Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hemelse Vader, ek vra omverskoning dat ek nog nie geleer het om U volkome te vertrou nie. Leer my asseblief om al my vrese na U te bring en hulle daar by U te los met die vaste wete dat U sal sorg. Amen.
JAN SPIES
Die uitklophou
Ek gaan kuier eenkeer by ’n vriend van my op hulle plaas en een môre ry ons in dorp toe vir ’n bietjie besigheid. En daar loop ons in die straat vir oom Kootjie Krimp en nog ’n paar ander kêrels raak, en hulle staan en praat oor iemand wat ’n paar dae tevore ’n ander ou ’n behoorlike opstopper gegee het.
Maar dit was na oom Kootjie se smaak nie so ’n wafferse hou nie.
“Nee-wat, kêrels, as julle wil hoor van ’n goeie hou, kan ek julle daarvan vertel,” sê hy.
Hier volg dan nou my gebrekkige navertel van sy storie.
Innie depressiejare werk ek saam met ’n klomp anner man met die pik en die graaf op die spoorweë. En ons bou die spoorlyn Rustenburg toe. Daar was ’n ou soort van spoortjie, maar om daar toe so baie los hande was, steek hulle ons daar in om ’n behoorlike ding te maak.
En alles het vir maande in die kamp baie goed gegaan. Dit was ’n wonnerlike klomp mense bymekaar - godsdienstig en ernstig en so aan. Nooit het ons met mekaar moeilikheid gehad nie. Maar die lewe is mos te goed om waar te wees as hy sonner moeilikheid is. En so was dit ook daar in die kamp.
Op ’n more kom loop daar ’n Engelsman in die kamp aan. So ’n rooibonte. En ’n tamaai groot mens. En sommer so toe ek hom daar na ons toe sien aanloop, sê ek vir die klompie man daar by my: “Kêrels, hier kom moeilikheid.”
En dit was ook so.
As ek reg onthou, het die vent so om en by die Woensdag daar begin werk, en die Donnerdag toe begin goi hy sy lyf daar rond of hy die minister se bloedneef is. En daar daag hy uit. Ons kan enigeen van ons manne teen hom stoot, sê hy, en dan sal hy vir ons wys wie in darie kamp koning kraai.
Nou ja, ons was geharde manne daar bymekaar, en van die rowwe werk het ons murg in ons pype gehad. En ons het bietjie onner mekaar gesels en toe besluit ons op ’n sekere kêrel. En dit moet ek nou sê, hy was wragtag sterk. Ek dink nie daar het veel van sy soort in die hele land rondgeloop nie.
En ons gaan praat met die grootkokkedore en ons vertel hulle van die vermetel Engelsman, en ons sê vir hulle ons wil vir die Saterdagaand ’n boksgeveg reël en lat hulle vir ons van die Vrydag af moet kans gee om ’n kryt te bou. En die base se dis oraait. Hulle sou ook graag wou sien wie die sterkste in die kamp is.
Die Vrydagmore begin bou ons toe ’n kryt, en rondom die kryt maak ons ’n yslike lap aarde skoon, want die storie oor die geveg het soos ’n veldbrand sy loop geneem, en van orals af kom vra die mense hoe laat presies die ding sou begin.
Nou ja, darie Saterdagaand toe’s darie stuk skoon grond tussen die bosse net-net groot genoeg vir die skare mense wat daar aangestroom gekom het — party te voet, anner met donkies en pêre voor al wat ’n soort ryding is, en ’n hele klomp nog met ossewaens, julle kan sê lat dit lyk of hulle na ’n nagmaallaer toe kom.
Toe was ons natuurlik ok maar bly lat ons so baie moeite gedoen het. En ek moet sê, dit was ’n agtermekaar besigheid. Darie kryt het vir geen anner kryt in die hele wye wêreld hoef trug te gestaan het nie: pale, toue, harpuis, elektriese ligte bokant, ’n klok, ’n skeidsregter, stoele in die twee hoeke — alles de lot, net wat jy vandag in Johannesburg te sien sal kry as twee kampioene aanmekaarspring.
En daar sit die twee man toe in die kryt, elkeen in sy hoek en ons wag vir die klok en lat die manne mekaar moet hand gee.
En nou weet julle mos hoe ’n mens se gedagtewêreld werk. Jy dink die klok sal nou lui, en dan lui hy nie. Maar uiteindelik lig die tydhouer die klok en hy kyk op sy horlosie, en daar lui die klok. Maar pleks lat die twee kêrels nog eers mekaar die hand gee, gebeur daar ’n snaakse ding. Ons het wel die klok hoor lui, maar met wat hy sy eerste “tieng!” maak, toe sien ons net daar trek ons man bo-oor die toue — seker goed drie voet bo-oor die boonste tou. En hy val doer tussen die mense, omtrent in die sesde ry vannie kryt af.
Al wat kon help, vlie natuurlik op, en ons lawe hom so ’n bietjie en ons stoot hom deur die toue trug, en hy loop sit weer in sy hoek. En dié slag wil ons toe sien wat gebeur as die klok lui. Ons hoop toe ook seker man en muis soos ons daar sit, lat ons kêrel bedag sou wees op wat sou kom. Maar wat, toe die klok lui, is dit dieselle storie: daar trek ons man weer bo-oor die boonste tou, en die Engelsman stap doodluiters na sy hoek toe trug. Wat gebeur het, weet niemand nie, want darie Engelsman is so vinnig, jy sien hom nie aankom nie. Al wat jy weet, is lat die klok gelui het, en dan sien jy daar trek ons man orie toue. Nouja-wat, ons man was na darie tweede hou skoon disnis. En wat nie uit hom uit geslaan was nie, het hy uit hom uit geval. Die mense moes hom na sy tent toe dra en daar gaan lawe.
Maar toe is darie Engelsman onsmaaklik. Hy het net in sy hoek ’n draai loop maak en truggekom na die middel van die kryt toe, en daar staan en skop hy ’n lawaai op soos ’n bul wat bloed geruik het en nou net wil stoot. Hy swaai met sy arms innie lug en daag net uit — enigeen wat wil, en ok net so veel as wat wil. Hulle moet net die een na die ander kom, sê hy, want hy wil ons een-een daar van hom af wegslaan.
En soos dit nou maar gaan, toe is almal lugtig. Niemand roer om vorentoe te gaan nie. En die bont vent raak al onhanteerbaarder. Hy wil sommer later die skeidsregter bydam.
En ek dink: so laat ek darie kamp nie verneder nie. Ek het nou nie halfpad darie Engelsman se lyf nie en nie ’n kwart die krag wat ons man gehad het nie, maar ek hou af en toe van my ou grappie, en ek dink doller as kop-af kan dit nie gaan nie. Ek gaan probeer, en kyk wat word. En toe ek vorentoe loop, toe lag die mense. Want hulle dag natuurlik ek wil nou maar sommer net ’n grap probeer maak — wat ten dele waar was. Maar ek wou meer doen as dit.
Ewenwel, ek loop klim daar in die kryt in en hulle sit vir my die handskoene aan en ek loop sit in my hoek. Ek dag toe ek sal mooi luister wanneer die klok lui en dan sal ek so goed ek kan probeer keer, en as ek net eers so ’n paar keer om die vent gedans gekry het, kom daar dalk kans lat ek hom kan peper.
Intussen hou ek die man met die klok dop, en toe hy sy hand lig, maak ek my reg. En ek hoor die klok se “tieng”, maar voor ek nog enigiets verder kon doen, gebeur daar met my ’n ding, en ek wonner nog wat dit is, toe sien ek ek trek omtrent vyf voet bo-oor die boonste tou. Maar ek pluk my lyf reg, en ek kom op my voete af — so tussen die sewende en agste ry van die kryt af. Sien, om ek nie so swaar was soos ons ou maat nie, kon die swernoot my natuurlik verder wegslaan.
En, soos ek sê, ek kom op my twee voete af. En toe ek grondvat, toe stap ek trug kryt toe, en ek dag: Nou sal jy bars - as die klok lui, slaat ek.
En ek loop sit weer op my stoel, maar ek draai my skuins lat my linkervoet voorkant toe is en lat ek my gewig op my regterbeen kan goi as ek my uil die stoel sou lig. En ek laat hang my regterarm kwansuis agter my heup verby. Maar toe is darie arm gespan soos ’n ankerdraad en my vuis is so hard soos ’n muil se agterklou. En ek kyk ok nie eens vir die Engelsman nie. My oë is net op die man met die klok. Want as sy arm sak, wil ek reguit vorentoe slaan. Die hou en die klok se “tieng” moet gelyk kom. Dit voel natuurlik soos ’n ewigheid, en ek is so oorgehaal vir darie hou lat ek glad bang is ek slaan voor die klok nog lui.
Maar daar lig die man uiteindelik die klok, en hy kyk op sy horlosie om seker te maak. En toe sy hand met die klok sak, toe knyp ek my oë toe en ek slaan. Maar dit moet ek nou sê: ek slaan toe met al die krag wat ek van my voetsole af tot by my regtervuis se kneukels agter darie hou kon inkry. Ek het gesit soos ’n kat wat wil spring, en toe ek slaan, het ek net eenvoudig reguit geskiet.
En toe gebeur die ding nes ek hom beplan het. Toe ek die klok hoor “tieng”, was my vuis al op pad, en toe my arm so driekwart reguit was, voel ek ek slaan ’n ding raak. Dit smaak of dit ’n krans is, maar ek voel ek roer hom. En ek maak my oë oop. En ok net betyds om te sien ek het hom reg voor sy voorkop geslaan — tussen die twee oë soos ’n mens ’n vark doodslaan. Maar hy val toe nie dadelik nie. Eers word sy gesig bleek, toe sak sy arms so stadig langs sy sye af, en toe knak sy knieë. Tot sover het hy nog redelik gehou, maar toe sy knieë eers meegee, toe val hy soos ’n bonnel wasgoed wat ’n mens in die water goi. En net daar het hy ook bly lê.
Maar sowat van juig het ek nog nooit voor en na dese gehoor nie. Die mense het bo-oor mekaar geklim om by my uit te kom, en hulle het my opgetel en bo-oor hulle koppe hot en haar vir mekaar oor darie stuk oop grond aangegee solat elkeen tog net ’n kansie kon kry om aan my te vat. En toe het hulle my begin ronddra — die hele kamp vol, dwarsdeur die nag. Ek het nie ’n oog toegemaak nie. Dit smaak my party van hulle het beurte gemaak om ’n rukkie te gaan slaap en dan weer te kom help dra.
Dit was hoog sonuit toe ons ou predikant daar aankom, lat daar eers vir my verlossing gekom het. “Kan julle nie sien die man is doodmoeg nie?” vra hy. “Sit hom neer lat hy kan gaan rus. Dis buitendien Sondag.”
En toe ek op die grond staan, toe sê hy: “Broer, jy hoef nie diens toe te kom nie; ons sal verstaan.”
Nee-wat, as julle van opstoppers wil praat, darie een wat ek die aand geslaan het, soek nog altyd sy gelyke.