Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde is nie opgeblase nie...
DIE GELDMAG (9)
B M Schoeman
Lees reeks by Die Geldmag
DIE HOEKVERSLAG
Mnr. Vorster se verhouding teenoor die geldmanne, en dan meer bepaald teenoor mnr. Oppenheimer, blyk miskien die beste uit die gebeure rondom die Hoekverslag.
Dit is betekenisvol dat dr. Verwoerd, toe hy in 1964 geantwoord het op die heftige aandrang van die Opposisie dat ondersoek ingestel moes word na die bedrywighede van die Afrikaner-Broederbond, gesê het dat as die Broederbond ondersoek moes word, ander organisasies van die Engelssprekende wêreld ook ondersoek behoort te word. Een van die organisasies wat hy genoem het, was Anglo-American. ’n Ruk daarna het prof. Piet Hoek, destyds Adjunk-hoofbestuurder van Yskor, dr. Verwoerd gevra om wel so ’n ondersoek na Anglo-American te laat instel. Prof. Hoek was diep bekommerd oor die greep wat Anglo-American en mnr. Oppenheimer op die Suid-Afrikaanse ekonomie verkry het. Hy het gesoek na middele om hierdie greep te breek.
Dr. Verwoerd het hom meegedeel dat hy met hom saamstem wat Anglo-American en mnr. Oppenheimer betref, maar dat hy nie in sy posisie ’n amptelike ondersoek kon gelas nie. “Maar waarom stel jy nie so ’n ondersoek vir my in nie?” het hy gevra.
Op ’n voormiddag aan die begin van 1969 het prof. Hoek in ’n gesprek van ’n paar uur in sy kantoor aan my vertel wat daarna gebeur het. Hy het sowat tien medewerkers in die Afrikaanse sakewêreld genader om hom in die ondersoek behulpsaam te wees. Elkeen sou ’n bepaalde faset kry om te ondersoek. Soos dit maar met sulke take gebeur, het die een na die ander later kop uitgetrek totdat omtrent net hvself oorgebly het. Hy het voortgegaan met sy werk. Tyd het hy genoeg gehad omdat hy op daardie tydstip reeds vanweë sy oortuiginge op ’n syspoor by Yskor gerangeer is. Prof. Hoek het aan my vertel dat hy al gaande al hoe minder werk by Yskor gekry het. Hy is al minder betrek by besluitnemings en sy personeel het al kleiner geword totdat hy omtrent net sy persoonlike tikster oorgehou het.
Met die moord op dr. Verwoerd was hy reeds ver gevorder met sy ondersoek, maar nog nie heeltemal klaar nie. Hy wou egter vasstel hoe die nuwe Eerste Minister oor die saak voel, maar het nie geweet hoe om by hom uit te kom nie. Prof. Hoek sê hy het toe die saak met genl. Van den Bergh gaan bespreek en dié het aan hom gesê hy hoef hom nie oor die probleem te bekommer nie. Die generaal het in sy teenwoordigheid die telefoon opgetel en ’n afspraak vir hom by mnr. Vorster gemaak. Toe hy by hulle eerste ontmoeting die saak aan mnr. Vorster verduidelik het, was hy baie geesdriftig en het allerlei instemmende geluide gemaak wat mnr. Oppenheimer betref. By die tweede ontmoeting toe prof. Hoek weer die saak met mnr. Vorster gaan bespreek het, was die geesdrif opvallend minder. Hy het nietemin voortgegaan en die ondersoek voltooi en daarna is hy met sy verslag na mnr. Vorster.
Eerste Minister het hom gemaan om nie die verslag openbaar te maak nie, aangesien dit hom in groot verleentheid kon besorg. Hy het aan die hand gedoen dat die duplisering daarvan aan genl. Van den Bergh oorgelaat moes word en dat die saak dan weer bespreek kon word. Maande het verbygegaan sonder dat hy weer iets van mnr. Vorster of genl. Van den Bergh gehoor het. Toe hy uiteindelik weer by mnr. Vorster gaan navraag doen het, was hy sigbaar gesteurd en het hy baie ferm aan hom gesê dat die verslag nie gesirkuleer mag word nie. Prof. Hoek het toe daarop aangedring dat hy afskrifte aan ’n paar van sy vriende gee. Name wat hy genoem het, was mnr. Van Schoor by Die Vaderland, mnr. C.D. Fuchs by die SAUK, dr. A. Hertzog en andere. Dit is hoe enkele kopieë van die nou bekende Hoek-verslag in omloop gekom het. Ekself het prof. Hoek se persoonlike kopie gekry met toestemming om ’n afskrif daarvan te kon maak. Daarna is vasgestel dat genl. Van den Berg die verslag laat kodifiseer het, sodat maklik vasgestel kon word waar ’n kopie bekom is as verwysings daarna in die pers begin uitslaan.
Dit is nie nodig om hier in besonderhede by die inhoud van die Hoek-verslag te vertoef nie. Daar kan volstaan word met enkele opmerkings. Prof. Hoek het die volle omvang van die dodelike ekonomiese wurggreep waarin mnr. Oppenheimer Suid-Afrika het, met groot effek blootgelê. Hy wys ook op die bedreiging vir die Suid-Afrikaanse ekonomie van ’n te groot geldelike magskonsentrasie in ’n enkele groep soos die Oppenheimer-empire. Ander gevare waarop hy die soeklig laat val, is die verydeling van die Staat se monetêre maatreëls teen inflasie, die verkryging van monopolistiese beheer oor strategiese produkte en die ekonomiese onsekerheid wat dit tot gevolg kan hê. Die grootste bedreigng bly egter die gevaar wat so ’n omvangryke geldryk op die landsbeleid kan hê, veral in die geval van mnr. Oppenheimer wat geen geheim daarvan maak dat hy die beleid van apartheid vyandiggesind is nie.
Wat daarna verder tussen mnr. Vorster en prof. Hoek gebeur het, is nie bekend nie, maar dit is betekenisvol dat prof. Hoek later hemel en aarde beweeg het om te verseker dat die inhoud van die verslag nie in breër kringe bekend word nie. ’n Dringende hofbevel is teen die Sunday Times in die middel van 1969 aangevra om te keer dat uittreksels wat dr. Ras Beyers op ’n vergadering in die Bosveld uit die verslag voorgelees het, gepubliseer word. In 1970 toe DIE AFRIKANER sekere feite uit die Hoek-verslag gepubliseer het, het die koerant ’n kort briefie van prof. Hoek se prokureurs ontvang om die aandag daarop te vestig dat hy kopiereg oor die verslag het.