hoofslaapkamer se lig wat brand. Hy reik na sy selfoon.
“Hallo my duifie, ek vat nou net die draai in ons straat in.. . . nee, die vergadering is op die nippertjie uitgestel . . . gelukkig net voor my vlug sou vertrek. . . .hallo, hallo, is jy daar? Sien jou binne sekondes, met ‘n groot verrassing, hoor!”
Flirtruida is wasbleek toe sy die gehoorstuk terugplaas. Tarzan gryp na sy lendekleed. “Gou-gou,” stotter sy, “hier af,” en sleep die persiese mat voor die kelderluik weg. Hy gly die treetjies af na die duister botteloerwoud. Bokant hom sluk Flirtruida twee yslike kapsules.
Sy kom kalm voor toe sy die voordeur vir Knuppel oopsluit. Hy staan daar met ‘n breë glimlag en ‘n bos rooi rose.
“Sorg jy vir die rose, ek gryp net gou my sportbaadjie, dan gaan ry ons twee ‘n endjie. Het ek nie ‘n groot verrassing vir jou nie!” en hy knyp haar speels aan die wang.
In die kamer buk hy onder die bed in. Ja, nes hy gedink het, hierdie paar skoene behoort nie aan hom nie, die das op die spieëltafel ook nie. Hy sleep die mat opsy, skuif vinnig die swaar skuiwer toe en skakel die stroombaan af wat die luik beheer.
‘n Paar minute later spin sy motor soos ‘n tevrede kat.
“ Hoekom draai ons dan nou af lughawe toe? “ vra Flirtruida na ‘n tydjie.
“Verrassing my duifie, verrassing, “grynslag Knuppel. “Onthou jy, ek wou nog altyd in die suide van Frankryk gaan wyn koop? En vir jou die Riviera wys?”
“Maar. . . maar. . . my klere. . . ?” Flirtruida sit verstar.
“Geen probleem nie, my duif. Wat kortkom koop ons. Jy is nou amptelik met vakansie. Twee weke, engel, twee weke wat ek en jy alleen gaan wees! Toe, wat sê jy daarvan?”
Langs hom sit Lot se vrou. Sy wil omkyk maar sy kan nie.