Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer ons God begin dank vir al die vreugdes wat Hy ons skenk, sal daar nie tyd oor wees om te kla nie. Die mens wat dankbaar oor die verlede is, sal die Here ook vir die hede dank en die toekoms vreesloos tegemoet gaan. As ons dankbaar vir die genade van die verlede is, kan ons uiteraard ook op nuwes reken.
DIE S.A. POLISIE...
...beskerming of bedreiging?
Ds. A.E van den Berg
“Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte...” (Rom.13:3)
1. God en wetgewing
Omdat God reg en geregtigheid liefhet, het Hy wette gegee en regspraak ingestel:
“Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die Here jou God jou sal gee” (Deutr.16:20).
“Die Rots — volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; 'n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy” (Deutr:32:4).
“Doen reg aan die swakke en die wees; gee aan die ellendige en die arme sy reg. Red die swakke en behoeftige, bevry hulle uit die hand van die goddelose mense” (Ps.82:3,4).
God het by geleentheid vir Moses 10 gebooie vir ʼn ordelike saambestaan gegee. Hierdie gebooie het nie net sonde baie duidelik omskryf nie, maar ook die gepaste straf vir oorreders voorgeskryf.
In die Bybelse tyd was daar geen polisiediens soos wat ons dit vandag ken nie. Daar was wel wagte wat op die stadsmure diens gedoen het en alarm moes maak as die vyand gewaar is:
“As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie...” (Eseg.33:6).Hulle was ongewapen..
Dan was daar ook die gewapende wagte:
“Ek het ek op die laagste plekke agter die muur, op die kaal plekke, manskappe opgestel — ek het die volk opgestel volgens hulle geslagte met hul swaarde, hul spiese en hul boë” (Neh.4:13).
Die eertydse regters het ook ʼn belangrike taak gehad:
“En oor 'n regsaak moet hulle optree om reg te spreek, volgens my verordeninge moet hulle dit uitoefen; en hulle moet my wette en my insettinge hou ......” (Eseg.44:24).
2. Wetstoepassing
God het wetstoepassing aan mense toevertrouten einde ʼn ordelike bestaan in ʼn gemeenskap te verkry. Rom.13 handel grootliks oor die onderwerping aan regeringsgesag wat net so op die polisiediens van toepassing is:
“Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is 'n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is 'n dienaar van God, 'n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (:3,4).
Wetstoepassers verrig ʼn goddelike opdrag en is in hierdie opsig dienaars van God wat booshede moet bekamp en ordelike bestaan verseker:
“Vreugde is dit vir die regverdige om reg te doen, maar 'n verskrikking vir die werkers van ongeregtigheid.” (Spr.21:15).
3. Verval
Ongelukkig tree baie wetstoepassers nie eerbaar op nie. Polisiebrutaliteit en ander vergrype neem oorhand toe. Nuusberigte van polisielede wat by misdade soos diefstal, korrupsie, moord en omkopery betrokke raak, haal gereeld die nuus. Dis baie anders as voor 1994 toe misdaad suksesvol vasgevat is.
Sedert 1994 het die polisie ʼn gedaanteverwisseling ondergaan. Daar is met bros stene (onbevoegdes) mure gebou wat kort-kort inmekaar tuimel. Dit was nie meer duidelik of die polisie ʼn beskerming of ʼn bedreiging was nie. Gevolglik het duisende vaardige blankes uit vrees vir hul veiligheid hul in die buiteland gaan vestig.
In die apartheidsera het die polisiediens uit goed opgeleide, verantwoordelike, betroubare ledebestaan met ʼn hartstog om lewens en eiendom te beskerm en wetsoortreders aan die pen te laat ry. Vandag staan polisiekorrupsie geil in hierdie beskermingdiens. Berigte van polisielede wat by misdaad betrokke is, is alledaags. Korrupte politici misbruik selfs polisielede om misdaad toe te smeer.
Ongelukkig is dit die president se taak om die nasionale polisiekommissaris aan te stel of af te dank. Jacob Zuma het destyds Bheki Cele as polisiekommissaris aangestel en hom nie lank daarna nie in Junie 2012 weens bedrog, korrupsie en wanadministrasie afgedank. Regter Jake Moloi het destyds in sy uitspraak gesê dat Cele hoegenaamd nie vir sy pos as nasionale polisiekommissaris geskik was nie. Die selfde Cele het ʼn paar jaar later minister van polisie geword, kriminele rekord en al!
In ʼn gesonde staatkundige bedeling funksioneer die drie arms van ʼn regering te wete wetgewende mag, uitvoerende mag en regspraak onafhanklik van mekaar. Dit verhoed dat een die ander een se mag misbruik soos in 1994 in Suid-Afrika gebeur het.
Baie polisielede maak geld uit korrupsie, omkopery en die verdwyning van misdaadleërs–almal verskuilde troebel areas wat aan die lig gekom het. Van hulle word selfs deur dwelmbase betaal om ʼn blinde oog na misdaad te draai. Al kry hulle groot salarisse, bly hulle omkoopbaar. Die egste van alles is dat hulle mekaar beskerm en oor kollegas se misdrywe swyg. Niemand wil ʼn fluitjieblaser wees nie. Dit kan hom op die kantlyn laat beland of sy lewe kos!
Miskien voel sommige van die lede dat die vergoeding weens die gevaar van hul werk nie voldoende is nie en vul dit deur korrupsie aan. Ongelukkig maak lede wat groot salarisse verdien hul net so skuldig daaraan.
Slot
Wetsgehoorsame burgers se geduld met korrupte polisielede raak op. Hierdie kookpot van onheil berokken die land oneindige skade. Helen Zille het onlangs tereg gesê dat as Suid-Afrika wil herstel, daar by die polisiediens begin moet word.