Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Satan is die een wat depressie by mense misbruik totdat hulle glo hulle is hopeloos en ongered. Die teenoorgestelde is egter waar: iemand wat deur die donker van depressie geloop het, het 'n bepaalde innerlike krag ontwikkel wat van hom 'n wyser en sterker mens gemaak het. Moenie na die duiwel luister wanneer jy op jou swakste voel nie – weet daar kom 'n tyd hierna wat jy as kind van God baie sterk sal wees met 'n wysheid wat jou verder deur jou lewe sal dra, want in die donkerste dieptes het jy vir God weer gevind.
NAGMAAL OP DIE PLATTELAND
Volgens die reël van die kerke word die Nagmaal vier keer per jaar gehou en elke man wat enigsins kon, het dan met sy gesin opgetrek om die geleentheid by te woon.
Voor Nagmaal op die plaas
Daar is baie groot moeite vooraf gedoen ten einde in staat te wees om die komende Nagmaal op die dorp by te woon Baie van hulle moes selfs tien uur te perd ry om by die kerk te kom. Die rit per ossewa daarheen het dan ongeveer twee dae geduur.
Daar is weke vantevore die regte voorsorg getref. Die versorging van geskikte klere vir die gewyde geleentheid is deur die moeder gedoen, die pa het skoene versool en nuwes gemaak as die oues al te gehawend was om mee kerk toe te gaan. Hy moes rieme stroppe, skeie, die sweep en die wakatel nasien, want as jy kerk toe gaan, moes alles reg wees. Die laaste week by die huis is die drukste: Die klere moet gestywe en gestryk word en daar moet ‘n groot baksel boerbeskuit uitgedroog word en twee groot baksels brood gebak word.
Oplaai
Voor hulle wegry, moet nog eers ‘n lekker vet hamel geslag word, want op pad kan ‘n mens lekker eet. Miskien gaan die vleis te gou opraak en daarom word nog ‘n paar vetgemaakte hoenders geslag. Pa neem sy geweer saam want hy kan dalk langs die pad ‘n bokkie skiet. Die oplaaiery begin: Kooigoed vir pa en ma en die kleintjies op die wakatel in die tentjie. Die groot seuns gaan onder of langs die wa in die gras slaap. Hulle laai die kiste met klere, die kiste met brood en beskuit, die skottels met ingesoute vleis, die borde, lepels, vurke, messe, die koffieketel, die gemaalde koffie, suiker sout, kospotte, emmers., selfs vuurmaakhout vir ‘n week. Stoele en ‘n tafel word opgelaai, want by sommige kerke moes hulle self vir sitplek sorg. Nadat die tent wat by die kerk opgeslaan moet word en ‘n bokseil opgelaai is, lyk die wa soos ‘n trekwa. Tot ‘n byl en ‘n graaf is deel van die vrag. Die huis is amper leeg!
Op pad
Die hele huishouding en die plaas word afgegee aan die sorg van bediendes en die mense klim op om vir tien of veertien dae op Voortrekkermanier op die pad te boer. Die kleintjies voel uitgelate, maar die stilsit op die katel maak hulle gou lastig. Hulle wil op en af, wil gedurig iets eet en die ma kry nie kans om te ontspan nie. Op die uitspanplekke is dit ‘n gewerskaf met vuur, koffie en brood dat dit so help en eers op die derde dag hou die wa op die kerkplein stil. Die eiegemaakte tent is van linne of seil. Dit spaar tyd en werk as dit langs iemand anders s’n met gemeenskaplike reelings vasgebind kan word. So het hulle soms ‘n lang ry gevorm van wa, tent, wa, tent, ensovoorts.
Op die plein
Dis reeds Donderdagmiddag en tussen die klaarmakery deur word dosyne bekende mense wat daar ronddwaal gegroet. Die aand is alles stil op die plein, maar Vrydagoggend brand die koffievuurtjies reeds al van vroegdag af.. Onderwyl hulle rondkuier, word aandag gegee aan die versorging van die osse en die trekgoed. Baie vroue is besig om hul staanplek meer huislik in te rig en kan huil van teleurstelling wanneer een van die kleiner kinders sy klere met die teer besmeer van die lunsrieme aan die wawiele se nawe. Vrydagaand wanneer klaar geëet is, sit elke gesin in die tent bymekaar, lees ‘n hoofstuk uit die Bybel en sing dan saam hulle verskillende kerkliedere. As jy dan êrens op die plein daarna staan en luister, vorm die verskillende melodieë ‘n bekoorlike harmoniese geheel. Baie kere hou die leraar Vrydagaand al ‘n eerste diens in die kerk.
Vrydag in die dorp
Dis dan winkeltyd. Eiers, hoenders, botter, velle en wol word winkel toe gebring en verruil vir klere, skoene of breekgoed.. Sommige mense probeer ‘n bietjie kontantgeldjies vir kerkgeld uitkry, maar die suinige winkelier doen sy bes om so min as moontlik kontant uit te keer en ruil liewer hulle ware om dit later teen groot winste van die hand te sit.
Saterdag
In die môre vind belydenisaflegging plaas en aanneming, huweliksbevestiging of trou en baie keer nog gemeentevergadering om oor die geldjjies te praat, kerkraadslede te kies en verslae te behandel, waaraan elkeen ‘n lewendige aandeel neem. Saterdagmiddag vind die voorbereidingsdiens plaas. Almal, letterlik almal is in die kerk, ook die moeders met klein babatjies en al, wat vir die sang skrik en onbedaarlik begin huil, tot wrewel van die leraar, totdat die moeder maar naderhand verplig is om die kerk te verlaat en maar tevrede moet wees om niks van die diens te hê nie, alhoewel sy van haar gesin die meeste opgeoffer het om hierdie kerkgeleenthede te kon bywoon..
Sondag
Almal is vroeg op om ‘n beurt te kry om sy kisklere in die tent aan te trek. Na die eerste gelui word die kerk langsamerhand vol en as die derde gelui gehoor word, sit elkeen op sy plek. Die Nagmaalstafel staan voor die preekstoel, met die brood en wyn daarop. Dis ‘n plegtige byeenkoms. Die leraar preek kort en die tekens word uitgedeel. Al die vroue het kappies op en die mans is geklee in doelmatige klere. Na die diens is daar nog ‘n kinderdiens en in die middag ‘n dankdiens.
Die nag en die vertrek
Sondagaand rus die grootste verantwoordelikheid weer op die vrou van die gesin se skouers om in te pak en op te pak. Die meeste van die jongmense loop rond en kuier. Die mans maak die osse elkeen op sy plek vas om nog ‘n rukkie aan die juk te slaap, die skeie en stroppe kom op hulle plek en dan begin die oppak op die wa. Die oumense slaap in die tentjie, maar die jongmense bly wakker want om een- of tweeuur moet ingespan word. Hulle moet rekening hou met die bekombaarheid van watersuipings by die uitspanplekke. Om eenuur begin die uittog. In die maanlig is dit mooi om tot dertig waens agtermekaar in die pad te sien, tot elkeen by die uitdraaipaaie wegdraai na sy eie woonplek. Die verstes kom eers Woensdag of Donderdagmôre by die huis en is nuuskierig om te weet hoe dit met die boerdery lyk.
Hulle was bly om kerk toe te kon gaan, maar is nou ewe bly om weer by die huis te kan stilhou.