Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie by jóu pyn en jóu lyding bly vashaak nie. Fokus liewer op God se plan. Dis hoe Jesus die pyn van die kruis verduur het.
HOE PAUL KRUGER SY DUIM VERLOOR HET
Lees reeks by Jeughelde
PAUL EN DIE GEWONDE RENOSTER
"... in dieselfde jaar neem die dertienjarige Paul ook deel aan die strafekspedisie teen Silkaats by Silkaatsnek."
"Neem alleen die beste uit die
verlede, en bou die toekoms
daarmee ..."
Een van die kleurrykste figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis was Paul Kruger. Van sy vroegste kinderjare af het die jong Paul hom onderskei as 'n uitmuntende skut, kranige naelloper, ruiter en sterk swemmer. Daarbenewens het die seun se durf en moed blykbaar geen einde geken nie. Paul Kruger was inderdaad 'n man uit een stuk — iemand wat nie sy gelyke geken het nie. Van sy geboorte af het die lewe van die man hand aan hand met uitdagings, prestasies en ware staatsmanskap geloop.
Stephanus Johannes Paulus Kruger is op 10 Oktober 1825 op die plaas Bulhoek in die Steynsburg-distrik gebore. In 1836, toe Paul tien jaar oud was, het sy vader by die Tweede Trekgeselskap onder leiding van Andries Hendrik Potgieter aangesluit. Min sou Casper en Francina Kruger op daardie stadium kon raai dat hierdie lewenslustige seun van hulle eendag die beminde leier van sy volk sou word ...
Nege dae ná sy elfde verjaarsdag het Paul reeds aan sy eerste veldslag deelgeneem. Dit was tydens die slag van Vegkop op 19 Oktober 1836 toe Potgieter ses en twintig trekwaens in 'n sirkellaer aan die voet van die rant getrek het. Daar, tussen die Renoster- en Wilgerivier, sowat twintig kilometer suid van Heilbron, het drie en dertig volwasse mans en sewe seuns — onder wie Paul — daarin geslaag om sesduisend Matabeles van Silkaats te verslaan. Skaars twee jaar later was die jong seun ooggetuie van die afgryslike Bloukransmoorde en later in dieselfde jaar neem die dertienjarige Paul ook deel aan die strafekspedisie teen Silkaats by Silkaatsnek. Sy vermoë om akkuraat te kan skiet, was onmisbaar. As veertienjarige vergesel die toe al frisgeboude Paul 'n paar jagters tydens 'n leeujagekspedisie. Omdat hy die jongste lid van die groep was, moes hy die perde op 'n stadium help vashou. Toe die leeu eindelik besluit om sy onvriendelike gesig te wys, het hy sowaar die perde gekies om te bespring.
Maar Paul se moed het hom ook daardie dag nie in die steek gelaat nie. Toe die leeu met 'n reusesprong op hom toesak, het Paul net op die regte oomblik gewag voordat hy 'n skoot afgetrek het. Al wat die ander manne wat verskrik aangedraf gekom het kon doen, was om die dooie leeu van Paul af te rol. O ja, en om hom met 'n pragskoot geluk te wens!
Die enigste skoolonderrig wat Paul in die jare ondergaan het, was die drie maande wat hy onder die waaksame oog van Tielman Roos leer lees en skryf het. Verder was net die veld sy leermeester.
'n Besondere eienskap van Paul Kruger, bo en behalwe sy mannemoed, was sy nederigheid. Hy het nooit oor sy prestasies gespog nie. Daarby het hy 'n fyn humorsin gehad. As bewys van sy meelewende geaardheid, het hy by een geleentheid al die wild wat hy platgetrek het, aan minderbevoorregtes uitgedeel. Toé al was dit duidelik dat die Paul 'n besondere deernis vir sy volksgenote se wel en weë gehad het...
Met sy fris, atletiese postuur het hy dan ook die grootste respek onder wit en swart geniet. Daar word vertel dat Paul op vyftien so vinnig was dat hy 'n perd oor 'n halfmyl (ongeveer een kilometer) skoon weggehardloop het.
'n Jaar later, op sestien, het 'n goedgesinde stamkaptein 'n kompetisie onder sy krygers gehou om te bepaal wie die vinnigste kon hardloop. Onnodig om te sê dat toe Paul daarvan hoor, hy onmiddellik besluit het om ook aan die wedloop deel te neem. Halfpad was die "magoa" (wit-man) reeds so ver voor dat hy gou eers by sy ouerhuis gaan inloer het. Dit alles net omdat hy lus was vir 'n bietjie koffie!
Op twintigjarige ouderdom sou Paul egter die grootste fisiese pyn van sy lewe ervaar. Steeds deel van die Potgietertrek, het die Trekkers in 1845 reeds verby Potchefstroom getrek. Hul eindbestemming — die noordoostelike Transvaal. Vleis was maar skaars en oudergewoonte het Paul, wat toe al 'n voorskut was, besluit om iets vir die pot te gaan soek. Salig onbewus daarvan dat hy spoedig in 'n omgekrapte renoster sou vasloop, het hy die dag geweer oor die skouer veld in gery.
Om die volgende verhaal ten volle te kan waardeer, is dit egter gepas om eers 'n paar oomblikke te vertoef by die einste geweer waarmee Paul die dag geskiet het. Byna elke weerbare man het in daardie dae van pangewere of sannas gebruik gemaak.
Nou wat het 'n skut alles nodig gehad om so 'n geweer te laai? Ja, natuurlik was kruit een van die Trekkers se kosbaarste items. Eers moes daar 'n hopie kruit, wat in 'n uitgeholde beeshoring (kruithoring) skuins oor die skut se skouer aan 'n leerbandjie gedra is, in die een hand uitgegooi word. Dan moes die beesvelprop van die kruithoring vinnig teruggesit word sodat die orige kruit nie vogtig word nie — veral vroeg soggens. Die uitgegooide kruit is dan bakhand voor in die geweer se loop afgegooi. 'n Skut se formaat is sommer daar en dan bepaal, want gooi die arme man te veel kruit in die loop, skiet die geweer hoog. Gooi hy te min in, is al uitwerking wat die koeël op 'n aanstormende dier het, om die bose gedierte nog kwater te maak!
Nadat die kruit in die loop afgegooi is, word daar 'n pluisie of lappie (gewoonlik van katoen) bo-oor goed vasgestamp met 'n laaistok. Die laaistok is permanent onderaan die loop op 'n spesiale manier vasgeheg. Bo-op die vasgestampte lappie is 'n ronde loodkoeël of loper geplaas wat die Trekkers sommer self gegiet het van yster. As daar met bokhael of donshael geskiet is, moes daar agterna eers nog 'n Iigter pluisie bo-op ingestamp word om al die klein loodstukkies op hul plek te hou.
Nog was dit het einde niet, want hierna moes daar eers 'n klompie kruit in die pannetjie van die geweer geplaas word. Dan eers kon die geweer oorgehaal word vir die skoot.
Die meganisme wat die skoot uiteindelik laat afvuur, was net so primitief. Die haan, met 'n stukkie vuurklip daaraan vas, slaan teen ;n klein ystertjie wat bo-oor die vol pannetjie kruit lê. Sien, 'n vonkie afkomstig van die vuurklip, steek die hopie kruit in die pan aan die brand. Eers dan word die koeël deur die geweld van die kruit — wat in die loop aan die brand gesteek is deur die ontploffing in die pannetjie — by die loop uitgeforseer. 'n Klein gaatjie dien as verbinding tussen die pannetjie en die loop waardeur die vonke moes versprei.
Baie dinge moes dus tegelykertyd deur so 'n skut se gedagtes gemaal het. Eerstens moes hy seker maak dat hy die regte hoeveelheid kruit vir die loop en die pan afmeet. Dan moes hy hoop en bid dat die vorige skoot nie die gaatjie waardeur die vonke moes versprei, verstop het nie! Daarbenewens moes hy in gedagte hou dat die lading die koeël of te hoog of te laag kon laat trek. So 'n voorlaaier kon nie naastenby so akkuraat of so ver soos 'n moderne vuurwapen skiet nie. Asof dit nie genoeg was nie, kon die vuurklip ook so stomp wees dat hy nie 'n vonk met die eerste trek van die sneller wou gee nie. Of die kruit was eenvoudig te klam ..! Geen wonder nie dat al uitweg dikwels was om die swaar ou voorlaaier maar uit pure radeloosheid aan die loop te gryp en die aanvaller met die massiewe kolf by te dam!
Nou, die dag toe Paul veld toe gery het, moes hy al die stappe volg om 'n vleisie vir die kole te kon terugneem. Die eerste dier wat hy raakgeloop het, was 'n renoster. Nou nie juis 'n man se gunstelingmaal nie, moes Paul seker gedink het, Maar by die waens was vars vleis skraps ... Vinnig het Paul sy geweer gelaai gehad en sommer so uit die saal aangelê. Net voordat die skoot kon klap, het die renoster sy lyf gedraai en gevolglik is hy slegs gekwes. 'n Onervare jagter sou verlig gevoel het om te sien hoedat die logge dier kortom spring en agter 'n paar digte bosse verdwyn. Maar Paul het geweet: sonder vooraf-waarskuwing kon die renoster enige oomblik soos 'n wafferse pantsertrein op hom afgestorm kom!
So vinnig as wat hy kan het hy sy geweer herlaai. Kruit stort oor sy hande, maar tyd vir fyntjies meet is daar nie. Hier kom hy! "Dwa!" weergalm die skoot. Ook geen oomblik te vroeg nie. Dog ... Met 'n oorverdowende slag ontplof die pangeweer in Paul se hande — die lading was veels te sterk! Vlugtig werp hy 'n blik op sy bebloede linkerhand. Dit lyk sleg maar tyd om nou daaraan aandag te gee kan sy lewe kos. Die volgende paar oomblikke moes Paul sy ry ken om voor die verwoede renoster se horing te bly. Gelukkig was Tempus nie verniet 'n voorslagperd nie en kon Paul darem die waens 'n rukkie later veilig bereik. Ook net betyds, want teen die tyd het die bloed vryelik uit sy erg beseerde hand gestroom.
Erg geskok het Paul se jong vroutjie, Maria, haar man se wond met terpentyn ontsmet. Met raakvat daar en vasvat hier het sy Paul se hele hand in verbande toegedraai. Daarna is hy na die naaste plaashuis geneem. Daar gekom het die plaasvrou net een kyk na die hand gegee en baie seker van haarself gesê: "O aarde, die wonde het reeds septies begin word. Gou, julle sal dadelik by 'n dokter moet uitkom — die hand sal afgesit moet word!"
Alhoewel Paul ondraaglike pyn moes verduur, wou hy niks daarvan weet nie. Doodluiters het hy sy knipmes uitgehaal en dit begin skerpmaak. Toe het hy sy hand op 'n plat klip neergesit en sonder enige verdere seremonie sy verminkte duimgedeelte weggesny.
Die volgende dag het sy linkerarm erg begin swel en die hand onnatuurlik swart verkleur. Van die ander Trekkers wat noodhulpkennis gehad het, het begin vrees dat Paul beslis sy hele arm ~ indien nie sy lewe nie — sou verloor. Steeds het Paul op sy tande gekners en geweier om die lang tog na 'n dokter te ondeneem. Volgens hom sou dit die trekgeselskap te veel ontwrig, want elke weerbare man moes in daardie dae die waens help beskerm.
Al wat boereraat was, is ingespan. Twee, drie boerbokke is geslag. Telkens is die ingewande uitgehaal en moes Paul sy geswolle hand in die bok se warm pens druk. Verblind deur die pyn het hy slegs harder op sy tande gekners. Uitgehou ... want daar was volgens hom geen ander uitweg nie. En altyd was 'n bekommerde Maria aan sy sy. So het die dae een vir een verbygegaan. Dae het weke geword. Geleidelik het eers die pyn begin bedaar en later die swelsel begin sak. Nogtans sou dit ses voile maande neem vir die hand om volkome te genees. Tog, getrou aan sy avontuurlustige geaardheid, was Paul Kruger gou weer stewig in die saal. Weliswaar dié keer met 'n ander voorlaaier en sonder 'n linkerduim, maar sterker as ooit tevore. So asof 'n onsigbare Hand hom deur middel van 'n wonderwerk vir sy volk behoue wou laat bly ...
Hierna sou Paul, nog as 'n jong man van nege en twintig, verdere roem verwerf toe hy weer eens sy lewe in gevaar gestel het. Dit was toe hy op 6 November 1854 die lyk van Kommandant-generaal Piet Potgieter voor Makapan se grot (naby Potgietersrus) onder volgehoue vyandelike vuur gaan opraap het. Die volgelinge van Makapan het die gewoonte gehad om die hart van 'n dapper vyand uit te slag en dit te eet om daardeur die dooie se krag, moed en durf te verkry. Paul het geweet van hierdie bygeloof en het sy eie hart op die spel geplaas om dit te verhoed. Die Zoeloes het mos geweet watter dapper man hierdie "magoa" was!
In die daaropvolgende jare het Paul Kruger hom op die politieke terrein begin waag. Die erns van 'n hawelose en trekkende volk het al swaarder op sy gemoed begin druk. Op nege en dertigjarige leeftyd word hierdie leier van leiers Kommandant-generaal van die gebied noord van die Vaalrivier. Ook in die daaropvolgende jare lei hy die Boerevolk met soveel onderskeiding in die vryheidstryd teen Brittanje dat hy in 1883 tot President van die Zuid-Afrikaansche Republiek verkies word.
As lewende legende van sy eie tyd het hy onverpoosd met die heropbou en vereniging van die Boerevolk begin. Soveel so dat hierdie indrukwekkende volksleier, profeet, humoris en mensekenner met sy optrede onsterflike roem verwerf het. Dit was onvermydelik dat Paul Kruger as legende sou voortleef in die gedagtes van 'n volk aan wie hy 'n goudskat, die Nasionale Krugerwildtuin en twee onafhanklike Boererepublieke, bemaak het. En met 'n deurgronde wysheid wat sy wortels diep in vaderlandsliefde vind, het hy ook die volgende uitdaging aan die jeug van Suid-Afrika nagelaat:
"Neem alleen die beste uit die
verlede, en bou die toekoms
daarmee ..."