Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die groot vraag voor die wit troon sal wees: “Wat het jy met jou lewe gedoen?” Ons sal eerlik moet antwoord want ons staan voor Een wat dwarsdeur ons sien. “Here, U deurgrond en ken my” (Ps.139:1). Ons kan God nie ‘n rat voor die oë draai nie! Alles sal openbaar gemaak word.
GOD ‘HEELTEMAL WEGGELAAT’ UIT WEGSPRINGWET
‘n Mislukte grondwet sal noodwendig ‘n voldonge mislukte staat voortbring.
Dit is die gevolgtrekking as daar van vroegste kritiek teen die beoogde veranderings aan die land se grondwetlike bedeling kennis geneem word.
Een van die kritici was ‘n Christelike belange-organisasie, Signpost, onder leiding van Edward Cain – Cain wat sy kantoor in Arcadia, Pretoria gehad het en ‘n inligtingstuk, Signposts, uitgegee het waarin hy kritiek, veral wat die kommunistiese trekke van die nuwe grondwetlike bedeling vir die land wat toe besig was om vorm in die Wêreldhandelsentrum in Kempton Park aan te neem, uitgespreek het.
Vandag is die skrif vir almal wat oë het duidelik op die vervalle wetlike mure van die land te sien; die wysheid by voorbaat van profete soos Cain al lankal oorbodig: oproepe wat heen en weer oor die puin weerklink, een daarvan, staatsleegheid, het toegeslaan; ‘n ander (wat ook al etlike jare gehoor word) – dat ‘n sogenaamde tweede politieke oorgang in die land sonder versuim aandag van die hoogste orde moet kry.
Of ‘n burgeroorlog, kom ons noem die ding by sy afskuwelike naam: ‘n bloedige rewolusie maak korte mette met die laaste skyn van reg en orde wat nog in die land oor is.
In ‘n Signposts van 1993 (vol. 12, nommer 6A 1993), neem die skrywer die aanhef tot die ontwerp-tussentydse grondwet waaroor daar op daardie tydstip geonderhandel is, in oënskou. Hy verklaar hierdie wet “laat God eenvoudig heeltemal weg”.
Hy gaan dan voort om uit die voorgestelde nuwe wetgewing aan te haal: “Nademaal daar ‘n behoefte is om ‘n nuwe orde te skep waarin alle Suid-Afrikaners geregtig is op algemene Suid-Afrikaanse burgerskap in ‘n soewereine en demokratiese grondwetlike staat waarin mans en vrouens en mense van alle rasse gelyk is…
“En nademaal dit vir hierdie doeleindes nodig is dat voorsiening gemaak word vir die bevordering van nasionale eenheid en die hersamestelling van die voortgesette staatsbestuur van Suid-Afrika terwyl ‘n gekose grondwetlike vergadering ‘n finale grondwet opstel…
“So is dit dat die volgende bepalings as die grondwet van die Republiek van Suid-Afrika aanvaar word.”
Stel dit teenoor die aanhef van die (toe geldende) Suid-Afrikaanse grondwet:
“In nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God, Beskikker oor die lotgevalle van volkere en nasies.
“Wat ons voorgeslagte uit baie lande byeengebring en hulle hier in hul eie gevestig het,
“Wat hul weë deur geslagte bepaal het, wat hulle so wonderbaarlik deur gevare gelei het,
“Verklaar ons dat ons bewus is van die verantwoordelikheid voor God en die mensdom,
“Oortuig is van die noodsaaklikheid om saam te staan en die volgende nasionale doelwitte na te streef:
“Om Christelike waardes en beskaafde norme te handhaaf met erkenning en beskerming van vryheid van geloof en aanbidding…
“Om die onskendbaarheid en vryheid van ons land te beveilig…
“Om die onafhanklikheid van die regbank en gelykheid voor die reg te handhaaf…
“Om wet en orde te handhaaf…
“Om die geluk en geestelike en stoflike welvaart van almal te bevorder…
“Om die menswaardigheid, lewe, vryheid en eiendom van almal te eerbiedig en te beskerm…
“Om die selfbeskikking van bevolkingsgroepe en volke te eerbiedig, te bevorder en te beskerm…
“Om private inisiatief en effektiewe mededinging te bevorder.
“Bereid is om ons plig te aanvaar om gesamentlik met alle vredeliewende volkere en nasies wêreldvrede te soek.
“Aan die Repuliek van Suid-Afrika ‘n grondwet wil gee wat voorsiening maak vir verkose en verantwoordelike regeringsvorme en wat die beste sal pas by die tradisies, geskiedenis en omstandighede van ons vaderland.”
In die inligtingsuk word dan verder verduidelik:
“Let daarop dat God se soewereine handelinge in die huidige Grondwet erken word. Ons verantwoordelikheid is dus teenoor God. Die eerste nasionale doel is om Christelike waardes te handhaaf.
“Die voorgestelde grondwet het ten doel om alle rasse gelyk te maak en hulle na die laagste gemene deler te herlei en ignoreer God heeltemal.
“Daar kan nie te sterk beklemtoon word dat vryheid en gelykheid mekaar uitsluit nie. As u vry is om u talente vir u eie voordeel te ontwikkel, sal u nie dieselfde rykdom hê as al die ander mense nie omdat u talente, skeppendheid, energie, dryfkrag en doel van ander s’n sal verskil. As dit die nasionale doel van die nuwe Suid-Afrika is om almal gelyk te hou, sal daar geen vryheid wees, dat iemand ánders mag wees nie. Die absolute gelykheid van die grondwet behoort nie met die Bybelse begrip gelykheid voor die reg verwar te word nie.
“Een van die drie bepalings in die ontwerp-grondwet is om Suid-Afrika te herstruktureer. Dit sluit aan by die anti-Godbegrip dat die mens tot ‘n nuwe vlak van ewolusie opgestoot kan word deur sy omgewing te verander. Dit word ook in die verklaarde behoefte ‘om ’n nuwe orde te skep’ aangedui.”
Die behoefte om almal gelyk te hou, om die samelewing te herstruktureer en om ‘n nuwe orde te skep, saam met die verklaring in hoofstuk 1 van die grondwet dat Suid-Afrika een (dit wil sê unitêr teenoor ‘n federale/konfederale) staat moes wees, dui alles daarop dat geweldige mag in die hande van enkelinge moes kom, wat so gebeur het. Dit is ook weer in lyn met die anti-God-wêreldmening.
En so het ons vandag gekom tot ‘n opsigtelike staat van Godloosheid, presies wat destyds beplan is. Ons sien hoe Satan soos ‘n brullende leeu rondloop om te kyk wat hy kan verslind want hy weet sy tyd word kort. Ons sien hoe massas hulle voor hom neerbuig en met oorgawe dien. So het Suid-Afrika as laaste christenvesting, ook voor die anti-God-magte geval. Sal God ons weer begenadig en optel uit hierdie asse van verrotting?