Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jyself nie kan glo dat God oor al die mense heers en alles kan doen nie, luister, God sê dit self: "Ek is die HERE, die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?" Jeremia 32:27.
DANIE THERON - 24 FEBRUARIE 1900
BAASVERKENNER EN HELD VAN 24 FEBRUARIE 1900
Pieter Grobbelaar
"Dit was 'n waagstuk wat ek hom voorgestel het om te doen soos wat nie oortref sou word in ons ganse bloedige stryd nie," het generaal De Wet later omtrent die stuk verkennerswerk van Danie Theron gesê wat hy tussen 24 en 26 Februarie 1900 by Paardeberg onderneem het – net 'n week na kolonel Hannay se dood op 18 Februarie.
Generaal Christiaan de Wet, die vurige Vrystaatse aanvoerder, is bekommerd. Aanvanklik het die Boere die vyand swaar verliese toegedien en veral een "Swart Week" lank die magtige Britse leër laat steier. Maar nou, na vyf maande in die veld, is die Engelse besig om met hulle getalle-oorwig alle teenstand voor hulle weg te vee. Oral stoot die groot seekat sy voelers uit en wurg die Boere aan die keel. Hier by Paardeberg het hulle juis vir generaal Piet Cronjé met vierduisend burgers vasgekeer. As hulle moet swig, sal dit 'n verpletterende slag vir die Republieke wees.
Generaal De Wet peins en oorweeg. Die strydmag moet ontset word, en hy het 'n plan om op twee punte 'n pad vir hulle oop te skiet. Maar dan is dit noodsaaklik dat die vasgekeerdes weet waar en wanneer dit sal gebeur. Dis sy grootste probleem: hoe om 'n boodskap deur die vaste kordon van Engelse te kry.
Die generaal tik nadenkend met sy handsambok teen sy rybroek. Hy hoor Danie Theron het gisternag van die Natalse front af in die laer aangekom – kaptein Danie Theron, en hy is glo 'n bobaasverkenner. Hier is geleentheid vir die jong Transvaler om te wys wat daar in hom steek. Generaal De Wet laat hom roep.
"Ek wil 'n mondelinge boodskap na generaal Cronjé deurstuur, Kaptein," sê die generaal. "Op skrif kan ek dit nie stel nie, want netnou val dit in Engelse hande. Sien jy kans om te probeer?"
"Ek sal gaan, Generaal," antwoord Danie Theron beslis.
"Jy besef natuurlik die gevare?"
"Dis my werk Generaal. Ek is 'n verkenner."
Die generaal lê sy plan uit.
"Goed, Generaal."
Danie Theron ry saam met twee van sy manne tot op 'n veilige afstand van die Engelse linies om eers te verspied. Hy is hoof van die Wielryers-rapportomgangerskorps, en hulle gebruik fietse waar en wanneer hulle kan omdat hulle op 'n goeie pad vinniger daarmee as te perd oor die weg kan kom. Die kaptein bekyk die Engelse afdelings totdat hy genoeg gesien het. Toe gee hy sy fiets aan sy twee manskappe af.
"Kry my môreaand of oormôre weer hier," sê hy.
"Ons sal so maak Kaptein. Voorspoed!"
Die twee manne ry weg, en Danie Theron bly alleen agter. Nou wag hy vir die donker. Sy planne is agtermekaar. Hy wil vroegaand probeer deurkom want dan sal die Engelse wagte nie so waaksaam wees soos in die stilte van die nanag nie.
Die son sak weg, en in die sterk skemerte beweeg Danie behoedsaam nader aan die Engelse kampvure wat soos 'n veelogige monster om die vasgekeerde Boere opgekrul lê.
Hy is nog 'n paar honderd tree weg toe hy moet begin kruip, want dis oop wêreld die, en die vyand kan hom maklik teen die ligter hemel gewaar. Doringbosse ruk aan sy hande en klere. Skerp klippe sny sy knieë oop. Hy is nou so naby die Engelse brandwagte dat hy hulle op en neer kan sien stap: geweer oor die skouer, twee-twee na mekaar toe, en dan maak hulle 'n regsomkeer en stap terug.
Die verkenner skuil agter 'n paar los rotsblokke weg om eers te oorweeg. Hy kan opspring en deurhardloop sodra die twee wagte hier voor hom op die verste punt van mekaar verwyderd is en maar net hoop dat hulle hom nie sal raakskiet nie. Die gevaar is egter dat hy dan die soldate verder weg in die hoofkamp op sy spoor sal sit. Of hy kan een van die wagte byloop sodra hy halfpad van sy maat af is...
Geruisloos skuif Danie oor die grond tot binne 'n voet van die wagte se paadjie. Hy bly roerloos lê. Daar maak die twee Engelse die regsomkeer en stap weer weg van mekaar af. Die verskuilde verkenner hou elke beweging van die man dop wat nou feitlik reg op hom afpyl. Vyf tree. Vier. Drie. Twee. Een. Soos 'n skaduwee rys Danie Theron van die grond af op en hou sy rewolwer dreigend voor hom uit. Die Engelsman het verbaas vasgesteek.
"As jy 'n geluid maak is jy 'n lyk," fluister Danie dringend in die wag se eie taal want hy kan Engels soos 'n Brit praat. "Laat my deur na Cronjé se laer toe en jy sal niks oorkom nie."
Die wag aarsel en vervat sy geweer. Danie stamp die rewolwer teen sy maag vas. "Stap aan en maak asof daar niks gebeur het nie," fluister hy weer, "Ek is haastig."
Dis vir die wag duidelik dat hy met 'n man te doen het wat nie sal huiwer om sy dreigement uit te voer nie. Sonder 'n woord begin hy weer met afgemete pas marsjeer – 'n bietjie haastiger as gewoonlik want daar is verlore tyd om in te haal en buitendien is dit beter om so gou as moontlik so ver as moontlik van hierdie plek af weg te kom.
Met lang hale verdwyn Danie Theron in die duisternis om dan weer op hande en knieë neer te val. Hy is deur die eerste versperring, maar dis nog glad nie veilig nie want oral wemel dit van die Engelse met nog 'n ry wagte tien tree uitmekaar opgestel.
Danie kruip voort. Bloed sypel uit snye en skaafplekke. Sy broek is lankal flenters. Growwe sand en gruisklippies dring deur sy vel en bly daar kleef. Elke tree is pynlik.
Die maan kom op en sak weg. Die môrester verbleek. "Werda?" roep 'n stem en Danie weet dat hy tussen Boere is. Hy het generaal Cronjé bereik.
"Kaptein Theron met 'n boodskap vir julle generaal," antwoord hy.
Die brandwag kyk kopskuddend na die gehawende man. "Kom jy dáárdeur?" vra hy ongelowig en beduie in die rigting van die Engelse omsigelingsmag.
"Ja," antwoord Danie.
"Nou wil jy meer! Stap maar Kaptein, jy sal die generaal daar agter rond kry."
"Hoe gaan dit hier?" vra Danie uit.
"Sleg," antwoord die man met 'n somber gesig.
Soos die verkenner dieper tussen die vasgekeerde Boere inbeweeg kan hy sien dat die brandwag nie oordryf het nie. Die Engelse bombardement het met die eerste lig hervat, en so ver as wat hy loop, runnik liddietbomme oorheen en skeur rou vore oop. Dis asof die aarde self verwond is en nog net wag op die genadehou. Dae lank aaneen bestryk die Engelse kanonne die Boerestellings onophoudelik, en al wat die verdedigers kan doen, is om so goed moontlik te skuil in gate en slote teen die walle van die rivier, want hul gewere kan die vyand nie bykom nie, en grofgeskut het hulle lankal nie meer nie. En dan is daar nog die skerpskutters wat nader sluip en van agter die veiligheid van rots en klip 'n moordende vuur volhou op al wat in die kamp beweeg. Oral lê karkasse van perde en trekvee in 'n harwar rond, party reeds halfpad ontbind, en vul die lug met 'n reuk van die dood. Hopies swart verkoolde hout en verwronge yster wys waar eenmaal waens gestaan het. Vir die vierduisend burgers, afgesien van die vroue en kinders, is daar skaars 'n honderd rydiere oor. Kos het hulle haas nie meer nie. Sowat vyf en twintig het reeds gesneuwel, en vyftig is gewond, maar ook hulle is besig om weg te kwyn weens gebrek aan medisyne en die nodige sorg.
Generaal Cronjé verkeer nog in goeie gesondheid, en hy dadelik vuur en vlam toe Danie Theron sy boodskap afgee,
"Gaan rus jy solank 'n bietjie," sê hy. "Ek moet net eers met my krygsraad daaroor gesels."
Dis 'n groot teleurstelling vir die verkenner toe hy weer die middag by die generaal kom en hoor dat die krygsraad die plan feitlik eenparig afgestem het. "Maar ék gaan uitbreek," hou die generaal beslis vol. "Sommer vannag nog!"
Danie Theron en 'n paar ander man wat die rampspoedige gevolge van 'n oorgawe besef, stap in die laer rond om die burgers moed in te praat. "Julle sal ons saak 'n knou gee," pleit Danie.
"Ek het self al genoeg knoue weg," antwoord 'n burger onverskillig. "As ek by dié gat uitkruip wat ek hier in die rivierwal gegrawe het, gaan ek oorgee, en dis al. Ou Cronjé kan maar probeer wegkom as hy lus het. Ek keer hom nie." En so praat die meeste ander.
'n Tweede vergadering van die krygsraad weier nog steeds, maar generaal Cronjé hou voet by stuk. Toe begin dit reën, en die rivier kom so sterk af dat hulle nie meer kan deurwaad nie en 'n tydelike pontbrug sal moet bou. Hulle kry dit nie voor donker klaar nie, en die uitval moet tot die volgende nag uitgestel word.
"Nee, hier bly ek nie langer nie," sê Danie Theron., "Netnou kry die Engelse my ook in die hande."
So geruisloos as wat hy gekom het, verdwyn hy weer in die duisternis en bereik veiligheid.
"Knap gedaan!" prys generaal De Wet hom, maar hy frons toe Danie hom die hele verhaal vertel. "As jou moeite op die ou end tog net nie vergeefs was nie!" sug die generaal.
Dis Maandagoggend. Vrydag stuur kaptein Theron 'n telegram aan president Kruger: "Ene Barend Venter en sy seun Roelof Venter van die wyk Middel-Modderrivier, distrik Bloemfontein, wat tussen die Engelse deurgekruip het, het pas hier by ons aangekom met die berig dat generaal Cronjé en sy hele laer Dinsdagoggend om sesuur oorgegee het."