Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moet nooit jou geluk met iemand anders s’n vergelyk nie. Dit sal jou net ongelukkig maak. Geniet jou lewe sonder om dit gedurig met dié van ander te wil vergelyk. Onthou: Dis nie hoeveel jy het nie, maar hoeveel jy geniet wat jou gelukkig maak.
WATERBESTUUR
Meinhard Peters
Lees meer by OORSIG EN REPLIEK
Skryf in vir die gereelde gratis volledige uitgawes by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Strategiese waterbestuur as gevallestudie
Vir ’n dekade of meer al was die berigte oor swak bestuur van munisipale waterinstallasies voorbladnuus. Watersuiweringsaanlegte is in baie munisipale gebiede nie behoorlik in stand gehou nie; of die begrotings daarvoor is verkeerd aangewend. Dit het reeds gedui op die krisis wat later sou kop uitsteek, naamlik: die algemene verwaarlosing van ’n kritieke hulpbron soos water.
Ten spyte daarvan dat nuwe waterbelastings ingestel is, en die regering se nasionalisering van alle waterbronne, het die ANC-regering bitter min gedoen om die fisiese voorsiening van water landswyd te verbeter. Die regering se prioriteit was om varswater aan afgeleë gebiede en plakkersdorpe te voorsien; terwyl die strategiese uitdagings om genoeg water op te gaar, water te benut en demografiese verskuiwings in ag te neem klaarblyklik verwaarloos is. Nou het die droogte en waterkrisis in Wes-Kaapland almal die skrik op die lyf gejaag; behalwe die regerings-leiers wat hulle eerder met politieke konferensies, die top-ses se kopsere en ’n onderlinge gekibbel oor kommissies en kabinetsposte besig hou.
Verrassend genoeg het daar ’n klompie ouer persberigte in die sosiale media te voorskyn gekom in verband met verwagte watertekorte in Suid-Afrika. Klaarblyklik was daar kenners wat die moontlikheid van ernstige waterkrisisse lank gelede voorsien het. Sporadiese droogtes het die nood van tyd tot tyd beklemtoon – dorpe en boere het ervaar hoe damme leegloop wanneer dit nie genoeg reën nie. Sommige mense het die oorsaak van sulke probleme toegeskryf aan aardverwarming; maar die owerhede het inderdaad te min aandag gegee aan die beplanning van noodsaaklike opgaardamme om in pas te kan bly met die groeiende behoeftes van die land. Ingenieursprojekte om nuwe damme te bou of om bestaande opvangdamme te vergroot vereis uiteraard jare se vooruitbeplanning; en daar moet natuurlik beplan en begroot word. Dit is in hierdie rol waar die nasionale regering en die provinsiale regerings ernstig gefaal het.
Landbouweekblad se berig van 2011 maak opslae
Dit is die moeite werd om die kort beriggie in Landbouweekblad van 24 Junie 2011 noukeurig deur te lees. Die opskrif was: Waterskaarste is Kaap se voorland. Dit is byna sewe jaar gelede gepubliseer. Die joernalis, Alani Janeke, het gesprekke met kenners en die besproeiingsboere gevoer en daaruit ’n interessante prentjie opgebou. Selfs die Departement van Waterwese en Omgewingsake was bewus hiervan. Sy skryf:
Plase en woonbuurte naby Kaapstad kan oor die volgende ses jaar nie voldoende water hê nie, waarsku die Departement van Waterwese en Omgewingsake. Luidens ’n berig in Nuus24.com sal veral inwoners van en plase in en om Kaapstad, Stellenbosch, Drakenstein, die Swartland en Saldanha dan sonder gewaarborgde waterbronne wees. Volgens Waterwese is dié scenario moontlik as bykomende waterbronne nie opgespoor word nie. Die situasie het ontstaan weens bevolkings- en meegaande ekonomiese groei wat al hoe groter druk op die Wes-Kaapse watervoorsieningstelsel plaas. In die jongste verslag oor watervoorsiening rig Waterwese ’n dringende pleidooi aan inwoners om water te bespaar.
Die landbou in die Wes-Kaap het natuurlik die eerste impak van die dreigende tekorte gevoel. Die tydperke van droogte in die gebied het ernstige tekorte veroorsaak sodat boere drastiese aanpassings moes doen. In die verslag van 24 Junie 2011 word die volgende vermeld:
Mnr De Wet Viljoen, wynmaker en landgoedbestuurder by Neethlinghof, sê dié aankondiging (deur Waterwese) is nie ’n skok nie, want boere in die distrik is reeds gewaarsku.”Ons is deel van die Helderberg-besproeiingskema, en ons is reeds gewaarsku dat ons waterkwotas verminder gaan word.”
Die erns van die situasie (in 2011 reeds) word deur die volgende gedeelte van Alani Janeke se berig in Landbouweekblad onderstreep:
Mnr Pieter van Niekerk, uitvoerende hoof van waterbron-beplanning by Waterwese, sê daar is nie meer ’n moontlikheid van bykomende damme nie. “Ons kyk nou na ander moontlikhede, soos om die Steenbrasdam te vergroot. Met beter tegnologie is die ontsouting van seewater ook ’n moontlik-heid.” Volgens Waterwese kan die bestaande bronne jaarliks 556 miljoen kubieke meter (kumek) water voorsien. Verlede jaar (dws in 2010) is tot 511 miljoen kumek van die beskikbare water ver-bruik, waarvan 68% deur stedelinge en 32% deur boere. Na verwagting sal die oorblywende water vanaf 2017 tot 2019 jaarliks opgebruik word.
Hierdie merkwaardige (en profetiese) berig het talle betrokkenes onlangs laat regop sit. Die kundiges van Waterwese was toe reeds in die kol met hulle tegniese afskatting van watergebruik; tog het die owerhede die krisis sienderoë laat ontwikkel! Vandag word daar in Kaapstad angstig gewag op reën, en word daar inderhaas boorgate gesink, of ander planne word beraam om “dag zero” uit te stel of moontlik af te stel. In werklikheid sal net reën uitkoms kan bied.
Ontsouting van seewater
Die verwysing na die opsie om seewater te ontsout in die berig hierbo, is baie interessant. Dit is een van die voor die hand liggende oplossings vir die Wes-Kaap. Te midde van die hewige debat-te oor die waterkrisis het dit aan die lig gekom dat gepaste tegnologie vir ontsouting reeds plaas-lik in die privaatsektor beproef en beskikbaar is. Lees gerus die berig hieronder.
Tegnologie vir die ontsouting van seewater is plaaslik beskikbaar en dié oplossing is koste-effektief
Baie van ons was verbaas om via sosiale media te verneem dat ’n ingenieursmaatskappy wat in Kaapstad gesetel is, Grahamtek, reeds besig is om ontsoutingsaanlegte te bou in Saudi-Arabië en in Indië. Die maatskappy het reeds 116 aanlegte in 10 verskillende lande opgerig, maar die Kaapse munisipaliteit sleep voete en het nog nie eens een kontrak gefinaliseer nie, hoewel onderhandeling daaroor wel plaasvind. In die lig van die Departement Waterwese se waarsku-wing van 2011 (berig hierbo) is dit onverskoonbaar; dit moes lankal gebeur het.
Grahamtek se een aanleg in Saudi-Arabië lewer 1400 megaliter water per dag, wat dubbeld die watergebruik van Kaapstad per dag is. Die ingenieursgroep werk tans aan ’n klein ontsou-tingsaanleg wat 2.5 megaliter per dag kan lewer en ’n groter een van 10 miljoen liter per dag, gegrond op verwagte bestellings wat deur Kaapstad geplaas moet word.
Tom Callaghan, bestuurder van besigheidsontwikkeling by Grahamtek, reken ’n goeie teiken vir ontsouting van seewater vir Kaapstad is om ongeveer 30% van die daaglikse behoefte op hierdie wyse te voorsien (sowat 200 miljoen liter per dag) – gedagtig aan die verwagte gebruik van al die woongebiede, nywerhede en die landbou tesame.
Die goeie nuus is dat die water wat verkry word van ontsoutingsaanlegte soos dié wat deur Grahamtek voorsien word, nie duurder water beteken nie. Die koste daarvan is ongeveer dieselfde as wat die voorsiening van water op ander maniere tans is. Die maatskappy beklemtoon dat die proses koste-effektief is. Die bestellings wat hulle internasionaal ontvang vir hulle tegnologie het dit reeds bevestig.
Mnr William Graham, die uitvinder van die omgekeerde osmose ontsoutingsproses. Hy staan hier by toerusting wat gebruik word om seewater te ontsout.
Die Koeberg-kernkragstasie sal binnekort volledig in sy eie waterbehoeftes voorsien deur middel van ’n ontsoutingsaanleg van hul eie. Die lewensvatbaarheid van ontsouting van seewater is beslis een van die oplossing wat oor die langertermyn van die grooste belang gaan wees. Die regering se probleem is dat finansiële druk kan verhoed dat die nodige planne in werking gestel word.
Waterkrisis op verskillende vlakke in Suid-Afrika
Nog ’n persberig wat onthul is [hierdie keer in Rapport van 4 Februarie 2018] is die verslag deur Barry Streek van die Cape Times. Laasgenoemde berig het op 26 April 1990 verskyn onder die opskrif: City will run out of water ‘in 17 years’. Dit handel oor ’n voorspelling deur die Water-navorsingskommissie dat die voorsiening van varswater in die gebied onder toesig van die stad Kaapstad teen 2007 ’n kritieke punt sou bereik. Die verslag is gedeeltelik gebaseer op navorsing deur die Universiteit van Kaapstad.
Van tyd tot tyd word die sikliese voorkoms van droogtes in Suid-Afrika ook beskou, en die kapasiteit van opgaardamme word skerp dopgehou. Die behoefte aan water en die maniere om daarin te voorsien verskil van streek tot streek en die bestuursuitdagings verskil natuurlik ook op verskillende vlakke. Die geval Kaapstad plaas uiteraard die fokus op stadsbeplanning, maar terselfdertyd is daar die groter prent vir die Wes-Kaap en vir die hele Kaapland. So is daar uiteraard ook die uitdagings wat die hele Suid-Afrika aangaan en selfs Suidelike-Afrika omvat. Een kenner het die interessante opmerking in ’n radio-onderhoud gemaak dat Suid-Afrika (en ander lande in die Suider-Afrika) se waterbehoeftes maklik voorsien sou kon word deur pyplyne van die Kongorivier aan te lê. Die internasionale samewerking wat dit impliseer ontbreek egter geheel en al. Dit is blykbaar nie “praktiese politiek” nie.
Een van die baie vooruitskouings van die groeiende waterbehoefte teenoor die beskikbare waterbronne wat die media tot dusver ontglip het, is beramings wat deur die Departement van Waterwese in 1980 gedoen is. Kundiges het destyds bereken dat die totale watergebruik in Suid-Afrika binne 40 jaar ’n kritieke punt sou bereik. Min het hulle geweet van die enorme instroming van vreemdelinge uit Afrika na ons land vanaf 1994. Maar hoe dit ook sy, die skatting van 40 jaar vanaf 1980 blyk heeltemal akkuraat te wees. Dit neem ons na die jaar 2020, en al die tekens is daar dat die kritieke punt vinnig nader kom, of reeds bereik is.
Nog ’n faset van die water-scenario is die verbeeldingryke beplanning wat deur die regering van dr HF Verwoerd in die sestigerjare gedoen is in verband met die benutting van die Oranjerivier se water. Daardie beplanning is nooit volledig ontplooi nie; en daar word bereken dat indien die Oranjerivier se potensiaal ontgin sou word dié gebied sou uitstyg tot een van die sterkste broodmandjies in Suider-Afrika. Uiteraard is dit nie op die radarskerm van die beplan-ners wat nou grond op groot skaal wil onteien en daarmee hoop om “voedselsekerheid” op te lewer nie. Voedselsekerheid verg langtermynbeplanning, beplanning wat die bestuur van alle natuurlike hulpbronne omvat. Reg deur Afrika het dit geblyk dat die langtermynvisie soos dit onder die Verwoerd-regering in berekening gebring is, eenvoudig by die nuwe regeerders ontbreek. Afrika-sosialisme is nie werklik daartoe in staat nie.
Die waterkrisis in finansiële terme beskou
In Sake-Rapport word op 4 Februarie berig dat die departement van water en sanitasie oor die volgende tien jaar R899 miljard benodig om die infrastruktuur vir water op peil te kry. Die dringendste behoeftes van die department is glo R125 miljard om wydverspreide wateronderbrekings te verhoed. Dit is alleen meer as wat die bykomende BTW van 1% gaan oplewer.
Hierdie inligting kom uit ’n nasionale meesterplan vir watervoorsiening wat in Januarie 2018 vir kommentaar gepubliseer is. Om te verstaan wat die gaping beteken moet mens kyk na die begroting van die department vir 2017-2018, waarin daar slegs R11,7 miljard vir infrastruktuur begroot is. Indien die skatting van R899 miljard [oor ‘n tien jaar termyn] korrek is, beteken dit dat die infrastruktuurbegroting eerder R89,9 miljard per jaar moet wees in vergelyking met die huidige sowat R12 miljard per jaar.
Uiteraard sal daar baie meer tegniese ondersoeke gedoen moet word om die klimaatsfaktore, die kapasiteit van bestaande damme, die bevolkingsgroei en die suiwering van water alles in ag te neem. Meer opsies sal ontleed moet word. Dit is heeltemal onseker of die huidige beramings deur die regering rekening hou met al die sake wat waterbenutting in Suid-Afrika raak.