Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As Christen is daar vir jou 'n baie duidelike opdrag in die Woord:
"Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom; want mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat 'n gedaante van Godsaligheid het maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. " – II Tim 3.
BOERE IN GEVAAR
Deel Een
Lees reeks by Gebeurtenisse uit die Swart oorloë 1834 -1853
Deur P P J Coetser, Sr.
"Die drama het plaasgevind ten aanskoue van duisende swartes op die berg wat dit gade geslaan het, maar die manskappe was te min om die vyand aan te val..."
Gedurende 1834 is die blanke grensbewoners gedurig geteister deur swartstrooptogte, wat hulle vee geroof het, die wagters vermoor het en na hartelus geplunder het. Die vee moes dag en nag gewapend bewaak word. Diewery en moord was aan die orde van die dag. Groepes van drie tot vier boere het op een plaas saamgetrek om mekaar te help. Hulle het toe die kraalheinings van groot doringtakke geslaan, met die stamme aan die binnekant en die hek regoor die voordeur van die woonhuis. Hulle het dan tot middernag wag gehou. Die swartes het selde na middernag toegesak, omdat daar dan nie meer genoeg tyd oor was om voor dagbreek die vee oor die grens te kry nie.
Die boere het ook kwaai waghonde gebruik. Die swartes het soms die krale in die nag aan die brand gesteek en die eienaar wat uitgekom het om ondersoek in te stel, vermoor.
Later het die veldkornette met patrollies die booswigte 'n bietjie in toom gehou en soms op hulle geskiet. Dit het 'n bietjie gehelp, maar toe word daar beweer dat die boere die swartes mishandel. Daarop is 'n proklamasie uitgevaardig dat geen boer op 'n swarte mag skiet nie. Daarna het die roof- en moordtogte onrusbarend toegeneem.
Gedurende hierdie tyd het menere Bart van de Vyver en Willem Grobbelaar aan die Zuurberg in Albanie gewoon. Toe die swartes sestig van hulle beeste steel, sit hulle hul agterna, skiet een dief dood en bring hul vee terug. Hulle rapporteer die voorval aan die goewerment. Hulle is dadelik gevange geneem en voor die hof gebring. Van de Vyver kom los onder borge, maar Grobbelaar kry twee jaar gevangenisstraf met £1 500 boete.
Jacob van de Wenter het aan die Visrivier gewoon. Die swartes steel 'n trop beeste van hom. Hy en sy pa haal die rowers met die beeste in by die Konap. Die swartes storm met die beeste die drif in, maar die twee boere jaag hulle voor. 'n Swarte val vir Van de Wenter aan, maar word doodgeskiet en die beeste word terug geneem. Toe hulle dit aan die goewerment rapporteer, word hulle voor die gereg gebring. Alhoewel Jacob die assegaai getoon het waarmee die swarte hom wou doodmaak, sodat hy verplig was om hom te skiet ten einde sy eie lewe te red, kry Jacob ses maande gevangenisstraf.
Jan de Lange, wat ook aan die Visrivier woon, gaan om sy gesteelde vee te soek, maar word deur die swartes gewond. Gelukkig het sy vriende hom teruggebring. Die swartes het in besit van sy vee gebly en hy moes met sy swaargewonde liggaam maar tevrede wees om van sy hele lewensonderhoud beroof te wees.
Wynand Bezuidenhout en Piet de Jager is tronk toe, omdat hulle aan die regering kom rapporteer het dat die swartes wou oorlog maak. Die boere wou toe wegtrek, maar dit is hulle ook belet. Sulke gevalle het dikwels voorgekom.
Kort daarna hou al die swartopperhoofde 'n vergadering en besluit om 'n aanval te maak op Fort Beaufort, Somerset, Cradock, Albanie, Grahamstad en Olifantshoek, met al die omliggende distrikte, al die mense te vermoor, die vee te roof en verder alles deur brand te verwoes. Hulle sou die grensdistrikte op drie afsonderlike plekke tegelyk aanval. Elke afdeling het uit 'n paar duisend swartes bestaan, wat deur twee of drie opperhoofde, soos Botman, Tola en Stok aangevoer sou word.
Kort daarna het 'n groot deel van die vyand in alle rigtings versprei en in daardie nag tegelyk begin moor en plunder. Op die plaas van Stephanus Buys van Katrivier het die honde geweldig begin blaf toe die vyand in die donker op die veekraal afstorm. Buys wou uitgaan om te sien wat gaande was, maar word in sy voordeur doodgesteek. Op raad van 'n ou bediende, het die vrou en kinders ter nouernood daarin geslaag om na die naaste plaas, Leeufontein, te ontvlug.
'n Ander klomp swartes was op dieselfde tydstip op die plaas van Dores Botha, ook te Katrivier. Die honde het in die donker begin lawaai en Dores gaan toe uit en sien sy ou swarte op sy perd, wat vir hom sê: "Doors, dis nou my perd. Hier is 'n groot trop swartes rondom my. Jy moet vlug, anders is jy en jou huisgesin netnou almal dood". Botha en sy huisgesin het gelukkig in die donker weggekom met net die klere wat hulle aangehad het. Hulle vlug toe na meneer Scheepers, maar hierdie buurman is reeds die vorige dag deur 'n troue bediende gewaarsku en het met sy gesin in 'n soort slee na Jan Els te Vaalhoek gevlug, waarvandaan almal na Fort Brown gevlug het, waar 'n klompie soldate gestasioneer was.
Op dieselfde aand is die plaas van meneer Joubert te Visrivier ook aangeval. Hy hoor die swartes aankom en het skaars tyd gehad om in die donker met sy huisgesin te voet weg te vlug. 'n Paar van hulle was nog kaalvoet. Toe hulle skaars vyftig tree weg was, sien hulle hoe die vyand die huis aan die brand steek, soos wat hulle met al die ander huise en krale gedoen het. Meneer Joubert kon gelukkig dié nag daarin slaag om met sy gesin Fort Brown te bereik, wat tien myl daarvandaan geleë was.
Dieselfde nag het die swartes te Kommissiedrif 'n negosiewinkel aangeval van 'n ou Engelsman wat 'n paar swartvrouens gehad het. Sy winkelware is alles geroof en die ou man het half nakend na Grahamstad ontvlug.
Naby Trompettersdrif is die handelshuis van meneer Southey, wat ongeveer in 1872 goewerneur geword het op die diamantveld, aangeval en al sy besittings is geroof, behalwe 'n wavrag met goedere waarmee hy betyds gevlug het toe sy volk hom gewaarsku het.
Die volgende dag is die plaas van 'n paar setlaars in Benede Albanie aangeval, die vee weggevoer, alles geroof, geplunder en verwoes. Die mense het egter na Grahamstad ontvlug.
Daar naby sak die swartes op 'n plaas toe van 'n setlaar, Tom Maloney. Die mense kon nie wegkom nie en sluit hulself in die huis toe. Daar was swartes wat hulle geken het, wat ewe vriendelik skree dat hulle nie bang hoef te wees nie en maar kan uitkom. Toe die mense wyer, dreig hulle om die deure oop te breek en die huis aan die brand te steek. Maloney en 'n sekere Brown - sy seun en 'n ou kiepkoor van die Kaapse Korps het op die solder gaan wegkruip - gaan toe uit. Hulle word 'n paar honderd tree van die huis af geneem en moes daarvandaan tussen twee rye swartes na die huis terug hardloop. Hulle het nouliks dertig tree ver gevorder toe verskeie assegaaie hulle deurboor en albei dood neersyg. Brown se seun het dit uit die solder gesien en wou sy pa gaan help, maar die ou kiepkoor het hom gekeer. Gelukkig het die swartes toe met 'n vreeslike oorlogskreet die plaas verlaat. Die seun en die ou kiepkoor (Cape Corps) is die volgende dag uit die huis gered en deur 'n patrollie na Grahamstad gebring. (Ons het die Hotnots in die Kaapse Korps "Kiepkoors" genoem).
Die aand van die tweede dag word Fort Brown deur duisende swartes aangeval. Daar was onder andere ook 'n klompie boere by die fort. Die offisier sê die soldate moet die boere se vee wegdryf, want dit is net agter die beeste wat die swartes aan is, maar die boere wou dit nie toelaat nie en hul vroue keer die beeste weer terug, dog die soldate hou maar aan om die beeste aan te ja. Toe sê 'n jong meneer Els vir die offisier hy gaan die soldate skiet as hulle aanhou om dit te doen, waarop die soldate toe darem teruggeroep word, maar die swartes het toe reeds al die groot vee van die Engelse weggevoer. Daar was net 'n stuk of twaalf boere by die fort wat so hard geveg het dat die swartes die wyk moes neem. Maar dit was duidelik dat daar nou 'n werklike oorlog aan die gang was..
Vanaf Fort Beaufort en Rietfontein vlug die mense na die wyk van Bedfort, waar 'n aantal boere reeds bymekaar getrek het. Vanaf Konap vlug vier broers, Meas, Elias, Ockert en Izak Nel, en kom aan die Visriviersrant op die plaas van Coenraad Bezuidenhout en Gert Coetser, my pa, waar hulle 'n dag oorbly om meer versterking van die Rant af in te wag, om mekaar op die verdere trek by te staan.
Bezuidenhout en my pa besluit die aand om ons vesting soveel as moontlik teen die vyand te verskans. Die stuk of wat waens wat by ons was, is in 'n soort laer getrek en elke man se osse is aan die trektou van sy wa vasgemaak. In geval van 'n moontlike aanval, moes die wagters die huis invlug. Broer Willem en ek het waggestaan.
Ongeveer agtuur die aand begin die honde blaf. Meteens storm die swartes tussen die skape deur na ons toe, maar ons skiet hulle met lopers terug. Drie van die vyand en een van ons beste honde sneuwel op die plek.
Die bediendes het die huis ingevlug, maar die stuk of wat manskappe was in 'n oomblik se tyd buite, elkeen op sy aangewese plek. Die swartes fluit en skree uit alle oorde, gooi assegaaie en laat klippe op die huis se dak reën. Die skape blêr, die beeste bulk, die honde blaf en die vyand storm om die beeste van die toue af los te sny. Sommige wil die huis instorm en een word in die deur doodgeskiet met 'n gebreekte assegaai in sy hand. Dit was 'n vreeslike rumoer.
Die swartes wyk so effentjies en val ons toe weer met nuwe woede aan. Hoewel hulle nie die huis kon verower nie, het hulle heelwat van ons vee in die hande gekry en weggevoer. Ons het 'n vreeslike geveg gehad. Die dak van die huis was vol assegaaie, die deure en vensters asook wa-lere was vol barste en selfs die pleistering van die huis se mure was oral stukkend. Dit is alles deur die vyand se koeëls, klippe en assegaaie veroorsaak. Gelukkig het nie een van ons mense in die slag omgekom nie.
Die anderdagmôre besluit ons om daarvandaan weg te trek. Dit het 'n jammerlike gesukkel afgegee, want die vyand het van ons trekosse weggevoer, maar gelukkig het daar darem soveel oorgebly dat ons kon wegkom. Elke man moes toe maar alleen sy eie wa voortdryf, terwyl die vroue en kinders die vee klompiesgewys aangejaag het. Onderwyl ons so voortgesukkel het, was dit 'n akelige gesig om te sien hoe die plase oral afgebrand word.. So ver as wat ons kon sien, het die rook oral soos swaar miswolke opgestyg.
Daardie selfde aand het hulle die plaas van ons buurman, Jan Delport, te Fonteinskloof aangeval. Daar was vier huisgesinne bymekaar. Die horde swartes het so onverwags op hulle afgestorm dat daar geen kans was om betyds te vlug nie. Die agt manne wat kon veg het die swartes tot donker teëgehou, sodat die vroue en kinders aan die agterkant van die gebou kon uitvlug. Uiteindelik moes die agt man voor die oormag wyk. Een van hulle het 'n wond aan sy voet opgedoen, maar hulle het daarin geslaag om saam met die vroue te ontkom en die plaas van meneer Jurie Lombard te Jordaanskraal aan die Visrivier te bereik. Die volgende dag het hulle met 'n wa en 25 man teruggegaan om te sien of daar nog iets bruikbaars oorgebly het. Daar was feitlik niks meer oor nie, want wat die swartes nie saam met die vee kon wegneem nie, is stukkend gebreek en die beddegoed is flenters gesny. 'n Dag later het die mense na Klein-Visrivier gevlug, in die omgewing van Somerset-Oos, waar daar 'n boere-laer bymekaar getrek het.
Intussen het ons klompie se geledere aangegroei tot 40 man sterk. Ons het laer opgeslaan aan die regterkant van Klipfontein, waar Adelaide nou is. Daar was ook nog 'n laer op die plek waar Bedfort nou is. Die wat nie waens gehad het nie, het in die huis gebly. Gedurende die volgende paar maande het die swartes geen aanvalle op die laers gemaak nie. Ons het egter gedurig patrollies in hul rigting uitgestuur. Dit het gelyk asof hulle die wyk na hul land geneem het.
In dié tyd gaan kommandant Stefanus Nel met 40 man op patrollie uit en kom in Olifantskloof aan die Visriviersrant op 'n groot horde swartes uit en skiet 'n groot aantal van hulle dood. Met 'n tweede aanval die volgende dag, maai hulle nog 'n menigte van hulle af, steek hulle kamp aan die brand en verdryf die res. Toe was dit 'n rukkie stil.
Daarop gee die Kommandant bevel dat 'n klompie manne uit elke laer moes saamkom om die vyand verder op te spoor en aan te val. Die manne wat te oud of te swak was om saam te gaan, het perde voorsien aan die wat nie gehad het nie. Elke man moes voorsien wees van 50 skote. Ons het op Fort Beaufort bymekaar gekom onder bevel van twee kommandante, Dreyer en Nel en onder opperbevel gestaan van kolonel Smith, die latere sir Harry, wat ons te Post Victoria ingewag het waarheen ons toe gegaan het. Die Kolonel het 'n sterk afdeling soldate by hom gehad, wat ook vir ons provisie vanaf Bloksdrif saamgebring het. Met hierdie verenigde mag het ons die vyand tegemoet getrek en by Bothaskloof, wat later Tolaskloof genoem is, aangeval. Na 'n harde geveg waarin baie dood is, het ons hulle verdryf en baie vee gebuit.
Daarna het ons te Funahskloof op versterkings uit die weste gewag, want 'n aantal burgers is vanaf Swellendam en Oudtshoorn gekommandeer om by ons aan te sluit. Intussen het kommandante Dreyer en Nel met die burgers na Peddie gegaan. Daar is berig ontvang dat 'n sterk mag van die vyand hom by Visriviersbos bevind het. Kommandant Rademeyer, wat met 'n kommando burgers uit die weste aangekom het, trek toe vanaf Peddie langs die Visrivier op. Hy kom om 8 uur die oggend met sy manskappe op 'n hoë berg uit wat Rooikop genoem word. en sien daarvandaan rook uit 'n paar spelonke uitborrel. Toe stuur hy 30 man om ondersoek in te stel, onderwyl hy met die res van sy mag op Rooikop bly. 'n Halfuur later, toe die dertig man tussen die lelike spelonke was, storm die swartes van alle kante met 'n vreeslike oorlogsrumoer op die klein klompie af. Die aaklige geluide weergalm teen die berge en ontsenu die manne wat daar ongewoond aan was. Hulle word amper deur die vyand vertrap en raak handgemeen met hulle en sommige se klere word letterlik aan die brand geskiet. Hulle voorman het met teenwoordigheid van gees die klompie burgers beveel om rug aan rug te staan of te sit en skiet en van elke skoot doodseker te maak ten einde nie ammunisie te mors nie. Die gevaar was groot dat hulle kruit en lood sou opraak. Nadat die geveg 'n halfuur geduur het, wyk die vyand so 'n bietjie, maar storm toe weer met nuwe woede. Rademeyer het gelukkig net betyds met versterking vanaf Rooikop opgedaag om die klompie manne te red, anders sou hulle uitgewis geword het. Sewe man is gedood en gewond. Daar het baie swartes gesneuwel en die res is op die vlug gejaag.
Die Kommandant en sy manskappe het die dooies en gewondes saamgeneem na Bokkraal. Dreyer en Nel het die skote gehoor en was ook op pad om te kom help, maar die nag het hulle ingehaal. Hulle het die volgende dag op die gevegsterrein baie dooie en gewonde swartes aangetref en die spore gevolg en vasgestel dat die vyand vanaf die Visrivierbosse na Keiskamahoek gevlug het.
Ons kommando het van Bokkraal af teruggetrek, 'n paar dae te Fort Wilshire gebly en op patrollie na Keiskamahoek met die swartes slaags geraak. Na 'n harde geveg het ons hulle op die vlug gedryf deur Keiskamarivier en 'n trop beeste buitgemaak, wat ons na Fort Wilshire gebring het. Een van ons burgers het in die slag gesneuwel.
Daar kom toe 'n berig dat sir Andries Stockenström met 'n burgerkommando te Fort Beaufort is en na Fort Thompson sal kom. Dié plek word nou Alice genoem, na 'n ou predikant. Die afspraak was dat sir Andries sou opwerk langs Katrivier na Windvoëlberg (Cathcart) en tot aan die Kei. Sir Harry Smith sou van Alice deur die Amatola na Periebos deurtrek tot by Fort White. Daar was ook Rooibaadjies by King William's Town.
Kaptein Bailey het bevel gekry om met 30 lewwies (opgekommandeerde troepe) van King William's Town na Tabindoda te gaan , maar hulle is almal te Gabola in 'n nou koskloof vermoor, toe hulle ammunisie opgeraak het. Daarop het die Skotse regiment na Gabola gegaan om die lyke te gaan haal. Hulle het na 'n kwaai geveg daarin geslaag, met verlies van nog vyf van hul eie manskappe.
Die volgende dag val die soldate weer die vyand in Gabola aan en verdryf hulle na 'n harde geveg waarin die vaandeldraer, Murray, sneuwel en 'n rebel-hottentot gevang word met 'n olifantsgeweer wat vroeër aan 'n setlaar behoort het. 'n Paar dae later was daar weer 'n paar uitstappies van twee kante af, maar hulle kon nie die swartes inhaal nie want hulle het oor die Keirivier gevlug
Hierna het die Skotte weer 'n skermutseling met die vyand te Buffelsrivierpoort, waar sersant Beresford bo op die berg gesneuwel het. Daarom word die plek Fort Beresford genoem. Die vyand is daar op die vlug gedryf.
Nadat die burgerkommando toegelaat is om 'n paar dae te King William's Town te rus, gaan hulle met sir Harry aan die hoof na Butterworth, waar hulle vyf dae later aankom. Daar kom koning Hintsa toe by die Goewerneur aan, onder voorwendsel dat hy kom kuier, maar dit lek toe uit dat hy verraad in die mou voer. Hy word vriendelik onthaal maar ongemerk gevange gehou. Hy hou hom vreeslik lojaal, maar steek intussen die gesteelde vee weg, wat hy beloof het om terug te gee. Sy hoofindoenas, wat hom vergesel het, was vry om te gaan waar hulle wou. Hulle is ook goed onthaal.
Op 'n goeie dag sê Wynand Bezuidenhout vir sir Harry, hy moet oppas; daar is verraad. Hintsa maak plan om te ontvlug, want hy het vir sy indoenas gesê hulle moet vir hom die merrie bring wat glo so danig vinnig kan hardloop. Dit het die Goewerneur op sy hoede gestel.
Die volgende dag was die merrie daar. Die Goewerneur en 200 van die knapste burgers met die flinkste perde gaan toe 'n dag later saam met Hintsa om die beeste te gaan haal. Toe hulle by die Bashee kom, sien hulle op 'n afstand duisende beeste wat deur die vyand voortgedryf word. Hintsa, wat langs die Goewerneur ry, spring meteens weg en laat loop met sy merrie so al wat sy kan oor 'n oop kaalte na 'n bos aan die oorkant. Sir Harry skree hy moet stop, maar toe Hintsa voortjaag, trek die Goewerneur met sy pistool op hom los. Die skietding weier tweemaal om te vuur en toe gooi sir Harry hom met die pistool dat Hintsa bo van die perd aftuimel en te voet die bos inhardloop. Maar Richard Southey, later goewerneur op die diamantveld, los 'n skoot na Hintsa en skiet sy arm af. Hy hardloop gewond die bos in, maar sewe van die burgers sny hom voor en 'n skoot van Jan Greyling laat hom finaal sneuwel. Die goewerneur het tot by die plek gery en gaan seker maak dat hy dood is.
Die drama het plaasgevind ten aanskoue van duisende swartes op die berg wat dit gade geslaan het, maar die manskappe was te min om die vyand aan te val en hulle het toe maar na Butterworth teruggekeer. 'n Paar dae later is daar vrede gesluit. Die burgers is bedank en sir Harry is na Engeland teruggeroep en sir Andries Stockenström is in sy plek as goewerneur aangestel.