Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE... want die HERE sal nie vir ewig verstoot nie – Klaagliedere 3
OPENBARING – BOEK VAN DIE HEDE (15)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Openbaring - Boek van die hede
Die geopende deur (Deel 1)
Openb.4
1. Die groter eenheid
Openb.4 en 5 vorm ʼn eenheid en dien as ʼn inkleding vir die res van die boek. Openb.4 begin met die tweede groot visioen. Die eerste was Openb.1:9-22 die van die verheerlikte Christus. Openb.4 teken God as Skepper en hoofstuk vyf as die Verlosser. Hy sit op ʼn troon en is in beheer van die geskiedenis. Daarbenewens het Hy mag om te oordeel, wat deur seëls, trompette en bakke uitgebeeld word. Openb.4 en 5 gee aan lesers ʼn besondere blik op God en Christus. Oordeel en verlossing word afgewissel en leer ons een ding – God is besig met die mensegeskiedenis!
2. Die hemelse troonsaal
Die indrukwekkende beskrywing van God se troonsaal in beide hoofstukke staan in teenstelling met die troon van die Romeinse keiser. Dit leer die lesers wat swaarkry wie in werklikheid regeer – slegs God! En slegs die Lam, Jesus Christus, kan verlossing bring. Slegs God is waardig om aanbid te word. Daar is ʼn stryd tussen God en Satan, maar die uitslag is reeds bekend – God is die oorwinnaar. Die toekomsgebeure word deur die troon (God se heerskappy) bepaal.
PAUL KRUGER (5)
'n Lewenskets van President S.J.P. Kruger
Deur D.W. Kruger
Lees reeks by Paul Kruger
Kruger, die Vryheidstryder
Die tydperk van 1877-1881 was ’n keerpunt in die geskiedenis van Suid-Afrika. Dit het begin met die anneksasie van die Suid-Afrikaanse Republiek in April 1877 en ten einde geloop met die Pretoriase Konvensie van Augustus 1881 waardeur die vryheid van die Transvaal herstel is. Daartussen het die lydelike verset en die vryheidstryd van die Transvalers gelê, gebeurtenisse wat ook vir die res van die Afrikanerdom bevrugtend en besielend en van onskatbare betekenis was.
Die suksesvolle weerstand teen die Britse oorheersing was hoofsaaklik die werk van een man, Paul Kruger. Gedurende daardie jare het hy ontwikkel tot ’n diplomaat en staatsman van formaat wat ook ver buite die grense van sy eie land gehuldig is. Dwarsdeur Suid-Afrika het nasionaalvoelende Afrikaners na hom as ’n voorvegter vir hulle regte opgesien. Terwyl die anneksasie van die Transvaal byna met swygende gelatenheid deur die meeste Transvalers aanskou is en daar weinig tekens van verset teen die hooghartige Britse optrede was, het Paul Kruger, vergesel deur dr. E. J. P. Jorissen, voorheen staatsprokureur van die Republiek, na Londen vertrek. As sekretaris van die deputasie het W. Eduard Bok opgetree.
PAUL KRUGER (4)
'n Lewenskets van President S.J.P. Kruger
Deur D.W. Kruger
Lees reeks by Paul Kruger
Kruger, die Politikus
Paul Kruger het wel in sy lewensbeskouing die teenoorgestelde rigting verteenwoordig, maar trou aan die grondwet het hy die nuwe president as wettige staatshoof aanvaar. Hy was ook eerlik genoeg om aan Burgers, by die geleentheid van sy inswering, te sê dat hy hom geopponeer het weens sy godsdienstige opvattinge, maar dat hy hom as ’n goeie republikein aan die keuse van die volk onderwerp. Burgers het dan ook hierdie openhartigheid op prys gestel. Maar Kruger se hart was nie in die saak nie. Hy was as kommandant-generaal nog ’n lid van die regering, maar hy het hom meer en meer aan sy boerdery gewy. In Maart 1873 is hy op eie versoek eervol as kommandant-generaal ontslaan en spoedig daarna het Burgers die Volksraad oorreed om in vredestyd die betrekking op te hef. Vir die eerste keer in dertig jaar het Kruger geen amptelike betrekking beklee nie.
Burgers, ’n opgevoede en vooruitstrewende man, het hoë ideale gekoester. Hy wou die staatsfinansies opknap, die onderwys hervorm en ’n spoorwegverbinding tussen Pretoria en Delagoabaai tot stand bring.
PAUL KRUGER (3)
'n Lewenskets van President S.J.P. Kruger
Deur D.W. Kruger
Lees reeks by Paul Kruger
Kruger, die Krygsman
In sy deelname aan die Transvaalse openbare lewe het Paul Kruger nie alleen in die politiek van die tyd bekendheid verwerf nie, maar ook as krygsman. Die gedurige woelinge onder die swart stamme en die stryd teen die barbaarse inboorlingstamme wat geweier het om die gesag van die jong Boere-republiek te erken, het noodwendig die krygsoffisiere onder die aandag van die publiek gebring. Dit was ook die geval met Paul Kruger wat agtereenvolgens veldkornet, kommandant en kommandant-generaal, die hoogste rang in die krygsdiens, was. Hier was dit egter nie ’n geval van gewone, normale leierskap wat na vore gekom het nie, maar leierskap gepaard met groot persoonlike onverskrokkenheid. Die naam van die jong aanvoerder is op ’n prominente wyse in die volksgeheue ingeprent, selfs baie meer as wat sy politieke bedrywighede dit kon doen. Sy militêre werksaamhede het met tussenposes geduur van 1852 af tot 1867 hoewel hy as kommandant-generaal aangebly het tot 1873.
Die eerste militêre onderneming waaraan Kruger as veldkornet deelgeneem het, was dié teen Sechele, ’n Tswanahoof in Wes- Transvaal.
DIE STRYD DUUR VOORT
Hannes Ollewagen
Génesis 3:1-24
“En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.” (:15)
Wanneer ons die Woord van God noukeurig bestudeer en hierdie eerste belofte wat gemaak is lees, besef ons dat dit steeds vandag op die mensdom van toepassing is. Daar is steeds vandag vyandskap tussen die mens en die sonde (oftewel die satan) en die hartverskeurende werklikheid is dat baie mense die tweede gedeelte van die belofte heeltemal mis lees. “Hý sal jou die kop vermorsel”, wat beteken dat God die mens die mag gegee het om die sonde in sy lewe te oorwin. Ek sê nie dat enige mens by vermoë is om uit homself ‘n heilige lewe te leef waardeur hy die koninkryk van God kan beêrwe nie, allermins! Ek wil u daaraan herinner dat God toe alreeds geweet het dat Hy die Oorwinnaar oor die sonde is en deur ons geloof in Jesus Christus kan ons van die sonde afsien omdat ons uit dankbaarheid en liefde aan Hom gehoorsaam wil wees.
DANKSEGGING NA PINKSTER
Ds Andrè van den Berg
“En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is” - Hand.2:46,47.
Daar is niks so lekker as om iets nuuts aan te pak nie. Mense geniet uitdagings omdat dit die eentonigheid van die alledaagse verloop van sake verbreek en nuwe wêrelde laat oopgaan. Die grootste nuwigheid in menseheugenis het op Pinksterdag 33nC in Jerusalem in aanvang geneem – die totstandkoming van die eerste Christen gemeente. Dit was ʼn omwenteling soos wat die wêreld nooit weer sou beleef nie. Die geskiedenis sou ook nooit weer dieselfde wees nie!
Die nuwe kerk het ʼn breuk in kerkgeledere gebring waarna Christene vyandige vuur vanuit die Joodse kerk op hulle getrek het. Hulle is uit die sinagoges geban, deur die samelewing verguis en later selfs soos Stefanus gedood ter wille van hul nuutgevonde geloof in Christus. Vanuit die staanspoor was dit duidelik dat die Christendom nie vir elke Jan-rap-en- sy-maat bedoel was nie.
DIE WAARDE VAN GESKIEDENIS
E. Van Nantes
"Those who don't know history are destined to repeat it." (Edmund Burke).
Ten einde bogenoemde te illustreer kan verwys word na die klassieke voorbeeld waar Hitler, net soos Napoleon, besluit het om Rusland binne te val en beide invalle presies dieselfde gevolg gehad het. Die Russe het telkens net verder en verder na die binneland teruggeval totdat die winter die invallers onverhoeds betrap en hulle in hul duisende daar in die Russiese sneeu gesterf het.
Die geskiedenis is nie beperk tot slegs groot internasionale gebeurtenisse soos bogenoemde nie. Nasionaal, het die meerderheid volke elk hul eie geskiedenis opgeteken en bygehou sodat dit kan dien as verwysings vir hul nageslagte :
- Die Amerikaanse revolusie (1775-1783) wat tussen 13 Amerikaanse state en die Vereenigde Koninkryk plaasgevind het.
Die rede vir hierdie konflik was daarin geleë dat die patriotte geweier het om belastings, soos deur die Britse parlement opgelê, te betaal. Protes-aksies het vinnig tot boikotte geêskaleer, waarvan die Boston Tea Party bes moontlik die bekendste voorbeeld is. - Die Franse revolusie (1789-1799).
Die primêre redes vir hierdie revolusie was onpopulêre belastingskemas deur die regering ten einde hul inkomste aan te vul, swak landbou-oeste en die algemene misnoë m.b.t. die voorregte wat die adelstand hulself toegeëien het. Die aanval op die Bastille was van die eerste aksies deur die ontevrede landsburgers geloods.
KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
Ons wil so graag 'n Eskom-grappie vertel – maar ons het nie die krag nie...
HET U DIÉ PINKSTER UIT DIE FONTEIN GEPUT?
Ds Andrè van den Berg
“...maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie - Joh.4:14.
In Joh.4 verlaat Jesus die landstreek Judea op pad na Galilea ongeveer 150 km daarvandaan; ʼn reis wat ʼn paar dae sou duur. Daar was twee paaie na Galilea; die korter een naby Jerigo verby en die langer een deur Samaria. Jesus neem die langer een deur Samaria omdat ʼn heidenvrou tot bekering moes kom. Daar was groot onmin tussen die Jode en Samaritane, ʼn volk wat weens verbastering ontstaan en die rasegte Jode al hulle dae gegee het.
Jesus het laat een middag in Samaria aangekom en doodmoeg by ʼn put net buite die dorpie Sigar gerus. Dit was ʼn baie ou put wat volgens oorlewering deur Jakob 1,500 jaar gelede daar gegrawe is. Omdat Jesus baie moeg was, het Hy die dissipels na die dorp gestuur om kos te gaan koop. Ja, wegneemetes is niks nuut nie. Gelukkig was Sigar Fast Foods nog oop toe die dissipels daar kom!
PINKSTER 2015 (6)
Die Onse Vader
Ds Andrè van den Berg
Mt.6:9-13
6 . “En vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe” (:12)
Christene verlang na 'n heilige lewe. Desondanks is baie van hulle versigtig vir die woord heilig weens 'n algemene misverstand oor wat dit beteken. Die Bybel is oor een ding baie duidelik– alle wedergeborenes is heilig. Let op aan wie die meeste van die skrywers van die NT briewe, hulle briewe rig – aan die heiliges.
Wanneer ons die woord heilig hoor, dink ons aan al ons tekortkominge en sondigheid en diskwalifiseer ons onsself. “Hoe kan die Here my as heilig beskou, terwyl ek eintlik so onheilig is?” Was die gelowiges in die NT dalk 'n geestelike trappie hoër as ons en meer volmaak? Nee, let op die gelowiges in Korinthe. Al was daar redelik chaos in die gemeente weens ʼn wanbegrip oor die Heilige Gees, word hulle nogtans as heiliges aangespreek.
Die Grieks vir heilig is hagios en beteken nie om volmaak te wees nie, maar opsygesit of eenkant geplaas. Dis waarom God self die Heilige is, omdat Hy van alle sonde, onreg en onreinheid afgesonder is. Die rede waarom alle gelowiges ook in beginsel heilig is en heiliges genoem word, is omdat God hulle as beklee met Jesus sien.
PINKSTER 2015 (5)
Die Onse Vader
Ds Andrè van den Berg
Mt.6:9-13
5. “ Gee ons vandag ons daaglikse brood”
'n Christen is iemand wat aardse dinge geestelik benader d.w.s. vanuit die geloof. Ons vind dit in die woorde van die teks: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Met hierdie brood word nie letterlik brood bedoel nie, maar die algemene daaglikse fisiese behoeftes van elke mens. Daar is mense wat meen dat ons die Here nie met ons fisiese behoeftes lastig moet val nie en dat met hierdie brood in die modelgebed iets geesteliks bedoel word - dat Christus self die brood is. Hierdie bede beteken: ” Laat Christus elke dag met ons wees” . Dan is daar ook mense wat hierdie bede oorbodig ag omdat hulle genoeg geld het om dit wat hulle benodig te kan koop.
Beide sieninge is verkeerd. Eerstens verdeel die Bybel ons lewens nie in twee kompartemente op asof daar 'n fisiese en 'n geestelike kompartement is en dat God slegs by die geestelike kompartement betrokke is nie. Nee, God sien ons lewe as 'n eenheid en dat alle gelowiges vir hul daaglikse behoeftes moet bid ongeag hul inkomste of lewensomstandighede.
DEMOKRASIE
E. Van Nantes
" Diegene wie oor ‘n redelike opvoedingspeil beskik en des nieteenstaande steeds die lof van demokrasie in Afrika en ander Derde-wêreldse lande besing, moet όf aan ‘n enorme skuldkompleks όf die Stockolm sindroom ly."
Wikipedia definieer “demokrasie” as die “regering deur die mense”. Die “mense” gee dus ‘n mandaat aan die regering om namens hulle te regeer.
Sou die volgende aanhaling, in terme van bogenoemde definisie, dan beskou kan word as ‘n voorbeeld van demokrasie in werking?
Mar 15:8 “En die skare het geskreeu en begin vra dat hy vir hulle sou doen soos altyd.
Mar 15:9 Toe antwoord Pilatus en sê vir hulle: Wil julle hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat?
Mar 15:10 Want hy het geweet dat die owerpriesters Hom uit nydigheid oorgelewer het.
Mar 15:11 Maar die owerpriesters het die skare aangehits dat hy liewer Barábbas vir hulle moes loslaat.
Mar 15:12 Toe antwoord Pilatus weer en sê vir hulle: Wat wil julle dan hê moet ek doen met Hom wat julle Koning van die Jode noem?
Mar 15:13 En hulle skreeu weer: Kruisig Hom!
PINKSTER 2015 (4)
Die Onse Vader
Ds Andrè van den Berg
Mt 6:9-13
4. “Laat U wil geskied”
In hierdie Pinksterreeks is ons besig om die Onse Vader gebed uit 'n ander hoek te bekyk, naamlik meer as 'n soort geloofsidentifikasie-dokument. In hierdie gebed sien ons ses eienskappe bv. iemand wat God die Vader as sy Vader leer ken en begeer dat Hy in sy/haar lewe geheilig sal word. Daarna is daar die verlange dat die koninkryk van God op aarde groter sal word. Dit is die eerste drie kenmerke van 'n wedergebore mens soos ook in die eerste drie bedes van die Onse Vader gesien kan word.
Ons kom by die vierde kenmerk: gelowiges is mense wat ʼn behoefte het dat alleenlik God se wil sal geskied. Hierdie bede is ongetwyfeld die moeilikste bede in die modelgebed want ons sondige natuur wil eerder bid dat ons wil sal geskied! En nou weet ons uit ondervinding dat die resultaat daarvan alles behalwe aangenaam is - frustrasie, onvrede, ongelukkigheid en verwydering.
KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
My liewe moeder het my waarlik vir die lewe toegerus met alles wat sy my geleer het.
- Sy het my van logiska geleer : "Want ek sê so, dis hoekom!"
- Sy het my van godsdiens geleer: "Jy beter bid dat die kol uit die mat uitkom!"
- Sy het my van ironie geleer: "Hou aan lag en ek gee jou iets om oor te huil!"
- Sy het my van uithouvermoë geleer: "Jy sal net daar bly sit tot al jou spinasie klaar is!"
- Sy het my oor die wetenskap van osmose geleer: "Maak jou mond toe en eet jou kos."
- Sy het my van die lewenskringloop geleer: "Ek het jou in hierdie wêreld ingebring, ek kan jou weer daar uithaal!"
- Sy het my geleer om in tyd te reis: "As jy nie nou opruim nie, slaat ek jou tot in volgende week!"
- Sy het my geleer om werk wat goed gedoen is te waardeer: "As julle mekaar doodmaak, doen dit buite - ek het nou net klaar skoongemaak!"
PAUL KRUGER (2)
'n Lewenskets van President S.J.P. Kruger
Deur D.W. Kruger
Lees reeks by Paul Kruger
Paul Kruger, die Voortrekker
Paul Kruger se vernaamste indruk gedurende die trek na die onbekende binneland was nie soseer die nuwe landskap en die wildrykdom wat hy teengekom het nie, maar die gewelddadige botsing met die agressiewe, militêrafgerigte swart stamme van die binneland. Voordat daardie gevaar uit die weggeruim was, kon daar geen sprake van vreedsame nedersetting in die nuwe vaderland wees nie. Die Voortrekkers het geen direkte aanleiding tot die botsing gegee nie en die eerste aanval op hulle laers was geheel en al onuitgelok.
Die jong seun het die stryd van die begin af meegemaak. Hy was oog- en oorgetuie van Silkaats se aanslag op die laer by Vegkop in Oktober 1836. Dit was sy eerste vuurdoop en tot sy oudag kon hy hom die toneel van rammelende skildvelle, die geskreeu van die aanvallers en die gedreun van die geweerskote nog helder voor die gees roep. Soos die ander nie-weerbare seuns het hy gehelp om gewere te laai en aan te gee.
Dit was slegs die begin van veel erger tonele.
PINKSTER 2015 (3)
Die Onse Vader
Ds Andrè van den Berg
Mt.6:9-13
3. "...laat u koninkryk kom"
Ons het in die vorige twee gedeeltes gesien dat gelowiges mense is wat God as hemelse Vader leer ken en gevolglik 'n begeerte het dat sy Naam eerbiedig gebruik word. Nou blaai ons om na die derde bladsy van die ID-boekie met die kenmerk: Die gelowige begeer dat God se koninkryk sal uitbrei. Vir gelowiges is dit vanselfsprekend, maar nie vir ongelowiges nie omdat hulle lewe hoofsaaklik om die eie ek draai. Oral waar die behoefte ontstaan dat God se belange eerste gestel moet word, getuig dit van ʼn ommekeer in so ʼn mens se lewe. Die eie ek is dood en die Heilige Gees heers in so ʼn mens se lewe.
n Gelowige is inderdaad 'n nuwe skepsel (2 Kor.5:17) en in ʼn hemelse greep; iets om oor opgewonde te wees – sy hele lewe staan in die teken van die greep van Christus op hom! Maar, wat is hierdie koninkryk waarvoor gelowiges hul beywer? Dis al so 'n holruggeryde woord dat ons die wonderlike betekenis daarvan maklik kan misloop. Dit beteken die erkenning van 'n oppermagtige God wat heerskappy uitoefen – kom wat wil! En waar oefen Hy sy heerskappy uit? In die hemel en op aarde.
HERSTEL ONS, O HEER!
Hannes Ollewagen
Psalm 80:1-20
“O HERE, God van die leërskare, herstel ons; laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!” (:20).
Ons leef in ‘n samelewing waar baie min dinge funksioneer soos wat dit veronderstel is om te doen. Presies soos wat die Bybel ons leer dat dit met ‘n goddelose samelewing sal toegaan omdat die land van bo (staatkundig) sal vrot na onder. Dit het dalk vir ‘n paar jaar gelyk asof die nuwe, goddelose, Suid-Afrika nie so erg is as wat aanvanklik deur die sogenaamde dwarstrekkers gewaarsku is nie. Hierdie illusie was natuurlik van korte duur en noudat die samelewing in Suid-Afrika as ‘n geheel vrot raak weens sy afvalligheid en vervreemding van God, is mense heeltemal verward en raak selfs beangs oor dit wat aan die gang is in ons land.
Die gevolge van mense se roekelose en goddelose lewens het nou ons eens trotse Suid-Afrika in ‘n modderpoel van sedeloosheid en morele verval laat beland.
Die arbeidsmag verkondig gelyke vergoeding vir almal maar 'n groot deel lewer geen insette nie. Hierdie is ‘n praktyk lynreg in stryd met die Evangelie en sal noodwendig armoede en ellende tot gevolg hê.
PINKSTER 2015 (2)
Die Onse Vader
Ds Andrè van den Berg
Mt.6:9-13
2. “Laat u Naam geheilig word”
Ons het gesien dat die Onse Vader, alhoewel dit 'n gebed is, ook vanuit 'n ander hoek bekyk kan word - soos na 'n ID-boekie wat iets van die bidder sê. En dis wat ons hierdie Pinkster doen: Ons blaai deur die Onse-Vader-ID-boekie se ses blaaie om op die ses eienskappe van ʼn gelowige te let.
Gister het ons bladsy een onder oë geneem en gesien dat 'n gelowige iemand is wat God die Vader as hemelse Vader ken. Vandag blaai ons om na bladsy twee en leer wat dit beteken om God se Naam te heilig. Dit staan, om die waarheid te sê, op elke bladsy voorop want in hierdie gebed gaan dit primêr oor God en nie onsself nie. Die heiliging van God se Naam vorm deel van ʼn Christen se identiteit as Christen.
Die Naam van God is nie bloot ʼn naam soos wat ons aan naam dink nie. In die Bybelse tyd het 'n naam ʼn persoon beskryf. Sy naam was hyself.
PAUL KRUGER (1)
'n Lewenskets van President S.J.P. Kruger
Deur D.W. Kruger
Lees reeks by Paul Kruger
Herkoms en Jeugjare
Die dorp Sadenbeck lê langs die grootpad na Rostock omtrent 135 kilometer van die ou Pruisiese hoofstad Berlyn. Dit is ’n boeredorp op ’n groot sanderige gelykte, suid van ’n meer opwindende landskap wat deur woude en mere onderbreek word. In hierdie grensgebied wat hom tot aan Mecklenburg uitstrek, kweek die boere aartappels en suikerbeet en verder hou hulle varke en melkkoeie aan om in hulle eie onderhoud te voorsien.
Daar het die familie Kröger sedert jare gewoon en gewerk. Soos die naam aandui, was hulle bekermakers, waarskynlik silwersmede van herkoms. Die langdurige oorloë waaraan die markgrawe en keurvorste van Brandenburg deelgeneem het, het ’n gevoel van onveiligheid laat posvat en soms armoede en ontbering meegebring. Die boerderye was buitendien klein en geld om grond te koop, was daar nie. Vir die seuns was die vooruitsigte nie rooskleurig nie en die wat kon, het uit die ouerhuis padgegee en ’n heenkome elders gesoek.
SATANISME – 'N REALITEIT (8)
Kobus Jonker
Lees reeks by Satanisme
WAT IS DEMONE?
Die woord 'demoon' kom oorspronklik van die Griekse 'daiman' wat 'n 'bose gees' beteken. Op sy beurt het daiman sy oorsprong van 'n wortel wat 'skaduwee' beteken. Demone is persoonlikhede wat boos en haatlik is, en daarop uit is om te vernietig. Demone is geeste sonder liggame om in te woon. Ons is geeste met liggaame. Ons gees wat in ons woon is van God. Demoniese geeste is van die duiwel. Demone word in die Bybel gemeld as gevalle engele wie Satan uit die hemel gevolg het na die aarde. Hulle swerf deur die wêreld en soek 'n liggaam waar hulle kan ingaan en uitdrukking aan hulle bose werke gee (Mat 12:43).
Die skrywer Whyte, waarsku soos volg oor die gevaar wanneer daar met die okkult geêksperimenteer word: "...any playful experimentation with ouija boards, card playing, fortune telling, reading horoscopes, or the more obviously sinful practices of Yoga, hypnotism, or spiritist seances, will almost certainly expose a person to demon oppression."
Hierdie waarskuwing geld ook beslis waar satanisme beoefen word. Ouers moet juis in hierdie eeu hulle kinders gereeld in gebed aan God opdra en die bloed van Jesus oor hulle pleit vir die nodige beskerming teen die demoniese invloede.