Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons besef dat vreugde en hartseer 'n tweeling is sal ons ophou om die twee te probeer skei – hartseer maak ons gereed om vreugde met meer waardering te geniet.
VOLKSBESINNING – TE LAAT? (3)
Lees reeks by Volksbesinning - Te laat?
Koos Bester
UITSTAANDE KENMERKE
Vir mnr Marais is die uitstaande kenmerke van die gebeure die volgende:
- Genl Viljoen het sy opwagting in die politiek gemaak as "militêre raadgewer" van mnr Andries Beyers se Afrikaner-Volksunie, wat hom spoedig by die NP gevoeg het;
- Die bedekte en konspiratoriese wyse waarop die AVF gestig is was " 'n klaarblyklike poging" om die regses in 'n strik te lok waar hulle die militêre pensioenarisse ten prooi sou val, daarop uit om glad nie vir De Klerk te stuit nie;
- Die AVF se aanvaarding van 'n "nie-rassige demokrasie" in onderhandelinge met 'n ANC-span onder leiding van Mbeki was die essensie van ANC/SAKP-beleid en maak 'n bespotting van die uitgangspunt van 'n Afrikaner-volkstaat.
- Dit was 'n obsessie by die afgetrede generaals dat onderhandelinge die enigste wyse van politieke optrede is en daardeur is ingeval by die agenda van die ANC en die NP-regering.
- Die afgetrede generaals se volgehoue wegskram van verset langs ander weë en hul vermanings teen burgeroorlog het byvoorbaat sulke optrede as laaste opsie uitgeskakel en genl Viljoen se beeld as soldaat geweld aangedoen;
- Daar was 'n klaarblyklike verbintenis by die generaals van deelname aan 'n een-mens-een-stem-verkiesing (sonder hoop op oorwinning). Daardeur is gesag gegee aan politieke bedrog, bedink om die kommunisties-beheerde ANC tot 'n bloedlose staatsgreep in staat te stel, soos wat in Suidwes en Rhodesië gebeur het.
- Genl Viljoen se politieke plooiwerk het 'n verdelende uitwerking op die regses gehad, in teenstelling met die eenheid wat hy veronderstel was om te dien.
ZB du Toit
Die overtures wat die Vryheidsfrontgesinde Rapport-verslaggewer en eerstydse Patriot-redakteur, ZB du Toit, drie maande na die stigting van die AVF oor die moontlike wegbreek van die KP van die AVF gemaak het, dui onweerlegbaar dat die Viljoen-groep se planne al lankal agtermekaar gekry is. Du Toit skryf (Rapport, 20 Junie 1993):
...Genl Viljoen is op sy beurt omring deur mense, onder meer genl Tienie Groenewald, wat bereid is om grense vir 'n toekomstige Afrikanerstaat te trek en dit tewens reeds gedoen het...
Die moontlikheid kan nie uitgesluit word nie dat genl Viljoen en sy raadgewers op 'n gegewe tydstip kan besluit dat 'n plan, wat voorsiening maak vir 'n Afrikaner-deelstaat met verskanste magte en duidelike grense, die enigste moontlike onderhandelbare plan is en dat hy reeds oor die magsbasis beskik om dit voor te lê...
Viljoen-dinktenk
Die Departement Nasionale Strategie van die Randse Afrikaanse Universiteit was in daardie stadium die dinktenk van die generaals in Suid-Afrika. Niemand minder as wyle Johann S Liebenberg, gewese groot Nuuskommentaarskrywer van Radio Pretoria en artikelskrywer vir die Vryheidsfront-lyfblad, Frontnuus, het in daardie stadium 'n nuusbrief, Veiligheidsfokus, vir die departement hanteer. Ook 'n ander Radio Pretoria-nuuskommentaarskrywer, wyle Piet Liebenberg, was deel van dié dinktenk. Liebenberg was lid van die abortiewe Volkstaatraad en 'n groot kenner van foefies soos interne selfbeskikking en sogenaamde minderheidsvolke.
Die Bophuthatswana-inval
Ernstige politieke waarnemers glo dat alles oor die Bophuthatswana-inval glad nie gesê is nie ondanks 'n kommissie van ondersoek onder regter Tebbitt en die feit dat hierdie saak en ook die sogenaamde Bisho-slagting en die inval in Ciskei deur die bevooroordeelde Tutu-kommissie ondersoek is.
Die Bop-aanslag deur die kommuniste en die ANC binne en buite dié staat was oënskynlik deel van MK se Operation Sunrise. Dié destabilisasie-operasie se sigbare agente was die ANC en Cosatu. Hulle het in Maart 1994 'n "nasionale staking" deur die staatsdienswerkers aangeblaas met die voorbedagte doelwit dat polisie- en weermaglede wat glo nie deur die Mangope-regering betaal is nie, hulle daarby sou aansluit. Die AVF-magte is "aangevoer" deur kol Jan Breytenbach wat met behulp van Suid-Afrikaanse spesiale magte vir hom naam gemaak het in die Angolese stryd aan die kant van UNITA.
In berigte in die algemene nuusmedia, en ook in 'n goed-berekende disinformasieveldtog, is die AWB-lede wat hul verskyning in die staat gemaak het, uitgemaak as "los kanonne" wat hulle skuldig gemaak het aan "hooligism". Daar het 'n dokument van obskure oorsprong per faks op 15 Maart 1994 by Radio Pretoria se nuuskantoor uitgekom. Die versendingstyd daarop is 16:33. Dit is deur ene A van Heerden gestuur. Die dokument is duidelik bereken om 'n kloof tussen die Breytenbachmag en die AWB te slaan. Breytenbach se mag word gunstig geskilder en sou volgens die dokument "verbintenisse met ander militêre en para-militêre groepe" hê. Die bevinding van die dokument (onder punt 3) "... The military threat posed by die right wing inclusive of the IFP, still remains but has now been forced towards being far more focused, more cautious and more realistic."
Bloot hierdie opmerking laat vele vrae ontstaan.
Strikke gestel
Op 10 Februarie het dokumentasie oor Operation Sunrise Radio Pretoria per faks bereik. Daarin word die SA Kommuniste Party as hoofbeplanner van die destabilisasie geïdentifiseer. Die dokument van etlike bladsye het voorgegee om onder die hand van die SAKP self te verskyn het. Ekself het dit in die volgende weke in nuusbulletins en Nuuskommentare hanteer.
'n Prominente lid van die nuusspan het my 'n dag voor die Bop-inval niks minder as aangepor om die AWB-kantoor te bel en te vra of die AWB in die besonder tot Bophuthatswana se hulp gaan kom in die lig van die dreigende destabilisasie. Ek het 'n slang in die gras gesien en nie op die wenk gereageer nie.
Die volgende dag het die voormalige onafhanklike staat oorgekook en die AVF-magte was binne in die tuisland. Die AWB was ook daar en hulle is baie pertinent in die SAUK en die buitelandse TV-stasie as 'n soort losloper-element hanteer. Die feit dat "AVF-magte" oorhoofs daar ontplooi is, is skaars gemeld.
Ek het Radio Pretoria se nuusredakteur, Tom Cairncross, gevra waarom ons nie maar self na die nasionale staat gaan nie. Tom het volstrek geweier. Ek het aan hom gesê die tweede beste is dan om na die Volksfront-kantoor te gaan en van daar 'n ingeligte en meer deurlopende beeld van gebeure te kry. Ek en Tom is toe na die Volksfront-kantoor waar ons genl Tienie Groenewald in sy kantoor te spreke gekry het. Die besoek was so tussen nege- en tienuur die oggend.
Genl Groenewald was nie baie spraaksaam nie – behalwe om ons onomwonde te verseker die destabilisasie is met welslae afgeweer! Ek was uit die veld geslaan en het weer gevra of hy oortuig is van wat hy sê. Hy het volgehou met sy standpunt. Ek het na Tom gekyk en toe na genl Groenewald en vir hom gesê dan is dit mos rede tot groot vreugde, die ANC-aanslag is dan mos suksesvol afgeslaan. Dit is mos rede vir 'n triomfantelike nuuskonferensie. Genl Groenewald het so toe soos'n oester geslaan en dit was duidelik dat hy my en Tom se verdere teenwoordighed as hinderlik beskou.
Ons is terug na Radio-Pretoria in Magalieskruin, waar ek met die AWB-segsman van daardie tyd geskakel het. Dit was duidelik dat die man nie juis op hoogte van die verloop van sake in die staat was nie. Ek het vir hom gesê dat genl Groenewald aanvoer dat die opstand onderdruk is.
Die grusame verloop van gebeure, soos dit kort daarna voor ons oë op die TV ontplooi het – waar drie AVF-manne in koelen bloeden deur 'n Swart Bop-soldaat by 'n blou Mercedes-motor afgemaai is nadat hulle tot weerloosheid verwond is – het alle illusies egter uit die pad gevee. Die AVF-magte, die Boerekrisis-Aksie en die AWB se militêre aansprake was tot op die grond afgetakel.
Dalk is dit genoeg vir my om te verklaar dat as die AVF, die Boerekrisis-Aksies en die AWB berekend in 'n dode-akker ingelei is in 'n sameswering waarby wie ookal betrokke was, dan is daar bloedstollend in dié poging geslaag. En as daar mense is, sogenaamde Afrikaners, wat met bloed op hul hande loop weens verraad, dan is daar 'n prys wat betaal moet word.
In reeds genoemde obskure faks van ene A van Heerden kom egter nog die volgende opmerking voor:
The NP-government again demonstrated a lack of credibility and control in the chain of events leading to the crucial decisions regarding the deployment of the SADF and the coup against Mangope. Decisions regarding the deployment of the SADF and the coup against Mangope. Decisions were haphazard and late and were subject to approval by the ANC and the TEC. Pres FW de Klerk was not fully informed of the situation ( e.g. the declared emergencies in 52 magisterial districts by the Minister of Law and Order).
The ANC, with the assistance of the AWB, has succesfull added Bophuthatswana to its sphere of interest and by implication the new Northwest Province.
The removal of Bophuthatswana and Ciskei, together with the split in the White right, has, in some ways, strengthened the rigt wing. They are now only concerned with KwaZulu-Natal and the establishment of a volkstaat. The information of the Freedom Front as a political party standing for election will attract many of the more pragmatic right wingers... The CP with Hartzenberg has effectively marginalised itself...
Dit lyk of ZB du Toit oor besondere profetiese gawes beskik het om in Junie die vorige jaar reeds, in Rapport die verdeeldheid te voorspel het...