Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy kan geen verdriet van jou afskuif asof dit jou nie aangaan nie. Jy kan leed en bekommernisse nie vermy nie, jy moet moet daardeur gaan na nuwe rus en vreugde.
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (3)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Kris Mentz is uiters teleurgesteld. Sy advertensies het feitlik geen reaksie getoon nie, behalwe vir een student wat sy beurs aan die Sorbonne verloor het, as gevolg van dronkenskap en ‘n bakleiery met ‘n Morokaanse immigrant.
Hy oorweeg dit na ‘n paar dae om die advertensies te onttrek, sy oud-werkgewer gaan vra om sy joppie terug te kry en om, indien nodig, sy CV na ‘n klompie ander ondernemings te stuur. Vir die eerste maal vandat hy Suid-Afrika vaarwel geroep het, is hy onseker oor die toekoms.
Die oorlog in Oekraïne voel skielik baie naby. Hy kom agter dat die stemming onder die Duitsers verander. Daar is minder gemoedelikheid, die bier word in stilte geabsorbeer en daar is ‘n toename in marsmusiek. Hy is ook nie seker nie, maar dit kom vir hom skielik voor asof daar meer soldate in uniform rondbeweeg. Behalwe om uit te gaan vir aandete, verlaat hy selde sy blyplek.
Vanaand, mismoedig en onseker, is daar ‘n klop aan sy deur. Wanneer hy oopmaak, sien hy niemand in die lang gang nie, maar merk ‘n gewone, A4 bruin koevert op die vloer, waar dit effens onder die deur ingestoot is. Hy maak die deur met sy boude toe, terwyl hy die koevert aandagtig bestudeer, voordat hy dit oopmaak. ‘n Wit etiket is op die voorkant geplak, met sy naam in groot drukletters daarop geskryf.
Aan die binnekant is twee A4 velle papier, die een vol name en aan die ander kant so ‘n derde van die vel. Langs die name is selfoonnommers en as hy dit vinnig bestudeer, is hulle in verskillende lande in Europa. Op die tweede vel is ‘n boodskap in Duits:
“Sei sehr vorsichtig. Die Wände haben Ohren”
Wees baie versigtig. Die mure het ore.
*
Dis baie moeilik om jouself nie oor te gee aan selfbejammering nie, maar skielik is dit vir Bella net een te veel. Sy het baie ongemaklik in die Toyota geslaap, met die sitplek se rugleuning heeltemal teruggevou tot dit op die agtersitplek druk. As sy op haar rug lê, dan druk haar seer voet amper teen die paneelkissie en die hele ding is net nie plat genoeg nie.
Wanneer sy op haar sy draai, is dit aanvanklik nie te sleg nie, maar ook dit raak later ongemaklik. En dis koud! Met die laaste stuiptrekkings van die herfs wat ‘n ongemaklike koue front aangebring het, saam met ‘n ewe koue reën, kan sy dit nie waag om iets warms buite die kar te gaan gaan maak nie – nie koffie, tee, Milo, of selfs ‘n blikkie kos te gaan verhit nie. Sy het aan soveel dinge nie gedink nie!
Uiteindelik het sy die klein gasstofie, met weggooibare gastenkies, gemaak staan op die vloer van die kar, ‘n blikkie sousboontjies opgewarm en ‘n beker soet, koffie met kondensmelk gemaak. Sy brand haar hand as sy oorgretig is om die koffie te drink, gooi dit om en daarmee saam ook die gasstofie. Die mat op die Toyota se vloer begin skroei, dit rook en wil begin vlamvat as sy die stofie optel en die oorblywende bietjie koffie oor die smeulende mat uitgooi.
Die afgelope jare se swaarkry, onrustigheid, die skeefgeloopte avontuur van die afgelope dae, seer enkel, min slaap en uiteindelik die blikkie boontjies en vermorste warm koffie is vir haar een te veel en sy raak onbedaarlik aan die huil. Dit hou darem op met reën.
*
Max geniet die voertuig. Ja, dis koud; uiteraard het die kar nie meer ‘n dak nie en daarom ook nie ‘n verwarmer wat werklik iets beteken nie, selfs al draai hy die knop na rooiwarm en die waaier op volspoed.
As hy dit stel na sy voete, dan is daar ‘n effense hitte wat daaroor spoel. As dit sou begin reën, kan hy darem die seil oor die ding trek en al kan hy nie so ry nie, kan hy in ‘n droë voertuig slaap. Met die agterste sitplek verwyder, pas ‘n driekwartbed se matras mooi daarin. Hy het ‘n dik seil oor die agterste gedeelte van die kar gespan, sodat die beddegoed, sy klere en ander belangrike items nie nat word nie.
Die Amerikaans-verworwe V6 enjin met vier kleppe per silinder, brandstofinspuiting en ‘n kragpak op elke silinder, maak van die relatief klein enjin ‘n lekker sterk kragbron. Die vryvloei-uitlaat brul nie, maar dis amper ‘n opgewonde geborrel wat daaruit kom. Die groot Coopers Discoverer bande huil op die teer en veroorsaak dat die radio onnodig is, maar dit pla Max nie veel nie.
Hierdie ouer geslag vier-by-viers het nog vryloop-nawe op die voorwiele, waarvoor jy moet uitklim en fisies sluit, ‘n hefboom wat vierwieldryf en lae-strek skakel, maar hy hou daarvan. Daar is iets bemoedigend en betroubaar in die stewige klik en sluit van die hefboom. Die enigste nuwigheid is die groen liggie wat aankom as hy vierwieldryf skakel en die ander een wat aandui dat die agterste ewenaar gesluit is.
Hy sien die brandstofnaaldjie beweeg al meer na die driekwart-merk, al het hy die groot langafstandtenks geïnstalleer. Wanneer hy in Bloemfontein weer volmaak, werk hy die brandstofverbruik uit en dit kom neer op net meer as ses kilometer per liter. As jy perde wil hê, moet jy hulle voer.
Die lang pad na Colesberg en daarna Beaufort-Wes is amper verlate. Net so af en toe sal ‘n bakkie, swaar gelaai en gewoonlik met ‘n ewe swaargelaaide sleepwa verbykom, met hoofligte wat flits. Wat kan dit beteken? Dit word afgewissel deur sedans en op die hele roete gaan net drie vragmotors verby.
By Colesberg en Beaufort-Wes is groot handgeverfde plakkate by die vulstasies aangebring, wat in hoofletters verkondig dat die brandstof klaar is.
Terwyl die Coopers hulle pad-getjank voortsit, verminder Max snelheid. Miskien sal die kar ligter op petrol wees teen ‘n honderd kilometer per uur, in plaas van tussen honderd en twintig en honderd en dertig? By die Shell op Leeu-Gamka kry hy genoeg om die tenks vol te maak, koop drie twintig liter jerry-kanne en maak hulle ook vol.
“Meneer, jou se mouter is maar dors, of hoe?”
“Ja, boetie, baie. Hoe lyk die petrol anderkant toe?”
“Nee, Meneer, as ek so uitvra, is hierdie die laaste plekkie met nog van die sous. Jy sal maar jou voet baie lig moet maak van hier af. Gaan Meneer nog baie ver?”
“Kaap se kant toe.”
Die petroljoggie fluit saggies en skud sy kop in simpatie.
“Met hierdie kar wat so oop is?”
“Dis al wat ek het.”
“Nou-maar mooi loop Oudste. Die manne sê my daar by Laingsburg reën dit kwaai, amper soos die vloede van sixty-nine. En Meneer? Ek hoor rumoere dat daar groot ge-onmin is daar na die Kaap se kant toe. Smaak my die taxi’s neem oordaasô.”
*
Kris het die nommers een-een gebel. Hier en daar het ‘n selfoon net gelui, maar hy kry uiteindelik drie en dertig manne en vroue in die hande, waarvan die meeste belowe hulle kom na ‘n dag of twee na hom terug. Van die orige negentien skakel vier hom binne ‘n uur en sê hulle gaan beslis saam. Teen die einde van die week het drie op die nippertjie kop uitgetrek, maar saam met hom is daar uiteindelik vyf en dertig wat vasmaak om Sondag te vertrek. Almal het woord gehou.
*
Om alles te vererger het die wolke begin saampak. Die wind waai fluitend deur die oop vensters wat Bella laat sak het om die rook en reuk van geskroeide mat te laat ontsnap. Die battery kreun die meeste van sy laaste stukkies krag uit, maar, behalwe vir die linker agterruit, is hulle toe.
Bella druk ‘n handoek, toegedraai in ‘n dik, swart asbliksak, daarin. Die wind is nou baie sterk en die kar wieg so af en toe op sy suspensie as dit begin ruk. Aanvanklik is sy bang die voertuig waai om of van die berg af, maar besef later dit sal nie gebeur nie. Gelukkig is daar ‘n stukkie loodregte krans aan die berg se kant en dit keer darem die ergste van die wind weg.
Die eerste druppels is nie swaar en groot soos die hoëveld reën kry nie, maar eerder ‘n digte mistigheid wat haar en die Toyota omhul. Geleidelik neem dit in intensiteit toe en die fyn stroompie wat vanuit die skeur tussen die rotse vloei, word breër en meer vol modder.
Bella maak die bestuurdersdeur effens oop om te kyk waar die water vloei en tot haar verligting is dit darem so agt meter van die agterwiele af. Wanneer sy haar kop terugtrek en die deur toemaak, is die donkerrooi krulle sopnat. Sy byt op haar tande en besluit om nie weer te huil nie. Sy skakel die handradio aan en roep na Max.
“Max, hoor jy my?”
Die radio kraak met ‘n gesuis en krakel. Sy roep weer.
“Bella, ek hoor jou. Moenie weer die radio gebruik tensy dit ‘n doodgeval is, of as ek jou roep nie. Is jy okay?”
“Ja, maar…”
“Maar?”
“Dit reën en my voet is baie seer. Ek is ook honger en kry koud”
Die radio kraak, maar sy kan niks hoor nie. Na ‘n volle sewe minute hoor sy hom duidelik.
“Bella, ek is op pad. Ek weet nie hoe lank dit gaan vat nie, maar ek sal by jou kom. Maak jouself warm toe en drink genoeg vloeistof, al is dit net water…”
Daarna net ‘n gekraak. Bella kan op die aantal strepies sien dat die radio se battery amper pap is. Sy sit hom af.
“Ag liewe Heretjie, gee dat Max gou sal kom!”