Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
KAMPE VAN DIE HEL (2)
Uit: Onskuldige Bloed, geskryf deur dr Gustav Norval – u kan die boek bekom deur hom te kontak by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
*Strignien: Hobhouse meld in haar boek “The brunt of the war” dat ‘n apteker uitgevang was wat besig was om strignien in die vrouens en kinders se kos te plaas. Blykbaar het die Britsgesinde dr. Malan van Bloemfontein-kamp ‘n bottel medisyne in ‘n tent gevind wat verdag voorgekom het. Hy het die medisyne weggeneem en die apteker se stoor deurgekyk en op strignien (wolwegif) afgekom. Strignien was ‘n stof wat in rotgif voorgekom het en algemeen beskikbaar was. Die vent was voor een of ander raad gedaag en uiteindelik ontslaan, in plaas daarvan om gehang te word vir moord en poging tot moord. Strignien kom voor in die Asiese gifappel (Strychnos) en veroorsaak simptome soortgelyk aan die van klem-in-die-kaak, spierspasmas, asemnood en dood.
Rotgifbottels
*Mev. Susarah Elizabeth Nel (geb. Lange, 1869) was in die Mafeking kamp en skryf dat rooi poeier periodiek op hul tente deur hensoppers van die kamp, gegooi was. Haar suster was moeg van die besigheid en het een hensopper ‘n vuishou toegedien dat hy lê. Sy het hom verder op die grond karnuffel en hom gewaarsku:
“Volgende keer is jy ‘n kind des doods, hoor jy hanskakie!”
Hierdie poeier het brandmerke op die vel gelaat en selfs mense se dood veroorsaak. Die chemiese middel wat hierdie simptome kon gee was “Little Dip” wat as anti-luis behandeling in daardie dae algemeen gebruik was en soms ook in die meelrantsoen voorgekom het. Sy skryf dat ‘n medikasie aan haar kind toegedien was, wat die mond pikswart binne sekondes gemaak het. Die dokter het gesê: “my God!” toe hy dit gesien het, terwyl die kind beswyk het. Sy beweer dat die boeliebief blikkies ook hakies en selfs swart hare bevat het.
*Mense lees ook van onbekende gifstowwe, soos die vrou wat medisyne van die apteek gekry en dit aan ‘n siek kind gegee het, waarna die kind se asem weggeslaan het. Sy het die res van die konkoksie op die groen gras uitgegooi en gesien hoe die gras dadelik verander het: “Dit het gelyk of ’n vuur daaroor gegaan het”. Martie van Rensburg skryf oor iets wat onder diere se vel ingespuit was “om die vel af te trek en dit maak dat jy die vleis nie kan eet nie.” Dit is nie ‘n standaard metode van slag nie. Daar is simptome wat beskryf was wat moeilik is om te diagnoseer sonder addisionele inligting. In hierdie verband, is daar bv. die geval van ‘n 17-jarige meisie wat in ‘n hospitaal gelê het. Haar ma het haar besoek en daar was dik skuim om die mond en groot waterblase op haar handpalms en voetsole. Moontlik dui dit op ‘n akute allergiese reaksie teen een of ander middel.
*ergot: dit is ‘n Claviceps swam-gifstof, een van die stowwe op die toetslys van ‘n Britse farmaseutiese firma wat entstowwe in kampe tydens die oorlogsjare getoets het en moontlik in kamp-rantsoene beland het. Dit veroorsaak naarheid, braking, swakheid, gevoelsverlies, hartklop-versteurings, gangreen, brein-wanfunksie, spierspasma en dood.
Eastmans– etiket en blik-oopmaker:
Die vrouens en kinders het boeliebief gekry wat in 4 pond en 6 pond. blikke verpak was. Dit was in die VSA deur die Gotham New York Packaging Co. (“Gotham Choice roast mutton/ roast beef”) en die Eastman’s vleisfabriek (“Eastmen’s roast beef”) vervaardig. Lg. het vierkantige krammetjies met weerhakies gehad, die Eastmans roast reguit draadjies met weerhakies en Gotham met gebuigde vishoekagtige struktuurtjies.
Fraybentos boeliebeefen klinkers en Maconochie (“Magonna”) beesvleis met groente wat aan soldate verskaf was en in Engeland vervaardig was. Regs: hakies met weerhakies in boeliebeef wat aan vrouens en kinders verskaf was (ware grootte 15x 10 mm en vergroot). Sekere kampe het af en toe ook Maconochie gekry.
Die metaalhakies was volgens De Villiers altyd in pienkerige ryspapierstrokies toegedraai en wanneer ingeneem, beskadig dit die dun dermwand, sodat perforasie ernstige buikontsteking (peritonitis) ontstaan het wat fataal is. Volgens Steenkamp was etlike kinders a.g.v. die hakies in die boeliebeef gedood, danksy die boeliebeef-fabriek in die VSA. Vrouens moes soms die hakies uit kinders se monde uitsny en die vrouens het later besef dat hulle die vleis eers noukeurig moes ondersoek alvorens dit geëet kon word, net soos hulle die meel moes uitsif om gemaalde glas daaruit te sif. Gemaalde gasskerwe het o.a. in die Volksrust-kamp se suiker en vleisrantsoen voorgekom. Voorbeelde van die hakies wat in boeliebiefblikkies gevind was, kom in die Bloemfontein Anglo-Boere oorlog Museum se uitstalling voor en was beskryf deur vroue in Irene-, Pietersburg-, Volksrust-, Krugersdorp- en Port Elizabeth-kampe. Soms was blikkies vleis aan vroue uitgedeel met klein gaatjies of snye in die metaal, wat bakterië ingelaat het, wat dan voedselvergifting veroorsaak het. By mense met verswakte immuun-stelsels of met siektes, kan voedselvergifting ‘n doodsvonnis beteken. In sommige kampe moes babas van ‘n paar maande oud ook kou aan boeliebief, mieliemeel en modderige water drink besmet met tifoïed-bakterieë. Dokters van die Balmoral-kamp het gesê: “bully is really injurious to the health of young children”.
Sommige kinders het kwashiorkor ontwikkel weens proteïentekort, waar daar vog in die buikholte versamel. ‘n Algemene verskynsel in kampe was dat talle kinders marasmus (uittering) ontwikkel het. Kinders het weggeteer en was net vel-en-been. Dit verskil van anoreksie in dat lg. ‘n doelbewuste eetversteuring is waar iemand minimum kalorieë inneem, terwyl marasmus veroorsaak word deur ‘n tekort aan kos, soos in die kampe, waar doelbewuste verhongering toegepas was. Dit veroorsaak groeiverteurings by kinders, latere permanente fisieke skade, onvugbaarheid, hormoon-versteurings, abdominal krampe, osteoporose, neurologiese agteruitgang, bloeding, suur refluks, anemie, moegheid, verdunning van die vel, donserige hare op die vel, depressie, verlaagde bloeddruk, hartspierskade en skildklier wanfunksie.
Mode of marasmus ?
Blake skryf as volg oor die rantsoene: “I firmly believe the English made use of poison in the food in camps to destroy women and children. Had the war lasted another year, all women and children would have died a slow death. I can prove that ground glass was used on St. Helena island to kill the prisoners as many prisoners kept what they found as a souvenir”. Die feit dat hierdie gifstowwe, gemaalde glas en hakies in kampe in die twee republieke beskryf was, maak die aangeleentheid verdag, aangesien dit klaarblyklik bedoel was vir kampe buite die publieke oog. Mens lees nie dat gif in Natal of Kaap se kamprantsoene voorgekom het nie, slegs in kampe van beide republieke. Dit op sigself dui daarop dat voorbedagte rade bestaan het om mense buite die publieke oog te vergiftig! Milner het mos geskryf: “Exterminate the Afrikaander!” God save the queen!” Vir enige Christelike mens is dit onbegryplik dat kriminele outoriteite so gemeen kon wees om weerlose families in hul mag bloot te stel aan giftige chemikalië, gemaalde glas en hakies in hul rantsoen. Dit is om van te sidder en met walging terug te deins dat so ‘n agenda uitgedink was om mense uit te delg. Hulle het onskuldige bloed op hul hande gehad.
Bronne:
De Villiers J: Rondom die Anglo-Boere oorlog, Perskor Uitgewery, 1979.
Coetzer O: Fire in the sky, Covos Day Publ. 2000.
Lee: To the bitter end, Viking Adult, 1989.
Marais P: Die vrou in die Anglo Boere oorlog, JP vd Watt, Pretoria, 1999.
Hobhouse: The Brunt of the war, Methuen and Co. 1902