Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geen mens kom weens sy goedheid in die hemel nie, slegs deur die bekering. Gaan net slegte mense hel toe? Staan net hulle name in die boeke van die oordeel geskryf? Nee, daar staan ook die name van baie goeie mense geskryf – vaders, moeders, kinders, vriende; wonderlike mense want net nooit tot bekering gekom het nie – mense wat u en ek baie goed ken en met wie ons betyds moet praat!
DIE KEEROMSTRAAT- KLIEK (4)
Lees reeks by Die Keeromstraat-kliek
NASIONALISME OP 'N KRUISPAD
Dr At van Wyk
Tussendeur het nie net Roos koalisie gepraat nie. Verskeie NP- en SAP-takke dwarsoor die land het besluite ten gunste van 'n Hertzog-Smuts-koalisie geneem. 'n Nat-Sap-afvaardiging uit Ventersdorp het rondom 11 Januarie 1933 'n beroep op Hertzog gedoen om 'n koalisie met Smuts te sluit. Hoewel Hertzog die versoek van die hand gewys het, het hy later daarin 'n "bewys" weet te vind dat die 'volk' koalisie begeer het. Die hand van NC Havenga was daarin; hy self sou later betoog dat hý die Ventersdorpers se versoek gebruik het om koalisie met Smuts aan te voor. Volgens hom wou Hertzog van die afvaardiging weet hoe hy met 'n party kon saamwerk wat nog altyd die Nasionanale Party beveg het. Een van die afgevaardigdes, vermoedelik kol Jacob Wilkens wat in die koalisieverkiesing van 1933 tot onafhanklike LV vir Ventersdorp verkies sou word en hom by die VP-smeltersparty sou aansluit, het geantwoord: "In godsnaam, Generaal, laat staan die taal en gee ons brood!" – naastenby die omgekeerde van Marie Antonette se beweerde antwoord aan die Paryse gepeupel aan die vooraand van die Franse Revolusie. Hierdie woorde is deur Havenga aan Hertzog 'uitgelê' en hy was diep beïndruk.
Indien die koalisiegedagte toe reeds by Hertzog aan die ryp was, soos later ter sprake kom, was Die Burger salig onbewus daarvan. Tussen 9 en 17 Januarie 1933 het die blad hom in die een hoofartikel ná die ander teen enige vorm van koalisie uitgespreek as synde 'n bedreiging vir die Nasionale Afrikanerdom. Roos en Smuts was die gevaarmanne. Dit was steeds die koerant se siening terwyl hy die opening van die Parlementsitting op 20 Januarie tegemoetgegaan het te midde van uiteenlopende gerugte en 'n verskeidenheid van verwagtinge.
Dr Geyer het besef dat albei hoofpartye hulle in 'n dilemma bevind. 'n Deel van Smuts se koukus, met aansienlike steun uit die stede en Kaapland, was ten gunste van koalisie met Roos. 'n Groot aantal Kaaplandse Sappe, met hul organiserende sekretaris, kapt Frank A Joubert, LV vir Mowbray, as woordvoerder, het in koalisie met Roos " 'n hemelse geleentheid" gesien om van die Nasionale regering ontslae te raak en spoedig daarna ook van Roos, want sy swak gesondheid sou hom outomaties uitskakel. So 'n Smuts-Roos-ooreenkoms, het Geyer geglo, sou dadelik die val van die Regering veroorsaak. Hy het sy mening daarop gegrond dat vier Nasionale koukuslede, Louw Steytler, Henry H Moll, dr Hjalmar Reitz (broer van Deneys Reitz en seun van pres FW Reitz) en dr Carel SH Potgieter (onderskeidelik LV's vir Albert, Christiana, Brits en Noordoos-Rand) hulle reeds openlik as Roosiete ontpop het, terwyl 'n aantal Transvaalse Volksraadslede Roos in die geheim gesteun het. Steytler was die man wat in die Tweede Vryheidsoorlog as krygsgevangene saam met ander van 'n skip by Ceylon ontsnap en 'n ervaringryke tog afgelê het deur Rusland en Europa terug na die Suid-Afrikaanse oorlogsfront. Hy het aan Geyer gesê dat hy en " 'n klomp ander" 'n skriftelike versekering aan Smuts gegee het dat , as hy Roos se koalisievoorstel aanvaar, hulle vir 'n wantrouemosie in die Regering sou stem. Daarom is verwag dat Smuts in sy gebruiklike wantrouemosie vir die vorming van 'n 'nasionale' regering sou vra in só 'n trant dat die Roosiete daarin 'n opening sou sien om daarvoor te stem.
Geyer het niks hiervan in sy koerant gerep nie maar eerder prominensie verleen aan 'n besluit deur die parlementêre koukus van die Nasionale Party waarin volle vertroue uitgespreek is in Hertzog se optrede téén die Roosiete, van wie Louw Steytler op 24 Januarie uit die koukus geskors sou word. Dit was in wese 'n soortgelyke mosie as dié wat die Kaaplandse koukus reeds net ná Roos se bedanking as appèlregter in Desember aanvaar het.
Soos verwag, het Smuts op die eerste sittingsdag, Vrydag 20 Januarie 1933, kennis gegee van 'n mosie waarin hy sou vra om die bedanking van Hertzog en die vorming van 'n 'nasionale' regering. Of hy dit met enige optimisme gedoen het en of hy toe al 'n snuf in die neus gehad het dat Hertzog tot koalisievorming oorgehaal sou kon word, moet oorweeg word saam met wat verderaan volg. Sy hoofluitenant in die latere koalisie-onderhandelinge, Patrick Duncan, het op daardie dag aan lady Maud Selborne geskryf dat geen koalisie van watter aard ookal gesluit sou word nie. Dit kan egter ook beteken dat 'n Hertzog-Smuts-koalisie toe reeds agter die skerms bespreek was – 'n vertolking wat krag verkry in die lig van 'n vraag was Duncan se vrou enkele dae tevore aan hom gestel het en wat later ter sprake kom.
Ook Die Burger het koalisie as onmoontlik beskou en het tussen 3 Januarie en 16 Maart 355 briewe van sy lesers geplaas waarvan 310 koalisie verwerp het. Die oggend van 24 Januarie, die dag waarop Smuts sy mosie sou indien, het die blad die moontlikheid van koalisievorming ontleed en tot die slotsom gekom dat die twee hoofpartye op 'n beginselgrondslag so ver van mekaar verwyder was dat 'n koalisie tussen hulle niks anders as 'n onding sou wees nie. Enkele ure later, en voordat die parlementêre verrigtinge hervat is, het Hertzog die volgende mosie deur sy koukus laat aanvaar:
"Hierdie Koukus van die Nasionale Party keur enige beweging af wat as doel het die totstandkoming van 'n koalisie-regering. Enige Nasionale Parlementslid wat nie gereed is om hom aan hierdie besluit te onderwerp nie, of wat deelneem aan so 'n beweging, word van die Koukus uitgesluit."
Dieselfde middag het Hertzog Smuts se koalisievoorstel met snydende spot in die Volksraad verwerp en op Woensdag, 1 Februarie, is dit met 83 stemme teen 63 verslaan.
Die koukusbesluit van 24 Januarie, wat nooit herroep sou word nie, was daarop gemik om die Roosiete aan bande te lê en in die weeklange debat wat daarop gevolg het, het Die Burger met vuur onder hulle en die Sappe ingeklim. Benewens talle briewe waarin lesers hulle teen koalisie uitgespreek het, het die blad hom in skrif en spotbeeld skerp uitgelaat teen die "huigelary" van Smuts en sy party wat, terwyl hulle koalisie met Hertzog in die Volksraad bepleit, agteraf met Roos onderhandel om Hertzog se party tot 'n val te bring. Dit was vir die blad genoeg om van te "walg". Hy het dermate vir Hertzog en die Nasionale Party in die bres getree dat Hertzog nog op Maandag, 30 Januarie, in 'n onderhoud met Geyer Die Burger geloof het vir sy handetering van die stryd,. Hy het uitgewei oor die "onheelbare breuk" in die Suid-Afrikaanse Party, oor hoe grimmig Smuts vir die jingo-seksie was wat hom deur Roos wou vervang, en het voorspel dat Smuts se party binne enkele jare sou skeur.
Was dit praatjies vir die vaak? Bes moontlik ja, want toe het Hertzog reeds sy eerste koalisievoelers uitgestoot en was hy miskien al regstreeks of onregstreeks in voeling met Smuts – nog voordat dié sy repliek in die Volksraadsdebat sou lewer en sy mosie op 1 Februarie verslaan sou kry.
Wat het veroorsaak dat Hertzog sedert 24 Januarie 1933, met sy verwerping van die Smuts-mosie, so 'n snelle ommekeer in die politiek gemaak het? Of het hy reeds voor 20 Januarie koalisie met Smuts in sy kop getroetel? Dié vrae sal nooit volledig beantwoord kan word nie. Daar is te veel ontbrekende stof – die "vermiste skakel" soos dr WC du Plessis, Hertzog se destydse sekretaris, dit op 8 Maart 1982 in 'n onderhoud met die skrywer genoem het. Daar is nogtans belangrike nuwe getuienis oor hoe Hertzog hom deur NC Havenga, Minister van Finansies, CT te Water, Hoë Kommissaris in Londen, en die mynmagnaat sir Abe Bailey laat of kon laat beïnvloed het. Wat onteenseglik is, is dat die gedagte aan 'n koalisie met Smuts by Hertzog nie skielik ná 20 Januarie eers ontwaak het nie.
In die debat oor Smuts se mosie het Havenga nie, soos Hertzog en ander, die mosie summier verwerp nie maar weinig daarteen gesê en bedektelik ten gunste daarvan gepraat. Geyer het vroeg geglo dat Havenga 'n Hertzog-Smuts-koalisie sou verwelkom – dermate dat hy reeds ná Roos se hertoetrede tot die politiek teenoor meer as een opgemerk het: "Vir my is die grappige van die affêre dit, dat Roos nou vir Hanvenga die loef afgesteek het deur te doen wat Klasie graag wou doen maar nou natuurlik nie kan nie, want hy kan mos nie nou Roos naboots nie!"
Geyer sê hy het te gou gelag.
Havenga, Hertzog se vertroueling, is indertyd in 'n wye kring verdink as die aanstigter tot koalisie, en hy het self later verklaar dat hy die aanvoorwerk daarvoor gedoen het; dog 'n vroeëre suggesties deur Die Burger dat Havenga en Oswald Pirow, Minister van Justisie, die aanporders was, is deur Hertzog as "onwaardige insinuasies" verwerp. Dit kan wees dat Hertzog bloot probeer het om Havenga te beskerm, want dié was in so 'n vertrouensposisie by hom dat dit sekere Nasionaliste jaloers gemaak het.
In sy selferkenning het Havenga spesifiek verwys na die "uitleg" wat hy aan Hertzog gegee het nadat die Venterdorpse afvaardiging hom om koalisievorming met Smuts genader het; en verder na 'n gesprek wat hy by die begrafnis op Wellington van mnr Charlie Malan, Minister van Spoorweë en Hawens, met Hertzog gevoer het. By laasgenoemde geleentheid het hy in die motor oppad na die begrafnis aan Hertzog gevra: "Is daar dan nie 'n moontlikheid dat die dag sal aanbreek wanneer jy en genl Smuts saam sal werk en jul gesamentlike dienste aan die volk kan wy nie?" Dít het Hertzog beïndruk; en toe hy lig sien, het hy gelei, aldus Havenga.
Dit is net 'n deel van die waarheid, en Die Burger het dit uitgewys, want met die dood van mnr Malan in die nag van 5-6 Februarie 1933, was dit al bekend dat Hertzog twee weke tevore, op 26 Januarie, die moontlikheid van koalisievorming in die Kabinet geopper en gepoog het om dr Malan se samewerking daarvoor te verkry. Inderdaad het Hertzog dit reeds vroeër met sekere vertrouelinge bespreek, soos verder sal blyk. Die Burger het so iets vermoed, dog Havenga het dit ontken. Volgens Duncan het Hertzog dit reeds tydens die Volksdebat oor die koalisie-mosie oorweeg om Smuts te nader. Dit is nie uitgesluit dat Hertzog dit wel gedoen het nie.
Wat aan die gebeur was, was die resultaat van die veranderende kyk op politieke sake wat sedert 1926 by verskeie leidsliede te bespeur was, en wat onder die politieke druk van die dag tot 'n klimaks opgeloop het. Hertzog en Havenga is deur sowel Geyer as Malan daarvan verdink dat hulle sedert 1926 nie bestand was teen die invloed van imperiale konferensies nie; vandaar hul "omswenking" ten gunste van die stigting van 'n sentrale party. Havenga, wat in vandag se terminologie as 'n "uitwaartse" Afrikaner bestempel sou word, is in die besonder geraak deur die Imperiale Ekonomiese Konferensie van Julie 1932 in Ottawa, waar hy hom as onderhandelaar onderskei het. Die gees van ekonomiese samewerking wat daardie konferensie gekenmerk het, het geestelike samewerking versterk en het sy uitwerking op Havenga gehad.
Vervolg: Havenga se koalisie-gekonkel...