Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Baie mense leef onverskillig en bring hulle lewens deur asof hulle nog een in die bank het. Die Woord van God sê dat die mens slegs een lewe het. Ons gaan net eenmaal op die aarde leef en nooit weer nie. Maar as ons dit reg doen, is een maal genoeg!
RAMAPHOSA SE KAARTEHUIS
Meinhard Peters
Lees meer by OORSIG EN REPLIEK
Skryf in vir die gereelde gratis volledige uitgawes by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Cyril Ramaphosa se vreemde kaartehuis
Die aanstellings wat Cyril Ramaphosa in sy kabinet gemaak het word allerweë as kompromie-politiek vertolk – slim skuiwe om verskillende faksies te betrek. Maar dit het ook duidelik geword dat toplede van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Partye doelbewus ingetrek en in sleutelportefeuljes aangestel is. Hulle verteenwoordig tot ’n hoë mate die “nuwe orde” in die ANC, daardie figure wat gesorg het dat Ramaphosa in Desember 2017 tot leier van die ANC verkies word en wat hard gewerk het om Jacob Zuma te pootjie. Van hierdie figure is juis deur Zuma uitgestoot na die rand van die ANC se leierskorps. ’n Oorblyfsel uit die Zuma-kabinet was Malusi Gigaba wat van sy pos as minister van finansies verskuif is na binnelandse sake – juis daar waar hy reeds aangekla staan van onbehoorlike optrede en wanbestuur.
Maar Gigaba kom uit die stal van die SA Kommunistiese Party en Ramaphosa moes hom dus iewers plaas. Dit is werklik ’n vreemde toedrag van sake dat die sakelui van Suid-Afrika aanstellings soos hierdie verwelkom het. Dit wil egter lyk of Gigaba se dae reeds getel is, aangesien verskillende parlementêre kommissies op sy spoor is weens teenstrydige verklarings oor die Guptas en die toekenning van burgerskap aan sommige indiwidue uit daardie familie.
Ramaphosa het binne weke nadat hy as staatspresident ingesweer is in ernstige politieke dilemmas verstrik geraak. Die draketande is gesaai toe hy ingestem het om saam met die EFF ’n gewysigde mosie te steun oor grondonteiening sonder vergoeding. Dit is in die parlement goedgekeur en die saak is verwys na die grondwet-hersieningskomitee wat teen einde Augustus 2018 verslag sal doen. Dié valse en opportunistiese optrede was bereken daarop om Julius Malema en sy EFF terug te lok in die ANC-kamp, met die oog op die verkiesing van 2019. So pas het Winnie Mandela, wat Ramaphosa se verkiesing as leier ondersteun het, ’n emosionele pleidooi gelewer dat Malema na die ANC moet terugkeer. Malema het self in die parlement tydens die onteieningsdebat onthul dat hulle hul kiesersteun van 6% aan Ramaphosa beloof het. Hulle gaan egter hulle pond vleis daarvoor vra. Intussen is die reaksie teen die grondonteieningsplan besig om in die land en in die buitewêreld uit te kring.
Ramaphosa se tweede probleem is dat hy nie werklik alle Zuma- en Gupta-medepligtiges vasgevat het nie. Waarskynlik reken hy dat die howe dit sal doen. Maar die feit dat hy Nskosa-zana Zuma as minister in die kantoor van die staatspresident aangestel het, toon dat hy nog een voet in die Zuma-kamp wil hou. Daar is ander aanstellings wat in dieselfde voeg val.
Hoewel Ramaphosa verklaar het dat iets daadwerkliks gedoen moet word om die Marikana-slagoffers by te staan (waarskynlik die een of ander geldelike skenking) , hang dié gebeure by Marikana nog soos ’n albatros om sy nek. Dit sal nie sommer weggaan nie. Ramaphosa het talle werkers van hom vervreem, en noudat BTW met 1% verhoog is, het vakbonde (insluitend Cosatu) hulle sterk daarteen uitgespreek. Indien Ramaphosa verder agter die “wit kapitaliste” se rug inskuif, sal hy die vakbonde se wrewel op die hals haal. Intussen sit hy met ’n begroting wat nie veel hoop vir die landsekonomie inhou nie. Trouens, die finansiële instellings wat SA se beleggingswaarde moet waardeer, slyp reeds hulle tande vir verdere afgraderings, veral in die lig van die voortgaande aanslag van die ANC op private eiendomsreg.