Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die fout wat baie lidmate maak is om nie te besef dat die kerk 'n loopgraaf in die voorste linie is nie – hulle gebruik dit vir 'n slaapsaal en ruskamp.
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (26)
5)Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Daar is iets baie bevredigend aan ‘n moeilike raakskoot. Natuurlik is daar baie mense wat nie hou van skiet nie. Hulle kan nie die geweer of handwapen se skop veel nie, die geraas, die knal van die wapen, die reuk van verbrande kruit, die hitte of koue op die skietbaan, en natuurlik die koste van gewere en ammunisie. Baie wapeneienaars of voornemendes is nie lus vir die rompslomp rondom die lisensiëring nie en gee hetsy wapens by die polisie in, of koop eenvoudig nie aan nie.
Diegene wat ‘n liefde vir wapens het, sal baie moeite maak om dit ten duurste aan te skaf en die meeste mense wat in hierdie kategorie val, sal ook meer as een wapen wil hê. Vir hulle gaan dit oor die geskiedenis van die betrokke wapen, of sommer alle vuurwapens, vanaf die eerste handhou-kanonne met ‘n lont in die loop, tot die nuutste, ingewikkelde en doelmatige wapens.
Diegene wat lief is vir skiet, doen dit om die volle potensiaal van die wapen te ontsluit, of om jou eie vaardighede te ontwikkel, of beide. Tereg het ‘n Amerikaanse rubriekskrywer opgemerk dat slegs akkurate gewere interessant is. Dis nie in alle gevalle waar nie en soms word akkuraatheid pysgegee vir vuurtempo, soos in die geval van AK 47’s, die ikoniese rewolusiewapen, vanaf die Verre Ooste, tot en met Suid-Amerika. Menige Ruger Mini-14 eienaars kla oor die gebrek aan uiterse akkuraatheid, maar weier terselfdertyd om van die ding afstand te doen.
Tot dusver, in die vroeë 21ste eeu, is die ou, handgedrewe slotaksies steeds die mees akkurate. Veral diesulkes wat op die ikoniese Mauser K98-aksies of variante daarvan gebou is. Die manier waarop die slot aan die voorkant op ten minste twee plekke sluit, ‘n derde die slothandvatsel self en uiteindelik aan die agterkant, maak dat die hele aksie baie rigied is. Fyn toleransies, deeglike nekspasies, volledige en konstante dryfmiddelverbranding, koeëlpunte wat dieselfde deurgaans weeg en selfs doppies waarvan die wande en lengtes met mikrometers gemeet word, dra daartoe by dat sub-MOA groeperings (minder as 25,4mm op 100 meter) vir meeste toegewyde skuts bereikbaar is, natuurlik met oefening en die regte ladings vir die betrokke geweer. Soos die .243 Mannlicher wat Bella by haar het.
Van al hierdie tegniese detail weet Bella niks. Wat vir haar belangrik is, is dat sy die ou met die bofbalkeps, die geel en groen T-hemp met Jacob Zuma se gesig daarop afgebeeld en die bruin chino-tipe langbroek hiervandaan kan tref, voordat hy die byl gebruik. Hy het ‘n vroeg-middeljarige vrou aan haar heuning-blonde hare beet en draai effens links of regs, soos sy probeer om kant na kant toe te ruk en pluk om los te kom.
Bella is nie seker van die afstand nie, maar sy probeer om lengtes soos denkbeeldige rugbyvelde af te meet, vanwaar sy op die Chev se kajuit lê, tot waar die Corolla met oop enjinkap in die duik onder haar, staan.
Behalwe die twee mense, die fris knaap met die handbyl en T-hemp en die vrou, is die plek totaal en al verlate. Sy kan maar net raai hoe die situasie begin afspeel het, tot waar dit nou is, maar ook dit maak nie saak nie. Wat belangrik is, is dat sy betyds sal skiet en nie mis nie.
Drie, miskien drie en ‘n half? Dis hoeveel velde sy kan bepaal. Miskien dooie grond waarvan sy nie bewus is nie? Die Mannlicher se sneller breek bros en duidelik. Sy kan nie dadelik sien wat die uitwerking van haar skoot is nie, maar as die loop weer op haar hand rus, en sy weereens deur die duidelike Swarovski-lense kan sien, lê die man plat op die grond, die byl ‘n entjie uit sy hand uit en die vrou, wat getrek het aan die hand van die man, het van die skielike laat gaan agteroor geval en sy sit nou plat op haar boude, arms gestrek agter haar om te balanseer en ‘n geskokte uitdrukking op haar gesig. Sy kyk gefassineerd na die spasmodiese bewegings van die man se hand, soos die laaste stuiptrekkings dit laat oop en toe maak.
Al wat Bella dink is: “Mooi skoot!” en sy voel skielik baie ingenome met haarself en die wapen.
*
Maggel het ‘n regsgraad agter haar naam, het vantevore gewerk vir die Buro Vir Staatsveiligheid (BOSS), het al multimiljoen rand se transaksies gefassiliteer vir uitvoervrugte en neute vanaf die plaas en omgewing se boere. Sy is gewoond aan onderhandel en uiteindelik transaksies vas te maak. Daarom stel sy haar saak duidelik, met selfvertroue – wat nou teruggekom het – en met oortuiging.
Edwin Ramaboka sit ‘n hele paar minute en dink, nadat sy haar saak gestel het. Met sy regterhand krap hy die lelikste hond wat Maggel nog ooit gesien het, agter sy groot, slap ore, skynbaar onbewus van die vlieë en muggies wat om die massiewe kop maal en draai.
So af en toe sal die dier skielik sy kop tussen sy agterbene druk om ‘n jeukplek te knaag. Maggel raai dat daar iewers in die brak se voorgeslag ‘n Rhodesiese rifrug of boerboel moes wees, maar is deur dié tyd uitgebaster met Afrikanisse, en as sy kan oordeel aan die swart kol bokant die regteroog, iets anders, miskien ‘n Damasiër? Wat ookal, die ding is groot, onversorg, en terwyl sy kyk, lig hy sy lip effens en grom baie saggies, maar diep uit sy maag.
“Definitief bobbejaan ook!” dink Maggel as sy die ongelooflik lange tande verwonderd bekyk. Die hond is nog jonk en die tande is, behalwe waar dit effens bruin in die tandvleise verdwyn, wit en skerp.
“Kom nou Hansie, basta!” sê Edwin skerp.
“Jy weet, Maggel, jy het hier gekom, met my gepraat in Venda, wat julle grênd mense dink dit maak julle nog beter, en nie een keer het jy my regtig gerespekteer nie. Jy wil hê ons moet aan julle kant gaan lê, tot hierdie tyd verbygegaan het. Wat is hierdie tyd? Is dit nie wat ons dit gemaak het nie? Ons moet nie moeilikheid by julle kom maak nie, en ook die ander keer dat hulle wegbly. Julle bly op ‘n pad wat ‘Witvlag’ genoem word, omdat julle witmense lankal die Vendas met gewere gemaak het vlag opsteek.
“Jy wil die jare se kwaadwees wegvat met mooi woorde, wat jy nie bedoel nie. En daarvoor jy wil nie die moeilikheid vat wat kom nie. Jy wil hê ons met julle kom help daar op die plaas, maar vir jare het julle baklei oor die lone en die blyplek wat julle gee het nie ‘lektriek nie, ook nie ‘n toilet in elke shack nie. Ook een kraan vir baie mense.
“In ruil gee jy vrugte en neute en avo’s, wat nog nie eers daar is nie. Dit kom eers einde jaar. Nee, ek dink nie ons kan deal nie. Ek dink dis beter jy gaan nou”.
Maggel staan swaar op. Die ou stoel is immers baie laer as die stoele tuis en sy moet met haar regterhand op die grond druk, haar bene oorswaai en dan kan sy met ‘n sug of kreun opstaan. Sonder om te groet, draai sy om en loop na die bakkie toe, wat skielik baie ver weg lyk.
Sy is skaars vyftien tree van die bakkie af as Edwin saggies praat:
“Mthathe, Hansie! – vat haar!”
Die groot basterbrak spring opgewonde op en jaag agter Maggel aan. Die ander, kleiner maar ewe vieslike vier honde, hardloop kort op sy hakke. Hulle blaf opgewonde, maar nie Hansie nie. Hy grom net steeds diep uit sy binneste, terwyl die kwyl teen sy los wange en lippe afdrup.
*
Die manne is moeg. Moegheid soos hulle nog selde ervaar het. Vanaf Luanda het hulle, in plaas van die kortste pad al langs die kus af en dan met ‘n boggel om oor die rivier te kom by die brug, suid-oos gery en na die links-onder kwadrant van die land, soos dit op ‘n kaart sou verskyn, gery.
Die landskap het skielik anders begin lyk, met berge en klowe, diep ingesny, in plaas van die sandvlaktes van Angola, waarop soveel stewels van die ou dienspligtige en staandemag-soldate van die ou SAW getrap het. Dis asemrowend mooi, met net hier en daar ‘n dorp, of eerder gehuggie, wat diep in die klowe staan.
Die inwoners is nie aan buitelandse voertuie gewoond nie en die konvooi, met sy amper-militêre voorkoms, lok elke man, vrou en kind om in die deur of langs die pad te kom staan en hulleself daaraan te verwonder. Niemand se ruite is afgedraai nie en is die enigste groet wat aan hulle gewaai word, dié van agterop die MAN.
Dis egter genoeg om baie kinders te noop om agterna te hardloop, waaiend met handpalms na vore gedraai. Vinnig verdwyn die donker gesiggies met die twee rye spierwit tande in die stof van die konvooi.
Die moegheid het egter later gekom, met die groot panne water, die shonas, soos dit genoem is, wat dekades, indien nie eeue nie, se diep, klouerige modder wat nie net die voertuie laat wegsak tot soms op die nawe nie, maar ook in die diep gleuwe en groewe aangedik het, totdat daar nie ‘n enkele stukkie vastrap oor is nie.
Ure se loop in die dik modder, waarin jy dikwels tot by jou knieë wegsak, grou met graaf en wat ookal beskikbaar is, wen-as kabels wat van een na die ander voertuig gespan word, spaarwiele wat begrawe word om ankerplek vir die kabels te skep, geen plek om te gaan sit nie, behalwe in die modder en so af en toe op ‘n modderbesmeerde voertuigsitplek, het die taaiste en fiksste van hulle se krag tot op die laaste druppel getap.
Hulle durf nie die voertuie se hoofligte aanskakel nie, uit vrees om van ver gesien te word, en moet regkom met flitse en ander flouer ligte. Teen elfuur die aand is hulle op ‘n kleinerige eiland, tussen die panne. Môre sal hulle verder gaan.