Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As Ek die swaard oor 'n land bring, en die mense van die land neem 'n man uit hulle kring en stel hom as wag vir hulle aan, en hy sien die swaard aankom oor die land en waarsku die mense – as iemand hom nie laat waarsku nie en die swaard neem hom weg, dan is sy bloed op sy eie hoof. As daarenteen die wag die swaard sien kom en die basuin nie blaas nie sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard neem 'n siel uit hulle weg – sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis – Eségiël 33
ONS ‘GELYKHEID’ WYS HOE ONGELYK ONS IS!
Vooruitgang in die wêreld het nie plaasgevind omdat almal gelyk is nie, maar juis omdat sommige bereid was om deur harde werk geleenthede te benut om vooruitgang moontlik te maak, terwyl ander net toegekyk en die vrugte daarvan geniet het.
Ons beleef vandag dat onderskeid uitgeskakel moet word. Dat almal kwansuis “gelyk” is. Die massamens kan nie ongelykheid verdra nie. Die sosiale demokrasie wil hierdie onderskeid afskaf. U sien, om na beter te streef, beteken om jou moue op te rol, inspanning en dikwels slapelose nagte. Dit is van hierdie “werk” wat die sosialis en die meeste van die “gelykes” nie hou nie.
Mense is nie “vry en gelyk” geskape nie. Gelykheid van geleenthede bewys baie gou hoe ongelyk die uitslag is juis omdat mense verskil. ‘n Gemeenskap word ondergrawe deur diegene wat verskille wil wegpraat en gelykheid as uitkoms beoog. Die ironie is dat die gelykheidskrywers hulle uitgee as vegters vir geregtigheid. Shakespeare het ‘onderskeid’ die “ladder to all high designs” genoem – die leer wat mense met ideale en hardwerkendheid klim en hulle uiteindelik by sukses bring.
Gelykheid veroorsaak net verwarring en vervreemding en dan vyandigheid weens afguns, juis omdat dit onmoontlik is om te bereik. Die resultaat is dat leiers nie meer wil lei nie, en dienaars nie meer wil dien nie.
As mense in oorlogsnood of ander krisisse verkeer, is hulle instinktiewe neiging tog om die beste leier of militaris te kies om hulle uit daardie verknorsing te red. Waarom? Omdat daardie persoon hom onderskei het op daardie gebied! Waarom dan nie op ander terreine ook die “beste persoon kies” nie?
Selfs in die redelose dierewêreld is daar ‘n hiërargie ten spyte van wat op die oog af na gelykheid lyk. Alhoewel deur instinkte, eerder as deur rede gedryf, vind mens tog ‘n hiërargie daar. Hoeveel te meer nie in die mensewêreld wat immers deur rasionale denke beheer word nie. Hiërargie ontstaan deur die mens se arbeid en die aanwending van sy vermoë om ‘n sekere standaard te bereik – daar sy denke aan te wend. Onderskeiding en hiërargie is die noodwendige resultaat van ‘n ongelyke wêreld en die insette wat sommige deur moeite doen om hulle talente te ontgin, terwyl ander nie bereid is om dit te doen nie.
As almal “gelyk” is, waarom moet ons nog ‘n keuse maak tussen persone? Ons kan dan mos maar sommer die lot werp. ‘n Verkiesing byvoorbeeld impliseer tog ‘n baie ondemokratiese proses waar gediskrimineer word deur tussen persone te onderskei! En ‘n grondwet is veronderstel om vir politieke waarheid te staan. Dit is veronderstel om die burgers teen hulleself te beskerm. Vir die gelykheidskrywers raak ‘n grondwet egter ‘n probleem want gelyke geleenthede, veroorsaak juis ongelyke uitkomste. Daarom moes hulle bepalings inbou wat ongelyke uitkomste verhoed, soos “regstellende aksie”. Maar, so is regstellende aksie ‘n opstand teen die Goddelike, gegewe dat mense verskil wat betref talente en vermoëns. Dit is ook ‘n opstand teen die realiteit dat sommige mense harder werk as ander en daarom ‘n beter resultaat behaal.
Gelykheid in die politieke sfeer (ons korrupte regerings) kan niks beter daar stel nie. Sulke regerings word despoties. ‘Demokrasie’ en 'gelykheid' het geen beter wêreld daargestel nie, inteendeel! Ons eens netjiese en ordelike land is die bewys daarvan: van die hoogste misdaadsyfers in die wêreld waaronder moord, verkragting, korrupsie (veral deur die staat self), is aan die orde van die dag, van die dag toe “demokrasie en gelykheid” van die internasionale mark ingevoer is.
Mag ons Skepper van hemel en aarde, wat tussen Lig en Duisternis onderskeid gemaak en ‘n aarde vol verskeidenheid skepsele en kleure geskep het, ons gou uit hierdie ‘gelyke’ toestand kom uithaal en ons weer toelaat om vryelik onderskeid te tref, veral tussen reg en verkeerd!