Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In ons land sedert 1994 het ons geleer hoe lyk goeie sekuriteitsheinings om ons huise om misdadigers uit te hou, maar ons kan nie heeltyd daarbinne bly nie. God se evangelie werk ook so: dit beskerm ons terwyl ons daarbinne bly maar Hy wil hê ons moet dit uitdra, nie vir onsself hou nie.
WIE IS DIE SKULDIGES (27)
Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
GENL. MULLER, KOMDT. HERMAN FOURIE EN JOPIE
"Die opinie van die mense van my kommando was algemeen: die Afrikaners sal nie met ons veg nie, en ook dat Botha en Smuts dieselfde ding sou doen (naamlik die onafhanklikheid uitroep). Ek kon ook nie glo dat hulle teen ons sou gaan nie. Genl. Muller het dieselfde gedagte gehad.”
Hierdie WOORDE is deur my opgeteken uit die mond van 'n merkwaardige man, kort na hy uit die tronkkospitaal ontslaan en in ‘n sel opgesluit is. Hy was in die rebellie swaar gewond. Dis ds. Herman C. M. Fourie, predikant van die Hervormde Kerk, later van 1921 af, doktor in die teologie, een van die vertalers van die Bybel in Afrikaans, 'n groot kenner van die swarttale, van geskiedenis en kultuur; ’n man van besondere begaafdheid en kennis maar boweal 'n dapper patriot. Hy was as jong seun ‘n leerling van die Staatsgimnasium in Pretoria en is vroeg al na Holland, waar hy as gimnasiumleerling sy voorbereidende studie in die teologie voortgesit het. Toe die Driejarige Oorlog uitbreek is hy as17 jarige onmiddellik terug na sy Vaderland en het as een van die penkoppe by die kommando van sy vader, generaal Joackim C. Fourie van Carolina, aangesluit. Sy een broer (C. E. Fourie) het by Dundee gesneuwel, en sy vader het later gesneuwel.
DIE ANTICHRIS...
... EN DIE GROOT VERDRUKKING
Ds Andrè van den Berg
Matt.24:15-28
Het jy al gewonder wat op die laaste dag op die aarde gaan gebeur? Die Gelykenis van die Talente vertel dat dié dag met ʼn oordeel gepaard sal gaan en Jesus as die Regter sal optree. Maar hoe gaan ons weet dat die einde naby is? Alhoewel ons nie die dag of datum van die wederkoms weet nie, laat God ons nie onkundig nie, maar gee vir ons sekere duidelike tekens, wat, as dit gebeur, ons moet weet dat die tyd baie naby is.
Een hiervan is die verskyning van die Antichris wat die tydperk wat as die groot verdrukking bekend staan, inlei. Wie is die Antichris? Is dit ʼn aanduibare persoon soos bv. die pous soos wat Luther gemeen het of dit ʼn bose ideologie? Daar word baie oor hierdie vraag gespekuleer.
Wat sê die Bybel? Paulus skryf aan die Tessalonisense om nie oor die wederkoms kop te verloor nie. Daar moet eers ʼn paar dinge plaasvind alvorens dié dag aanbreek. Die Antichris moet eers verskyn. Wie dit gaan wees?
Niemand weet nie maar Paulus sê dat hy in die tempel gaan optree en voorgee om God te wees. Hy gaan mense dus verlei om hom te volg; feitlik ʼn herhaling van die verhaal van Eva en die slang in die tuin van Eden. Die ergste is dat mense sal glo dat hulle die regte ding doen! Dit wil lyk asof die Antichris ʼn kerklike agtergrond gaan gebruik om mense van die waarheid afvallig te maak.
IS SNOEI IN MY LEWE NODIG?
Hannes Ollewagen
Matt. 7:1-29
“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”
Ons het al soveel maal die vraag geopper of u maar net van Jesus Christus weet en of u Hom waarlik ken en waarlik ‘n verhouding met Hom het. Die rede waarom hierdie vraag so baie na vore kom, is omdat dit die deurslag sal gee na u ingang in die Koninkryk van God en of u dalk beskaamd daaroor gaan staan.
Christus leer ons in hierdie gedeelte dat daar soveel mense is wat hulle met godsdienstige dinge besig hou, maar in die proses steeds nie gered is nie, omdat hulle Hom nie waarlik ken nie. Hierdie godsdienstigheid sal hulle nie toegang verleen tot sy Koninkryk nie, want Hy alleen is die Weg na ewige saligheid en deur Hom alleen word toegang tot die Koninkryk verleen.
JY'T NET EEN LEWE...
...LEEF DIT REG!
Ds Andrè van den Berg
“ ʼn Psalm van Dawid. HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen...” - Ps.15:1,2
Om jou goed van ʼn taak te kwyt, moet jy reg te werk gaan. Elke taak het ʼn opdrag en ʼn resultaat. Hoe goed die opdrag uitgevoer word, bepaal dan ook die eindresultaat. Niemand kry geseënde resultate van verkeerde optredes nie.
Dis ook in geestelike sin waar. Die Bybel roep sondaars op om die regte dinge te doen omdat daar vir elke mens ʼn dag van rekenskap kom: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10).
Ons het net een lewe om in reg te leef. Daar is nie ʼn tweede kans indien ons sou verbrou nie. Ons kan baie ander foute in die lewe herstel, maar nie die lewe self nie. Daarvoor kry ons net een kans. As dit verby is, is dit verby!
Een van ons gevierde digters het gesê: “Met die water wat verby is, sal jou meul nooit weer maal nie en uit die assies van jou vuurherd sal jy geen gloed meer haal nie”. Ons is uurglas mense. Nie een van ons weet hoeveel sandkorrels daar in ons glas oor is nie.
KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
Die een kannibaal sê vir sy vriend:
"Ek hou nie van jou skoonma nie".
Sy vriend kyk hom simpatiek aan en sê:
"Ag wat, eet dan maar net jou tjippies."
OUERS VIR CHRISTUS
Ds Andrè van den Berg
Ons leef in ‘n wêreld met baie probleme. Die meeste daarvan is verhoudingsprobleme wat ontstaan omdat mense verkeerd teenoor mekaar optree. Die grootste daarvan is verbrokkelende gesinslewe. En ek praat nie van familietwiste en egskeidings nie, maar van die verwaarlosing van kinderopvoeding – dan gee 'n volk se ruggraat in.
Die huisgesin is die kleinste sosiale kring met die grootste uitwerking op die samelewing. As dinge hier skeefloop, kring dit na al die ander lewensinstansies uit: die skool, kerk en gemeenskap.
‘n Mens sien dikwels op TV hoe advertensies in trurat afspeel. Dit begin bv. by ‘n varsgebakte koek wat voorgesit word. Dan begin die advertensie agteruitbeweeg om by die eintlike geheim van die lekker koek uit te kom totdat dit eindig met die vrou wat ‘n sekere soort koekmeel, bakpoeier of botter gebruik. Wat die adverteerders daarmee wil sê, is dat die sukses van die koek aan daardie spesifieke bestanddeel te danke is.
WIE IS DIE SKULDIGES (26)
Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
NA DIE MOOT - BEYERS WORD VERMOOR
"Die doodstraf op behoudende burgers is vryelik toegepas! En dan nog die bykomende onwetlike wetgewing: 'die vonnisse van enige hof wat die krygswet op burgers toepas, sal nie onderwerp wees aan die reg van appel nie' (maar aan die beslissing van Smuts en Botha). Daardie vonnisse is dus finaal en onherroeplik – hier is dus gedoen soos Smuts en Botha self besluit het, geen grondwetlikheid is geag nie. Kennisgewing 1726 is op 21 Oktober verder verskerp. Twee dae later is ‘n staat van beleg in Pretoria-dorp afgekondig. Die inwoners is baie beperk in hulle bewegingsvryheid. Onder sekere omstandighede moes hulle passe dra; ná elfuur die aand mog huIIe nie hulle woning verlaat voor die volgende môre nie. HuIIe mog geen vergaderings hou nie; en om Pretoria binne te kom of daaruit te gaan was skerp beperk. Op 23 Oktober is verder afgekondig dat alle persone onder die krygswet gearresteer, nie die voorregte sal geniet wat ander gevangenes in afwagting van vonnis het nie. HuIIe mag bv. geen kos of klere ontvang nie, nie rook nie en geen koerante lees nie. Besoekers is alleen geoorloof 'onder zeer buitengewone omstandigheden en onderworpen aan spesiale beperkingen.' Die wreedheid van hierdie regulasie en van die gees waarin dit toegepas is, kan beswaarlik besef word, tensy dit persoonlik ondergaan is, soos deur Skrywer."
Toe genl. Beyers op 14 Oktober vir die tweede en Iaaste keer genl. Botha ontmoet, was hy nie meer op sy plaas nie, ook nie in Pretoria nie, maar die gas van mnr. Frikkie C. Eloff, drie myl anderkant die hoofstad in wat nou Capital Park genoem word. Sy vriende het hom oortuig dat hy in sy eie woning nie meer veilig was nie en dat sy Iewe te kosbaar was vir die volk om aan die voortdurende bedreiging van sluipmoord blootgestel te word.
GOD SE WEG, OF MYNE?
Hannes Ollewagen
Jona 1:1-17
'n Vorige boodskap het gehandel oor die lewe van ‘n wedergebore kind van God en of ek God waarlik ken of dalk maar net van sy bestaan bewus is. Die vraag wat hier na vore gekom het, was of ek my eie sondige mens afgesterf het om plek te maak vir die mens wat onder Christus se gesag in sy lewe staan om met Hom te wandel. Is Hy m.a.w. die Een wat die rigting van my lewe bepaal?
Ons lees in vers 2 van die gelese gedeelte hoedat God vir Jona ‘n uitdruklike opdrag met die nodige aanwysings gee waarlangs Hy hom wil stuur. Ons lees egter in die volgende vers hoe Jona doelbewus kies om sy eie koers in te slaan, en nié die pad wat God vir Hom aangewys het nie. Dit is vir ons as gelowiges (wat bekend is met die hele vertelling van Jona) baie maklik om in retrospek te reken dat Jona baie dwaas opgetree het. Ons kan Jona selfs veroordeel as ‘n selfsugtige persoon weens die feit dat hy soveel ander mense se lewens met sy roekelose optrede in gevaar gestel het.
WIE IS DIE SKULDIGES (25)
Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
DIE TWEEDE EN BESLISSENDE GESPREK (2)
Die tweede onderhoud tussen genls. Botha en Beyers het dus plaasgevind baie kort na die vertrek van die deputasie uit die Eerste Minister se kantoor. Mev. Beyers skryf die volgende:
"Op 14 Oktober laat vra genl. Botha weer om Krisjan te sien. Onderwyl het mnr. en mev. Frikkie Eloff hom gasvryheid aangebied en Pieter moes eers die brief geheimlik daarheen stuur. Weer dieselfde versoek, maar nou soebat Generaal Botha met trane, en ek kan my voorstel hoe bedroefd dog nukkerig Krisjan toe was. Krisjan spreek weer sy ontevredenheid uit oor die 'Ever Since’ ( Bekendmaking of Manifest).
"Genl Beyers kla dat sy lewe nie veilig is as gevolg van die opruiende artikels in die koerante nie en oor al die dreigemente wat hy ontvang. En so ver as Koen Brits betref, (Brits het die bevel van Maritz in Upington oorgeneem) vertel hy dat hy Maritz gaan vang en as hy terugkom moet Beyers dood.
"Dit, het Generaal Botha gemeen, moes Krisjan tog nie so ernstig opneem nie. 'Steur jou tog nie aan die ou dronklap (Brits) nie’. Hy (Botha) het glo ook self dreigemente ontvang. — Maar genl. Botha het vergeet dat hy dadelik ’n Iyfwag van 50 soldate om hom en sy huis geplaas het...
"Generaal Botha verseker Krisjan, hy sou van regeringskant geen kwaad wedervaar nie. Krisjan aan die anderkant het probeer om Generaal Botha te oortuig, dat as hy die vrywilligers se kommandering sou kanselleer soos hy gevra het, die Volk dadelik sou bedaar, en dan kon hyself na Maritz gaan.
"Gen Botha: 'Ag man, ek het 7,000 man gevra en maar 2,500 het hulself bereid gestel. Wat kan ek met 2,500 man teen 6,000 Duitsers?’
"Krisjan herhaal aan genl. Botha dat hy gedoen het wat hy kon om die Regering terug te hou, en huI wou daar geen notisie van neem nie. Hy kon nou niks meer doen nie, hulle het hom ook nie nodig nie. Dit was in die mag van die Regering om dinge self reg te maak.
"Die laaste pleidooi van Generaal Botha was: 'Krisjan, as jy dit vir my doen, herstel ek jou as kommandant-generaal’. En die antwoord was: 'Louis, ek het geweet wat ek doen toe ek bedank het, en omstandighede het nog nie verander nie. Ek het julle gewaarsku, dat julle groot moeilikhede sal veroorsaak, en om hieroor te praat, hoef jy my nie weer te Iaat roep nie’.
"Toe die Generaal (Botha) sien dat Krisjan absoluut beslis was om nie aan sy smeking gehoor te gee nie, wou hy hê dat Krisjan ‘n brief aan die koerante moes skrywe en Maritz se optrede veroordeel. 'En ook om jou naam skoon te maak’ ( 'n Mooi Iokaas!)
SATANISME – 'N REALITEIT (10)
Kobus Jonker
Lees reeks by Satanisme
Satanisme – die ontstaan en groei (2)
Die vyf grade van lidmaatskap in die Kerk van Satan lyk soos volg:
- Satanis (geregistreerde lid van die Kerk)
- Warlock (manlik) Heks (vroulik)
- Priester of Priesteres van Mendes
- Magister (manlik) Magistra (vroulik)
- Magus (titel beklee deur La Vey)
La Vey se filosofie is in die sataniese bybel saamgevat waarin hy baie stellings maak. Hier is 'n paar daarvan:
- Die mens is volgens sy instinkte 'n roofdier, aangedryf deur sy luste en seksuele begeertes.
- Liefde is sinloos – dit sal jou aan die genade van ander uitlewer.
- Satanisme verteenwoordig 'n vorm van beheerde selfsugtigheid.
- Seksuele vryheid is die vryheid om getrou aan een mens te wees, of jou seksuele drange uit te leef met so veel ander as wat jy meen nodig is om jou behoeftes te bevredig.
La Vey ontken dat die hemel en die hel bestaan en sê openlik dat die kerkleer aangaan die hel en die duiwel vals is. Hy verwerp ook die Christelike opvatting dat daar lewe na die dood is.
GOD SE LIEFDESBRIEF AAN JOU
Ds Andrè van den Berg
“Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudigste verstandig” - Ps.119:130
Het jy al ʼn Bybel in ʼn vreemde taal onder oë gehad? Ek glo die meeste van ons het. Gestel dit was jou enigste Bybel; sou jy geestelik groei? Nee, jy sou maar in die duisternis wees. Tereg sê die teks: “Die opening van U woorde gee lig;...” Om die Bybel in eie taal te hê, is onontbeerlik vir geestelike groei.
Luister wat sê die aanwesiges in die tempel toe die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort is: “en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek dan nie Galileërs nie? En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? - ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek” (Hand.2:7,8, 11).
Ons voorsate het vir eeue slegs die Nederlandse Statevertaling of King James Bybel gehad. Daar was nie ʼn Afrikaanse Bybel nie omdat Afrikaans as ʼn kombuistaal beskou is. Selfs skoolonderrig, prediking en kategese was alles in Nederlands. Mense het Afrikaans gepraat, maar Nederlands geskryf.
LEEF EK MET CHRISTUS?
Hannes Ollewagen
Titus 2:11-3:11
“Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het – nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser; sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.” (:4-7).
Ons leef in ‘n samelewing waarin mense amper verleer het om verantwoordelikheid vir hul eie optrede te aanvaar. Mense sal verskonings en verwyte uitdink oor waarom hulle in slegte omstandighede verkeer, maar weinig sal erken dat dit as gevolg van hul eie optrede en besluite is. Dit is makliker om die verskoning van moeilike kinderomstandighede te gebruik om ‘n lewe van verslawing te probeer regverdig as wat dit is om daarteen te veg en die mag van die bose te oorwin.
WIE IS DIE SKULDIGES (24)
Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
HOE DIE BOM GEBARS HET
"Die Engelse het die manier om in 'n 'voormalige' vyand, wat hulle tot 'n vriend wil maak, allerhande deugde te erken of te ontdek. Genl. Botha se bekwaamheid as krygsman word geëer deur hom in 1911 te verhef tot ere-generaal van die Engelse leër, 'n heel besondere onderskeiding vir 'n Engelsman maar 'n totale skande vir 'n Boer! Hierdie toekenning was tot toe alleen aan lede van die Koninklike Familie toegeken en tot lid van Sy Majesteit se Geheime Raad (P.C.) "
Maandagmore, 12 Oktober 1914, het die regering die nuus omtrent Maritz se "gruwelike verraad” wyd en syd en met al die uitgebreide middele tot huIIe beskikking versprei deur die pers, die telegrafiese dienste aan magistrate en krygsoffisiere. Met so ‘n ywer het huIIe dit gedoen dat huIIe die indruk gewek het dat dit goed is dat Maritz nou kant gekies het. Die skilpad het sy kop uitgesteek. Die bom het gebars. ‘n Groot verligting. Nou kan die regering optree.
Die offisiële mededeling wat met soveel nougesetheid onder die gretige aandag van elke lid van die publiek gebring is, was die "Bekendmaking of Manifest”, wat ‘n vermenging van korrekte en valse voorstellings is: dit eindig met 'n skrikwekkende bedreiging. Almal het dit gelees en herlees, en in 1924 het Manie Maritz en skrywer dit (na sy terugkeer uit ballingskap) weer van vooraf bestudeer.
WAAROM VERHOOR GOD NIE ALLE GEBEDE NIE?
Ds Andrè van den Berg
“Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid…” (Jak. 4:3)
Gebed is ʼn voorreg wat God slegs vir die mens bestem het omdat die mens na God se beeld en gelykenis gemaak is. Hierdie Bybelse uitdrukking beteken egter nie dat ons soos God lyk nie want die Bybel leer ons dat God Gees is. Om na die beeld van God geskape te wees, beteken dat God vir Hom in die mens ʼn gespreksgenoot geskape het. Dink daaraan dat die mens die enigste van God se skeppings is wat met Hom kan praat. Daarom is dit vir elke mens ʼn hemelse voorreg om met sy Skepper te praat. Elke gebed is soos ʼn hek wat na die hemel oopgemaak word!
Soos wat die maan ʼn beduidende invloed op seegetye het, beïnvloed gebed ons geestelike lewe. Hoe sterker ons gebedslewe is, hoe hoër is ons geestelike gety. Die teenoorgestelde is egter ook waar. Hoe minder ons bid, hoe swakker is ons geestelike lewe.
Mense besef nie altyd die krag van gebed nie.
ONS KINDERS IS KOSBAAR
Ds Andrè van den Berg
“En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” - Efes.6:4
In Efes.6 aanvaar Paulus dat daar kinders in die gemeente is. Kinders is ʼn gawe van God: “Kyk, seuns is ʼn erfdeel van die Here; die vrug van die moederskoot is ʼn beloning. Soos pyle in die hand van ʼn held, so is die seuns van die jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het! (Ps.127:3,5).
Daarom begin Paulus hoofstuk ses met: “Kinders, julle moet julle ouers gehoorsaam wees, in die Here...” (6:1) Die woorde in die Here sê dat kinders van vroegs as moet weet dat dit goed is om in God se weë te wandel. “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord” (Ps.119:9).
Die doel van opvoeding is om eerbare, Godvresende kinders te kweek. Sulke kinders is juwele in sy koninkryk en ʼn sieraad vir elke gemeenskap.
BLY GETROU
Hannes Ollewagen
Spreuke 3:1-33
“Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart,” (:3)
Ons kyk vandag na ‘n eienskap wat nog by baie min mense in ons moderne samelewing te bespeur is, maar wat ontsettend welbehaaglik is voor God se Aangesig. Die eienskap waarna ons gaan kyk, loop hand-aan-hand met liefde – wel, met opregte liefde. Hierdie eienskap is om getrou te wees en trou te bly.
Dit is nie alleen die Woord van God nie, maar ook die hele geskiedenis van die aarde wat getuig van die getrouheid van God. Ons dink byvoorbeeld daaraan dat God in trou elke dag die daeraad ontbied ten spyte van die wêreldbewoners se Goddelose lewenswandel. Ons onthou hoedat God duisende jare gelede vir Abraham beloof het om sy nageslag te maak soos die sterre van die hemel en die sand wat aan die seestrand is en ons huidige geslag kan getuig van sy trou in hierdie verband.
WIE IS DIE SKULDIGES (23)
Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
Die skandale op Krugerdag in die Operagebou te Pretoria
"Daar het boere van hulle plase gekom vir die gedenkdag; onder hulle was Jopie Fourie, wat op Wildebeesthoek gewoon het, daar anderkant Hornsnek, 'n uur of drie te perd vanaf Pretoria. Hy was 'n sterk man, bekend ook om sy moed gedurende die Driejarige Oorlog, kruppel geskiet deur die vyand en as gewonde mishandel deur die bevelvoerende offisier en later vermoor omdat Smuts soos 'n lafaard gevlug het toe daar vir Jopie se lewe genade gevra word. Jopie en ander sou, indien nodig, die orde in die saal wel kon handhaaf.... ‘n Minuut later staan Jopie Fourie voor ‘n man, wat agter die ballustrade sit met ‘n kassie eiers op sy skoot. Jopie vra: 'Is dit jou hoendereiers?' Die antwoord kom: 'Yes, have a few'. Jopie vat die hele kassie en druk dit met sy breekbare en ongeurige inhoud omgekeerd, soos 'n hoed, op die eierman se kop. Dit Iaat almal, vir hom padgee, ook die eierman se vriende. Toe begin Jopie en sy manne hulle vuiste gebruik. Jy sien net mense vlug. 'n Paar tuimel oor die ballustrade, en beland op die vloer van die saal. Jopie-hulle het aangehou tot die galery 'skoon' was en die leier van die oproermakers (die hoof van die British League) skoonveld."
Die bekende skandale in Pretoria was op die aand van dieselfde dag dat Manie Maritz op Van Rooisvlei vir Ben Bouwer as afgevaardigde van genl. Smuts ontmoet het, (dus die oomblik dat die Maritz-rebellie op die uitbreekpunt gekom het)
Hierdie voorval het 'n groot uitwerking gehad. Die pers is, onder bedreiging met die swaarste strawwe, deur die polisie verbied om ‘n woord daaroor te berig. Maar om historiese redes is dit egter wenslik om ‘n volledige verslag vir die nageslag te bewaar.
HY IS MY HULP
BEPROEWING
Ds AE van den Berg
“...en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ’n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak” - Ps.40:3
Was jy al ooit in ’n situasie wat vir jou soos ’n doodloopstraat gevoel het met geen hoop op uitkoms of iemand wat tot jou redding kon kom nie? Miskien iets waarin jy onskuldig beland het en buite jou beheer soos Josef wat as slaaf verkoop is. Miskien iets wat jou eie skuld is - jy het jou doodloopstraat gebou!
Koning Dawid was in ’n doodloopstraat toe hy Ps.40 geskryf het: “Want onheile sonder getal het my omring; my ongeregtighede, ek kan nie sien nie; hulle is meer as die hare van my hoof” (:13). Hy noem sy nare ervaring 'n kuil van vernietiging – ’n put van die dood. Dit was ’n bekende uitdrukking in die OT vir ’n plek van mens-en-God verlatenheid; ’n plek waaruit jy nie kan terugkeer nie - a point of no return. Jy spartel en spook, maar sink al dieper in die dryfsand van wanhoop weg. Het jy dit al ervaar?
WAT GEBEUR AS DIE KRAG AF BLY...
Jeanette Koekemoer
Die meeste Suid-Afrikaners het reeds gewoond geraak aan die periodieke kragonderbrekings in ons land. Sommige het hulself goed, en ander minder goed, ingerig om die ontwrigting daarvan die hoof te bied en almal verduur dit nog in relatiewe kalmte aangesien dit hoogstens 'n uur of twee op 'n keer duur.
Maar wat as dit langer duur? Of glad nie weer aangeskakel word nie?
Met die winter amper verby slaak almal 'n sug van verligting want die risiko van 'n totale elektrisiteitsineenstorting is mos nou kleiner. Ja, 'n verantwoordelike mens sou so kon redeneer. Maar in die lig van nuusberigte wat plaaslik onder die mat ingevee word, is die verwagting nie dat daar verantwoordelikheid aan die dag gelê word nie. Euronews berig byvoorbeeld op 5 Desember 2014: "Ukraine’s fuel crisis has deepened after a deal to buy South African coal collapsed. The imported coal turned out to be unfit for purpose. The head of a Ukrainian state energy firm has been arrested on suspicion of embezzlement in relation to the deal."
Te midde van 'n elektrisiteitskrisis in Suid-Afrika wat reeds etlike jare duur waartydens Suid-Afrikaners ten duurste opdok maar steeds die ongerief van gereelde kragonderbrekings beleef, gaan die Suid-Afrikaanse owerheid 'n onwettige transaksie met die Oekraïne aan en verkoop ons land se steenkool vir 'n inkomste wat nie op die boeke reflekteer nie.
WIE IS DIE SKULDIGES (22)
Harm Oost
"Die laaste opdrag van genl De Wet aan my was om aan die nageslag die waarheid te laat weet. Dit was soos 'n bevel, daarom skryf ek hier".
Lees reeks by Wie is die skuldiges
Publieke vergadering die dag na genl De la Rey se begrafnis
"Die Smuts-regering hou die front van vrywillige deelname aan die oorlog teen die Duitsers sodat die gemoedere nie te hoog loop nie; intussen kommandeer hy elke burgermag op om na sy pype te dans. Vrywillig in die publieke oog, maar onder dwang van die regering – wat 'n valsheid!"
Die dag na genl De la Rey se begrafnis, 21 September, was daar op Lichtenburg 'n publieke vergadering wat deur aanwesiges tussen 800 en 1200 geskat is. Die voorsitter was genl. Kemp wat as majoor van die Verdedigingsmag en hoof van die Potchefstroomse oefenkamp, nes ander offisiere bedank het op dieselfde dag dat genl. Beyers sy kommandant-generaalskap neergelê het. Genl. Kemp het dadelik na die doodsberig van genl. De la Rey ontvang is, sy bedanking herroep, maar dis nie deur die minister aanvaar nie!
By daardie byeenkoms, nes by die begrafnis, het genl. Beyers gebruik gemaak van die Daimler, wat 'n groot gat in die bakwerk gehad het van die opslagkoeël waardeur genl. De la Rey gedood is.