Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Weet ons wat dit in praktyk beteken om heilig te leef? As kinders van die Here is dit 'n opdrag soos geskryf in Lev 19:2: : "Heilig moet julle wees, want Ek, die Here julle God, is heilig." Daar is talle "groot" dinge wat ons weet is verkeerd soos steel, moor, ens, maar ons tong is meestal ons grootste struikelblok: ons skinder, skel en praat so maklik sonder om te dink. Begin vandag en "sien" die Here reg langs jou, want Hy is werklik die hele dag by jou, en onthou elke keer as jy 'n "glips" met jou tong kry, dat jy dit in sy heilige Teenwoordigheid gedoen het – en binnekort sal jy ingeoefen wees om heilig in sy Teenwoordigheid te wil leef.
DIE KEEROMSTRAAT- KLIEK (5)
Lees reeks by Die Keeromstraat-kliek
HAVENGA SE KOALISIE-GEKONKEL
Dr At van Wyk
Sir Herbert Stanley, 'n gewese Britse Hoë Kommissaris, vertel van 'n gesprek wat hy met 'n intieme vriend en mede-reisiger van Havenga oppad terug van die Ottawa-konferensie gevoer het. Dié het aan hom gesê "that on that return voyage Mr Havenga had begun to think of coalition as feasible, desirable of General Smuts to make overtures, and still more in the processes of thought which led the Prime Minister to respond to those overtures."
Wie sou hierdie intieme vriend van Havenga gewees het? Bes moontlik Charles te Water, Hoë Kommissaris in Londen, wat in Kaapstad was met die opening van die Parlement op 20 Januarie, en met wie Stanley by daardie geleentheid 'n kort gesprek gevoer het.
Te Water, goed bevriend met sowel Havenga as Hertzog, was van September 1932 tot 24 Februarie 1933 op besoek in Suid-Afrika en het in Groote Schuur tuis gegaan. Pas ná sy aankoms het hy op 'n perskonferensie gewys op die "gekheid" van die bittere stryd tussen die taalgroepe wat oor goud ontstaan en Suid-Afrika se naam oorsee geskaad het, en op die mislukking van pogings om die ekonomiese nood binnelands te besweer. Dit het hy gepaar met 'n kragtige en openlike pleidooi dat die politieke verskille begrawe, die partystryd bygelê en sy beproefde landgenote byeengebring moes word.
Te Water se betoog het wye publisiteit geniet, en hy het dit nie daarby gelaat nie. Hy het later aan sir Edward Harding, hoof van die departement van dominiale sake, gesê hy het reeds by sy aankoms in Suid-Afrika besef het dat koalisievorming gebiedend noodsaaklik was, en hy het 'n baie groot deel van sy tyd in sy vaderland daaraan afgestaan om dit te weeg te bring. Te Water was 'n invloedryke man wie se mening gewig gedra het, veral ook omdat hy eerstehandse ervaring gehad het van die welslae wat Brittanje se pas gevormde koalisieregering behaal het. Hy het hom in Suid-Afrika agter die skerms so beywer dat daar selfs diegene was wat hom bo Hertzog as premier van 'n koalisie met Smuts verkies het.
Te Water het Hertzog op 'n uiters kritieke tydstip bearbei. Op 28 Desember 1932, die dag waarop die krisis oor die goudstandaard sy toppunt bereik het, het hy lank en in diepe erns met Hertzog, wat hom stip dopgehou het, aangeraai om die Nuwe-Testamentiese benadering in die plek te stel van die Ou-Testamentiese benadering waarvan hy hom tot in daardie stadium van sy politieke loopbaan bedien het. Te Water het later na aanleiding hiervan in sy dagboek geskryf dat dit altyd vir hom 'n prikkelende vraag sou bly in hoeverre sy pleidooi Hertzog beweeg het om 'n koalisie met Smuts te vorm.
Dit is dan duidelik dat Hertzog weke vóór 20 Januarie, die dag waarop Smuts kennis gegee het van sy mosie in die Volksraad, die moontlikheid van koalisie met Smuts oorweeg en dit nie verwerp het nie. Sy erkenning op die buitengewone kongres van die Kaaplandse Nasionale Party op 15 Maart 1933 op De Aar, dat hy van 20 Januarie af oor koalisie "nagedink" het, is nie die volle waarheid nie. As die stelling van Havenga se "intieme vriend" aanvaar word, is dit selfs moontlik dat Smuts deur "voelers" uit Nasionale geledere tot die besluit kon gekom het om koalisisie voor te stel. Dít verkry gewig in die lig van 'n vraag wat Duncan se vrou op 18 Januarie aan hom gestel het. In antwoord op 'n telegram wat sy pas oor die politieke toestand van hom ontvang het, vra sy hom: "My I hope from this that there is some movement on foot to bring the Saps and Nats closer together?"
Op grond van die voorafgaande en wat hierop volg, is dit selfs moontlik dat Smuts vooraf met Hertzog ooreengekom het oor die mosie wat hy sou indien. Maar hoe moet Hertzog se summiere verwerping daarvan op 24 Januarie verklaar word? Hertzog het hierop geantwoord: "Wat moes ek dan anders gaan sê het? Moes ek dan aan genl Smuts gesê het hy kan maar sy sin kry? Ek moes soos die Engelsman sê: 'Put on a bold face' en ek het dit gedoen."
In die openbaar ja, maar nie agter die skerms nie, want net die volgende dag stuur hy Pirow en Havenga na Patric Duncan met die boodskap aan Smuts dat dié in sy repliek op die debat nie die deur vir samewerking moet sluit nie. Op dieselfde dag, 25 Januarie, verkry hy reeds Pirow en Havenga se steun vir die gedagte dat hy, sodra Smuts se mosie verwerp word, na Smuts sal gaan om die moontlikheid van koalisievorming met hom te bepreek. Tussen hierdie datum en Saterdag 28 Januarie, bespreek hy die saak ook afsonderlik met dr Malan en by minstens een geleentheid met sy volle Kabinet. Van almal was net dr Malan en CW (Charlie) Malan daarteen, met APJ Fourie en EG Jansen, Minister van Naturellesake, twyfelend.
Dr Geyer het die "ontstellende nuus" dat Hertzog koalisievorming met Smuts bespreek het, op Saterdagoggend 28 Januarie, by Charlie Malan verneem. Charlie Malan het hom hoogs vertroulik daarvan verwittig omdat dié Geyer se mening oor die saak wou verkry pas voordat hy dit daardie oggend weer met Hertzog sou bespreek. Geyer en Charlie Malan was dit eens dat die koalisie rampspoedig vir die Nasionale Party en die Afrikaners sou wees. Ongelukkig het Geyer Charlie Malan nie weer lewend gesien nie, want dié is die nag van 5-6 Februarie oorlede. Tog het Geyer Hertzog steeds nie verdink nie. Die legkaart sou later eers vir hom inmekaar begin pas.
Wat hy by minister Malan oor die koalisiegesprek in die Kabinet gehoor het, het hy uiteraard geheim gehou. In sy blad het hy volgehou met sy aanvalle op Smuts weens dié se "huigelagtigheid", want Smuts het, terwyl sy mosie in die Volksraad bespreek is, voorgegaan met sy onderhandelinge met Roos om die Nasionale Party te breek.
Op 27 Januarie het gemoedere in die koukus van die Suid-Afrikaanse Party hoog geloop oor die Roos-voorstel. 'n Breekspul is verwag. Hierdie vermoede van Geyer is op 30 Januarie in 'n onderhoud met Hertzog versterk toe dié voorspel het dat die Suid-Afrikaanse Party binne twee jaar sou skeur. Steeds het hy nie aan Hertzog se woord getwyfel nie, maar drie maande later sou hy van dié onderhoud skryf: "Dit was my laaste gesprek met 'n man aan wie se oordeel ek lankal leer twyfel het, van wie se buitensporige kleinsieligheid ek in die afgelope jare ondervinding opgedoen het, en van wie my geloof in sy opregtheid en eerlikheid in die volgende weke ook vernietig sou word."
Einde Januarie het Geyer reeds besef dat iets skort. Hy kon sy vinger nog nie daarop lê nie maar tog sou hy 'n waarskuwing wou rig. Miskien is dit bedektelik gedoen met 'n subhoofartikel op 30 Januarie waarin Eamon de Valera geloof is vir die oorwinninge van sy Fianna Fáil (Republikeinse Party) in die Ierse verkiesing. De Valera het 'n oorwinning behaal oor sy vyande wat hom juis met lis wou vang deur die Ierse volksgevoel in 'n koalisie te smoor. Hy het gewen, want "Egte volksgevoel is teen lis bestand." De Valera is dikwels deur Die Burger en Afrikaners as voorbeeld in hul nasionale strewe gebruik. Of dit as waarskuwing bedoel was of nie, kundige lesers van die artikel sou 'n les daaruit kon haal want koalisie is wyd bespreek na aanleiding van die Roos-Smuts-onderhandelinge en die debat oor die Smutsmosie.
Die wantroue wat hierná by Geyer jeens Hertzog ontstaan het, en waaraan hy in Die Burger uiting sou gee, word duidelik uit wat hierop volg.
Op 31 Januarie, die dag nadat Hertzog die ondergang van die Suid-Afrikaanse Party voorspel het, het die Sap-koukus die Roosvoorstel verwerp en sonder klereskeur uit die krisis gekom. Dit was geen toevallige redding vir Smuts nie want hy het immers reeds geweet dat Hertzog te vinde was vir koalisie-onderhandelinge met hom. Dit was die boodskap wat Pirow en Havenga via Duncan aan hom moes oordra asook die inhoud van 'n kragtiger mededeling wat hy van sy vertroueling JH Hofmeyr, LV vir Johannesburg-Noord, ontvang het nadat dié dit by JB (Pen) Wessels, Nasionale LV vir Frankfort, verneem het. Koalisie met Hertzog het grootse vergesigte vir Smuts ingehou as koalisie met Roos. Sou dit dalk die vernaamste rede wees waarom Roos se voorstel verwerp is? Dan was daar in Smuts se skakeling met Hertzog nog die bemoeienis van die derde persoon na wie hierbo verwys is, sir Abe Bailey. Dié is in Die Burger van 28 Januarie aangewys as een van die mynmagnate wat vir Roos in 'n Roos-Smuts-koalisie aan die bewind wou stel. Twee dae later, in sy boodskap aan Geyer, sê Hertzog sir Abe het hom gevra om die boodskap aan Geyer te gee dat hý nie die toutjiestrekker agter die Roos-intrige is nie. Toe Geyer weier om sir Abe se versekering te aanvaar, sê Hertzog: "Wel, as hy dit so stel, is dit miskien waar; effens anders gestel, sou dit nie waar wees nie; maar in elk geval, moenie hom skerp aanval nie; 'n mens kan hom gebruik!"
Wat het hy bedoel met "effens anders gestel"? Dat sir Abe die toutjiestrekker agter die Hertzog-Smuts-intrige was?
Geyer, wat toe nog in Hertzog se opregtheid geglo het, het die opmerking eers later gesnap. Dit was nadat hy by dr Malan verneem het dat sir Abe in Februarie 1933 aan hom gesê het dat niemand meer geld aan die Nasionale Party van Transvaal geskenk het, en skenk, as hy nie, endat hy 3 000 pond tot Die Vaderland bygedra het – die koerant wat toe reeds besig was om Hertzog se mondstuk te word.
Sir Abe, oud-politikus en mynryke, was 'n uiters gasvrye mens wie se huis in Muizenberg die bymekaarkomplek van politieke vriend en vyand was – neutrale terrein vir politici, volgens sir Herbert Stanley. Dit beteken nie noodwendig dat genl Hertzog een van sir Abe se gaste was nie – trouens, in sy reeds vermelde onderhoude met skrywer ontken dr Wennie du Plessis ten ene male dat genl Hertzog ooit besoek by sir Abe afgelê het. Du Plessis gee toe dat Hertzogmanne soos Havenga en Pirow, koalisiegesprekke op hul eie met sir Abe aan huis kon gevoer en Hertzog daaroor ingelig het. Dit strook met ander getuienis. GR Stevens, Kanadese handelskommissaris in Suid-Afrika, wat self meermale 'n gas by sir Abe se eetmale in sy praghuis Rust-enVrede was, sê dit was daar waar die politieke leidsliede bymekaargekom het en die Smuts-Hertzog-koalisie gesmee is. Byna twee jaar voordat Stevens hierdie stelling gemaak het, het adv JHH de Waal, LV vir Piketberg, in die openbaar verklaar: "Laat genl Hertzog ontken, as hy durf, dat dit sir Abe Bailey is wat hom die eerste verwittig het van die afspring van die onderhandelinge tussen die SA Party en Roos."Nadat Die Burger sedert 1935 by meer as een geleentheid verklaar het dat Hertzog sy koalisieplanne aan die tafel van sir Abe gesmee het, het laasgenoemde dit in 1938 ontken maar die blad het die ontkenning verwerp. Dit is opvallend dat die SAP-pers Stevens se stelling geïgnoreer het. Hierdie bewering oor sir Abe se betrokkenheid word verder gestaaf deur sy erkenning teenoor Te Water dat hy agter die skerms probeer het om dr Malan tot koalisie te bekeer – 'n poging wat daartoe gelei het dat Malan vir Hertzog, tot laasgenoemde se durende ergernis, in die NP-koukus te beskuldig dat dié hom deur sir Abe op koalisie-sleeptou laat neem het.
Hierdie getuienis, tesame met dat Hertzog reeds op 25 Januarie 1933 vir Smuts laat weet het om die deur vir samewerking oop te hou, toon dat Smuts reeds koalisie met Hertzog in die vooruitsig gehad het toe die SAP-koukus op 31 Januarie besluit het om Roos se voorstel te verwerp. Dit is ook die rede waarom Smuts op 1 Februarie in sy repliek op die Volksdebat so versoenend was. Dit was só opvallend dat Herman Rooseboom, Die Burger se Hansard-hoof, aan Geyer gesê het: "Doktor, daar broei iets. Moenie Smuts te skerp aanval nie; een van die dae werk die NP met hom saam!" Geyer het korrek vermoed dat Smuts geweet het wat Hertzog beoog; as hy nié geweet het nie was sy repliek-toespraak 'n politieke meesterstuk.
Dit is die mening wat Geyer agterna gevorm het want hoewel hy snuf in die neus gehad het, het hy tot op 1 Februarie nie rede gehad om Hertzog te verdink nie.
Op 30 Januarie 1933, die dag voordat die Smuts-Roos-onderhandelinge afgespring het, was daar al gerugte dat middelmanne van Hertzog en Smuts oor koalisie onderhandel. Op 1 Februarie was daar só 'n gefluister in die wandelgang dat Louw Steytler, die Roosiet wat uit die NP-koukus geskors was, sy mede-nasionaliste vermakerig getrotseer het. Dít het so 'n indruk gemaak dat Paul Sauer en Stephen le Rouc (onderskeidelik LV's vir Victoria-Wes en Oudtshoorn) met Geyer daaroor gaan praat het. Dié het besluit om sy lesers deur middel van 'n hoofartikel bedag te maak op wat aan die gang was, maar hy het eers dr Malan se mening ingewin oor die wenslikheid van so 'n waarskuwing. Malan het geantwoord: "Dis nie alleen wenslik nie, dis beslis noodsaaklik. Ek kan jou niks meer sê nie as dat hy verbaas sal wees as jy weet wie almal daarvoor is."
Toe eers het Geyer die kloutjie by die oor begin kry. Teen daardie tyd is die koalisiegesprek reeds in 'n wye kring binne die Nasionale Partye gevoer. Tussen 30 Januarie en 7 Februarie het Hertzog die saak met verskeie mense, die Kabinet en sy koukus bespreek. In die proses het hy aan hierdie mense en instansies redes verstrek waarom Smuts se hand van samewerking nie weggeklap moes word nie en het hy sy voorneme bekend gemaak om onderhandelinge met hom aan te knoop. Hy het die koukus minstens twee keer in naastenby dieselfde trant hieroor toegespreek. Terwyl Hertzog aanvanklik onderneem het om 'n uitgewerkte koalisieplan aan sy koukus voor te lê, het verdeeldheid in die koukus hom daarvan laat afsien en het hy besluit om op eie verantwoordelikheid op te tree. Dit kan wees dat hy by een of meer van hierdie geleenthede 'n uiteensetting gegee het van die koalisievoorwaardes wat hy aan Smuts sou voorlê; indien wel, het hy dit op 'n omslagtige en onheldere wyse gedoen.
Oor wat hy beoog het, was daar spoedig geen twyfel nie al was sy voorwaardes òf onbekend òf onduidelik. Geyer het van 1 Februarie af, die dag waarop dr Malan aan hom gesê het dat hy verbaas sou wees as hy wis wie almal vir koalisie was, nie meer getwyfel nie. Reeds die volgende dag, 2 Februarie, het hy sy eerste waarskuwing laat val, nog voordat dr Malan sy stem in die openbaar laat hoor het. Dit was 'n versigtig-bewoorde subhoofartikel onder die opskrif "Skoon Politiek". Daarin sê hy die verwerping van die Smuts-mosie het die gordyn laat val op die eerste bedryf van 'n politieke drama wat 'n mens kan laat wanhoop aan wat voorlê; die publiek moet hom ten sterkste daarteen uitspreek want word dit nie gedoen nie, "moet verwag word dat die tweede bedryf van hierdie politieke spel selfs nog onsmaakliker sal wees." Hierdie bedekte waarskuwing het hy die volgende dag opgevolg met 'n kragtige hoofartikel onder die opskrif: "Nasionaliste, Pasop!" Sonder om vertroulike kennis uit te lap betoog hy dat met die verwerping van die Smuts-mosie die eerste stormloop teen die NP afgeweer is maar die stryd is nie verby nie – die gevaar is dalk groter. Die tweede fase van die aanslag op die Party het reeds begin, nie "met trompetgeskal en leeu-gebrul nie maar met lis en ondergrondse geknoei. Dit gaan 'n bekruipaanval wees en wel van twee kante."
Dit was in die kol want Hertzog het toe al etlike treë op die koalisiepad gewaag, en van sy volgelinge wat koalisie met Smuts voorgestaan het, het druk op hom begin uitoefen. Die naweek van 4-5 Februarie het sekere Vrystaters, oor wie later meer, 'n besoek by Groote Schuur afgelê en die koalisiepap gaargemaak.
Dat sedert etlike weke vóór 1 Februarie 1933 toue agter die skerms getrek is wat op die politieke verhoog totaal onsigbaar was, staan soos 'n paal bo water maar daar kan nie in alle gevalle gesê word wie watter tou wanneer getrek het nie. Die Burger het op 6 Maart sy verontwaardiging hieroor uitgespreek nadat dit toe pas eers duidelik geword het dat Hertzog reeds op 26 Januarie, twee dae ná sy verwerping van die Smuts-koalisie, probeer het om dr Malan en ander kollegas tot koalisievorming met Smuts te oorreed. Selfs ná daardie gesprek met sy kollegas, skryf die blad, "het die debat oor die Smuts-mosie nog drie sittingsdae geduur, is die verwerplikheid van koalisie nog drie dae lank van Nasionale kant in die Volksraad beklemtoon, en is eindelik die Smuts-mosie ten gunste van koalisie op 1 Februarie verwerp!"
In krasser taal sou dit kon lui: Terwyl Regeringslui Smuts se koalisie-overture in die Volksraad beveg het in die waan dat hulle ooreenkomstig hul partybeleid en die kragtige koukusbesluit van 24 Januarie optree, het hul leier die bose gedagte getroetel. Wat op die politieke verhoog sigbaar was, was 'n poppespel – blote skyn.
Was die geweldige oplewing in Suid-Afrikaanse goudaandele ook skyn – in dié sin dat dit nie bloot 'n gevolg van Suid-Afrika se afstapping van die goudstandaard was nie maar regstreeks aan die koalisie-intriges gekoppel moes word?
In die volgende aflewering: wat agter die die aandelebeurs-histerie gesit het.