Gedagtes vir elke dag
GEDAGTES VIR ELKE DAG
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
TRANSPORTRY (2)
ONS BOEREVOLK DESTYDS
(Lees reeks by Ons Boerevolk destyds) en vorige aflewering by TRANSPORTRY (1)
Die terugreis
As die vragryer na Kimberley gelukkig was, het hy met die terugreis amper altyd weer ‘n vrag gekry in die vorm van wol of velle. Dan het die man sy bes probeer om ‘n groot terugvrag te kry. Sommige mense het selfs 36 bale wol of velle opgelaai. Dit het die wa topswaar gemaak. So ‘n wa het eenmaal op ‘n ongelyk pad tweekeer omgeval. Dit was tydrowende teëspoed. Daarom het almal maar baie versigtig gery. By elke wa was drie man om vir alles te sorg: ‘n touleier, ‘n drywer en die baas self. As daar ‘n groot klomp waens bymekaar was, moes die voorste wa die mense waarsku teen slegte plekke soos diep knikke of groot klippe in die pad. Dit was dan ‘n geroep van die een wa na die ander van “keer hot”, “pas op vir haar,” of ‘n ander waarskuwing. Die drywer het altyd aan die kant van die pad, tussen die agter- en naasagterosse gestap, of soms langs die agterosse en dan altyd aan die hotkant. Die agterosse mag nie saam trek nie maar moes by al die slegte plekke in die pad die wa stuur en daarvoor het die hotagteros dikwels harde stampe in sy ribbetjies gekry om die wa na die haarkant te laat krink. Die agterosse moes dus groot en sterk wees en die hotagteros het dit “hotagter” gekry, want hy moes die heel swaarste werk op die gevaarlike plekke.
Die aand- en môreskof en die uitspanplek
Dit was nodig dat die een wa die ander teen gevare waarsku want die togte het meesal in die nag plaasgevind. Saans met sononder is ingespan en dan deurgery tot elfuur in die nag. Dan is twee ure lank uitgespan om die osse kans te gee om te slaap en om die touleier en drywer te laat rus. Om een- of tweeuur in die nag is weer ingespan en dan het hulle deurgery tot die son opkom. Net voor sonop is uitgespan, want die son mag met die môretrek nie op die osse skyn voordat hulle los was nie. Dan het die osse gedurende ‘n groot gedeelte van die dag kans gekry om te wei, maar die veld was nie altyd van die beste nie. Langs die pad van Kookhuisdrif by Grahamstad tot by Kimberley was altyd so baie waens in die pad dat elke boer wat aan die pad gewoon het, verplig was om ‘n bepaalde plek vir uitspanning aan te wys, ten einde hulle nie geheel en al te laat vertrap nie. By die uitspanning was altyd drinkwater vir die osse en daar het op ‘n bordjie gestaan dat vir elke span 2/6 betaal moes word vir drinkwater. As die 2/6 betaal is, mag die osse vry wei op die uitspanplek. Hier was dit dikwels baie bedrywig wanneer waens wat kom en gaan op die uitspanplekke bymekaar kom, sodat selfs 25 spanne osse daar deurmekaar geloop het.
Transvaalse transportryery en die mark
Van 1882 af het die togte uit die Baai al minder geword want toe het die trein al geloop tot op Beaufort-Wes, maar toe het die ryery uit Transvaal drukker geword. Vir die Vrystaat was van 1875 tot 1885 Kimberley gewoonlik die beste markplek vir hulle produkte en dan het die transportwaens met voer en graan of groente en hout maar voortdurend gesukkel om so gou moontlik daar te kom. Die mense het by Kimberley soms baie geld gemaak maar dit weer maklik uitgegee.Voor 1885 (die trein het toe tot op Kimberley geloop) het die mense in die diamantstad verskillende kere vir ‘n vrag hout veertig goue ponde betaal, sodat ‘n boer met houtry gou ‘n klomp geld kon maak. Met al die nodige artikels was dit net so. Hulle het daar niks van gedink om vir ‘n sak mielies sewe pond te betaal nie; vir ‘n sak boermeel sewe pond tien, vir aartappels vier pond per sak, vir eiers 12/6 per dosyn, vir een hoender om te slag 7/6 en vir botter 6/- die pond.
Vrugte is ook bespotlik duur verkoop: Vir ‘n spanspek was 15/- nie ‘n buitensporige prys nie en vir lemoene twee of drie pond per honderd. Een koolkop het maklik 9 sjielings gekos. Die boere het hulle kans waargeneem om af en toe ‘n goeie slag te slaan as hulle ‘n vrag kon kry na Kimberley en die mense in Kimberley hulle geld wou bestee aan iets wat skaars was. Die mense het geen waarde aan geld geheg nie. Mense wat in dié dae al ‘n huis gehad het in Kimberley en saans ‘n kamer afgestaan het vir ‘n klompie mans waar hulle kon dobbel of kaartspeel, het baie keer die volgende môre, as hulle die kamer weer aan die kant wou maak, onder die blakers op die tafel ‘n presentjie gekry, bestaande uit ‘n banknoot van vyf of tien pond sterling. In ‘n sekere opsig was dit jammer dat die boere wat vir die eerste keer in aanraking gekom het met mense wat ‘n Europese opvoeding geniet het, hulle swak kant eerste moes leer ken. Die transportryers het deur die besigheidsmense se bedrieëry geen hoë dunk gekoester oor die ou lande se opvoeding nie.
Waterskaarste
Die mense wat uit Transvaal gekom het met hulle spanne osse in die wintermaande, kon vir die laaste keer vir die diere water gee by Vaalrivier en sou ook nie weer kon water kry voor hulle nie by die rivier terug was nie. Om met die diere te kan hou, moes hulle op die dorp water koop. Hulle het dit vir tien sjielings per vat gekry. Dit was net genoeg vir een span osse en dan het die osse eintlik nie genoeg gedrink nie. Vir huisgebruik moes die eerste mense by Kimberley ook tien sjielings betaal vir ‘n okshoof water. Huise met groot gesinne moes dus suinig met die water werk.
Die spoor na Kimberley en die transportpad
Die vinnige groei van Kimberley nadat die ryk diamantlae daar ontdek is, het die bou van die spoorlyn daarheen noodsaaklik gemaak. Toe dit in 1885 feestelik ingewy is, is die transportryery nie gestaak nie, maar het dit ‘n ander koers ingeslaan.
Dit was gou beperk tot vragte ry van produkte na die Kimberleyse mark, maar net toe die groot karweiery sou ophou, word die transportwa weer nodig vir Johannesburg se goudgrawery. Vir die myne was daar baie swaar masjinerie nodig, sodat in 1886 reeds die transportryery weer met volle krag aangepak is.
Die boere het met hulle produkte, nl. mielies, koring, hawer, aartappels of vrugte Kimberley toe gery, die vrag daar verkoop en dan transportvragte na Johannesburg aangeneem. Vir die myne moes daar groot houtblokke kom en materiaal vir die huise soos vloerplanke en sink. Maar die moeilikste was om die swaar masjinerie te hanteer. Al die ander goed het hulle stuk vir stuk op die waens gelaai, maar in die geval van masjinerie was een stuk soms alte swaar vir die wa. Die vervoertarief vir die kleiner stukke was van 10 sjielings tot 20 sjielings per 100 pond gewig. Die aantal waens wat beskikbaar was en die hoeveelheid goed wat vervoer moes word, het die pryse beïnvloed. Dit het op en af gegaan, net soos by ‘n mark. Dit was afhanklik van vraag en aanbod. Maar as ‘n stuk van ‘n masjien vervoer moes word wat baie swaar was, was elke boer maar huiwerig om dit op te laai as hy nie ekstra betaling daarvoor kry nie.
Swaar vragte
Hy was te jammer vir sy trekdiere en moes dikwels ook sy wa se drakrag in ag neem. Vir sulke swaar stukke is dan tot 2 pond aangebied vir 100 pond gewig. Met ‘n “boiler” van 12 000 pond het ‘n man dan met een tog baie geld gemaak, maar hy moes groot waag. Die wa het soms sommer op die laaiplek al inmekaar gesak en dan moes groot onkoste aangegaan word voordat hy weer kon ry. Ook het dit gebeur dat ‘n punt van die masjien deur die wa se kantrelings sak tot op een van die wiele en die wa so rem dat hy nie kan beweeg nie. Hulle moes dan met die osse die swaar stuk van die wa afsleep en die wa weer herstel. Dit het lang oponthoud veroorsaak, want brouwerk sou nie betaal nie. Alles moes nou sterker kom as wat dit was, anders kon dit weer breek. As na ‘n lang gesukkel die wa weer sterk genoeg was, moes die swaar stuk weer gelaai word. Dis te swaar om opgetel te word en daar was geen katrolle wat sterk genoeg was byderhand nie. Die boer moes ‘n ander plan maak. Hy grawe langs die masjinerie ‘n gat in die grond, so groot dat die wa daarin kan staan. Aan die voorkant moet dit stadig opdraand wees, sodat die osse die wa daaruit sal kan trek. Die gat moet onder met klippe uitgevoer word as die grond bietjie sag is, om die insak van die wa te belet. Die wa staan dan onder in die gat en langs die masjinerie. Dan word die osse aan die yster gehaak om die vrag weer op die wa te sleep. Eindelik is die dinge weer so reg dat hulle verder kan gaan maar dan moet die osse amper bo hul vermoë beur om die wa uit die gat te trek. Geluk dit, en kom die wa weer op die gelykte, kan hy eindelik weer aangaan. Dit was raadsaam om altyd as ‘n groep mans saam te reis, want as een teenspoed kry, kon hulle mekaar help. Dit was op Kimberley se paaie baie keer nodig.