Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom is ons bang vir die dood as ons weet dat ons geliefdes op ons wag? Om met hierdie wete te sterf, is in werklikheid ʼn wonderlike avontuur!
ONS VOOROUERS SE MEDISYNE
Honderd jaar gelede was in Wes-Transvaal die enigste opgeleide dokter te Potchefstroom gevestig. Daarom was dit noodsaaklik dat die mense in hierdie vroeë jare met alle moontlike siektegevalle self moes weet watter medikasie hulle moes aanwend.
Die ou medisynetrommel met voorskrifte
In elke huisgesin het ‘n mens dan ook die medisynetrommel met die egte Hollandse medisyne gekry. Saam met elke trommel het die mense ‘n boekie gekry met ‘n eenvoudige beskrywing van die verskillende siektes en ‘n opsomming van die medisyne wat aangeraai is om in elke afsonderlike geval te gebruik. Die oumense het baie kennis opgedoen van die algemene siektes en of Groen Amara of Wit Vomitief die aangewese middel vir die siekte sou wees en wat die werking van Rooi Laventel of Balsem Sulphuris gaan wees. Soms is Hoffmans Druppels, ‘n ander keer Wit Dulsies as ‘n onfeilbare middel aangeprys. In ander gevalle is die beste resultate verkry met Harmens Drup of Balsem Vitae. Hulle het baie keer sommer twee of drie soorte medisyne gemeng as die eerste nie gehelp het nie en dikwels het die mengsel dan gehelp.
Hulle het die siektes ook gedokter met Krampdruppels, met Rooipoeier en Versterkdruppels en Vitalispoeier en Rubarber. Die hedendaagse dokters lag oor al hierdie medisyne. Maar die oumense was oor die algemeen baie sterk en gesond sonder die mediese hulp van vandag. Daarom lyk dit soms of die hedendaagse medisyne nie altyd sukses het nie en baie newe-effekte veroorsaak.
Die oumense kon nie die bogenoemde middels een-een gaan koop wanneer hulle opraak nie. Hulle moes altyd die hele apteek tegelyk koop. Maar as hulle die gekoopte medisyne ingegee het en ander was nie te kry nie, het hulle maar veld toe gestap en bossies gesoek met geneeskragtige olies.
President Kruger het as jong man in Ohrigstad se omgewing gejag toe sy ou sanna gebars het en sy duim vergruis het. Hy het dit met sy knipmes afgesny en daar het ontsteking ingekom. Kruger het sy hand in die warm pensmis van ‘n pasgeslagte bok gehou wat die inflammasie gekeer het. In die mis was geneeskragtige kruie wat die bokke geëet het.
Die oumense het baie soorte bossies as geneesmiddels gebruik. Kasterolie, wildeals en boegoebrandewyn het ook ‘n rol gespeel. Vir sekere maagsiektes is slanghoutjies, goosatoppe en renostertoppe ingeneem.
Medisynebossies vir uitwendige gebruik
In geval van kneusplekke of wonde was die medisynetrommel nie veel werd nie. Dan het hulle self medisyne gemaak van boegoe-asyn of terpentyn. As ‘n lit van die arm of been verstuit het, was asyn alleen, of beesmis met asyn gemeng die algemene aangeraaide en gebruikte middels wat in die kortste tyd herstel bewerkstellig het. Vir ander uitwendige ongesteldhede en mankemente is gebruik gemaak van die volgende rate: Vir ‘n sweer is pappe van wit uie gemaak en dieselfde pappe is gebruik vir enige ander swelsel. Vir pleisters op sere is bokvet met naeltjies aangeraai, en as dit nie wou help nie, dan is die toevlug geneem tot middeldeurgesnyde turksvyeblaaie wat warm gemaak moes word voordat dit opgesit word. Vir uitslagsiektes is blomswawel ingeneem, maar vir brandsere is perskepitte met kasterolie of soetolie gebrand en van die gebrande vet op die seer plekke gesmeer. Vir gifsere het hulle gifblaar gebruik, wat ook goed was teen die steek van giftige insekte, maar vir dieselfde doel is ook skilpadbloed aangewend. Hulle het dit vars gebruik of in klein stukkies gedroog. Soms het hulle die droë bloed tot poeier gemaal en dan opgestrooi. Verder is vir uitslagsiektes gebruik gemaak van kruidjie-roer-my-nie-wortels en van wilde dagga-wortels, elk afsonderlik of saam gekook. Dit is beskou as die beste vir byna alle 'ongeneeslike' uitslagsiektes.
Vir inflammasie het hulle inflammasieolie uit die medisynetrommel aangewend, asook drophoutjies wat op sekere plekke gegroei het, asook ‘n stuk vars bokvel op die inflammasieplek, of ‘n stuk hondevel, ‘n paar druppels hondebloed en skoonteer of terpentyn. Die laaste is veral op ‘n steekplek gebruik.
Vir steek in die rug is ysterhoutkoppe gekook en die afkooksel ingegee, maar vir dieselfde kwaal is ook ‘n afkooksel van wildedagga gebruik. As ‘n kind steek in die ore gehad het, is ‘n stuk varkspek warm gemaak en op sy ore gesit, omdat hulle bang was vir bytende goed in die ore. Om van lelike vratjies op die hande ontslae te raak, het hulle die melk van uitgeswelde vye aangesmeer.
Seer-oë het baie voorgekom en is gedokter met ‘n salf, gemaak van die wit van ‘n hoendereier en ‘n bietjie aluin.
Vir babatjies wat stuipe gekry het, het hulle tiemie, wynruit en kougoed gebruik. Die kougoed was ook ‘n uitstekende middel om vir ‘n kindjie in te gee wat nie wou slaap nie. Kougoed was ‘n goeie slaapmiddel. Vir slangbyt was hulle beste behandeling met blou vitrioel. Vir tande wat baie seer was, is middels gebruik wat die pyn moes doodbrand, soos die blare van garingbome en gekneusde malvablare. Die malvablare is ook ‘n uitstekende middel vir liddorings veroorsaak deur te nou skoene. Die malvablare se ruwe kant word op die liddorings geplaas en die pyn verdwyn amper dadelik en as ‘n mens ‘n paar dae lank elke keer ‘n nuwe blaar opsit, is die liddorings sommer gou genees.
Vir malaria het hulle toe darem al die kiniene-pille gehad wat doeltreffend was. Hulle het graag die volgende medisynebossies aangehou om te gebruik vir siektes: Kankerbossie, beukesbossie, kruisement, rose-maryn, kalmus en nog meer.
Baie van die grondstowwe van ons moderne middels is dieselfde boumateriaal wat die oumense gebruik het, omdat hulle die geneeskundige krag daarvan geken het.