Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons werk nie so hard op hierdie aarde om iets te besit nie; ons werk sodat ons iets kan word.
WAT HET VAN MANLIKHEID GEWORD?
KRIEWELKOP
"Manlikheid is om in te staan vir … Wanneer ‘n jongman ’n meisie uitneem, behels dit om vir haar in te staan en ongeskonde terug te besorg, en in die huwelik en gesin geld dié instaan al die pad."
Kyk rondom jou in hierdie moderne era en vra jouself af: wat het van manlikheid geword? ‘n Mens behoort die vraag “wat het van vroulikheid geword?” ook dadelik daarmee saam ondersoek, want daar bestaan ‘n wisselwerking tussen manlikheid en vroulikheid. Die een werk nie sonder die ander nie en hulle beïnvloed mekaar grondliggend.
Maar watter man sou dit nou wou waag om te beskryf wat vroulikheid is en wat daarvan geword het? Dalk is daar 'n paar dapperes... Miskien moet die dames maar van hulle laat hoor – en dalk sommer ook vir ons sê wat hulle onder “manlikheid” verstaan. As ons deeglik hieroor dink kan dit dalk help om onsself én ons wedersydse verhoudinge te begryp.
WAT IS MANLIKHEID?
Maar voordat ons ons vraag kan beantwoord, moet ons tog (voorlopig) probeer uitvind wat manlikheid is. 'n Ou wysbegeerte-professor het in ‘n diep, afgemete stem gesê: “manlikheid is verantwoordelikheid.” Manlikheid is om in te staan vir … Wanneer ‘n jongman ’n meisie uitneem, behels dit om vir haar in te staan en ongeskonde terug te besorg, en in die huwelik en gesin geld dié instaan al die pad.
Dit is Larry Christenson wat in sy boekie The Christian Family die hoofskap van die man beskryf het onder die beeld van ‘n deurwagter. Hy staan by die deur van sy huis om wat binne is teen dit wat van buite kom te beskerm; hy verteenwoordig ook wat binne is na buite. Hy staan in vir … En dit vereis baie dikwels selfopoffering en uithou tot die uiterste.
WAT HET DAARVAN GEWORD?
In ‘n artikel in Juig, April 2012, verwys Errol Naidoo na ‘n artikel in Life Site News oor die gebeure waar die passasierskip Costa Concordia naby die Italiaanse kus gesink het. Die kaptein het van die sinkende skip weggevlug en meer as 4000 passasiers aan hulle eie lot oorgelaat..
Die gebeurtenis is ‘n verteenwoordigende beeld van wat in ons Westerse samelewing verkeerd geloop het. Die totale bankrotskap van die sekulêr-humanistiese ideologie wat die Weste beheers, is in dié gebeure blootgelê. In die humanisme “ken” die mens self goed en kwaad en bepaal self wat vir hom reg en verkeerd is. Daarvoor luister hy nie meer na God nie. Só moes vroue deur die feministiese beweging eers bevry word uit die manlike oorheersing van vroeëre samelewings en is in die gelykheidstrewe met mans gelykgestel op alle terreine – ook wat die klim van die korporatiewe leer na sosiale aansien betref.
In die radikale vorme van die feminisme klink dit deur dat vroue mans nie nodig het nie en met mans om seksuele dominansie moet kompeteer. So is mans en vroue uiteindelik teenoor mekaar gestel in plaas van om mekaar aan te vul, elk vanuit ‘n eie aard, soos die Bybel leer. Dit het gelei tot “the battle of the sexes”. Op die samelewing en op manlikheid het dit ‘n verwoestende uitwerking gehad.
Dit is ironies dat in ‘n samelewing waarin vroue ten koste van mans op die troon geplaas is, vaderlose kindertalle na vore gekom het en kinders tot só ‘n weggooibare las gedegradeer is dat hulle by die miljoene in hul moeder se skoot vermoor mag word. Net so ironies is dit dat die man nou sy ridderlike, verantwoordelike “instaanrol” verruil het vir bloot jagter-wees – en dat dieselfde bekroonde vrou in die proses gedegradeer is tot blote seksobjek. “Mans dink absoluut niks daarvan om hul huwelike prys te gee en by toevallige seksmaats wat toenemend beskikbaar is, betrokke te raak nie.” Mans leef nou hul “manlikheid” uit in “ongesonde omgewings soos … misdaad en die objektivering van vrouens …” Ons sou dalk ook aan verkragting kon dink.
Dít stoot die soort “kaptein” na vore wat geen opoffering meer ken nie en die skip sal verlaat net ter wille van homself. Die artikel tref ‘n vergelyking tussen die sink van die Titanic honderd jaar gelede en die Costa Concordia.
'n Honderd jaar gelede het mans die vroue en kinders op die beskikbare reddingsbote gehelp in die besef dat dit hulle eie geleentheid daartoe verminder. Die laaste keer toe die kaptein van die Titanic gesien is, het hy met ‘n kind in die arms gestaan in ‘n poging om haar lewe te red – so sê die artikel.
KAN ONS MANLIKHEID TERUGKRY?
Dat manlikheid soekgeraak het, hang saam met die humanistiese ideologie waar selfdiens en selfbehae die hoogste waarde vir die individu geword het. Ware manlikheid sal kan terugkeer eers as die Christelike diensmotief van selfopoffering ter wille van ‘n groter taak weer die oorhand kry. En dit kan nie effektief geskied bloot waar ridderlike waardes terugkeer nie. Só kan dit weer ‘n blote kultuurding word wat slegs deur uitwendige menslike gedrag in stand gehou word.
Dit sal eers effektief geskied waar ons harte resloos uitgelewer is aan die heerskappy van Christus Jesus deur sy Woord en Gees – d.w.s. in sy Koninkryk, sê ons.