Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die beste skokbreker op 'n pad vol stampe en stote is 'n uitstekende sin vir humor.
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (2)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Bella het uiteindelik ‘n smal kronkelpaadjie teen ‘n berg opgekry, naby Montagu in die Wes-Kaap. Aanvanklik was sy half skepties oor die plek, maar soos die smal paadjie opkronkel teen die berg, kan sy sien dis baie lanklaas gebruik en die Toyota skop hier en daar klippe uit die steiltes.
Elke keer as sy sowat ‘n honderd meter gevorder het, klim sy uit en pak die klippe terug wat die bande uitgeskop het, vee sover sy kan haar spore dood en ry dan verder.
Dit word koud hier teen die hoë berge en uiteindelik, as sy ‘n gelykte kry tussen twee groot rotse aan die onderkant en ‘n lappie ou aangeplante bome aan die bokant en langs die kante, hou sy stil en klim uit die kar.
Die pad hou ook hier op en sy verlustig haar aan die dun, helder en skoon lug, die feit dat sy kilometers ver kan sien na amper alle kante toe en die stroompie fonteinwater wat langs een van die rotse loop en ‘n vlak poeletjie maak onder dit. Sy kan dink dat iemand lankal hier opgery het, juis vir die water en die uitsig.
*
Gedurende die afgelope vyf en twintig jaar het Suid-Afrika die sogenaamde “brain-drain” ervaar waar kundige en geleerde mense, jonk en minder jonk, die land verlaat het om hulle heil op ander plekke te gaan soek. Geen nugterdenkende mens kan hulle daarvoor verkwalik nie, aangesien Transformasie, BEE, BBB-EE en Regstellende Aksie hulle van ‘n toekoms plaaslik ontneem het.
Die gevolg is natuurlik dat Europa, die VSA, Kanada, maar veral Nieu-Zeeland en Australië maar te angstig was om hierdie room van die kundiges op te raap. Aan die ander kant neem hierdie mense hulle vaardigheid en hoë IK land-uit en veral semi-staatsinstellings, wat by uitstek aan die ontvangskant van Swart-bemagtiging is, word ontneem van mense wat bekwaam is om die bepaalde instelling te bedryf.
Ongelukkig neem natuurwette geen kennis van voorheen-ongeregtigheid nie en kan nie verander om polities-korrek te wees nie. Dit verstaan ook nie as ‘n seun of dogter na ‘n volgende graad oorgesit word, met punte wat aangepas word nie; ‘n matriekdiploma wat net dertig persent werd is of ‘n graad wat verkry is as gevolg van “Pass one pass all”.
Kundigheid kan ook nie verwerf word as die kandidaat met ‘n vervalste graadsertifikaat ‘n pos kry nie. Wiskundige, natuurwetenskaplike, biologiese en ingenieursbekwaamheid bly dieselfde, hetsy in die ou apartheidstyd, in Europa, Kanada, die VSA of in Afrika. Hierdie wette en reëls kan nie gebuig word om grasie te verskaf aan velkleur nie.
Kris Mentz het in 2002 ‘n goedbetalende pos gekry in Duitsland as raadgewende ingenieur by ‘n groot konstruksiemaatskappy. Dit nadat hy meer as sewentig CV’s uitgestuur het in Suid-Afrika en in die meeste gevalle nie eens ‘n ontvangserkenning gekry nie. Ten spyte van die aanvanklike taalverskil, het hy gou gewys waarvan hy gemaak is, sy vernuf getoon, en bo alles, sy werksvermoë, wat selfs die Duitsers verstom gelaat het. Sy Sweedse vrou het hom verlaat vir ‘n jonger man en gelukkig was daar nie kinders om die saak te kompliseer nie. Nou, op drie en veertigjarige ouderdom, is hy ryk, sonder afhanklikes en die enigste familie wat hy het is ‘n bejaarde pa en ma, in ‘n ouetehuis in Benoni aan die Oos-Rand van Gauteng.
Kris hou die media dop, aanvanklik met die hoop dat die ANC-regering die toutjies bymekaar getrek gaan kry en vanaf ‘n rewolusionêre organisasie kan groei in ‘n bekwame klomp mense wat die land nie net onder beheer sal kry nie, maar behoorlik sal bestuur. Dit blyk mettetyd dat dit nie gaan gebeur nie en tot sy angstige bekommernis oor sy ouers, besef hy gaandeweg dat die een na die ander vervallende mylpaal bereik word.
Aanvanklik was die SAL dikwels in die nuus, waar die entiteit elke jaar met ‘n groot verlies afgesluit het, ‘n finasiële inspuiting moes kry om net effens kop bo water te hou, maar mettertyd gesink het. So ook met Yskor, wat gratis aan Mittal gegee is en staalproduksie gestaak het, Transnet en Spoornet, die Poskantoor, Telkom, Denel, en helaas elke ander semi-staatsinstelling wat ten gronde gegaan het. Iskor-Mittal het onherroepelik die afgrond ingstort.
Met ingehoue asem hou die hele wêreld die verval van Eskom dop, die eweneense verval van die rand as betaalmiddel en die stygende rentekoerse, wat menige Suid-Afrikaner in armoede dompel.
Sarel en Lettie Mentz se pensioen hou nie by nie en Kris stuur elke maand vir hulle geld, sodat hulle nie hoef te trek uit die aftree-oord na ‘n plakkerkamp toe nie. Hy is toenemend onrustig oor sy pa se gesondheid en sy ma se geesteswelgesteldheid.
Die oorlog in Oos-Europa veroorsaak dat die gastoevoer na Duitsland afgesny word en dit het verreikende gevolge vir die man op straat en natuurlik ook vir die konstruksiebedryf. Sy werkgewer, die Deutsche Stahl und Bauunternehmen, begin mense aflê, maar hy word verseker dat sy pos nie in gedrang is nie.
Aan die begin van Januarie nader hy sy makelaar, sien dat hy meer geld in sy portefeulje het as wat hy gedink het. Na drie dae plaas hy sy duur woonstel in die mark en is weereens verras as hy meer kry as die aanvanklike koopprys. Op die ingewing van die oomblik verkoop hy sy Porsche 911 Turbo aan ‘n versamelaar in Bern.
Kris gaan vir ‘n paar weke tuis in ‘n hotel naby sy werkgewer se kantore. Uiteindelik sluit die onderneming sy deure tydelik en elke werknemer kan kies of hy later wil terugkeer, of om ‘n pakket te neem, en Kris besluit op laasgenoemde.
Vir drie dae dwaal hy rond in Berlyn en kom dan skielik tot ‘n besluit, asof ‘n helder lig hom omstraal het. Hy plaas ‘n advertensie in die Duitse, Franse, Portugese, Spaanse en Italiaanse dagblaaie en uiteindelik ook in die Engelse “The Guardian”. Hierin vra hy dat enige oud-Suid-Afrikaner wat wil terugkeer hom onverwyld moet skakel.
*
Bella Vos kan haarself skop oor haar onverskilligheid, maar ironies genoeg, dink sy, dat dit nie moontlik is nie. Nie net omdat sy onnadenkend opgetree het nie, maar omdat sy dit nie met die erg-verstuite en moontlik gebreekte enkel kan doen nie.
Sy wou maar net die vlak stroompie oorsteek, toe sy haar misgis met die gladheid van die mosbedekte klippe. Voordat sy haar balans kon herwin, het sy gegly, haar voet tussen twee groot klippe ingewig gekry en sy kon sommer hoor dat iets meegee.
Nadat sy haar voet uitgesleep het uit die skeur, het sy besef dat sy nie daarop kan trap nie. Dit het vinnig geswel en sy hinkepink na haar kar en tydelike kampplek toe. Dit maak nie saak hoeveel keer sy probeer nie, daar is geen sein vir die selfoon nie, nie vir een van die drie wat sy op die hoofnetwerke het nie.
Na ‘n driekwartier se gesukkel, waarin sy erge pyn verduur en haar penarie deeglik besef, haal sy die nuwe twee-rigtingradio uit sy kartonboksie, haal die beskermende seël af en begin die instruksies lees. Dis in Nederlands en met baie moeite ontsyfer sy genoeg om te besef dat die herlaaibare batterye nie gelaai is nie.
Dis al van vroegoggend bewolk en haar sonkragpanele beteken nie veel nie. Daar is egter net-net genoeg krag in haar kar se battery dat sy dit gelaai kry. Sy het die binne-liggie aangelos en die kar gee net ‘n half-onwillige draai as sy hom probeer aanskakel. Daar is geen manier waarop sy kan uitry nie.
Bella weet nie veel van radioprosedures af nie, maar sy roep op al die beskikbare kanale vir enigiemand om te antwoord. Sy sou vir vyf minute wag, die berig herhaal en dan na die volgende kanaal beweeg. Na twee ure van moedeloosheid kry sy uiteindelik ‘n krakerige antwoord.
*
Max is half besluiteloos. Hy hang nog vir ‘n paar dae rond in sy huis, tuin en stoep, sonder enige behoorlike plan van aksie. Uit blote verveling skakel hy sy amateur-radio aan en luister of daar enige verkeer op is. Die normale is manne en vroue wêreldoor wat nuusbrokke en ligte gesels deel.
Net na half nege die aand kom ‘n half-benoude stem oor die radio. Dis krakerig en hy weet nie hoe lank hy die stem gaan kan hoor nie. Hy maan haar om na ‘n ander frekwensie oor te skakel, maar sy raak dan weg. Max stel fyn aan die radio en uiteindelik hoor hy haar weer.
“Wie ookal praat, ek soek hulp.”
“Dame, jy is op ‘n openbare frekwensie en dis duidelik dat jy nie hou by prosedure nie.”
”Ek weet nie van prosedure nie. My naam is Bella Vos en ek is hoog in die berge. Ek het my enkel dalk gebreek en ek kan nie uitry nie. Ek soek hulp.”
“Waar is jy?”
“Ek weet nie. Iewers in die berge in die Wes-Kaap.”
“Wat is die laaste dorp waardeur jy gery het?”
“Ek is nie seker nie. Wellington, dink ek.”
“En hoe ver het jy daarvandaan gery?”
“Ek is nie seker nie. Miskien so tagtig kilometer.”
“In watter rigting?”
“Ek weet nie! Weg! Ek wou net veilig wees en nou gaan ek hier doodgaan!”
“Bella, bly op hierdie frekwensie. Ek gaan kyk wat ek kan doen.”
Max radio ‘n vriend in Mooreesburg en met die hulp van nog ‘n paar ander radio-amateurs kry hulle ‘n driehoek gevorm na die plek vanwaar Bella se sein kom.
“Bella, hoor jy my?”
“Ja. Gaan jy my kom help?”
“Ja, ek gaan probeer. Ek weet min of meer waar jy is en gaan nou dadelik ry. Dis ver hiervandaan, maar ek gaan my bes probeer.”
“Asseblief meneer…”
“Max”
“Wat?”
“My naam is Max. Ek kom. Hou jouself warm. Het jy water en kos?”
“Ja…”
“Nou, bly waar jy is. Ek kom.”